Alles is in rep en roer by die
skool. 'n Afvaardiging van die Ministerie van Onderwys het onverwags opgedaag.
Natuurlik is almal gespanne, want wat kom maak hulle hier? Waarna soek hulle?
Wie het oor wat gekla?
In
die personeelkamer heet die hoof die besoekers welkom en gaan doodnormaal aan
met sy vroeg-oggend ritueel. Hy is nou nie 'n man wat skrik vir koue pampoen
nie. As hulle wil sukkel met hom, besluit hy, sal hy net so hard sukkel met
hulle.
Met
die eerste oogopslag sien Dina dat Katryn nie in die klas is nie. Die
sekretaresse het ook niks gesê nie, dus neem Dina aan dat die kind seker net
laat is. Sy open met haar gewone klein storietjie uit die Bybel en vra vir Isak
om te bid.
"Juffrou,
ek wil nie bid nie. My ma het gisteraand gesê 'n mens met so 'n vuil bek soos
ek moet liewer nooit weer bid nie," kondig hy aan. Dina is so verslae dat
sy sommer self bid en aangaan met die dag se werk.
Teen
pouse is Katryn nog nie by die skool nie. Waar sou die kind wees? Waarom laat
niemand iets weet nie?
Toe
die klok na pouse lui, klink dit soos oorlog voor Dina se klas. Dit is Isak en
Willem wat besig is met 'n vuisgeveg. Dit lyk regtig vir haar of hierdie 'n
geveg tot die dood toe is, want albei seuns se neuse bloei en Willem se hemp
hang in toue aan sy lyf. Sy moet drie keer op die twee skree voordat hulle die
bakleiery staak.
"Nou
toe nou, mannetjies, kan ek asseblief hoor wat hier aan die gang is? Van
wanneer af gedra ons ons soos barbare op die skoolgrond? Waar kom julle daaraan
om so te baklei?" raas sy.
Willem
probeer verduidelik, maar die volgende oomblik is Isak weer op hom. Dina sleep
behoorlik die seunslyfie van Willem af.
"Isak!
Dit is nou genoeg!" gil sy dit uit. Sy besef sy kan nie (ook) soos 'n
barbaar optree deur so te gil nie, maar hierdie ding is nou buite beheer. Sy
stuur 'n ander seun om die hoof te gaan roep. Te laat besef sy dat die
'grootbase' mos ook hier is vandag.
Die
hoof en twee van die ander menere kom aangestap en die twee seuns begin albei
huil. Die hoof vra vir 'n verduideliking van die twee. Willem gluur net na
Isak, maar hy is te bang om sy mond oop te maak. Hy is bang dat Isak hom weer
gaan beetkry, want hy het gesê hy slaan hom vandag morsdood.
Isak
kyk die hoof reguit in die oë toe hy antwoord. "Meneer, ek wou nie
vanoggend in die klas bid nie. Nou spot Willem my dat ek nooit hemel toe sal
gaan nie. Meneer, sê asseblief vir hom om sy bek van my besigheid af te hou,
anders gaan ek hom sleg seermaak."
Dit
kos groot oorredingsvermoë van die hoof om Isak te kalmeer. Hy stuur albei huis
toe om te gaan afkoel voordat hulle weer mag skool toe kom. En wanneer hulle
dan skool toe kom, moet hulle sorg dat hulle ouers ook saam kom. ‘n Mens baklei
nie so en dan verwag jy dat daar niks met jou moet gebeur nie.
Die
kinders in die klas is almal so ontsteld dat Dina sukkel om hulle aandag te kry
en te hou. Sy begin sommer kyk wie se boeke nog nie oorgetrek is nie. Daar is
'n hele paar skuldiges en sy dreig hulle met groot moeilikheid as dit nie teen Maandag
oorgetrek is nie. 'n Paar gaan aan die kla en mor.
"Juffrou,
ons het nie meer bruin papier nie," kerm een. Koos, die belhamel onder die
lot, antwoord baie astrant: "Juffrou, my pa het gesê Juffrou kan dit self
doen. Waar moet hy die geld vandaan haal om al die papier en plastiek te
koop?"
Dina
byt op haar tande om nie te antwoord nie. Sy neem haar voor om die naweek
genoeg papier en plastiek te koop om almal se boeke netjies te kry. Dit is per
slot van rekening nie die kind se skuld as die pa dit nie wil doen nie, is dit?
Na skool ry sy gou by Katryn-hulle
se huis aan. Alles is doodstil. Die voordeur is gesluit. Nou wat de...? Hier is
sowaar 'n groot skroef los, dink sy by haarself. ‘n Buurvrou loer oor die muur
en is gou om ‘n storie aan Dina te verkoop. “Jong,” hyg sy deur haar asmabors, “ek
is seker die man het weer die vrou en kinders beetgehad laasnag. Hulle was nog
almal hier toe ons gaan slaap het, maar vanoggend is die huis so stil soos jy
hom daar sien. Ek sê jou, hy het weer sy hande seergemaak op die arme vrou en
die kinders.”
Dina
knik net in haar rigting en besluit dit is beter om nie nog in te vra ook nie.
Hoe sal die vrou nou weet wat gebeur het as sy in haar eie huis aan die slaap
was die hele nag?
Met
middag-ete is Danie die ene opgewondenheid. Hy het toe sy bevordering waarvoor
hy so lank gewag het, gekry. “En my vrou, ek het die hele lotjie genooi om
vanaand saam met ons te gaan eet by die hotel,” kondig hy selfvoldaan aan. Dina
se moed sak in haar skoene, want die werk is baie. Sy glimlag egter vir hom en
gee hom selfs ‘n liefdevolle drukkie.
“Petronel,
dan is jy en jou boetie vanaand alleen hier by die huis, jong. Daar is nie nou
nog tyd om te reël vir iemand om hier te kom bly nie.”
Petronel
antwoord nie. Sy kyk nie eens van haar bord af op toe haar ma met haar praat
nie. Dina gaan onverstoord voort om haar toebroodjie te eet, maar in haar hart
is ‘n vae kommer oor haar kind wat besig is om in ‘n stil, donker mens te
verander. Wanneer, o wanneer sal daar dan tyd wees dat hulle twee (ma en
dogter) kan sit en gesels en weer soos vroeër lief kan wees vir mekaar?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking