Donderdag 31 Augustus 2017

AFSKEID IS NOOIT MAKLIK NIE

So vra ek vanaand vir ‘n liewe vriendin hoe dit met haar gaan. Haar man is onlangs oorlede. Onverwags. Sy pyn. Sy is in rou. Die dood het so onverwags haar liefde langs haar kom steel.

Maar is die dood ooit onverwags?

Verwag ons nie maar almal die dood elke dag nie? Dit is tog immers die een ding wat ons almal weet ons nie gaan of kan vryspring nie. Maar as hy kom, is dit altyd, altyd ‘n skok. Jy verwag dit, jy sien dit kom, jy weet dit kom. Maar wanneer hy wel kom, is dit ‘n skok. Hierdie skok kan jy nie aan mense beskryf nie, jy kan dit dan self nie begryp nie. Die skok van alleenwees, die skok van ‘ek gaan jou nooit weer sien nie’, die skok van ‘wat kon ek meer gedoen het?’

Toe ek jonger was het ek (soms) gewonder waarom die mense so huil as ‘n bejaarde sterf. Dit het glad nie vir my sin gemaak nie. Die mens is oud, hy het sy lewe gehad, dit is immers nou tyd om te gaan, is dit nie?

En toe kom voel ek hom aan my eie vel. Vir sewentien jaar was sy deel van my elke dag se handel en wandel. Die laaste paar jaar was ek elke dag ten minste een maal by haar. Jy sien, sy was toe later nie meer my moeder nie. Eers was sy my moeder, toe my afhanklike moeder, en toe word sy my kleinste babatjie.

Vir jou babatjie doen jy alles. Niks is ooit te veel gevra nie. Jy versorg, jy gee raad, jy berispe, jy bemoedig, en jy lief met meer as wat jou hart kan dra. Jy lief omdat jy nie anders kan nie. Jy lief omdat jy beangs sien hoe die sand deur jou vingers glip en jy dit nie kan keer nie. Jy lief omdat dit jou eie kleinste ou babatjie is.

Ek het altyd geglo met haar sou dit anders wees. Sy sou stil in haar slaap gaan met geen ongemak of pyn nie. Het ek dit geglo of het ek dit gehoop? Maar die pad het vir ons anders uitgewerk. Die stryd was hewig en lank. Vir ‘n bietjie meer as ‘n maand het ons dit dag vir dag verwag.

Elke dag het jy geglo dat vandag die dag is. Die ellende kan nie groter word nie, die pyn kan nie erger word nie, dit kan nie langer as vandag aanhou nie. Dan sak die son en die nag kom lê met sy swart kombers oor jou siel. En die son kom op, maar jou siel word nie weer lig nie. Die donker is te veel dat die lig dit kan uitdoof. Al donkerder en donkerder soos die dae en nagte voortsleep. Jy probeer later nie meer sien of verstaan nie. Jy haal nog asem. Jy lewe nog. Omdat jy moet.

Die handdoek langs haar bed het my bed geword. Soms wou ek myself oortuig dat ek sou slaap as ek daar gaan lê, maar ek en die slaap was nie meer bondgenote nie. Die slaap was iets wat ek met alles beveg het, want ek wou elke oomblik bewaar. Ek wou elke oomblik intens ervaar en in my hart bêre, want wat van môre? Wat as môre kom en ek moet my handdoek van die vloer af tel en huis toe vat?

En toe daardie oggend kom was ek te verstom om werklik te begryp. Ek was te oorweldig deur die laaste nag se ontsaglike geveg tussen die lewe en die dood. Dalk was ek self so ‘n bietjie dood?


En nou is daar niks oor nie. Niks, behalwe die onthou. 

Maandag 28 Augustus 2017

SPIERE EN DIE FIETS

Die antie het gesê hy moet slaap, dis al laat. Hy is nie moeg nie, vir wat moet hy slaap? Hy dink die hele tyd aan Kerrie en Jannas. Dis niks lekker sonder hulle nie. Hy wonder hoeveel kuikens het hulle al sonder hom geëet. Simpel om sonder hulle te wees, simpel!

Die antie kom in die kamer in. Hy maak of hy slaap. Hy wil asseblief tog nie so laat in die aand nog moeilikheid kry by haar nie. Sy kom staan langs sy bed. O gatta, sy moenie sien hy is wakker nie. Hy knyp sy oë styf toe. Hy probeer om saggies asem te haal.

Sy vryf oor sy hare.

“Ouma se Johannes-kindjie. Spiere. Gmf! Wat sal Daisy sê as sy moet weet jy is hier? Maar Daisy traak nie met ons nie. Nee, sy is mos te grent met die ryk man en die blink huis. Nee, sy sal nie traak as sy weet nie. Ek sal haar ook nie sê nie, al vra sy my.”

Spiere se hart is seer. Al is hy bang vir die antie, wil hy g’n hê sy moet so baie huil nie. As sy huil en hy is naby, raas sy sommer met hom oor niks. Dan roep hy die hond en hulle gaan sit buite om die hoekie waar niemand hulle kan sien nie.

In die gang is ‘n kas met ‘n klomp foto’s bo-op. Dis lelike foto’s. Net een is mooi. Dis ‘n seun met ‘n fiets. Elke keer as hy van die kamer af kombuis toe loop, staan hy eers daar ‘n bietjie stil om te kyk na die seun op die foto. Die seun met die fiets op die foto.

Eendag vra die antie hom wat kyk hy so daar op die kas. Hy was eers bang om te sê, maar toe sien hy daar is nie kwaai in haar oë nie en toe vertel hy haar van die seun op die mooi fiets. Die antie het lank so gestaan en kyk na hom. Hy het later nie geweet of sy nog weet dat hy daar voor haar staan nie. Toe draai sy om en loop sommer buitekant toe en gaan maak die boom by die agterdeur nat. Nie ‘n woord nie. Niks. Sy maak net die boom nat.

Vandag gaan hulle winkel toe, het sy vroegdag al gesê. Sy het hom beetgekry by die wasbak en sy gesig seer gewas. Sy het sy hare twee keer natgekam, want die mense moenie dink hulle is hierjy’s nie. “Wat is ‘n hierjy, antie?” En sy lag en lag dat die trane loop. Hy lag toe maar ook, al het hy nie geweet hoekom hulle lag nie.

Dis baie lekker as hulle winkel toe gaan. Die antie loop stadig, maar sy traak nie as hy langs die straat met ander kinders gesels nie. Hy probeer ook oor die hekkies loer as hulle verby ander huise loop. Hy kyk altyd of die kinders fietse het. Daar is een meisiekind wat ‘n rooi fiets het. Dis jammer dis ‘n meisiekind – hy wil nie met meisiekinders speel nie. Die goed huil te maklik. Simpel.

Hulle wil meel en suiker en kopseerpille koop vandag. Die antie se kop pyn altyd as sy gehuil het. Sy sê hulle sal anderdag weer kom, dan koop hulle miskien konfyt vir die brood en spirits om die vensters mooi blink te maak. “’n Mens mag arm wees, Johannes, maar jy hoef nie vuil te wees nie.”

In die winkel is daar vandag amper nie mense nie. Dis baie stil. Die antie praat saggies met die vrou in die winkel. Dit lyk of sy bang is iemand kan haar hoor. Hy kan ook nie haar wat sy praat nie. Vir wat?

