Woensdag 29 November 2017

TOE BOKVEL EDDIE GERAAK HET: Die storie van die totale omwenteling van een man se lewe

Ek ken hom al jare. Of, sal ek liewer sê, ek weet al jare van hom. Ja, hy was deel van my lewe, lank, lank gelede.

Ek het op Maltahöhe gebly. Hy ook. Ons albei het daar grootgeword. Hy het saam met sy ouers en ‘n ouer broer op ‘n plot so ses en ‘n half kilometer uit die dorp uit gewoon.

Almal het vir almal geken. Almal het die ou oom (toe 60) en tannie (toe 45) geken wat ‘n baba gekry het. Die grootmense het ge-oe en ge-aa, want ‘n mens kry mos nie ‘n baba op daardie ouderdom nie, kry jy? Noudat ek daaraan dink, daar was ‘n ander oom wat 60 was toe sy laatlam skool toe is en ek het gewonder of sy ooit haar pa nog sal hê by die tyd wat sy in matriek is. Jy sien, vir ons as kinders was 60 ‘n getal wat baie na aan die dood gegrens het.

Die wonder van die geboorte van hierdie kind is dat hy nooit moes gewees het nie. Die dokters was bekommerd oor die tannie se gesondheid en toe haar lewe bedreig word, besluit hulle om die baba te verwyder. Sy kry narkose, die baba word verwyder en al die ander gepaardgaande prosedures, word gedoen. En toe? Na ‘n paar weke kom die tannie agter dat sy sowaar nog altyd swanger is! Die dokter bevestig dit – hulle het een van ‘n tweeling verwyder... Die ander enetjie is maande later perdfris en gesond gebore. Is dit moontlik? sal jy my nou vra. Ja, dit is.

Die seuntjie het grootgeword en moes skool toe gaan. Pa boor elders in die land en daar is ook nie ‘n kar nie. Die logiese oplossing is dat hy en sy ouer broer skool toe draf. Soggens skool toe en middae huis toe. Heen en weer. Ses en ‘n half kilometers twee maal op ‘n dag. Winter en somer. Later begin Ma in die hospitaal nagdiens doen. Nou slaap hulle in ‘n kamertjie in die hospitaal. Soggens gaan hulle skool toe. Na skool gaan hulle huis toe, maar wanneer Ma moet gaan werk, loop hulle saam met haar dorp toe. Hulle dra vir haar die brode wat sy vandag vir die hospitaal gebak het.

Dit gaan nie goed met hom in die skool nie. Hierdie leerdery is glad nie vir hom nie. Aan die einde van standerd ag besluit hy om uit die skool uit te gaan. In daardie dae was dit ‘n goeie opsie vir seuns – hulle gaan werk op die spoorweë of hulle gaan polisie toe. Bokvel kies die spoorweë, maar later gaan hy polisie toe.

Ek kry met Bokvel en sy vriend te doen toe ek as getroude vrou weer op Maltahohe gaan bly het. Twee stowwerige, vaal seuns. Ja, dit was my indruk van die twee. Veral stowwerig.

Die plot waar Pa en Ma gebly het, maar sommer die hele Maltahohe en sy buitewyke, was hierdie twee se plaas. As hulle nie op die perde was nie, was hulle aan die hase of bokkies jag vir die pot. Die perde is bloots gery totdat die bloed letterlik teen die bene afgeloop het.

Wanneer jy met hulle te doen gehad het, was daar een ding wat my opgeval het. Die vriend het die praatwerk gedoen. Bokvel het jou nooit in die oë gekyk nie en hy het ook nie met jou gepraat nie. Soms het ek gewonder daaroor, maar ek was self te onkundig om iets daarvan te probeer maak. ‘n Mens kan mos praat of nie praat nie soos jy wil, is dit nie?

Hierdie jongman is so bewus van die armoede waarin hy grootgeword het. Hy is so bewus van die feit dat hy nie matriek gemaak het. Hy is skaam vir wie hy is. Hy wil nie wees wie hy is nie. Om die waarheid te sê, miskien haat hy dit ‘n bietjie dat hy is wie hy is. Die lewe is sleg! Die lewe is onregverdig.

Ek woon nie meer in Maltahohe nie en die inwonders daar raak ook maar so half weg uit die gedagtes. Nee, jy vergeet hulle nooit nie, maar jy dink minder aan hulle en hulle omswerwinge is ook nie meer van belang vir jou nie.

Jare later kuier ek en my gesin by my ouers op Hentiesbaai. Ma is opgewonde want ons gaan vanaand na ‘n vertoning kyk van Eddie en Linda. Eddie en Linda? Ek ken hulle glad nie, sê ek vir Ma. Ma verduidelik met ‘n lang storie. Onthou jy die ou oom en tannie wat daar buite die dorp op ‘n plot gewoon het? Hulle seun is Eddie en hy en sy vroutjie sing pragtig.

Ek weet nie so mooi nie. Dis mos Bokvel, is dit nie? En ek dink nie hy sal kan of wil sing nie, ha? Vol vertwyfeling klim ek saam met die res in die motor om te gaan hoor hoe sing hierdie nuwe sangsensasie.

Voor die vertoning kom stap ‘n man na ons toe aan. Ek sien heel eerste die mooiste mooi blou oë wat nie skroom om jou vol in die oë te kyk nie. Wow! Wat ‘n netjiese man, dink ek by myself. Hy groet my met ‘n stewige handdruk en volg dit op met ‘n broederlike drukkie. Sy glimlag is oop en gemaklik.

Hy klim op die verhoog en sing so bitter mooi. Hy is gemaklik met die gehoor en maak geselsies tussen-in met hulle. Sy Linda het nie gekom nie, maar dit skrik hom nie af om ‘n lieflike konsert te hou nie.

Hierdie is Eddie. Nie meer die onseker Bokvel nie. Nie meer die man wat nie weet waar hy hoort nie. Nie meer die man wat nie wil wees wie hy is nie. Hierdie is Eddie wat nuut gemaak is deur die liefde van Jesus. Hy weet wie hy is en hy weet waarheen hy op pad is.

Sondag 26 November 2017

FRANKIE EN LETTIE SIEN DIE EERSTE KEER DIE SEE: Soos vertel deur Beulah Cronje

 “Wag, wag, wag nou, julle twee! Stadig nou daar by die trappe. Ons wil nie dat een van julle vannag in die hospitaal gaan slaap nie. Kyk, as jy boontoe of ondertoe wil klim, draai net jou voet so ‘n bietjie dwars. Sien julle? Dan is dit heeltemal veilig en sal julle nie val nie.” Beulah grinnik by haarself, maar maak seker dat die ander twee dit nie sien nie. Vir hulle is hierdie vreeslike styl trappe na hulle kamers toe ‘n bedreiging en ‘n spoedbreker op sy beste.

Frank en Lettie juig hulle vreugde uit toe hulle sien dat hulle die boonste vloer van die huis vir hulself het. Daar kan hulle lekker ontspan en op hulle gemak voel (en dalk ‘n bietjie skinder ook?)

Die dag was propvol opwinding en nuwe dinge. Of hierdie twee vannag ‘n oog gaan toemaak, is ‘n goeie vraag. Toe hulle in Jeffreysbaai aankom, wou twee asse-groot-blief eers nog langs die strand gaan stap. Hulle kon nie dink dat hulle nou by die see is en hulle mag nie by hom wees nie. Dit het mooipraat gekos om hulle anders te oortuig, want hulle moes tog eers uitpak en seker ‘n ou teetjie drink voordat hulle die see aanvat.

Frank besluit dat ‘n mens vis en tjips eet by die see. Lettie vra dat hulle dit asseblief by die huis moet eet. Vir haar gaan dit nie net oor die see nie. Nee, sy wil die lekker nabyheid van haar miss Beulah ook geniet. Hulle twee is, behalwe dat die een vir die ander werk, meer soos susters en vriendinne. Hulle harte klop dieselfde taal – die liefde vir die mensdom.

Met ‘n salige glimlag gaan sit Beulah op haar bed. Die uitpakkery kan maar wag vir later, besluit sy. Sy wonder oor die twee op die boonste vloer. Sy kan hoor dat hulle glad nie aan’t uitpak is nie, want dit gesels dat hoor en sien vergaan. Sy begeer om te kan hoor waaroor hulle praat, want dat hulle baie het om te bespreek is nou maar seker.

Sy gaan skuins op die bed en lê en luister na die geluide wat van bo af kom. Dit raak nou stiller, dus is hulle seker besig om uit te pak, elkeen in sy eie kamer. Lettie het by die huis al vir Frank gewaarsku: “Jy moet net nie dink ek gaan vir jou was en stryk da’ by die see nie. Jy beter vir jou genoeg klere inpak, hoor jy my.” Nou pak ou Frankie seker uit, want hy weet niemand gaan sy klere stryk as dit gekreukel is nie.

