Ons glo graag dat elke pot sy deksel kry. Hier is 'n klein storietjie van Potlood wat haar Papier gekry het.
Daar was eendag ‘n stuk papier wat so mooi was dat niemand daarop wou skryf nie. Dit was ‘n blinkgladde, spierwit blad – te mooi om sommer iewers rond te lê en te mooi dat dit sommer kan bekrap word met klein notatjies of ander onnodige krapseltjies. Nee, hierdie papier was gemaak vir ‘n spesiale doel, sien.
Daar was eendag ‘n stuk papier wat so mooi was dat niemand daarop wou skryf nie. Dit was ‘n blinkgladde, spierwit blad – te mooi om sommer iewers rond te lê en te mooi dat dit sommer kan bekrap word met klein notatjies of ander onnodige krapseltjies. Nee, hierdie papier was gemaak vir ‘n spesiale doel, sien.
Maar, juis omdat die papier so mooi was en niemand daarop
wou skryf nie, was Papier bitterlik eensaam. Niemand het dit geweet nie, maar
Papier het daarna gesmag om iewers sy doel te kan dien. Papier is gemaak om op
geskryf te word, maar niemand wou op hierdie mooie blad skryf nie.
Papier kry ‘n plan. Hy gaan ‘n bietjie rondgaan en seker
maak dat elke pen en elke potlood hom raaksien. Want, het hy gereken, op die
manier sal daar wel ‘n skryfseltjie op sy mooie lyf geskryf word. Hy het later
nie meer omgegee of dit ‘n duur potlood of ‘n goedkoop pen was nie, solank hy
net raakgesien en raakgeskryf kan word.
En so kom dit toe dat Papier ‘n lelike reputasie begin
opbou. Die arme ding was nou nog meer in die moeilikheid. Wanneer Potlood of
Pen sien dat Papier op pad is, gee hulle onmiddellik pad. Geen ordentlike pen
of potlood wou naby Mooi Papier gesien word nie. Want, het hulle gereken, hulle
is nie sommerse skryfgoed nie en hulle gaan nie hulle laat swartsmeer deur met
Mooi Papier gesien te word nie.
En Papier is eensaam! ‘n Mens kan amper die eensaam met
groot, swart letters uitkrap met Duur Potlood. As, bygesê, Duur Potlood jou sou
toelaat.
Intussen was daar iewers op hierdie aardbol ‘n potlood. Dit
was ook nie ‘n sommerse potlood nie, hoor. Eens op ‘n tyd was dit ook Duur
Potlood, maar toe gebeur daar ‘n klomp goed met haar en sy is nie meer Duur
Potlood nie. Nou noem almal haar sommer Skewe Potlood. Dit lyk glad nie of sy
meer kan skryf nie, want die wind en die weer het haar beetgehad en sy lyk so
half... anders. Ek weet ook nie of ‘anders’ die woord is vir ‘n potlood nie,
maar dat sy nie jou gewone potlood was nie, is gewis en seker.
Niemand wou met Potlood skryf nie. Sy hou haar lyf eenkant.
Sy vertel vir haarself dis beter dat sy eenkant is, want sy WIL eenkant wees. Maar
sien, geen potlood is gemaak vir eenkant wees nie. Sy het eintlik vir haarself
gelieg oor die eenkantwees, want dit was die maklikste om te aanvaar. Sy het
ook vir haarself vertel dat gaan papier ooit deur haar bekrap sal wil word nie.
Ja, jy het reg geraai. Uiteindelik kom Skewe Potlood en
Mooi Papier toe op dieselfde tafel te lande. En Potlood skryf of Mooi Papier. Sy
skryf die mooiste, mooiste storie op Mooi Papier. So mooi is die storie dat dit
vir eeue daarna nog oorvertel word deur al wat ‘n papier en potlood is.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking