Saterdag 31 Maart 2018

EK GROET JOU, MY SUSTER


18 Desember 2017

sy wag donkernag
vir my seer siel om op te daag
sy wag
gesonde ek
ondankbare ek

sy skud haar haarlose kop

my suster

jy het gekom



En vandag groet ek jou, my eie suster. Dis hoe jy my genoem het, my eie suster.

       ‘n Week terug gesels ons nog. Jy sê ek moet kom kuier. Ons sal op die stoep sit en gesels. Ons sal baie gesels en ons sal baie lag. Ons sal kuier en klaar kuier en dan sal ons gaan slaap. Ek belowe ek sal kom...maar ek het nie. 
           Dit is jammer, hoor ek jou antwoord. Maar ek weet vir seker, nou maak dit nie meer vir jou saak nie. Ek weet dat die aardse dinge nou van nul en gener waarde vir jou is.
         En ek dan nou? Ek weet dat ek hieruit ook maar weereens ‘n les geleer het – doen soos jy moet en doen dit gou!
         Môre mag dit dalk net te laat wees.

Vrydag 30 Maart 2018

DIE DAG VAN DIE KRUIS


Image result for CRUCIFIXION FREE DOWNLOADNatan staan roerloos tussen die rasende skare. Hy praat nie. Hy kán nie praat nie, al sou hy ook wou. Dit raas en druk en skreeu en spot... en hy staan stom van verslaentheid. Wat hy voor hom sien is te veel om te verstaan. Dis asof sy verstand gestol het in ‘n drog-oomblik van ontkenning.

Nee, dit kan nie waar wees nie. Hoe kan hulle Hom ophang? Wat het Hy gedoen, behalwe om goed te wees? Waar kom hierdie bloeddorstige hongerte na bloed vandaan? Wie het dit begin? Wie het hierdie bisarre dag bepaal?
         Dit voel vir hom of hy alleen op ‘n tollende aardbol staan. Die son skyn nou direk in sy oë en hy sukkel om Hóm te sien. Hulle het Hom nou regop getel met die kruis. Die lae pyngrom wat hy nou gehoor het...was dit uit Sy keel uit wat dit gekom het? ‘n Vrou gil iewers kliphard. ‘n Ander ween soos ‘n ma wat haar kind sien sterf.
         Die twee manne weerskante van Hom skree en kla, maar Hy is stil...stil soos ‘n lam ter slagting. Waarom het Hy hom nie teëgesit nie? Waarom het Hy nie Sy engele van die hemel af laat kom om Hom te help nie? Waarom is daar so baie waaroms?
         Toe Natan dink die ander twee is al dood, sien hy die een praat met Jesus. Waaroor kan ‘n mens praat as jy soveel pyn het? Waaroor sou jy enigsins wou praat as jy geen krag meer in jou liggaam het nie? Wat kan so belangrik wees dat Jesus hom nog antwoord ook? Hy wens hy kon hoor waaroor hulle praat, maar die mensemassa is te rumoerig, te opgewonde dat hulle uiteindelik hulle sin gekry het.
         Ja, daar hang Hy nou. Hulle het Hom vasgekap met die grootste spykers wat hy nog ooit gesien het. Hy het Hom nie teëgesit nie. Hoekom het Hy nie opgestaan en geloop nie? Dit het op ‘n stadium gelyk asof Hy daar wóú wees, asof Hy gewillig op die kruis gaan lê het en gewag het vir daardie helse spykers.
         Natan draai om en loop. Hy sukkel deur die malende massa. Hier moet hy wegkom. Hy kan dit nie verder aanskou nie. Hy wil dit nie sien wanneer hierdie Jesus vandag sterf nie. Nee, hy wil nie eens daaraan dink dat Hy dalk werklik sal sterf nie. Hoe durf Hy sterf? Is Hy dan nie Jesus, die Seun van God nie? Of het hy wat Natan is hom so misgis met hierdie man?
         Natan gaan ‘n endjie verder in die stof sit. Hy kan nie verder loop nie. Sy bene wil hom nie dra nie. Hy is te verslae oor dit wat hy so pas aanskou het.
         Hy is vroegdag weg by hulle huis. Hy en sy moeder het nie baie lank gelede van Nain af na Jerusalem toe getrek nie. Die hele Jerusalem was in oproer oor Jesus en hy wou kom seker maak dat dit die Jesus is wat hom ‘n jaar gelede aangeraak het. Hy moes kom seker maak dat dit die Man is wat hom wat Natan is voor die graf weggeruk het en vir sy ma teruggegee het.
         Hy was baie lank siek. Nog voor sy pa dood is, was hy al so siek. Geen dokter of ouvrourate kon hom help nie. Sy ma het alles probeer, maar hy het swakker en swakker geword. Hyself onthou nie veel van daardie tyd nie, maar sy ma het die storie seker al ‘n duisend maal herhaal.
         Toe hy dood is, het die vroue sy lyk gebalsem en gereed gemaak vir die begrafnis. Sy ma was nie in staat om daarmee te help nie. Sy was teen die grond, want binne ses maande was dit eers sy pa, en toe hy.
         Jesus en sy dissipels was op pad en het verby die begrafnisstoet geloop. Byna die hele dorp se mense was daar, want almal het die vrou en haar seun geken. Niemand het vir Jesus geroep nie. Niemand het Hom gevra om asseblief te kom help nie.
         Wanneer sy ma oor daardie dag praat, kan sy nie anders as om weer en weer te huil nie.
“My kind, Hy het gaan staan en met jou gepraat asof jy net lê en slaap. Hy het Sy hand op die draagbaar gesit en die draers het gaan staan. Natuurlik was daar mense wat woedend was, want weet Hy dan nie dat dit nie gedoen word nie? Los uit! Dis onrein! Maar nee, Hy het Hom mos eintlik nog nooit gesteur aan gebruike en goedjies nie, het Hy? En doodluiters het Hy vir jou gesê om op te staan. Verbeel jou! En jy? Jy sit regop en praat met Hom. Dit was so asof jy regtig nog nooit siek was nie.”
         En nou? Teen hierdie tyd is hierdie Jesus seker al dood. Die Man wat my uit die dood uit gehaal het is dood. Ek sal vir Ma moet gaan sê daarvan.
        