Vanoggend was dit die mooiste gesig om te sien hoe albei in hulle beste klere opdaag vir die groot vlieg. Ag, en die tweetjies se gesigte toe hulle uiteindelik op die aanloopbaan op pad vliegtuig toe is. Die verstomde uitdrukkings op albei se gesigte is iets om altyd te onthou. Hier was hulle nou sowaar op pad vliegtuig toe! Lettie het jare terug as ‘n groot versugting haar droom met hulle gedeel – as sy tog net eendag ook kan vliegtuig ry. “Waarnatoe dan, Lettie?” wou hulle weet. Maar Lettie het nie omgegee waarheen nie. Vlieg wou sy vlieg, maak nie saak waarnatoe nie.

Die planne om te vlieg kom al ‘n redelike tydjie aan. Arme Lettie was baie, baie bekommerd toe sy nie haar ID kon kry nie. Hoe nou gemaak? Hulle doen toe maar aansoek vir ‘n nuwe een, want onthou, Lettie is die een wat wil vlieg! Hoe nader die tyd gekom het, hoe groter het die opgewondenheid geraak. Beulah het alles mooi beplan. Saam met die vliegkaartjies gee sy toe sommer ‘n reissak en hier en daar ‘n nuwe stukkie klere. Die dankbaarheid en opgewondenheid het geen perke geken nie. Nou het hulle uiteindelik geglo hulle gaan regtig, egtig see toe.

Frank en Lettie is model passasiers en sit nie ‘n voet verkeerd nie. Die lugwaardin wys vir Lettie hoe om haar sitplekgordel vas te maak en Frank volg die instruksies noukeurig en doen dit toe sommer self. Hulle dierbare gesiggies straal van opgewondenheid vir die vlug wat voorlê. Maar wat ‘n ontnugtering! Dit is onweer en die vliegtuig stamp geweldig en natuurlik maak dit hulle toe erg senuweeagtig.

Frank is die hele tyd bewus daarvan dat die vliegtuig steeds aanhou styg. Vir hom maak dit glad nie sin nie. “Ons is mos nou hoog genoeg, is ons nie?” wou hy op ‘n stadium weet. “Tot waar toe wil hy nou opklim?”

“Miss Beulah, hierdie stampery moet nou ophou, sowaar, my maag sit al in my keel!” kla hy ‘n slag of wat. Lettie beaam dit heelhartig, want “Hierdie man wat die vliegtuig bestuur, kan nie mooi bestuur nie. Hulle moet iemand anders kry om te bestuur!”

Lettie lyk skielik baie benoud. Sy leun oor na Beulah toe en fluister iets. Eers kan Beulah nie uitmaak wat die probleem is nie, tot sy agterkom dat onse Lettie seker ‘n bietjie te veel koeldrank en tee gedrink het en dit eis nou sy tol. ‘n Lugwaardin kom juis toe verby en sy vat Lettie na die nodige plekkie toe. Lettie kom terug met ‘n groot glimlag op haar gesig. “Sjoe, die meisiekinders sorg darem mooi vir ‘n mens hier op die vliegtuig. Het miss Beulah geweet hier is ‘n toilet ook?"

En toe, opeens, is hulle bo die wolkmassa en skyn die son helder oral om hulle. “Hoe het ons dan nou hier gekom so bo die wolke?” Die skielike helder son is so skerp dat Frank en Lettie besluit dit is tyd om die sonbrille op te sit. Dit is natuurlik vir hulle baie snaaks en hulle lag uit hulle mae uit vir mekaar. Miss Beulah kan toe nie anders as om maar hare ook maar op te sit nie.

Beulah glimlag by haarself. Siestog, die vlug was regtig ‘n groot ontnugtering vir die twee. Dit was glad nie wat een van hulle verwag het dit sou wees nie. Op ‘n stadium het albei geglo dit is die laaste dag van hulle lewens, want vandag val hulle binne-in daardie blou see daar doer ver onder hulle. As die vlug terug huis toe tog net beter verloop...

Uiteindelik hoor sy dat die twee nou wil afkom ondertoe. Dankie tog, hulle is seker nou klaar. Sy staan op om haar handsak te vat, toe Lettie se benoude skree die hele huis vul: “Nou waar is daai steps nou weer?” Sy skree sommer so van onder af: “Lettie, draai net om, die trappe is aan die anderkant van die gang.” Natuurlik lag Frank dat jy hom waar kan hoor omdat sy vriendin verdwaal het.

 Die twee kom met die trappe af. Dit gaan nog stadig, want die ou lywe sukkel so ‘n bietjie en hulle is baie onseker op die styl trappe.

“Lettie, jy het mos vir my tee belowe en jy het dit sowaar nie gemaak nie. Is dit nou hoe dit die hele tyd gaan wees hier by die see?” kla Frank. Maar Lettie steur haar nie aan hom nie, sy is haastig see toe.

Beulah sit die ketel aan. Sy het self lus vir ‘n lekker warm koppie tee en maak asof sy nie hoor dat Lettie nou lank genoeg gewag het om see toe te loop nie. Ou Frankie laat hom nie twee maal nooi nie en in ‘n ommesientjie het hy twee koppies tee en ‘n hele paar koekies agter die blad. “Dankie, miss Beulah, nou voel ‘n man se maag mos beter. Daardie vliegtuig het sowaar nie vir my lekker laat voel nie. En het julle gesien hoe groot is hy? Daar kan sowaar drie busse se mense in daai vliegtuig pas, ek sê vir julle,” praat hy eenstryk deur.


Lettie is nie nou lus om oor die vliegtuig te praat nie. Inteendeel, sy wil nooit weer daaroor praat nie. Sy hoop net daar is volgende keer ‘n beter drywer agter die wiel. Sy staan ongeduldig by die deur en wag terwyl Beulah die koppies uitspoel en op die droograk sit.

Hulle besluit die see is na genoeg, hulle stap sommer. Hoe nader hulle kom, hoe harder hoor hulle die dreuning van die branders. Frank gaan staan ‘n oomblik, te verwonderd om ‘n woord te sê. “Is dit die see wat so praat, miss Beulah? Dit klink mos baie erg, ha?”

En toe, om die draai, lê die grootse watermassa voor hulle. Lettie sien dit eerste en gil dit uit van opgewondenheid. “Daar’s hy! Daar’s hy!” Sy sit sommer ‘n stywe passie in om gouer daar te kan kom en Frank is nie ver agter haar nie. Beulah weet dat hulle wel vir haar sal wag voordat hulle die water aandurf.

“Miss Beulah, loop hy dan net vanself so? Of is dit die Here wat die waters so roer? Bly die Here hier in hierie waters?”

“Miss Beulah, hoekom loop hy nie verder nie? Hoekom stop hy daar op een plek as hy so spoel?”

Die vrae is eindeloos, maar nie een van hulle wag regtig op ‘n antwoord daarop nie. Albei is onder die grootse besef van die wonderlike groot see wat voor hulle lê. Eers staan hulle net en kyk. Hulle kyk na die grootste wonderwerk wat hulle nog ooit gesien het. Lettie staan met haar gesig in haar hande. Frank staan, asof in gebed, met sy hande op sy bors. Dit is nou stil tussen hulle. Dit is net die branders se gedruis en die seevoëls wat hoorbaar is iewers daar ver op die agtergrond. Die totale wêreld het gaan stilstaan vir hierdie twee mooi mense.

Beulah huil. Sy huil van vreugde. Sy huil omdat sy hierdie ervaring saam met hierdie twee hartsmense van haar kan meemaak. Sy huil omdat sy besef die see het lankal sy ‘wow’ vir haar verloor. Sy huil omdat sy dit van nuuts af kan sien asof deur die oë van ‘n kind.

Die bruggie waaroor hulle stap is vir Lettie die aanduiding dat dit nou tyd is om die plakkies uit te trek soos miss Beulah gesê het hulle moet maak by die see. Toe sy van die bruggie af op die sand kom, lag sy haar skril opgewonde laggie. “Die sand hou my voete vas!” skree sy oor haar skouer terwyl sy aanwikkel water toe. Die plakkies is heel vergete daar op die bruggie.

Frank volg huiwerig, maar hy kla oor die ‘skerp klippertjie wat so oral lê.  Hy vertrou nie hierdie besigheid nie. Lettie roep hom en moedig hom aan om saam met haar te kom. Sy is reeds waar die eerste watertjies breek en skree van lekkerte toe die skuim so opspat teen haar bene.

Toe Frank by die water kom, buk hy dadelik af en skep ‘n handvol water om te proe daaraan. Hy wil mos weet of die water regtig so sout is soos wat dit altyd proe in die bottel wat miss Beulah altyd van die see af bring. Hy vee sy mond driftig af, want hierdie water is wraggies vreeslik sout!