En toe kyk Spiere op. In die dak hang daar die mooiste fiets wat hy in sy hele lewe nog gesien het. Hy traak nie meer dat hy nie kan hoor wat die antie met die vrou praat nie. Hy kyk en kyk na die fiets. Dis nie rooi soos die meisiekind s’n nie. Dis ‘n swart fiets. Dis die fiets wat hy elke aand in sy drome sien. Sowaar, hier voor hom hang die fiets van sy drome.


Die antie trek hom aan sy arm. Hulle moet huis toe gaan met hulle meel en suiker en kopseerpille.

Saterdag 26 Augustus 2017

DIE STUKKENDE WINDPOMP

Jy sien die prentjie van die pomp vir die eerste keer en slaan jou hande saam omdat dit so mooi is. Sjoe, dit is werklik so, so mooi.

Maar dan begin jy wonder. Hoekom is dit so mooi? Dis maar net ‘n windpomp; ‘n stukkende windpomp. En jy wonder wat presies is dit wat jou trek.

Moertoegepomp. Regtig? Ek glo nie so nie. Kyk na die res van die pomp en jy sien dit is honderd persent heel en stabiel. Nou wat het dan nou hier gebeur? Waarom lyk hy soos hy lyk? Is dalk die werk van een geweldige stormwind? (Pa wou altyd weet of die pomp vasgedraai is as ‘n storm dreig.) Of is dit langdurige agterlosigheid en kan nie traak oor die pomp nie? Hoe sal ek weet? Al wat ek weet is dat dinge nie goed uitgewerk het vir die stomme ding nie. Ma sou gesê het: Oud en sat der dagen. My opinie is dat hy nie so oud is nie, maar sat der dagen, definitief!

Maar toe kom iemand en maak van hierdie nuttelose pomp ‘n pronkstuk. Hy kry ‘n naambord op, word staangemaak by die grenshek van die plaas en siedaar! Die pomp kan met trots daar staan en elke vriend of vreemdeling verwelkom plaas toe. Die pomp word ‘n landmerk. Jy weet, hier kan jy afdraai na jou mense toe – aan die einde van hierdie pad is daar rus en vrede.

En jy dink aan jou vriendin. Sy is nog jonk en is veronderstel om vuur en vlam vir die lewe te wees, maar haar kop hang en die stukke dreig ook om grond toe te val. Hoekom tog? Was dit een onbedagsame daad of dalk langdurige kan nie traak nie van haar geliefdes? G’n mens sal ooit regtig weet nie, maar sy is op en sat der dagen.


En iemand kom, so terloops, en tel hierdie stukkende mens op. Versigtig vat sy hierdie stukkende mens en loop 'n pad met haar. Sy doen dit saggies, stadig, onopsigtelik. 

En dan! Op 'n dag...

Sy lyk nog soos sy lyk, ja. Sy het nie eintlik verander nie, maar sy staan nou regop en trots. Sy kyk die lewe vierkantig in die oë en haar hele menswees nooi jou uit na haar warmte en liefde. Sy het alreeds vergeet van die dinge wat agter is, sy dink nie meer aan die kannie traak van die verlede nie. Sy weet wie sy is; sy sien rykhalsend uit na die toekoms.

 (foto geleen op facebook)






Donderdag 24 Augustus 2017

OM TE KAN ONTHOU

Die lewe is vreemd, báie vreemd! Ek sit vanaand en dink oor so baie dinge, maar dis net asof die gedagtes nie koers wil kry nie. Dan is dit dít, dan is dit dát. Jy sien, ek wil nie daar gaan waar dit nog te seer is nie – die hartseer is nog maar redelik rouerig en die trane loop alte maklik. Nou keer ek dat dit bars om liewer maar aan ander dinge te dink.

Sit ek namiddag so ‘n bietjie op facebook en rondkrap, en ek loop twee ou vriende raak. Ek wil dadelik aan die gesels gaan op whatsapp, want ‘n mens het jare en jare verloor sedert skooldae. Die een is dadelik vuur en vlam en die gesels loop lekker. Ou Boytjie se vrou laat weet hy is tegnologies gestrem en hy het nie daardie soort goed op sy foon nie. Ai tog, in my huis gaan dit ook maar so – die man se reünie-groep is ook via my e-mails. Elke huis het mos maar sy kruis, is dit nie?

Vyf en dertig jaar is verby waarin die meeste van ons mekaar nie weer gesien het nie. En tog, dit voel maar soos gister of eergister wat ons die laaste woordjies gepraat het voordat Pa jou kom oplaai het met al jou koffers en boeke en hele menswees. Die koshuiskamer was leeg en jy was so half soos ‘n haas sonder ‘n plek om te gaan slaap vanaand. Die lewe het gewink en jy was so half bang-opgewonde.

En nou het ons min of meer by die draai van die pad gekom. Die meeste het al afgetree en is rustig in hulle blyplek. Ander woed nog voort en sweer om nooit op te hou werk nie. Jy dreig om iets te reël om almal weer te sien, want die lewe is aan die verbygaan. Maar van die reëlings kom daar nie veel nie, want almal is besig om nog steeds te bou aan sy toekoms.

Wat ons nie besef nie, is dat NOU die toekoms is! Hoekom wil ek wag vir later? Wat is beter aan ‘later’ as aan ‘nou’? Moet ons nie maar begin dink aan die dinge wat saak maak nie? Waaraan bou ek? Is dit geld in die bank? Geld is bloot ‘n paar syfers op papier en het geen waarde wanneer dit by die dinge van die hart kom nie. Of bou ek aan ‘n loopbaan? Regtig? Nou nog? En wanneer gaan jy daar kom waar jy uiteindelik tevrede is dat jy nou genoeg bereik het? Dink jy regtig dat dit môre of volgende week of volgende jaar beter sal gaan? Het jy nog nie geleer dat dit ‘n leun is nie?


Ek weet dat die lewe geen sin het vir die alleenmens nie. Ons het mekaar nodig. Ons het nodig om te kan onthou. Ons het nodig om lief te hê. Ons het nodig om te lewe – VANDAG nog, nie môre nie.

Dinsdag 22 Augustus 2017

Ek wil by antie Hêppie en die hond bly.

Hy sit nog so met die koffie toe die antie omdraai en by die gang inloop. Hy is bly, want nou kan hy sy koffie slurp. Matrone klap hulle op die kop as hulle die koffie opslurp. Dis lekker om warm koffie te slurp.

Hy verlang na Jannas en Kerrie. Dis amper slaaptyd. Hy wonder of hulle gaan bad het vanaand. Gewoonlik kruip hulle weg as dit badtyd is. Vir wat moet 'n mens elke dag bad? Jy jeuk te veel as jy so baie bad. Matrone wil vaseline aan hulle bene en arms smeer, maar dit stink te veel. Die meisiekinders blink altyd so as hulle vaseline gesmeer is. Hy is g'n 'n meisiekind nie. Sy naam is Spiere...of is dit Johannes?

Dis nou darem baie stil in die huis. Hy hoor nie meer die antie vroetel nie. 'n Groot bruin hond kom van die gang af in. Hy is nie bang vir die hond nie, sy oë is vriendelik. Hulle twee gaan buite piepie. Die hond sleep 'n kombers onder die stoof uit en gaan lê daarop. 

Waar is die antie? Hy raak ook nou vaak. Dis al donker. Hy wil nie die lig aansit nie. Hy weet nie of die antie sal raas nie. Hy gaan lê langs die hond. Dis lekker warm. Hy raak aan die slaap met sy hand op die hond se kop.

