Wat is dit aan ‘n
Sondag wat dit so anders maak as ander dae? Ek meen nou maar net, gaan kyk by
al jou vriendinne se huise op ‘n Sondagnamiddag en jy kry dieselfde ding daar. Mmm!
Lang gesig. Oë wat in die niet staar. Niemand praat eintlik baie nie. Wat is
daar dan nou om te sê op hierdie Sondagnamiddag? Jy weet mos, weet jy nie?
Ja, ja, ek weet
van die storie oor die koshuis. Jou maters wat in die koshuis was, het almal
dieselfde storie – dis mos op die Sondagmiddag wat jy moes terug hok toe. En hok
toe was sleg. Nee, nie omdat die koshuis so sleg was nie, sommer net oor jy vir
Ma en Pa en Baba en die honde en katte moes groet. En oor Ma die heel naweek om
jou gekloek het en alles gemaak het wat lekker is. Dit, en sommer nog baie
ander redes ook waarom die koshuis nie vanmiddag vir jou ‘n lekker plek is nie.
Dan kom jy by
Sarie wat nooit in die koshuis was nie, maar sy lyk nes die ander. Die oë. Die ken
in die hande. Die verlang na mense wat jy nie ken nie. Jy wil weet wat vreet
aan Sarie op die Sondagnamiddag. Sy weet nie. Dit is maar soos dit is van
Sondag na Sondag, reken sy.
Hendrik is
beneuk. Hy gooi goed rond in sy garage. Dis Sondag, man. Ek verpes ‘n
Sondagnamiddag nog my hele lewe lank. Regtig? Nou hoekom dan so? Ek weet nie, sê
ek jou dan. Dit was nog maar altyd so.
O aardetjie
tog. Toe jy jou kom kry, sit jy ook met die ken in die hande en verlang na ‘n
nasie mense wat jy nog nooit geken het nie. Jy traak ook nie of jy hulle ooit
gaan ontmoet nie, hoor. Dink net hoe gaan jy dán na hulle verlang!
En so kom dit dan dat die hele dorp se mense
die een soos die ander lyk. Selfs die honde blaf nie, want dis Sondagnamiddag. Lang
gesigte. Stom monde. Blinde oë. Selle ding van huis na huis na huis. Die honde en die katte is weg voor die agterdeur. Waar is hulle? Ek weet nie. Selfs die duiwe op die dak se gewone koer-koer is nou net 'n lae brom-brom. Almal en alles is stil...
Kan dit wees
omdat jy môre moet gaan werk? Dit kan tog nie wees nie, man. Jy het mos self
gekies om daar te werk waar jy nou werk. Jy is tog nie aan jou ore daarnatoe
gesleep en gesê ‘Nou werk jy!’ nie? Ek meen te sê, die meeste van ons het
reageer om ‘n advertensie. Ons het gegaan vir ‘n onderhoud. Ons het daardie
kontrak met ons eie hande geteken. Nou wat is dit nou met jou?
Ek bedink die
spulletjie en kom tot die slotsom dat ek, van vandag af, hierdie siklus gaan
(probeer) verbreek. Ek gaan myself mooi maak, ek gaan die wêreld vierkantig in
die oë kyk en vir hom vra of hy lus is vir dans. Ja, ek dink ek gaan sommer nou
‘n passie of twee hier om die tafel vat.
Dans jy saam?
ek sit meestal net Sondae grimering op
AntwoordVee uitEk ken daai Sondag-middag-aand blues. Dis wanneer ek musiek opsit wat destyds deur die Nasionale party verban is, gooi 'n rooietjie in en "wees" net. Kort voor lank is dit Maandag, en dis bog met blou Maandag. Mooiste storie, Anna. (Simon)
AntwoordVee uitDankie Anna, jy sê dit so mooi soos dit is. Sondae-aande speel ek die musiek wat die Nasionale party verbied het, skink 'n rooietjie en gaan lê êrens op my rug. Kort voor lank is dit Maandag-oggend...
AntwoordVee uit