Lettie draai om om vir Frank te roep toe ‘n reuse brander van agter kom en haar tussen die blaaie slaan. Eers skrik Frank hom lam, want wat het nou van Lettie geword? Maar toe sy skreeuend en gillend saam met die brander strand toe rol, kan hy nie anders as om te skree van die lag nie. Die stomme Lettie is sopnat, maar tog so vreeslik in haar noppies dat sy nou regtig geswem het in die see.

Mettertyd raak Frank ook meer gerus en die twee staan later op hulle knieë in die vlak water om van die skulpies wat uitspoel te probeer vang. Die hele tyd hou Beulah hulle dop met die innige liefde van ‘n suster, ‘n goeie vriendin.

Dit is Frank wat besluit dat Beulah nie net daar kan staan en kyk nie. Hy roep haar om ook saam te kom swem. Sy gaan nader, maar, tot hulle groot vermaak, hardloop sy weg toe ‘n brander naby hulle breek. Dit lag en speel sonder einde. Die see is die beste plek waar ‘n mens ooit kan wees, dit is nou seker en gewis.

Hulle ontdek dat as jy plat sit op die grond net voor die brander breek, maal die sand onder jou en draai die water jou na die ander kant toe. Oor en oor word daar gesit, gedraai en gelag. Die feit dat die water ysig koud is maak nie saak nie, dit is te lekker om so te speel.

Toe die twee later uit die water uit kom, sopnat en yskoud, is die eerste ding wat hulle vra, “Gaan ons nou roomys eet?” Maar Beulah weet van beter as om roomys te koop. Elkeen vat ‘n lekker warm stort en daarna drink hulle ‘n koppie stroopsoet tee. Met koekies, natuurlik.

Albei se voete is ‘n bietjie skrynerig van die skulpies op die strand en hulle sit en vryf kort-kort die voete. “Miss Beulah, wat se soort klippertjies lyk dan soos hierdie hier by die see?”
Met groot omsigtigheid verduidelik sy aan hulle dat dit nie klippies is nie, maar skulpies. Sy belowe dat hulle volgende keer sal soek vir mooi heel skulpies sodat hulle dit kan optel en huis toe vat.

“Ag, miss Beulah, dis so lekker dat ek dit tog nie kan help nie. Ek wens ek kan vir altyd en altyd hier by die see kom bly,” sug Frank sy genoegdoening uit. “As ek net genoeg geld gehad het, het ek sowaar hier kom bly.”

Later, baie later, besluit hulle dit is tyd om huis toe te gaan. Hulle wil nog baie in die see kom swem. Hulle wil nog op daardie mooi rotse gaan klim, want miss Beulah sê daar sit sommer baie skulpies op hulle en hulle wil dit self gaan kyk. “Maar, miss Beulah, hoe is dit dan dat die water wat so sterk is so oor daardie klippe spoel en hulle bly net daar staan? Hulle spoel dan nie eens weg nie, ha?”

Oe, hulle wil nog so baie dinge doen, maar die tyd is so bitter kort.

Saam met die baie lag en spot met mekaar, kom Beulah een ding agter – nie een van haar twee maters praat selfs vir ‘n oomblik oor die dinge by hulle huise nie. Hulle is so in verwondering oor alles, dit is asof die res van die wêreld nie meer vir hulle bestaan nie. Vir eers is dit net Frank en Lettie en Beulah en die groot see en die lekker kuier.

Toe hulle die aand gaan sit om te eet, staan Frank op. “Nee julle, ons kan nie sommer so begin eet nie.” Hy trek vir Lettie regop langs hom. “Miss Beulah, ek en Lettie wil net sê dankie oor ons see toe gekom het. Ons harte is baie bly vanaand. Ons sê regtig baie dankie.” Lettie knik instemmend hierop. Albei lyk regtig aangedaan en Beulah besef dat dit die naaste is wat sy seker ooit in hulle harte sal kan sien.

Die etenstafel word toe sommer die konferensietafel. Beulah sit met ‘n notaboek en Frank en Lettie mag besluit wat hulle moet doen die vier dae by die see. Die lys is lank, maar Beulah gee nie om nie. Hulle het gekom om hulself te geniet en dit is wat hulle gaan doen.

-Roomys koop. Ja, hulle moet elke dag klomp soorte roomys koop.

-Skulpe optel om in hulle kamers te gaan sit – hulle het reeds vanmiddag al ‘n klomp mooies gesien.

-Uiteet in die middag. In die aande wil hulle by die huis by die tafel met miss Beulah eet.

-Seewater in bottels opvang – Frank wil sorg dat sy mense ook proe aan hierdie vreeslike sout besigheid van die see.

-Seesand in bottels gooi, sodat die kinders ook kan sien hoe lyk die see se sand.

-Persente koop vir almal by die huis wat nie kon saamkom nie. Ja, master Chris moet die grootste persent van almal kry.

Elke dag het sy eie lysie en elke lysie word getrou gevolg. Niks mag agterbly nie. Een dag is daar ‘n fliek gegaan, die ander dag die inkopietog in die ‘mall’ en so het elke dag sy eie dinge.

Wanneer hulle saans na die dag se foto’s kyk, is dit asof alles weer van voor af met hulle gebeur. “Lettie, kyk hoe bang lyk jy! Hoekom lyk jy so bang? Jou ogies is dan glad toe, ha?” terg Frans haar omdat sy so bang was om by die vliegtuig se venster uit te kyk. Hulle lê soos hulle lag vir elke foto. Lettie laat nie op haar wag om vir Frans terug te kry nie. “Kyk hoe sit en klou jy aan die stoel se armleunings. Wil jy vir my vertel jy was nie bang nie, ha?”

“Maar, miss Beulah, hoe weet ons nou waar is ons nou? Jy sê dis Jeffreysbaai, maar waar is Pretoria dan nou?”

Beulah vat ‘n groot stuk papier en teken vir hulle ‘n kaart. “Kyk, hier is Pretoria. Hierlangs het ons gevlieg. Sien julle? Dit is nogal ver, hoor. Met die motor sal dit baie ure vat, maar met die vliegtuig was ons mos sommer gou-gou hier. En kyk, hier is ons nou in Jeffreysbaai.” Lettie het die storie so sit en bekyk en besluit dat hierdie prentjie saam moet gaan huis toe. “My kinders moet sien waar hulle ma rondgekuier het.” En so half onderlangs brom sy: “En waar hulle se ma amper met die vliegtuig en al in die see geval het.”

Lettie is al halfpad met die trappe op, toe sy omdraai. Sy kom sit weer langs Beulah by die tafel. “Miss Beulah, jy moet asseblief nou eers weer vir my ‘n ding vertel. Sê vir my presies hoekom jy vir my en Frank hiernatoe gebring het.” Sy vra dit met trane in haar oë terwyl sy Beulah se hand tussen haar twee hande vat.

Beulah sit ‘n oomblik doodstil. Sy weet dat hierdie ‘n heilige oomblik is tussen hulle drie. Al die lag en skerts is opeens weg. Voor haar sit twee mense wat haar aankyk met groot bewondering in hulle oë. Sy staan op en sit die ketel aan, want hier gaan nie gou geslaap word nie, besef sy.

“Lettie, Frank, julle is so goed vir my en my man. Julle is lankal ons familie. Maar dit weet julle tog? Ons wou so graag vir julle iets gee wat julle harte baie, baie bly sou maak. Ons wou vir julle dankie sê vir twaalf jaar se harde werk. En ja, ons wou vir julle wys hoe lief is ons vir julle ou tweetjies. Dit is waarom ons drie vanaand hier om hierdie tafel sit.”

Dit is stil tussen hulle. Niemand praat ‘n woord nie, want woorde is eintlik nou so half oorbodig. Lettie staan op en kom sit haar arm om Beulah se skouers. Sy is stil, maar haar gesiggie straal van vreugde en liefde vir die vrou voor haar.

Met slapenstyd is almal ewe moeg, maar baie opgewonde oor die dag wat voorlê. Toe Beulah dink die ander twee slaap al, kom Frank eers weer ondertoe om nog melk vir tee te kom haal in die yskas. Hy reken Lettie is baie suinig met die tee, hy het nog net twee koppies gehad en nou kla sy oor sy weer moet maak. “Maar, miss Beulah, daardie koekies wat jy vir ons daar gesit het, is darem baie lekker. Dis net dat Lettie sê ek mag nie daarvan eet as daar nie tee is nie.”