Iewers in die nag het ouma Hêppie hom kom haal. Hy wou eintlik nie saam met haar kamer toe gaan nie, want dit was te lekker so agter die hond se rug. Hy wou piepie, maar sy het nie gevra of hy dalk wil piepie nie, toe sê hy liewer maar niks. Hy het lank wakker gelê, want die antie snork en sy bed was koud.

Toe hy opstaan is sy nie meer in die kamer nie. Hy loop kombuis toe en kry die hond daar. Hy wonder wat is die hond se naam. Hy sal die antie vra.

Sy kom van buite af in. Haar hare staan woes. “Die wind is koud, jy moenie buite toe gaan vanoggend nie, hoor jy my.”

Hy en die hond kry pap. Dis lekker soet pap. Die kinderhuis se pap het nie suiker op nie, want anders is die koffie nie soet nie. Hulle kan nie gekies het nie.

Die antie kyk nie vir hom nie. Hy wil met haar praat. Hy wil weet wat is die hond met die warm rug se naam.

“Luister nou mooi na my,” praat die antie skielik agter hom. “Netnou kom hier mense, maar jy moet kamer toe gaan as hulle kom. Dis nie nodig dat jy ons tande tel nie. Hoor jy my mooi?”

Toe die mense aan die deur klop loop hy sommer self kamer toe. Die kamer is donker. Die gordyne is nie oop nie. Matrone sê ook altyd ‘n netjiese plek se gordyne is toe. Hy hou nie daarvan nie. Dis lekker as die son by die vensters inkom. Hy vra altyd vir die son om hom te kom haal dat hy kan gaan kyk waarnatoe ry al die karre in die straat.

Hy hoor die mense praat. Die antie praat hard. Dit klink of sy kwaad is. Of miskien huil sy? Hoekom sal sy nou wil huil, jou simpel.

Hy probeer hoor wat hulle praat, maar die deur is toe. Hy hoor net hulle praat baie hard. Die antie praat die hardste.

Toe hy die deur hoor oopgaan, maak hy of hy slaap. Die vrou van gister kom sit by hom op die bed. Sy vryf oor sy hare. Dit is lekker. Hy dink sy is miskien lief vir hom.

“Wil jy by antie Hêppie bly, Spiere?”

Hy weet nie wat moet hy antwoord nie. Miskien is dit beter hier, maar hy verlang na Kerrie en Jannas. Sê maar hulle kan ook hier kom bly? Maar hy is te bang om te vra. Die hond kom lê by sy voete. Hy lek aan sy hand. Dis lekker dat die hond lief is vir hom.


“Ek wil by antie Hêppie en die hond bly.”

Spiere en die antie

“Antie, ek is honger. Ek...”

“Ek issie jou antie nie. My naam is Hêppie. Vir wat moes die mense jou hier kom aflaai het? Wat dink hulle wat moet ek met jou maak?”

Die kind skarrel by die agterdeur uit. Hulle het gesê hy kom nou by die antie bly. Sy sal goed wees vir hom en dit sal vir hom lekker wees om hier te bly.

Hy sit styf teen die muur by die agterdeur. Die wind kry hom nie daar so beet soos as hy in die sonnetjie op die trappie sit nie. Hy kry koud. Hy is honger. Hy is bang vir die antie.

Sy praat aanmekaar en hy kan nie help om te hoor nie. Dit voel vir hom so half of hy haar afluister en hy is skaam daaroor. Hy is ook bang dat sy sal uitvind en dan gaan sy hom seker wegjaag.

“Vir wat moes hulle hom hier kom aflaai? Weet hulle dan nie dat ek jarre terrug al klaargemaak het met hom nie? Hulle weet mos ek kan nie nou staan en t’rugdraai en hom kom liefkry nie. Vir wat!?”

Hy het nog geslaap vanoggend toe hulle hom kom haal het. Hulle het hom nie eens kans gegee om vir Kerrie en Jannas baai te sê nie. Hulle altwee het nog geslaap. Hulle sal wonder waar hy is en wie sal vir hulle help kuikens vang? As hulle so honger is daar in die kinderhuis, vang hulle die matrone se kuikens. Sy weet nie hoeveel sy het nie, sy vra nooit eens wat het van hulle geword nie. Dan maak hulle skelm vuur agter die groot koeler en dan braai hulle die kuiken so met sy vere en alles. Partykeer kry hy die kop – dis vir hom die lekkerste van die kuiken. Ander kere baklei Kerrie en Jannas oor die kop, dan kou hy die voetjies skoon.

Hulle het vir hom gesê hy gaan nou by sy antie bly. Maar hy het gehoor hulle praat van sy ouma. Hulle het gedink hy slaap, toe praat hulle van sy ouma en van Daisy. Hy ken ook nie vir Daisie nie. Nou weet hy ook nie lekker of hierdie antie sy ouma is nie. Sy sê dan haar naam is Hêppie. Sy lyk vir hom g’n hêppie nie.

Skielik gaan die agterdeur oop. Sy staan daar en kyk na hom. Hy wil nie opkyk nie, hy is bang vir haar kwaai oë.

“Kom in. Jy sal siek word hier buite en dan sit ek nog daarmee ook opgesaal. Sit. Jy moet vir jou gedra hier by my. Ek is nie lus vir nonsies nie, hoor jy my.”

Hy weet nie of hy haar moet antwoord nie. Dit lyk nie of sy sal hoor as hy praat nie. Hy is honger.

Sy sit ‘n beker koffie en ‘n sny brood voor hom neer. Hy is so honger dat hy nie eens vra of hy dit mag eet nie. Dit smaak amper soos die brood in die kinderhuis, dis net nie so hard nie. Hêppie staan by die kas en eet. Hy kan nie haar gesig sien nie, maar hy kan sweer sy huil. Vir wat? Hy weet nie.

“Wat is jou naam?” Hy wip soos hy skrik toe sy met hom praat.

“Hulle sê vir my Spiere, Antie.”

Vir wat vra sy dit vir hom? Hy het gehoor dat sy met die ander mense gepraat het en dat sy sy naam ken. Hou sy nou vir haar dom? Hy is bang vir haar. Sy staan nog net so met haar rug na hom toe.

“Jy is te ellendig maer om Spiere te wees. Dom! Jou naam is Johannes Oosthuizen, hoor jy my? Jou naam is Johannes en Johannes sal dit van nou af wees.”

“Ja, Antie.”

Sy draai om en kyk vir hom. Hy kan sweer haar oë is nou sagter as netnou.



Sondag 20 Augustus 2017

AS MY PENNE WEGRAAK...



Soms, net soms, raak al my penne weg. Die draadwerk in my kop raak so 'n bietjie deurmekaar, want die emosies is te veel. Sulke tyd is daar net een raad - luister na musiek en wag tot jou penne huiskry.

Donderdag 17 Augustus 2017

HIER IS VIR JOU 'N BLOMMETJIE, OUSKAT

(Nee, dit is nie 'n spelfout nie. Ek praat nie van ou SKAT nie, 'n mens spreek dit uit OUskat, met die klem op die 'ou'.

Onlangs lees ek die opmerking dat, as jy vir jare nie met ‘n vriend of familielid kontak gehad het nie, bestaan daardie verhouding nie meer nie. Regtig? Ek betwyfel nie daardie persoon se gevoelens enigsins nie, maar my hart klop so ‘n bietjie anders.

Op hoërskool kry ek ‘n maatjie. Ons is in dieselfde klas en deel daarom redelik dieselfde belangstellings. In vergelyking met hedendaagse standaarde, sou ek sê ons was net redelike goeie kennisse. Maar in my hart het ek altyd geweet hy ken my baie beter as baie van my ander maters. Hoekom dan so? Omdat ons diep dinge gesels het? Nee, glad nie. Daar is mos maar net dinge in die lewe wat jy weet sonder dat jy gesê is.

Die spontane openlikheid van die jeug! Ons was saam in die koor. Hy was ‘n bas (probeer ek nou onthou) en ek was ‘n alt. En het ons vir jou gesing! Die kooroefeninge van Mev Anna P. was net so lekker soos die konserte waarin ons opgetree het. As sy voor daardie klavier gaan sit het, kon hoor en sien vergaan soos ons klomp dit uitgejubel het.

Dan was daar die volkspele-oefening een maal per week. Hoe dit gekom het weet ek nie, maar op ‘n goeie aand was ek en hierdie mater van my ‘partners’ en so het dit gebly tot die laaste keer wat ons volkspele gehad het. Hy was onbeskaamd in sy genot aan die draai en swaai en sing saam met die klavier. Die gevolg was dat ek ook van my skamerige draaitjies en swaaitjies ontslae geraak het en saam met hom die hele baan vol gedraai en swaai het. Dit is lekker om jonk te wees en lekker om jonkwees saam met iemand te geniet, het my hart gesing.

Maar, soos met alle goeie dinge, kom ons skooldae toe ook tot ‘n einde en ons spat uiteen. ‘n Nuwe lewe wink vir elkeen en jy dink nog net so nou en dan aan die klompie met wie jy so baie jare gedeel het.

Ek sien my vriend een maal weer onder baie ongemaklike omstandighede. Ek was agterna so jammer dat hy die moeite gedoen het om by my aan te kom. Ek was so bitter verleë oor die plek in my lewe waarin hy my kom sien het. Ek was skaam! Ek het gehoop om hom nooit weer te sien nie.

Maar die lewe loop mos vreemde draaie met ‘n mens. Soms het jy beheer daaroor, soms kom dit na jou toe aan en jy het dan die keuse hoe jy daarop gaan reageer.

Vroeëer vanjaar tref die groot hartseer my. Ek is gebroke in my verlies oor my moeder. Soms voel dit vir my asof die hele wêreld se mense eenvoudig nie omgee oor hoe ek voel nie, of dat hulle vergeet het hoe leeg my hart is. Ek besef ek is verkeerd, maar ‘n mens se kop praat soms lelike goed en jy moet walgooi voordat dit jou geheel en al insluk en jou gevoelens kom oorneem.

Maar dit nou daar gelaat. Wat my die meeste verbaas het, is dat hierdie mater van my opeens uit die niet verskyn. Nee, nie met lang stories en trooswoordjies nie. Net sommer so half terloops spring die boodskap op my foon. ‘Hoe gaan dit? Ek weet jy kry swaar.’ Net dit. Nie lang stories nie. Net sommer so.

Dan is dit weer stil. Ek praat nie en hy praat nie. ‘n Maand of twee later kom dit weer: ‘Hou jy nog? Ek weet dit is moeilik.’

Dit is soos hy dit doen. Sonder enige ophef of geklank van trompette en simbale. Net die blote gelangstelling so dan en wan.

En ek wonder...! Kan ‘n mens besluit om soveel empatie met ander mense te hê of word jy so gebore? Ek sou ook graag so ‘n mens wou wees. 

Wat 'n voorreg om so op die regte tyd vir iemand te kan sê: 'Hier's vir jou 'n blommetjie, ouskat. Ek sien dinge loop 'n bietjie rof by jou.'

Maandag 14 Augustus 2017

EK KAN NIE SONDER JOU NIE.

Gevaarlike dinge wat ek lees op facebook: wie se werk is belangriker as wie s'n. En daar gaat my gedagtes alweer.

Die persoon sonder die volgende beroepe uit: Pastore, onderwysers, polisiemanne en mediese personeel. Ek stry nie, sonder hulle sal 'n land maar redelik arm wees, dit is gewis. Maar ja! Wat dan nou van die res?

Ek kom vanoggend by my werk en die honde het laasnag die asdrom omgegooi. Wat 'n gemors! Onmiddellik soek ek na die persoon wat gisternamiddag die drom moes uitgegooi het. Hy vra mooi verskoning en gaan maak die drom leeg. Hy kla nie, hy is nie dikbek nie, hy maak dit sonder ophef leeg.

Laat vanmiddag gaan ek petrol ingooi. Die joggie kom draf-draf aan na my motor toe. ‘Middag, my Mevrou. Moet ek hierdie band so bietjie wind gee? Hy lyk nie so mooi nie.’ In die verbygaan wil hy my voorruit ook was, maar ek is ‘n bietjie haastig en beduie hy moet maar los. Dankie tog dat hy die pap band gesien het! Ek weet daarvan, maar mettertyd het ‘n mens mos maar die ding om gewoond te raak aan iets en dan pla dit jou nie meer nie. Ek gee hom ‘n ‘tip’ en ry huis toe. Wat kan hy met daardie geldjie doen? Ek kry skaam by die gedagte aan hoeveel ek sommer in ‘n paar minute in die winkel spandeer, maar ek verwag dat hy my baie mooi moet bedank vir ‘n sent of twee in sy hand.

So van die winkel gepraat – as die kassiere nie vriendelik genoeg is nie, vra ek baie maklik vir haar wie haar dan nou kwaad gemaak het. Wat weet ek van die siek kind by die huis? Pla dit my dat sy van Maandag tot Sondag daar moet staan en met elkeen se buie en grille en giere moet tevrede wees? Ek weet nie van die vorige kliënt wat ongeskik en dalk onredelik met haar was nie. Ek staan nou voor haar en dit is my reg dat sy vriendelik moet glimlag en mooi woordjies moet praat met my.

En die vrou in my kombuis? Weet ek van die siek ouma en die sinkdak wat laasnag afgewaai het? Weet ek eens hoeveel magies sy probeer volmaak met die kos wat sy by my kry? Wat presies weet ek van haar hartseer en begeertes? Nee man, ek het nie nog tyd om na al haar stories ook te luister nie! Jy weet mos hoe dit gaan – gee hom die pinkie en hy gryp die hele hand.

Kantoorpersoneel is ‘n ander saak. Sy sit agter haar rekenaar en begeer om ook soos die ‘Meneer’ of die ‘Mevrou’ ‘n lekker vet salaris huis toe te kan vat. As haar pa tog net daardie tyd geld gehad het dat sy kon gaan leer, maar daar was vir haar geen genade anders as om te gaan werk nie. Sy weet sy sal tot aan die einde van haar dae agter ‘n rekenaar sit en tik en sy weet sy moet daarmee vrede maak. Maar ai, as iemand haar tog net ‘n kans wil gee om haarself te bewys!

Die lys is nimmereindigend. Wat van die vriendelike teedame wat pligsgetrou, op die minuut, jou koppie tee langs jou neersit? Soms is jy te besig om selfs op te kyk en dankie te sê. Ag wat, ek sal maar môre twee keer dankie sê, sy hoef haar nie so te wip nie. Sy kan mos sien ek is besig! En die klerk in die poskantoor? Daardie stempel sou my op dag een al tot raserny gedryf het, maar sy moet hom stamp, stamp, stamp! Dit is mos waarvoor sy betaal word, is dit nie?