Dis nog donker die volgende oggend, toe is Lettie en Frank reg vir die dag. Hulle het hulle tee gehad en Lettie het Frans selfs toegelaat om ‘n derde stukkie beskuit te eet. Hulle sit nou in die onderste kombuis en wag vir Beulah om groot asseblief tog klaar te maak, want hulle het nie tyd saamgebring nie.

“Môre, julle twee. Het julle lekker geslaap?” vra sy gemaak rustig. Sy kan sien hulle is haastig, maar terg hulle eintlik ‘n bietjie.

Frans vertel hoe lekker hy geslaap het onder die duvet en twee komberse. Hy het glad nie eens tyd gehad om te dink nie, toe is hy aan die slaap. Lettie, wat skynbaar ‘n bietjie gesukkel het om aan die slaap te raak, antwoord: “Tsaag, jy was maar net baie moeg, man.”

Beulah sien dat Frank sy beste skoene aanhet vir die dag by die see. Dit kan mos nie wees nie, want hoe mog hulle lyk as hulle by die see was? Gelukkig is daar ‘n ou paar skoene van haar seun in die kas. Frank is baie opgewonde oor die skoene en hy steur hom min daaraan dat dit reeds baie jare in die kas staan en dus stokoud is. Hy trek ewe windmakerig die skoene aan en begin buitentoe stap daarmee.

Die volgende oomblik weerklink sy benoude stem deur die hele buurt: “Lettie, kom kyk hier!” Beulah, wat nog in die huis is, hoor die skreeu en dan die histeriese gelag wat daarop volg. Sy kry die twee plat op die grond. Hulle lag te veel om weer regop te kom en hulle kan haar ook nie vertel wat dan nou so snaaks is nie. Frank wys net aanmekaar na sy voete. En toe sien sy dit! Toe hy begin loop met die skoene, het die sole net daar bly staan en ou Frankie loop net met die bostukke van die skoene op sy voete. Nodeloos om te sê dat Beulah ook op die grond langs hulle gaan sit het en net so hard gelag het.

Die dae spoed verby. Die drie van hulle is soggens vroeg op die strand, selfs al het dit soms gereën. Ja, selfs die reën kon nie hulle vreugde demp nie. En elke aand is dit dieselfde storie om die etenstafel – foto’s, video’s, lag, spot, nog lag, nog spot, nog lekker gesels. En helaas – baie, baie tee vir ou Frankie.

“Frank, jy maak vir master Chris bankrot met jou teedrinkery. Jy kan nou asseblief end kry daarmee.” Frank is vir ‘n oomblik stil voordat hy antwoord. “Miss Beulah, hierdie vrou moet haar woorde tel, ek sê vir jou vandag, sy moet haar woorde tel!” En saam bars die twee uit van die lag, want hulle weet ‘n pakkie tee kan niks aan master Chris se saligheid verander nie.

Die dag van die geskenke was ‘n belewenis op sy eie. Die groot ‘mall’ was ‘n eerste vir hulle en hulle kon hulle verkyk aan die Kersversierings en ander mooi goed in die winkels. “Hierdie winkel het klomp skulpiesgoed, miss Beulah. Ons moet hierso koop.” En so het hulle toe gemaak. Klomp skulpiesgoed vir hulle eie huise, maar ook vir die familie tuis. Die aand aan tafel pak hulle die skulpe wat hulle opgetel het op die tafel uit. Nou kon hulle mooi sit en vergelyk watter skulpiesding is met watter soort skulp gemaak.

Vir master Chris het die twee ‘n boot gekoop. Master Chris moet mos sien hoe lyk die bote wat ons op die water gesien het. “En, miss Beulah, jy sê hulle haal die vis daar ver op die see uit die water uit?” Die ongelooflike bewondering vir vissermanne is sigbaar in hulle oë, want “dit is mos nie kinderspeletjies om so die vis te gaan haal nie, ha?”

En so het die vier dae by die see te gou na almal se sin ten einde geloop. Beulah ry vir oulaas stadig deur Jeffreysbaai se strate. Sy maak ‘n punt daarvan om die strate te volg waar die see sigbaar is. Lettie is hartseer. Sy sit en waai vir die see. Sy weet in haar hart dat hierdie ‘n eerste was, maar vir seker ook ‘n laaste. Frank is stil. Hy kyk en kyk om dit diep in sy hart te kan bêre vir die dag van môre en oormôre.

Donderdag 23 November 2017

OUMA HÊPPIE VERJAAR

Vandat Spiere en sy ouma terug is by hulle eie huis, gaan dit alles voor die wind. Ouma is weer haar ou self en Spiere en die hond is baie bly daaroor. Spiere gaan nog elke dag saam met sy maatjies skool toe, maar hy kan smiddae nie wag om huis toe te kom nie. Hond wag altyd vir hom by die hek en Ouma wag vir hom by die kombuistafel met baie lekker kos.

Hy het al gewonder hoe is dit dan nou dat hulle skielik nie meer net winkel toe gaan vir suiker en bietjie meel nie, maar hy vra maar liewer nie. Hy weet daar is sekere goed wat sy ouma boos maak, en om te praat van geld en sulke soort van dinge, is een van daardie kwaadmaak goed. Al wat hy weet is dat dit nou baie lekker is om huis toe te gaan na skool.

Ouma het iemand gekry om plek te maak vir ‘n groentetuin. Sy wil groente hê, maar nou moet hy dit natmaak. Hoe werk dit dan nou? Hy het mos nie gevra hy wil groente hê nie, het hy? Maar hy sal nie kla nie, want sy eie ouma se huis is nog altyd die heel, heel beste plek op die aarde.

Iewers, so kom Spiere agter, broei weer iets. As Ouma so begin skrop en skratel en oor alles skel, is daar iets wat pla. En moenie praat van skoonmaak nie! Dis al vandat hulle Sondag van die kerk af gekom het dat Ouma nie ophou nie. Sy het haar hoed in die kas gaan bêre en haar kouse sommer daar op die bed gelos en toe begin sy die lappe en emmers bymekaarmaak. 

Ai, hy en hond bly in die moeilikheid want hulle bly in sy ouma se pad. Hy was gister lus en bly sommer by die skool, maar die tannie het hom uit die klas uit kom haal en sommer nog met hom geraas ook oor hy haar so lank laat wag. Toe dink hy miskien sal sy juffrou hom help om daar te bly, maar sy is toe ewe skielik te besig om te sien wat gaan aan. Simpel.

Vanoggend vroeg het hy gesien die ding waarvoor sy ouma wag is nou baie naby. Ouma het sowaar al opgestaan nog voor die mense langsaan se haan begin kraai het. Dit het amper vir hom gevoel soos die nag toe sy geval het. Toe was dit ook mos nog lank nie opstaantyd nie. Toe hy in die kombuis kom, is daar nie eens plek vir hom om te sit om sy pap te eet nie. Die hele tafel is vol panne en meel en eiers en hy weet nie wat nog alles nie. Hy het daar by die stoof gestaan en sommer die pap sonder botter geëet. Hy kon sien dat sy ouma nie gepla wil word nie. En toe die tannie buite roep, het Ouma nie eens koebaai gesê nie. Simpel!

En nou is hy weer by die hek en hond het klaar hallo gesê. Hy wens net hy kon vir hond vra wat die dinges is aan die gang in hulle huis. Gisteraand wou hy nog dat hy en sy eie ouma ‘n slaggie weer sing, maar nie eens ‘Jesus roep my vir ‘n sonstraal’ kon haar aan die sing kry nie. Dan moet jy nou net weet dat dit ernstige goed is wat in sy ouma se kop aangaan. Ouma sing altyd vir ‘Sonstraal’ en dan sommer so net met die draai van die liedjie gaan sy aan met ‘Ek kan hoor my Heiland roep my’. Maar nee, daar is nie ‘n woord gesing gisteraand nie.

Nou wat de ongeluk...! Wat het nou met sy eie ouma gebeur? Hier kom sy dan nou aan met ‘n hele klomp koekblikke opmekaar. ‘n Mens kan haar nie eens sien nie! Wat wil sy dan nou gaan maak met die blikke?

O gatta toggie toggg! Die een blik gly van die hoop af en val op die grond. Ouma skree ‘n vreeslike skree. Sy ore het nou sowaar baie seergekry. Hy hardloop om vir Ouma te help, maar sy het al klaar die ander blikke op die grond neergesit. Hy sien sy gaan nou huil, want die mooi koek lê nou so half met sy lyf op die deksel en die ander stuk lyk of hy lus voel om in die sand te gaan lê. Maar sy eie ouma is baie slim en sy skuif die deksel mooi onder die koek in. Ouma sê iets van ‘...as hulle dan nou sand wil eet...’ maar hy kan nie mooi hoor nie.

Die tannie het nou gekom en sy help vir Ouma om die koeke op die tafeltjie langs die huis neer te sit. Hy sien nou eers hoe mooi het Ouma alles gemaak met die mooi tafeldoek en blomme en alles. Sjoe, Ouma is regtig slim.