Ons kan baie maklik sê ons dorp is vieslik vuil, maar ek persoonlik het nog nooit eens probeer om die mense wat loop en skoonmaak te bedank nie. O nee, ek gooi liewer nog ‘n papier in die straat en lag dan daaroor as die skoonmaker moet buk om dit op te tel.

Daar is nog so baie, hulle is te veel om op te noem. Die man met die rooi vlag wanneer hulle besig is om aan die pad te werk. Die vrou wat op die straathoek braaivleis verkoop omdat sy haar kind deur die skool moet kry. Die karwag wat jou motor oppas terwyl jy gaan inkopies doen en dan 'vergeet' jy om hom te betaal. Die vroutjie wat jou hare was in die haarsalon. Ek is seker jy kan my lys nog baie langer maak.


Ek besef een ding – ons is mense en ons het mekaar nodig!




Donderdag 10 Augustus 2017

DIE EINDE?

Die letters dans voor jou oë. Jy wil dit eintlik nie sien nie. Jy wil dit nie lees nie. Maar dit staan daar groot en in donker hoofletters: INFORMELE LIKWIDASIE EN DISTRIBUSIEREKENING BOEDEL WYLE...!

En, liewe Mevrou so en so, terwyl jy dit nou gelees het, hier is ‘n koevertjie met jou aandeel van die buit. Kry vir jou en geniet dit gerus soos jy goeddink. Niemand gaan jou daarna vra nie, so jy kan maar lekker mors daarmee. Amen.

Ek kyk daarna en ek is verstom oor die banaliteit daaraan. Is dit wat oorgebly het van 79 jaar (sy ouderdom) en 86 jaar (haar ouderdom) jaar op aarde? Is dit die enigste bewys dat hierdie man en vrou geleef het? Is dit sowaar die uiteinde van elkeen van dit alles? ‘n Paar nommertjies op ‘n stukkie papier. Die papiertjie lê en wapper in die wind. Die wind gryp dit en gooi dit wie weet waar op die vlaktes neer...en daar is NIKS om te wys van die swoeg en sweet van 165 jaar op hierdie aarde nie. Dit kom spontaan by my op: Wat is die mens? Soos gras is sy dae...

Maar, as ek mooi dink, is dit nie regtig waaroor dit alles gaan  nie. Hulle is weg, ja, maar hulle sal nooit WEG kan wees nie.

Ek is die vrug van hulle lewens. Ek is die bewys dat hy moes woeker met sy talente en dat hy al sy kragte moes inspan sodat ons kon lewe. As hy nie op die yskoue wintersoggende buite in die wind gestaan en velletjies ooptrek het nie, was daar niks vir my om te gaan leer nie; was ek nie vandag in die beroep waarvoor ek so innig lief is nie. As hy nie voortdurend aan my gekarring het met ‘Martha, jy KAN’ nie, het ek dalk iewers ophou probeer; het ek dalk op ‘n hopie gesit en wonder wat om met die res van my dae te doen.

As sy nie dag en nag naaldwerk gedoen het om te sorg dat ek genoeg klere het om te dra in die koshuis en skool nie, was ek dalk ook vandag iewers in ‘n agterstraat besig om te smous met wat ookal; sonder geld en sonder ‘n heenkome. Want sy het geweet dat hy nie die geld gehad het om klaargemaakte klere te koop vir die kinders nie. Sy het geweet sy moes help bou aan die toekoms van hulle kinders. En sy het. As sy nie die geduld getoon het wanneer ek sulke tye (wanneer sy naaldwerk moes doen) agter die kospotte was met my eie brousels nie, sou ek vandag kon kook? Of sou ek afhanklik wees van die plaaslike ‘take aways’?

En as hy saans die Bybel gevat het en almal sit rondom die tafel, het hy soms gedink dat dit ‘n lewenslange herinnering vir my sou bly? Die sterk stem, die hande rustig langs die Bybel op die tafel, die geboë hoof wanneer hy bid.

En wanneer sy vieruur in die oggend opgestaan het om te bid, het sy soms gedink dat dit nie nodig is om te praat nie, want haar hele lewe spreek van haar liefde vir haar Maker? Het sy besef dat dit die grootste getuienis is wat sy ooit kon lewer?

Ek kom tot die besef – hulle is nie weg nie. Hulle kan nooit weg wees nie, want hulle het gebou aan die mens wie ek is. Hulle het in liefde vermaan en getug. Hulle het met groot opgewondenheid aangemoedig en geprys. En bo alles het hulle my so oneindig liefgehad.

Nee, dit is glad nie die einde nie. 

Sondag 06 Augustus 2017

TUISKOMS

Sy skrik half toe die deur agter hom op knip gaan. So, dit is dan nou dit. Daar is hy nou weg soos wat sy al vir jare gewens en gebid het. Uiteindelik kan sy vry asemhaal!

Sy kyk op haar horlosie. Dit is halfdrie. Daar is nog meer as genoeg tyd om reg te maak. Sy wil fliek toe gaan om hierdie nuwe vryheid te vier. Hoe lank al sien sy daarna uit om te kan maak net soos wat sy wil en wanneer sy wil.

Op pad kamer toe stop sy by die drankkabinet en gooi vir haarself ‘n glas rooiwyn. Glas in die hand stap sy kamer toe. Sy steek vas voor die lang spieël in die gang. Genugtig! Wanneer het sy so oud geword? Haar hare lyk opeens vir haar so verwaarloos en onversorgd. Sy sal ‘n plan moet maak om by die haarkapper uit te kom. Sy lug haar glas vir haar spieëlbeeld. “Gesondheid!”

Sy draai die badkrane groot oop en soek solank na iets om aan te trek. Sy wil op haar mooiste lyk vanaand – ‘n mens weet nooit wie jy wanneer raakloop nie. Sy bad lank en vertroetel haarself soos sy lank nie gedoen het nie. Sy het nou baie tyd om aan haarself te spandeer en in die toekoms sal dit so wees, belowe sy haarself.

Toe sy uiteindelik by die fliek kom, is daar soveel jongmense en kinders in die ry voor die gebou dat sy sommer omdraai en huis toe ry. Sy besef dat sy haarself gebluf het. Sy is glad nie lus vir fliek nie. Inteendeel, sy het eintlik glad nie lus vir enigiets nie. Sy voel gespanne en geïrriteerd en sy weet nie waarom nie.

Toe sy by die huis kom, draai sy oudergewoonte die deurhandvatsel om in te stap. Toe eers besef sy dat die deur gesluit is, want John is vanmiddag weg daar en hy sal nie terugkom nie. Nie vanaand nie. Nie môre nie. Nooit weer nie.

Sy sluit die deur oop en gaan in. Sy sit nie die ligte aan nie. Sy stap tot by die naaste bank en gaan sit op ‘n hopie.

Wat het verkeerd geloop tussen haar en John? Wanneer het dit begin verander tussen hulle? In die vyf en twintig jaar wat hulle getroud is het hulle nog nooit watwonderse groot rusies gehad nie. Sy is die opvlieënde een en John is die stil vredemaker. Wanneer haar stemtoon opgewonde styg en sy woedend reageer op iets, is hy die een wat rustig wag totdat sy uitgewoed het. Hy glo ‘n mens antwoord nie ‘n dwaas in sy woede nie, sê hy altyd.

Hulle het nie kinders nie. Sy was eenmaal swanger en het die baba op ses maande verloor. Die hartseer tussen hulle twee was so groot dat John haar oortuig het dat hulle sonder kinders net so gelukkig kan wees. Hulle het mos mekaar, het hulle nie? Al het sy nie noodwendig met hom saamgestem nie, het sy nie met hom probeer redeneer daaroor nie. Sy was op daardie stadium verlig dat sy nie die besluit hoef te neem nie, want die dokter se opinie was dat hulle maar redelik sou sukkel om ‘n baba te kan kry as gevolg van een of ander hormoonwanbalans.

John het reeds voor hulle troue vir haar gesê dat hy daarvan sou hou as sy nie buitenshuis werk nie. Hy het in ‘n gebroke huis grootgeword en sy ma mos swoeg en sukkel om hom en sy twee susters groot te maak. Toe sy later besef dat hulle nie kinders sou hê nie, het sy dit oorweeg om te gaan werk, maar sy het geen formele opleiding gehad nie en het haar toe liewer verdiep in haar skilderkuns. John het selfs vir haar ‘n ateljee in die agterplaas gebou. Liewe, liewe John!

Hulle lewe saam was soos ‘n rustige rivier – geen onstuimige rusies, geen groot verrassings, geen opwinding van enige aard nie. Haar vriendinne het haar beny, want hulle lewens het totaal en al verskil van haar eie. As dit nie die kinders is wat rondgery moet word nie, is dit die man wat laat van die klub af kom of wat ookal die krisis vir die spesifieke dag mag wees. As hulle so uitbrei oor haar wonderlike lewe, het sy stil geglimlag en glad nie reageer nie. Hoe sou hulle kon weet dat sy asseblief tog smag na ‘n klein bietjie opwinding?

Sy staan op en gaan maak vir haar sterk swart koffie. Sy kry opeens koud, al is dit in die middel van die somer. Koffie in die hand gaan sit sy weer op die bank. Sy besef sy sal nooit vannag kan slaap nie, dus doen sy nie eens die moeite om te gaan uittrek nie.

Iewers het die liefde tussen hulle begin taan. Sy weet nie wanneer nie. Sy weet ook nie waarom nie. John het stiller en stiller geraak en het byna nooit meer probeer om met haar geselsies aan te knoop nie. Sy was altyd so verdiep in haar skilderwerk dat dit vir haar ‘n irritasie was as hy huis toe kom laat namiddag. Sy moes noodgedwonge oppak en aandag aan hom gee.

Vir ‘n jaar of twee het sy dit nog probeer doen, maar toe besluit sy dat hy baie onregverdig is om dit van haar te verwag. Van toe af het sy nie eens meer sy motor gehoor intrek by die garage nie. Sy was bloot net nie meer ingestel daarop nie. Hy was die een wat haar dan kom opsoek het en ‘n soentjie op die kop gegee het. Daardie soentjies! Op ‘n dag het sy hom ongeskik weggestoot toe hy haar wou soen. Van toe af het hy nooit weer probeer nie.

En toe kom die ongeluk. Sy het nie eens geweet dat hy daardie dag na ‘n naburige dorp toe sou gaan om na sy besigheidsbelange daar om te sien nie. Sy het lankal niks meer van hom geweet nie. Toe haar foon lui en sy sien dit is van ‘n onbekende nommer, wou sy eers nie antwoord nie. Maar die foon het herhaaldelik gelui en sy het nie ‘n keuse gehad nie, sy moes dit beantwoord.

Daar, langs die hospitaalbed, het alles verander. Opeens was sy nie meer die vry mens wat kon láát slaap en doen wat sy wou nie. Opeens was sy verantwoordelik vir ‘n mens wat halfpad verlam is, ‘n mens wat sy moet bad en aantrek en in die bed sit. Sy was vasgevang in ‘n verhouding met ‘n verlamde man wat eens, baie jare gelede, haar groot liefde was.

Patrick was haar groot uitkoms. Hy het sy hulp aangebied toe sy eendag by die rehabilitasiesentrum was met John. Wat ‘n verligting! Die lang, stil man het opeens al haar pligte oorgeneem en sy was weer vry. As dit nie was vir die rystoel nie, sou sy kon dink hulle lewens het weer na normaal teruggekeer.

Sy kon hom later nie meer aankyk nie. Soms het sy verwese gesig haar skuldig laat voel. Skuldig omdat sy geweet het dat dit sy is wat dit aan hom doen met haar afsydigheid. Ander kere het dit haar mal van irritasie gemaak as sy so na hom sit en kyk aan die etenstafel. Genugtig man, kry net jou eie lewe en los my uit!

Sy het doelbewus soggens later as gewoonlik begin opstaan. ‘n Paar oggende het hy kom inloer in haar kamer en gevra of sy siek voel of wat. Mettertyd het hy besef dat sy bloot net nie meer vroeg opstaan nie. Hy en Patrick het ontbyt gemaak en dan het hulle doodeenvoudig werk toe gery sonder om haar verder te pla. Dit het haar goed gepas. Sy kon hom nie meer aanskou in sy selfbejammering nie.

Twee maande terug het sy roetine skielik begin verander. Hy het vroeër as gewoonlik opgestaan en werk toe gery. Hy het ook nie meer direk na werk huis toe gekom nie. Eers het sy niks agtergekom nie, tot die dag wat die stoof gebreek het en sy ongeduldig gesit en wag het dat hy na werk huis toe moet kom. Toe dit laat begin word, het sy besef dat hy al vir ‘n geruime tyd nie meer namiddae so vroeg by die huis is nie.

Sy het onmiddellik tot die gevolgtrekking gekom dat hy haar verneuk. Waarom anders sal hy nie huis toe kom nie? Sy het begin sy sakke deursoek voor sy sy klere versorg, maar sy kon niks kry nie. Selfs die dag wat hy sy selfoon by die huis vergeet het kon sy niks buitengewoons daarop sien nie. Geen vreemde nommers of verdagte oproepe nie. Niks wat haar vermoede bevestig het nie. Niks! Sy het geweet dit sou nie help om vir Patrick te vra nie, want hy is soos ‘n getroue brakkie agter John aan en hy sou hom nooit verraai nie.

Sy moes ingesluimer het op die bank, want sy skrik opeens wakker en wonder vervaard waar John dan is. Hy moes mos lankal by die huis gewees het, dan nie? En toe besef sy dat hy mos weg is. Hy is weg met ‘n enkele koffer. Waar sou hy nou wees? Wat maak hy so op sy eie? Is hy ooit alleen, of is hy nou by iemand met wie hy lekker kan gesels en lag?

Sy staan styf-styf op en gaan kamer toe. Sy voel moeg en gedaan van min slaap, maar sy besluit om vandag iets aan haarself te doen. Sy het nog altyd geglo dat dit goed vir die siel is as jy selfs net jou hare ‘n slag laat knip of as jy ‘n nuwe paar skoene dra. Dus, vandag is die dag vir oorbegin, besluit sy halfhartig.

Sy gaan sit op die bed om haar skoene uit te trek. Sy kom nie verder as dit nie, want opeens bars sy in trane uit. Sy huil oor alles waaroor sy nog nooit gehuil het nie. Sy huil omdat sy toe nooit ‘n eie kindjie gehad het nie. Sy huil omdat sy die lewe mis wat haar vriendinne so kla oor. Sy huil oor haar hondjie wat ‘n maand terug oorlede is. En ja, sy huil omdat John weg is.

Toe sy vanoggend uit haar kamer kom, was sy baie verbaas om hom nog by die huis te sien. Hy het in die kombuis gesit en koerant lees. Toe sy inkom, het hy met sy rystoel tot voor haar gekom. Sy kon dadelik sien dat daar groot moeilikheid is. Sy ken dit nie dat hy homself so voor haar kom staanmaak nie. Vir ‘n oomblik was sy amper bang vir sy dreigende houding.