En ewe skielik is daar 'n hele klomp tannies wat hy nog nooit gesien het nie. Hy wonder of die hele dorp se tannies gekom het omdat sy ouma vandag verjaar. Hy dink hulle is ook vir haar so lief soos wat hy vir haar is. Hy en die maatjies kry eerste koek en koeldrank sodat hulle kan gaan speel. Ouma is vir hom baie, baie mooi, want sy lag die hele tyd.


Ouma het vir die tannies gevra om elkeen vir haar ‘n foto te post op facebook sodat sy ‘n album van haar verjaardag kan maak. Nou wonder hy net of hulle dit ooit sal doen?

Sondag 19 November 2017

SKIPSKOP, DIE HARTSEER STORIE VAN APIE


Apie sit langs die see en werk aan sy visnette. Die lorrie se mense was gister weer hier. Hulle wou dat hy en Ma en Pa en almal opklim en saamry. Saamry wa’na toe? Hulle wou nie sê nie. En toe besluit hy en Ma en Pa en al die ander hulle sal nie klim nie. ‘n Mens kan mos nie op ‘n lorrie klim as jy nie eens weet waar jy gaan afgelaai word nie. Nee, hulle bly maar liewers net waar hulle is, het almal besluit.

Die ding met sy visnette kom nie van gister en eergister af nie. Hulle gebruik al baie jare lank nie meer die visnette nie. Vandat die water so vlak geraak het, pak hulle mos die viskrale en is dit ook nie meer lekker om vis vir die tafel te kry nie. As dit laagwater word, pak hulle die krale met groot, plat klippe. Die hoogwater stoot oor die krale en bring die vis saam. As die water dan terugtrek met laagwater, is die krale vol vis. Party dae stuur Ma sommer die kleintjies om vis te gaan haal as die ander te lui is daarvoor.

Die bootjie is lankal stukkend. Die dag toe hy hom stukkend teen die rotse gery het, het dit vir hom gevoel of sy hele lewe gaan staan. Hy was so trots op daardie bootjie van hom – so trots soos g’n ander mens kan wees nie. Hy was die enigste man wat nog ‘n boot gehad het en hy het gesorg dat almal in Skipskop kos op die tafel kry. Ja, daardie dag was ‘n hartseer dag. Pa het vroeg-vroeg vir hom gesê hy moenie uitgaan nie, die see is te kwaad vandag. Maar hy wou nie hoor nie. Hy moes see toe. Sy hart wou see toe.

Die boot was volgelaai met die vis. Hy het lanklaas so ‘n groot vangs gehad soos daardie dag. Hy het al gedink hoe hy die vis sou droogmaak en later aan die besoekers verkoop. Hy sou vir Ma en Pa elkeen ‘n bril kon koop. Ja, hy was so opgewonde – dalk te opgewonde om die onstuimige see dop te hou.

Alles het goed gegaan. Hy het saam met die branders probeer ry. Maar toe hy by die strand kom, was die laaste groot brander eenvoudig te sterk vir hom... Agterna het hy die stukke opgetel en daarvan vir Ma ‘n wastafeltjie probeer bou. Ja, die boot is lankal stukkend.

Hy gebruik lankal nie meer die visnette nie, maar op dae soos vandag kom sit hy hier en werk aan hulle. Dit maak sy hart stil wanneer hy hier so alleen sit. Dit is net hy, die see en die wete dat hy lank terug ‘n suksesvolle visserman was.

Maar vandag neuk dit maar om sy gedagtes hok te slaan. Hierdie mense wat hulle nou hier wil kom wegjaag...wie is hulle? Waarom wil hulle dit doen? Niemand hier het iemand nog ooit skade aangedoen nie. Almal hier het die see lief. Hulle ken nie ‘n ander wêreld nie, waar moet hulle nou heen? Ma en Pa en hy en Sussie en almal is hier gebore en gedoop. Almal gaan Sondag kerk toe soos dit ‘n goeie mens betaam. Maandag staan almal op en maak skoon en werk buite in die tuin. Hy wat Apie is, is die enigste een wat nie in die tuin werk nie. Nee, hy is die baas hier by die viskrale. Hy sorg vir vis op die tafels.

En nou? Wat moet nou met hulle gebeur? Die man van die lorrie sê daar is nie ‘n see daar by Misverstand nie. Hoe moet hulle dan aan die lewe bly? Wie sal vir hulle vis aanry? En die tuine moet eers gemaak word, dan nie? Wat moet hulle intussen eet?

Nee, het hulle gesê, ons klim nie die lorries nie. Ons bly waar ons bly.

En toe het die man baie kwaad geword. Hy het gesê vandag is die dag wat die stootskrapers gaan kom en ons huise omstoot. So waar as wragtag, hy wil nog die man sien wat dit aan hulle gaan doen. Hulle sal mos nie sommer net staan en kyk dat hy die huise omstoot nie, man!

Apie hoor dat Sussa na hom roep. Hy luister nie na haar nie. Sy weet dat hy besig is en dat hy nie gepla wil wees nie. Waarom sukkel sy nou met hom? Hy sal wel huis toe gaan wanneer sy hart beter voel, sy weet dit tog teen hierdie tyd.

Maar sy hou nie op met roep nie. Sy roep en roep totdat hy omkyk.

Nee, Here, net nie dit nie. Asseblief tog, net nie dit nie! Eers sien hy die stootskrapers, en toe sien hy sy mense. So ver as wat hy kan kyk, sien hy hulle aanstap met elkeen ‘n sak of twee in die hand. Die groter kinders het selfs sakke op hulle koppe. Hulle loop in ‘n ry met die pad af – weg van hulle enigste, enigste Skipskop.

Hy los die visnet net so en kom regop. By hulle huis sien hy nog mens. Dit is Ma en Sussa wat nog probeer ‘n laaste paar goedjies inbondel in die sakke. Maar Sussa se hande is vol. Sy het vir Pop op die heup en kan nie die laaste swaar sak optel nie. Sy los dit net daar en loop agter Ma aan. En endjie voor hulle sien hy vir Pa. Pa kan nie loop nie, maar vandag moet hy loop. Hy het vir Shorty op die rug.

Hoe is dit dan moontlik dat almal sommer net opgegee het? Hoe is dit dan godsmoontlik dat hulle nie eens ‘n ou klein bietjie probeer terugbaklei het nie? Is dit hoe hulle voel oor hulle enigste, enigste Skipskop?

En hoe weet hulle in elk geval waar die pad Misverstand toe loop? As hulle voor by die kruispad kom, hoe gaan hulle weet watter kant toe?

Ma kyk ‘n slag om. Sy wink vir hom om te kom. Hy beduie dat sy moet loop, hy sal kom.

Toe hy nie meer die lang, strompelende massa mens kan sien nie, draai hy om. Stadig, met rustige, maar vasbeslote treë, stap hy terug see toe. Die see is die enigste sekerheid wat hy in die lewe gehad het tot nou toe. Hy kan nie en hy wil nie die see alleen los nie. Nie nou nie, en ook nie later nie.

Op die strand gaan hy ‘n oomblik staan. Hy kyk nie weer om nie. Hy het opeens vrede in sy hart.

Stadig stap Apie reguit vorentoe. Van nou af is dit net hy en die see.
                  

Inwoners van die dorpie , en die vakansiegangers wat jaarliks daarheen gekom het om te hengel en lekker fees te vier en te dans is in 1982, toe Denel besluit het om die gebied tussen Waenhuiskrans (Arniston) en die de Hoop Natuurreservaat te gebruik om missiele te toets, aangesê om te trek. Skipskop het in die gebied geval en teen die einde van 1984 is die gebied onteien. Teen die einde van Maart is hulle hervestig in Misverstand, ‘n dorpie binnelands, aan die anderkant van die Overberge.


Maandag 13 November 2017

UITEINDELIK!

Spiere en die maatjies kom van die skool af. Hy kan net nie verstaan waarom die oom hulle vandag kom oplaai het nie. Die oom praat nie met hulle nie. Hulle mag ook nie eens met mekaar praat nie. Die oom luister nou nuus. Watse nuus? Hy verstaan daar niks van nie, maar die oom lyk of hy verstaan wat die tannie op die radio sê. Simpel tog.

Toe hulle by die huis kom, wil Spiere eers sy rugsak met die kosbak en die koeldrankbottel in gaan neersit. En hy wil mos nog eers vir sy eie ouma en die hond gaan hallo sê. Hy maak mos altyd so. Maar vandag mag hy nie. Hy moet dadelik kom sit en sy kos eet. Vir wat? Hy eet mos altyd saam met sy ouma.

Die tannie is nie daar nie. Hy wonder wat het van haar geword. Sy is altyd daar as hulle by die huis is. Ouma sê dis oor die mense so stinkryk is dat die tannie altyd by die huis is. Stink? Hy het nog nie geruik dat iets stink in die mense se huis nie. Toe hy vir Ouma wou vra wat is dit wat so stink, het sy gelag en hom met die hand weggewaai. “Loop en loop speel, jy raak te groot vir jou twee skoene, kind.”

Hy wil nie eet nie. Hy is nie honger nie. Hy kan sweer iets is weer iewers nie reg nie. Die twee maatjies kyk vir mekaar en dan lag hulle. Simpel. Waarom lag hulle? Hy kan sweer hulle lag vir hom. Vir wat? Hy het mos niks gedoen dat hulle kan lag nie. Nou raak hy lekker dikbek vir die hele storie. As hy darem nou by sy ouma kom, gaan hy haar alles vertel. Hy wonder of sy met die kinders sal raas? Sy beter!

Toe die oom na ete amen sê, spring hy op. Hy gryp sy rugsak en mik vir die deur. Maar nee, die oom is nog glad nie klaar met hom nie. “Kom, jongman, hier word vandag skottelgoed gewas. Julle dink mos hierdie is ‘n losieshuis, maar vandag sal julle drie eers goed opruim voordat een van julle ‘n tree uit hierdie kombuis uit gee.”

Hy kan sweer die oom se oë lyk soos lag, maar sy mond en stem is baie kwaai. Hy wat Spiere is gaan liewer nie ‘n kans waag met hierdie oom nie. Die ander twee simpel kinders lag nou sommer kliphard. Dit maak hom net kwater en kwater. Hy sweer hy gaan nooit weer met hulle speel nie. Van vandag af bly hy net in die woonstel daar by sy ouma. Hulle dink verniet hy is so dom dat hy nie kan weet hulle lag vir hom nie.

Toe hy die laaste mes en vurk in die laai sit, stamp hy die laai toe en gryp sy sak. Hulle gaan hom sowaar nie langer hier hou nie. Hy begin nou wonder of daar ‘n fout met sy eie ouma is. Waarom anders mag hy nie na haar toe gaan nie? En hoekom het hy nog nie vir hond hoor blaf nie? Wat gaan aan?

By die deur keer die oom hom voor. Hy gryp hom so half aan die arm terug by die kombuis in. “Nie so haastig nie, outjie. Kom, ons gaan gou roomys koop.” Dit maak nie saak dat hy vir die oom sê hy is nie lus vir simpel roomys nie. Die oom wil nie hoor nie.

Maar hierdie is mos nie die pad kafee toe nie, is dit? Of is daar op ‘n ander plek ‘n ander kafee? Sowaar, nou weet hy ook nie meer nie.

Maar...dis...mos...?

Hulle ry sowaar na sy eie ouma se huis toe. Het die oom nou simpel geraak? Daar is mos nie roomys nie?

Toe hulle om die draai kom, sien hy die tannie se kar staan ook daar. Sy maag gee so ‘n woeste draai binne-in hom. Wat is hier aan die gang?

Hulle trek by die hek in. Toe hulle uitklim, maak die oom die kattebak oop. Hy sien sy fiets en die boks met sy karretjies daarin. Voordat hy nog iets kan sê, storm hond op hom af. Hy skrik so groot dat hond hom sommer onderstebo spring, maar hy traak nie oor die stof op sy klere nie.

Nou is Spiere ook glad nie meer kwaad vir die maatjies nie. Hy lag saam met hulle toe hulle sien hoe lekker hy op die grond geval het.

In die kombuis sit ouma en die tannie en koffie drink. Hy spring en skree en hardloop al om die tafel van skone opgewondenheid.

Ouma lag so lekker dat haar ogies sommer so klein trek. Ai, dankie tog, sy ouma het weer geleer om te lag!

Saterdag 11 November 2017

DIE STORIE VAN TIEHANN

Kom maar, Ma se kind, sjjjjt nou. Waarom is jy dan so hartseer? Ek lê met my kop langs hom op die kussing, my lyf skeef gedraai in die stoel. Hoekom is jy dan so ontsteld vanoggend? Wat kan mamma doen om dit beter te maak?

Ek hou aan om sagte susgeluidjies te maak – dit het nog altyd gehelp. Stadig, baie stadig, raak hy rustig. Die kreun-huilgeluide raak minder en minder. Ek praat nie. Ek vryf oor sy koppie met sagte, reëlmatige hale. Dit laat hom ontspan. Dit maak hom rustig.

Nou slaap hy.

Die dag van jou geboorte is soos gister vir my. Die ander twee was al groot. Jou sussie was reeds dertien en boeta was toe al nege. Dit was die grootste geskenk vir ons almal. Wie het nou kon dink dat Tielana en Hannes nog ‘n ou skepseltjie sal hê? Jy was vir my die mooiste ou dingetjie. So soet. So rustig. Ons ou liefkindjie.

Ons was ‘n vredige, rustige gesin en skatryk met ons drie mooi kinders. Wie sou dan nou nie trots wees nie?

Jy was Mamma se ou klein 'charmer'. As ek my hare mooi gemaak het, het jy dit eerste raakgesien: "Hoeee, maar Mamma lyk darem baie mooi vandag!" Of as ek 'n nuwe rok aan het: "Sowaar, vandag lyk Mamma pragtig." Selfs in die winkel tussen die baie mense, het jy dit opgemerk en waardeer as iemand vriendelik met jou mamma gesels. Ja, jou hartjie was so sag en so vol liefde.

Jy was al op pad na vyf jaar toe en ons het al begin praat van skool toe gaan, toe die groot hartseer ons tref. Of is dit dat die groot hartseer nie vir ons nie, maar vir jou getref het, my kind?

Ek sien nou nog jou kordate lyfie en die plastiek swaardjie wat jy uitruk om vir Pappa dood te steek die aand voor die tv. En toe Pappa ontsteld is omdat hy nou ‘dood’ is, lag jy so lekker uit jou magie uit, want dit is dan net ‘n plastiek swaardjie, Pappa!

Die skielike, intense hoofpyn het jou inmekaar getrek tot op jou hurke. Gillend het jy jou kop tussen jou hande vasgegryp en so bly sit. "My kop, my kop!" 

Soos elke ander ma het ek ‘n pilletjie probeer, maar ons het gou genoeg besef dat pilletjies nie nou gaan help nie. So 'n intense pyn is ongehoord by 'n klein kindjie, het ons besef. Toe jou sussie met jou slap, slapende lyfie by my kom, weet ek bo alle twyfel dat daar groot moeilikheid is.

Bel die dokter. Spreekkamer. Plate. "Mevrou, ek is so jammer, jou kind se brein is vol bloed."

Hospitaal. Neurochirurg. Pype. Drade. Masjiene wat raas en bliep, bliep, bliep. My doodstil kindjie lyk so klein daar op die groot hospitaalbed. 

Here, help! 

Alles kom tot stilstand. Die ganse heelal hou asem op. Ons harte is so donker soos die nag daar buite. Vieruur die oggend los ons jou daar alleen. Nee, nie alleen nie. Ons los jou in die hande van die Here, my kind. Ons moes ‘n bietjie gaan rus. Die nag was baie lank.

Sondagoggend ruk die foon ons wakker. “Julle moet kom! Julle kind...!”

My liefkindjie, as jy maar kon weet hoe ek vir jou gebid het. As ons twee ooit kon praat oor daardie tyd, my skat. Weet jy nog ooit hoe lief ek jou regtig het? Ma se kind, jy mag dit asseblief nooit vergeet nie.

Ons sit langs jou bed – ek en Pa en Ouma en Oupa. Die dominee kom ook. Ons wag, maar niks gebeur nie. Dis steeds net die bliep, bliep, bliep van die masjiene langs jou stil, bleek lyfie.

Toe jy na ‘n week uit die koma kom, was dit asof die son vir die eerste keer weer vir my opgekom het. Jou skewe mondjie en jou sleepvoetjie was niks nie. My hart het gesing en juig, want my kind lewe! My liefseuntjie is dwarsdeur hierdie groot trauma en hy leef!

Vier weke later gaan ons met jou huis toe. Ons is so bly, maar so uiters versigtig, want ons wil nie dat jy weer seerkry nie. Ons wil nie dat jy weer deur soveel pyn moet gaan nie. Sou ons jou letterlik in watte toe kon draai, het ons dit beslis gedoen. Ons wagwoord was 'Versigtig met Boeta!'

Op jou vyfde verjaardag vier ons fees. Ons het koek en koeldrank in oorvloed. Almal is welkom om te kom deel in ons groot vreugde. Jy is vir Mamma die heel mooiste seuntjie wat nog ooit gelewe het. Jou glimlaggie is terug, jou liefdevolle hartjie het plek vir almal rondom jou.