Maar toe hy begin praat, was dit die stil, ordentlike man van altyd. Hy het, sonder om te wag vir haar reaksie, aangekondig dat hy nou genoeg gehad het van ‘n liefdelose huwelik. Hy sien nie meer kans daarvoor nie en daarom gaan hy vanoggend vir hom ‘n ander blyplek soek. Hy sal sy klere kom haal wanneer hy iets gekry het. Sy was stom! Sommer net so? Wil hy sommer net padgee? Maar hy was reeds by die deur uit.

Sy trek ‘n sweetpak aan en gaan klim in die motor. Sy ry doelloos in die strate rond totdat sy iewers langs die see tot stilstand kom. Sy huil so dat sy in elk geval nie durf bestuur nie. Waarom het dinge so uitgedraai? Waarom was sy nie maar tevrede met hierdie lieflike man van haar nie? Sy ken niemand anders wat met soveel liefde sy hele lewe vir iemand anders sal opoffer soos wat hy maar altyd bereid is om vir haar te doen nie. Sy weet hy het haar innig lief. En ja, sy is vir hom ook baie lief. Nou waarom dan het sy belang verloor? Waarom kon sy nie tevrede wees met die rustigheid wat hy saam met hom dra nie?

Toe sy uit die motor klim voel sy die ysige wind. Sy het tred verloor met die tyd. Dit is donker en die misvlae waai teen haar gesig vas. Op die agterste sitplek van haar motor is ‘n kombersie wat sy ‘n vorige keer daar vergeet het. Dankbaar gooi sy dit oor haar skouers en gaan sit op ‘n rots. Sy kan die branders byna nie sien nie, maar dit maak nie saak nie. Dit maak eintlik glad nie saak waar sy is nie, want haar hart smag na die een mens wat sy uit haar lewe gedryf het.

‘n Motor se ligte val oor haar en sy wonder vir ‘n oomblik of dit nie dalk ‘n bietjie gevaarlik vir haar is om so alleen te sit nie.

Skielik is dit Patrick se stem agter haar. “John roep na jou. Hy sit daar anderkant op die bankie.”

Bewend staan sy op en stap na hom toe. Hulle praat nie. Hulle sit doodstil langs mekaar. Sy leun teen hom aan en voel sy ou bekende warmte en rustigheid.




Vrydag 04 Augustus 2017

KUIER OP OUPA EN OUMA SE PLAAS

Familiesaamtrekke op die familieplaas was 'n alledaagse ding. Die redes het (soms) verskil, maar daar was gereeld so 'n byeenkoms by die grootoupa en -ouma.

Ma maak Jodetert en sjokoladekoek. Ons gaan môre Oupa se verjaarsdag vier. Maar dis nie net sy verjaarsdag nie, hulle is drie wat die groot dag deel. Oupa en twee van sy skoondogters verjaar op dieselfde dag. Dit is 'n groot optog na Oupa se plaas toe. Die manne kuier en die kinders speel, maar die skoondogters staan bankvas agter die kospotte vir vanmiddag se groot ete. Dit was maar altyd so - Ouma is die opperbevelvoerder en die dogters en skoondogters roer die potte. Middagete is 'n aardigheid! Daar is kos vir 'n weermag, want daar is om een of ander rede geglo dat, as 'n opskepbak leeg teruggaan kombuis toe, het die mense nie genoeg gehad om te eet nie. Wat agterna van al die oorskietkos geword het, het ek nooit gevra nie. 'n Mens wonder maar net nou daaroor.

'n Ander byeenkoms het onaangekondig opgedaag - gewoonlik op 'n baie ongemaklike/ongerieflike tyd. Dis donkernag as die plaastelefoon sy drie kortes en een lange lui. Daar in jou bed, half deur die slaap, hoor jy Pa se bekommerde stem. Jy raak dadelik weer aan die slaap, maar jy weet wat nou gaan gebeur. Ma kom by die kamer in. Sy is reeds aangetrek en klink haastig. "Staan op en trek vir julle netjies aan, Ouma is siek. Kom, maak gou!" Jy weet daar is nie teë te praat nie, jy moet opstaan en tandeborsel en in jou klere kom voordat Pa moeilik raak. Op Oupa se plaas is dit nie so lekker soos gewoonlik nie. Die kinders moet gesien, maar nie gehoor word nie. Die manne sit om die kombuistafel en praat binnensmonds. Die vrouens maak beurte om die sieke te versorg en dra koffie vir die kwaai manne aan. Die stoof word beman deur een of twee van die vrouens, want geëet moet daar geëet word. Die dokter is ver, dus moet hy oor die telefoon 'n diagnose maak en iets voorskryf. Nou, hoe nou gemaak? Daar is nie sulke medisyne in die huis nie. Maar daarvoor is daar ook 'n oplossing. Die Namib se telefone word warm gebel en kort voor lank is daar iemand wat die nodige doepa in die huis het. Een van Pa of sy broers jaag van diekant af en die mens met die medisyne jaag van anderkant af. Halfpad kry hulle mekaar en in 'n ommesientjie het Ouma haar medisyne en gaan dit sommer beter met haar.

Dan was daar Kersfees. Dit was die lekkerste lekker van alle lekkertes. Dan het almal gekom; ook hulle wat nie by die verjaardag of die siekte was nie. Daar was Oupa en Ouma, ses kinders met hulle gades en hulle kinders. Ons was 'n chaotiese massa wat saam was in een huis vir twee of drie dae. Die manne is ontspanne en daar word gekuier! Die kinders jil en speel en vang die vreeslikste kattekwaad aan. Ek onthou van een keer wat die 'groot' meisiekinders in Ouma se materiaalkas was. Hulle wou vir hulle bikinis maak en het aan die knip gegaan dat dit 'n naarheid was. Arme, arme Ouma! Oukersaand is die hoogtepunt. Vroegmiddag moet almal gaan bad en hulle mooiste klere aantrek. Die niggies en tannies draai hare in en 'tease' die kapsels tot hoog in die lug. Die kinders en ooms speel wegkruipertjie en blikaspaai voordat die son sak. Elke gesin het hulle eie vuurwerke gebring en dit skiet en klap dat hoor en sien vergaan. Die groot niggie het die sitkamer versier en ons kleintjies mag glad nie gaan kyk nie, ons moet wag tot Kersvader kom. Wat 'n opwinding vir 'n kind. Wat 'n skat om te onthou! En dan, as jy dit glad nie meer kan uithou nie, hoor jy die groot klok van iewers af lui en almal skree en gil, want daar in die veld kan jy hom sien aankom. Hy lui die klok en die flits se liggie gaan op en af soos hy deur die gate en oor die graspolle aankom. Almal storm vir die sitkamer en sing kersliedjies. Onder die kersboom is 'n klomp geskenke, maar jy weet daar kom nog baie saam met Kersvader. Jy wil eintlik nie sing nie, want jy wil hoor as 'Ouvader' by die gangdeur inkom. Laataand gaan almal slaap. Die niggies het 'n krismisbed in die sitkamer. Ek gaan slaap met my geskenke styf teen my lyf sodat ek kort-kort daaraan kan vat en regtig kan glo dit is myne.

En dan, helaas, was daar die begrafnisse...!



Donderdag 03 Augustus 2017

MAAR MY MAGTAG, MA!