Ai my ou kind! Nege dae later, daar by Oupa en Ouma, gebeur dit weer. As ek maar my arm of been kon afsny om jou daardie pyn te kon spaar! Dit is ‘n herhaling van die vorige keer – so asof dit 'n draaiboek is wat weer opgevoer word. Dit is weer die skielike, intense pyn voordat jy weereens 'aan die slaap raak'.

By die hospitaal is daar ‘n krisis. Daar was 'n groot motorongeluk en die pasiënte is baie. Ons het geen ander keuse as om te wag vir ons beurt nie. My moederhart wou gil en skree dat iemand asseblief tog net iets moet doen, maar ons moet wag. Ons wag saam met jou skynbaar lewelose lyfie vir byna ‘n uur en ‘n half vir net ‘n bietjie aandag en hulp. 

Jou seer lyfie daar op die draagbaar! Jy is in ‘n koma en jou mamma het niks anders te doen as om te bid en pleit voor God nie. Die dierbare ambulansmanne kom simpatiseer met ons, vas onder die indruk dat jy reeds dood is. Maar my liefiekind, jou mamma het van beter geweet. Ek het geweet dat daar diep binne-in daardie stil lyfie nog 'n hartjie is wat klop en klop en klop.

Na, wat soos vir ons soos 'n ewigheid gevoel het, neem hulle jou weer op. Masjiene. Drade. Pype. Bliep, bliep, bliep.

Vir ‘n maand lank sit ons daagliks daar. Wanneer ons kan, is ons langs jou bed. Hoe nou verder, Here? Kyk hoe lê my kindjie hier, Here. Wat dan nou verder? Hoe dan nou verder?

Toe ek die dag die groot knop op jou koppie ontdek, is ek buite myself. Die verpleegpersoneel het dit nog nie opgemerk nie. Skade op skade! Die neurochirurg is besig met ‘n ander groot operasie en kan nie kom kyk nie. Ons wag. Ons bid. Later die aand gaan ons huis toe sonder om te weet wat nou van die groot knop.

Die volgende oggend kry ons jou met 'n baie groot verband om jou koppie. My hart! My kind! Ons hoor die storie veel later by die dokter.

Eers wil hy nie opereer nie, want jou ou lyfie is so verswak. Hy voel om jou nie verder te mors nie. Hy wil jou maar los dat jy kan gaan...

Maar, na heelwat oorweging. besluit hy dat jy ‘n willetjie van jou eie het, en hy sit die pompie in om die vog van jou brein na jou magie te dreineer. En jy is so sterk, nog dieselfde dag word jy wakker. Ons is so bly, so dankbaar, so nederig voor die Here. Jy onthou jou sussie en boetie se name, jy onthou die kat en die hond se name, alles lyk so reg. Dankie, liewe Heer. U het dit weer gedoen. 

Die volgende vraag was so logies: En wat sien jy alles, liefie? "Spoke." Vir 'n oomblik of twee kan ons nie verstaan wat dit is wat jy sien nie. Ons vra weer 'n keer, en jou antwoord is weer die spoke.

"Dokter, wat is dit met die spoke? Kan my kind nie sien nie?"

"Nee, mevrou, jou kind kan nie sien nie."

Een en dertig jaar. Die lewe binne ons huis het gaan stol, gaan staan. Dit is elke dag ek en jy. Pappa help ook waar hy kan, ja. Toe jy kleiner was kon jy nog op jou boudjies wikkel-wikkel tot waar jy wil wees, maar nou nie meer nie. Jou bed is nou die wêreld waarin jy leef. 

Toe ek gister jou baard skeer, kon ek nie anders as om te wonder oor hoe anders dit kon wees as al die seer dinge nie met jou gebeur het nie. Wat as die aar nooit gebars het nie? Wat as hulle dalk vroeër die vog op jou brein dreineer het? Sou jy al getroud gewees het? Sou julle al kindertjies gehad het? Wat as? Wat. As. ??

Ek wil jou so graag ietsie leer sing of opsê, maar jy kan nie van nou tot netnou onthou nie. Soms, net soms, sing jy 'n woordjie of twee saam met die musiek en dan juig my hart. Die enkele woordjies wat jy soms met my praat, is musiek in my ore. Ek weet jy is nog daar binne, en ek weet dat jy weet van my. 

Wat hou die toekoms vir ons in? Niemand weet nie. Niemand probeer om van vandag tot môre te dink nie. Niemand praat oor môre of oormôre nie. Vandag het genoeg van sy eie pyn en swaarkry. 

My swartkopkind. My hart se punt. My las wat ek met vreugde dra.
Klein Tiehann na sy eerste operasie.





Vrydag 10 November 2017

SPIERE SE DILEMMA

Dit gaan goed met Spiere en sy eie ouma. Dit is baie lekker om elke dag maatjies te hê om mee te speel. Sowaar, dit is baie lekker. Hier is net nie so baie plek om met die fiets om en om die huis te ry nie en tannie Susan wil ook g’n dat ‘n mens in die straat met die fiets ry nie. Vir wat nie? ‘n Mens sou sweer ek is nog ‘n baby!

Spiere en Ouma hoef nou ook nie meer winkel toe te sukkel vir suiker en meel nie, want die tannie ry sommer so woerts warts dorp toe en dan bring sy alles wat Ouma wil hê.


Dis net sleg dat Ouma nie meer pap maak in die oggend nie. Ouma se pap is die heel lekkerste in die hele, hele wêreld. Eintlik verlang Spiere na hulle huis. Hy en Ouma het in die aande lekker gesing by die stoof. Ouma sing nie meer nie. Dis sleg. Ouma lag ook nie meer so baie nie. Dis baie sleg. Partykeer sit sy so en kyk doer ver en dan kan hy sien sy wil eintlik nie hier wees nie.

Daar is een ding wat nou regtig, egtig sleg is by hierdie huis. Die eerste oggend toe hulle opstaan, was dit al klaar so sleg. Hy het vir hond die deur gaan oopmaak, toe storm die tannie sommer hier verby hom in hulle woonstel in. Sy is reguit in Ouma se kamer in en Ouma het nog so groot geskrik, onthou hy.

“Nou het julle nie gesien hoe laat dit al is nie, tannie Hêppie? Die kind moes mos al aangetrek gewees het. Ons wil al ry en hy loop nog in sy slaapklere rond.”

Hy het gehoor die tannie is niks lekker vir sy ouma nie. Ag nee man, vir wat moet sy nou kom staan en sukkel met sy ouma? Sien sy dan nie dat Ouma nog seerkry as sy loop nie? ‘n Mens baklei nie met iemand wat seerkry as sy loop nie. Sies.

En woerts, is sy weer hier verby hom. Hy wil nog môre sê soos sy eie ouma hom geleer het, maar sy hoor hom nie eens nie. Hy het geweet hierdie mense is ook nie regtig bly om vir hom en sy ouma hier te hê nie. Hy het geweet!

Maar dit is toe oor die tannie vir Ouma gesê het hy moet saam met die maatjies skool toe gaan en daarvoor staan ‘n mens vroeg op. En dit is presies wat vir hom so sleg is. Vroeg opstaan en skool toe gaan. Hy weet ook nie watter een is nou eintlik die slegste nie. Hy wil nie vir hond en sy ouma die hele dag alleen los nie. Wie het nou eintlik gesê hy wil skool toe gaan? Nou kry hy ook nie pap by sy ouma nie, want sy kla haar been kry seer om op te staan vir die pap. Die mense in die groot huis eet as die son nog nie eens opgekom het nie. Sy maag wil nie eet as dit nog donker is nie. Hy wil nie, maar hy moet die goed eet wat hulle eet. Vir wat?

Hy het gister vir sy ouma gevra wanneer gaan hulle weer na hulle eie huis toe. Ouma het eers so lank deur die venster gesit en kyk en hom nie geantwoord nie. Hy wil toe maar met hond gaan speel, maar toe sien hy dat sy ouma nog eers dink om te antwoord. Mens hoef mos nie so lank te dink vir ‘n antwoord nie, ha? Wat kan nou so swaar wees om net te sê ons gaan môre huis toe? Maar sy ouma het nie so gesê nie. Sy het net so ‘n lang sug gegee en hom gestuur om vir haar water te gaan haal.

Toe hy die water bring, sê sy ouma hy moet nou mooi hoor. Hy wag en hy wag vir wat hy moet hoor, maar hy kan sien sy ouma weet nie wat om vir hom te laat hoor nie.

“Ouma se kind, miskien vat dit nog ‘n tydjie, Ouma weet self nie. Maar as jy ‘n soet kind is en elke dag saam met jou maatjies skool toe gaan en alles, dan is dit dalk nie meer so baie lank nie.”

Dis nie wat hy gedink het wat Ouma gaan sê nie. Glad nie! Hy wil sommer weer dikbek word, maar hy kan nie nou nie. Hy besluit hy sal die soetste kind van sy ouma wees. Hy sal alles probeer sodat hulle gou kan teruggaan na hulle eie lekker huis toe. Sy ouma sal sien dat hy baie soet is. 

Hy wil so graag hê sy moet 'n slag weer lag. Sowaar, as sy net weer asseblief sal lag, kan hulle maar hier ook bly vir altyd en altyd.

Sondag 05 November 2017

'n Gebed, deur Pieter van der Westhuizen

Hemelse vader en almagtige Here. Dit is 2 uur in die more en ek kan nie slaap nie. In 21 jaar wat ek boer was dit nog nooit so droog nie. Ek is vanmôre voor U om te bid vir reën.

Voor ek vir reën vra moet ek U eers dank vir droogtes. Indien ons net vet jare en voorspoed gehad het, hoe arrogant, onafhanklik van U en onbewus van U goedheid en genade, sou ons nie gelewe het nie. Daarom moet ek U ook dank vir die voorreg om hier te kan boer. Hier waar ek elke dag U handewerk sien en ervaar. Baie dankie ook Here vir die wonderlike mense wat U rondom my in hierdie wêreld geplaas het. 'n Unieke groep mense wat almal saam in dieselfde stryd gewikkel is. U het elkeen persoonlik gevorm, harder as kameeldoringhout, om hier te kan bestaan.

Om die mooi van hierdie boerdery te beleef het U 'n besonderse liefde vir die diere en die boerdery in my hart gesit en daarvoor is ek U baie dankbaar. Maar liewe Heer, dit is as gevolg van hierdie liefde, en my tekort aan insig, wat maak dat ek U weë nie verstaan nie.

Ek verstaan nie wanneer die lammerooi aan die voet van die duin omval as gevolg van swakheid, en nog steeds net oor haar lam se welstand bekommerd is nie.

Ek verstaan nie as die koei met ʼn sug  gaan sit en ons altwee weet sy sal nooit weer opstaan nie.

Ek verstaan nie as ek in die onskuldige bruin oë van die verswakte koedoekoei, wie se voet in die draad gehaak het, kyk en sien sy wag op die verlossing van die dood, wat uiteindelik deur dors en hitte-uitputting onder die skroeiende woestyn son, veroorsaak sal word.

Ek verstaan nie as ek "hart se punt" koeie by die slagpale moet aflaai, en nog onthou hoe hulle kalwers gelyk het, en selfs hoe ek sommige van hulle as klein kalwertjies onthoring het nie.

Ek verstaan nie as jong eerstelam-ooitjies net ribbes en gekoekte wol is en ek onthou vaagweg hoe 'n glad verhaarde ooi lank gelede vir haar vet lammetjie geblêr het terwyl die komkommersap teen haar wang afloop nie.

Ek verstaan nie as my ryperd een oggend stokstyf is as gevolg van elke aand se kragvoer, omdat daar niks meer hooi in die veld is wat hy bedags kan vreet nie.

Ek verstaan nie as ek die donkie langs die pad sien lê wat in die tuig gesterf het, en ek weet sy eienaar het ook maar nie ʼn plan gehad nie.

Ek verstaan nie as die groot springbokram struikel-struikel voortsukkel nie.

Ek verstaan nie as die erdvark, wat ʼn nagdier is, in die middel van die dag, vermaer en verdonker, op die warm rooi sand rondploeter op soek na iets om te eet nie.

Ek verstaan nie dat die graspolle, die bron van kos, in klein swart knoetsies verander het sodat die wind hulle wortels oopkalwe en die woestynson dit verdroog en verdood nie.
Ek verstaan nie as die windpomp net wind blaas omdat die boorgat opgedroog het, terwyl my verstand verdof is deur 'n wolk stof en 'n gebulk en geblêr wat deur my bene en murg sny nie.

Here ek verstaan nie hoekom U dit oor hierdie onskuldige diere laat kom, terwyl U vir my, sondaar, net goedheid en guns gee nie. Here ek verstaan dit nie, maar ek weet wel dat ek nooit die straf wat ek verdien, sal kan dra nie. Daarom, voor ek vir reën vra, smeek ek om U genade en vergifnis. Ek bid ook vir wysheid om tussen goed en sleg te kan onderskei. Ek bid veral Here, dat ek nooit arrogant sal word nie, want alle eer kom U toe. Ek bid ook vir wysheid en krag vir die hele gemeenskap om op die regte manier deur hierdie droogte te kom. Ek verstaan nog steeds nie hoe die gemsbok in hierdie tyd so sterk kan bly nie, maar ek bid dat U ons almal die gemsbokke van hierdie droogte sal maak.

Here noudat U my hart ken, smeek ek by U: "Gee asseblief vir ons almal reën en gee asseblief vir ons almal genoeg reën."


Amen

Donderdag 02 November 2017

WAT NOU VAN SPIERE SE HOND?

Spiere voel niks lekker nie. Hy en hond sit onder die boom. Hulle gaan Ouma seker netnou haal. Dit klink baie lekker, maar daar is 'n ding wat hom baie, baie pla en niemand praat daaroor nie. Almal vertel hom net van die lekker speel met die maatjies en die lekker fietsry in die nuwe tannie se erf, maar dit is nie wat hy wil hoor nie. En, in elk geval, wie sê vir hulle die tannie se man wil hom en sy eie ouma daar in die woonstel hê?

Grootmense is wragtag baie snaaks. Hulle dink mos 'n mens is dom as jy vyf jaar oud is. Hy is mos nie dom nie en ook nie doof nie. Hoe dink hulle dan hoor hy as hond hom roep? As hy in die oggend opstaan en sy eie ouma het nog nie die deur oopgemaak nie, dan roep hond hom. En hy hoor. En hy gaan maak die deur vir hom oop. Sien? Hy is g'n doof nie.

Hy het gehoor die tannie praat kamma saggies met Daisy. Sy het ietsie gepraat van '...so kan dit nie aanhou nie. Ons sal 'n ander pla moet maak. My man dink ook so.' Nou dink hulle hy weet nie? Gmf, hulle dink sowaar hy is nog 'n baby.

Maar wat hy nog die hele tyd voor wag, is dat iemand asseblief vir hom sal sê wie nou na hond gaan kyk. Hond is nie gewoond daaraan om alleen te bly nie. Hy word mos ook honger en alleen. As daar net iemand is vir wie hy kan vra, maar niemand gee hom kans om te vra nie. Daisy is te besig om in te pak en die ander tannie kom seker nie weer kuier nie. Sy maak seker haar huis skool soos ouma altyd maak voor daar ander mense kom kuier. Miskien sal niemand sien as hy wegloop en vir hond kom kuier nie? Hy kan sommer sy pap of ietsie saambring en vir hond gee.

Nou voel hy 'n bietjie beter. Hy hoop net sy plan sal werk, anders is daar groot probleme vir hom en hond. Ai, as sy eie ouma nou net nie so gestaan en neuk het met die vallery nie. As sy in die bed gebly het, sou dit nooit gebeur het nie. Wie het in elk geval vir haar vertel om daardie tyd van die nag op te staan? Wie?

Hond gee 'n skewe blaffie en Spiere sien die ander tannie se motor by die hek. Sy ouma het gekom! Hy vergeet vir 'n oomblik van hond en hardloop om sy ouma 'n drukkie te gee. Sjoe, sy lyk so bietjie moeg. Hy wens sy kon nou hier in haar kamer op die bed so 'n bietjie kom slaap. Maar nee, Daisy bring die koffers en hy moet inklim. En my hond dan nou?

Dit is die mooiste huis wat hy al ooit gesien het. Hy en ouma het elkeen hulle eie kamer in die woonstel. Hy staan by die deur en kyk hoe Daisy vir ouma in die bed sit. Dit lyk of Daisy vreeslik haastig is en nou sommer dadelik wil ry. Ditsem. Niemand gaan na haar verlang nie. Sy moet net ry.

En toe hoor hy dit! Nee, dis nie waar nie. Hy weet dis nie waar nie en hy sal nie buite gaan kyk nie. Hulle lieg sowaar vir hom. Hy probeer om nie so haastig deur toe te loop nie, want as hulle vandag vir hom lieg... Hy hoor die oom buite praat. Met wie praat hy so mooi?

By die agterdeur storm sy eie hond op hom af. Hy spring en blaf en lek sy oubaas in die gesig. Dankie tog dat die hond hom so lek, want nou kan niemand sien dat hy alweer aan die tjank gegaan het nie.







OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...