Ag, en dan kom spring die onthou mos sommer so ongenooid op jou skoot en, of jy wil of nie, jy onthou die storie enduit. 

Ons was almal saam met Oupa en Ouma met vakansie. Eintlik was ons met vakansie en die oupa en ouma moes regstaan. Ouma het gebak en gebak en nog 'n keer gebak vir die vakansie - daar was letterlik vir elkeen se smaak iets.

Een mooiweersdag gaan almal, behalwe die ouma, na 'n besienswaardigheid. Ouma gebruik die tydjie om by 'n jarelange vriendin te gaan kuier. Ons laai een van Ouma se lekker sjokoladekoeke saam met al die baie koeldrank en lekker dinge in die bussie. Die kinders is klein en hulle is mos altyd honger en dors.

Waar was ons gedagtes? Voordat ons vir Ouma gaan oplaai by haar vriendin, eet ons die hele koek op. Natuurlik was sy glad nie ingenome met ons nie. Oupa is ook in die moeilikheid, want hy moes mos geweet het sy sal ook wil saameet. Soveel van onbedagsaamheid...!

'n Paar dae later is Ouma en Oupa iewers heen en die res van ons bly tuis. Hulle sal teetyd terug wees, maak Ouma seker dat ons weet om reg te staan daarmee. En almal onthou die vorig koek...

Ons is stout! Ons kan die versoeking nie weerstaan om die twee oues 'n lekker streep te trek nie. Ons haal die koek uit die blik uit, maar los 'n baie klein stukkie (eintlik seker net 'n paar krummels) in die blik agter. Die kleinste van die kleinkinders word mooi geleer wat hy moet doen wanneer Oupa en Ouma by die huis kom.

Hier is hulle nou! Pietertjie kry 'n lekker streep van die sjokoladeversiersel half oor die wang. Toe die twee oues in die kombuis kom, sê hy met groot oortuiging: "Jis, Ouma, dit was nou 'n lekker koek!"

Ouma storm die koekblik. Sy kan nie glo ons het dit sowaar weer gedoen nie. Haar gesig is vertrek in stomme verdwasing toe sy die deksel oplig en sien die koek is regtig op. Oupa kan dit ook nie glo nie. Ek sal sy gesig en woorde seker nooit vergeet nie. "Maar my magtag, Ma!" 

Teen daardie tyd kon niemand meer hulle lag hou nie en almal bars uit van die lag. Die koek het sommer ekstra spesiaal gesmaak saam met Ouma se lekker warm tee.



Woensdag 02 Augustus 2017

DIE MIDDELKINDSINDROOM

Sy is ses jaar oud. Haar ousus is tien en haar nuwe sussie is pas gebore. Sy is die gelukkigste dogtertjie in die hele, wye wêreld. Vandat haar ander sussie oorlede is, het sy gebid vir 'n nuwe sussie. Mamma het gesê sy moet net vra vir 'n ander sussie, dan sal sy enetjie kry. En ja, sy het haar nuwe sussie gekry.

Sy hoop net dat Mamma nou nie meer so baie sal huil nie. As Mamma huil, maak dit haar baie bang. Sy wil nie naby haar wees as sy huil nie, want dit is niks lekker nie. Dit laat haar ook sommer huil elke keer wanneer sy sien dat Mamma huil.

Hulle plaashuis is vrolik en lekker. Sy speel baie met haar sussie en wens gereeld die baba wil nie so baie slaap nie. Sy wil met haar speel en gesels. Ousus is al in die skool en sy kom nie so baie huis toe dat hulle kan speel nie. In elk geval is sy al te groot en sy wil nie meer speel nie. Sy help vir Mamma om rys op te sit en slaai te maak in die middag.

Ousus is kwaai. Sy raas baie met my omdat ek nie na haar wil luister nie. Ek kan nie verstaan waarom sy so kwaai is nie. Dit maak my kwaad as sy met my raas en ek baklei met haar daaroor. As Mamma hoor ek antwoord vir ousus, kry ek nog 'n keer raas. "Sy is baie ouer as jy, luister as sy met jou praat!" Sulke tye dink ek by myself ek sal ook my beurt kry. As ek met die kleintjie raas sal Mamma vir haar ook sê sy moet luister as ek praat. Maar nee, dit werk toe nie so nie. As ek met haar raas, raas Mamma met my: "Sy is baie kleiner as jy, los haar uit!"

Ons rapporte is altyd in die pos wanneer ons plaas toe kom vir die vakansie. Pappa roep elkeen om langs hom te kom staan daar by die tafel. Vir die ousus en die kleintjie sê hy altyd mooi goedjies, want hulle onderwysers is baie tevrede met hulle werk. Ja, reggeraai! Ek staan kop op die bors en moet elke keer 'probeer' verduidelik waarom die punte nie so mooi soos die ander twee s'n is nie. Hoe moet ek nou weet? Wat moet ek hom antwoord? Hy luister nie na my nie, want die onderwysers se woord is wet.

En so laai ek die een las by die ander op my skouers. Hulle gaan universiteit toe, maar ek gaan kollege toe omdat 'n onderwyser so besluit het vir my pa en ma. Wat maak dit my dan? Dom?

Ek kon myself soveel pyn en ellende gespaar het as ek maar net ophou fokus het op my susters. Ek het op 'n sonskyndag besef ek is ek en niemand kan dit verander nie. Ek het my eie identiteit en ek is vandag selfs trots op die naam wat ek vir soveel jare met so 'n passie gehaat het.


Vandag is ek trots op myself. Ek is trots op my werk. Ek weet vir seker dat ek 'n verskil kan maak waar ek ookal is. En dit, my vriend, is suiwer genade.



Dinsdag 01 Augustus 2017

HERODUS OF JESUS?

Hoeveel maal in 'n mens se lewe doen jy 'n ding sonder om die gevolge vooraf te beredeneer. Wanneer dinge dan skeef uitdraai, gee jy iemand anders die skuld daarvoor. Dit is die noodlot wat jou nou getref het. Dit is omdat jy altyd ongelukkig is in die lewe, daarom dat dit nou met jou gebeur. Niemand wil die son vir jou sien opkom nie, daarom sus of so. Of erger nog, dit is die Here wat jou so straf vir wat ookal.

Op hierdie manier het ek jare gelede gesukkel om 'n groot verlies te hanteer. Ek het eers veel later besef dat ek eintlik vir die Here kwaad was daaroor. Die stukkie wat volg het homself geskryf in my swaarkrytyd.


Sy sit net daar.  Vir dae lank al is dit al wat sy doen.  Sy sien niks.  Hoor ook niks.  ‘n Vriendin kom hoor hoe dit gaan.  Sy prewel ‘n paar woorde, maar die vrou se oë is genael op die baba wat saamgekom het.  Haar Josef was ook so groot.  Hy kon al lag en kraaigeluidjies maak.  Hulle’t hom van haar bors af gegryp.  Hy het nog nie klaar gedrink gehad nie.  Hulle wou nie wag nie.  Haar man was by Herodus se klipgroewe.  Hy’t eers laataand kom hoor hulle seun is ook gevat.  Hy was mal van opstand.  Toe vat hulle hom ook weg.  Hy wou ‘n soldaat versmoor in die sand.  Hy’s ook nog nie terug nie.  Sy sit maar so en wag vir haar Josef en sy pa.  Sy moet hier wees as hulle kom.  Hulle sê dis die Jesus-baba se skuld.  Sy weet nie of dit so is nie.  Sy wag maar.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...