        




Donderdag 29 Maart 2018

HANNA, DIE SWERWER



"Swerwers sonder rigting, soekers wat nooit vind."
Swerf ek? Is dit wat 'n mens dit noem? Of 'mense' dit noem? Die mense wat altyd so graag agter jou rug fluister, bakhand met ogies wat vinnig heen en weer swaai in hul kaste. 
Het jy geweet wetenskap beweer dat as iemand jou antwoord en sy oë gaan regs terwyl hy dink, dat hul dan gewoonlik die waarheid praat omdat jou regterbrein met feite werk. As daai ogies links swaai, lieg hulle – besig met die fiktiewe linkerbrein. Skinderbekke, reken ek dan, se oë trek vir seker al links skeel in hulle koppe soos hulle stories opmaak van waar ek, Hanna, al oral geswerf het. Vinnig, woerts warts swaai hulle tonge rond. Hahahaha klap dit my nou agter my kop, hulle tonge swerf. Raak hier en roer daar 'n nalatige vergissing aan. 
Hanna se lewe het al menige tong laat swerf, maar wat is die regterkant (regte kant) van die verhale? 
Ek het geloop. Ek het genoeg gehad van wit gepoeierde rykmansgesiggies, hmm, of die Bybelse "wit gepleisterde grafte". Waar het ek loop draai? Tussen nêrens en êrens. Ek het die aarde deurkruis, geswerf van noord tot suid: van rykmanshuise tot krotte – diep in die 'gutters' van die wêreld. 
Ek het 'n wegloopbestaan gevoer, doelloos en rigtingloos... Wel, seker nie heeltemal rigtingloos nie. Enige rigting was goed genoeg vir my, solank ek net verder en verder van die grafte af kon kom. Verder en verder van die kerkstruktuur wat die laaste tien jaar van my grootword so hard en duidelik my lewe oorheers het. Ek het gedink ek hardloop van hulle af weg, maar ek was verkeerd want daar in die verte het ek in bang-gat Hanna vasgehardloop. Bang Hanna, wat enige denkbare manier gesoek het om die spoke van die verlede stil te maak. Stukkende Hanna wat lomp probeer vasklou het aan 'n waarheid wat sy self al vergeet het. 
Ek het een nag halfdronk op my knieë langs 'n geleende bed gekniel in 'n desperate poging om te probeer red wat daar nog te redde was van Hanna. "Here, help tog vir Hanna!" 
Net daar het my lewe op sy hakke omgedraai en terug begin sirkel, terug tot by die kerk, daar waar die wortel van my kwaad gelê het. 
Toe ek 'n kind was het ek groot-oog in die banke gestaan en sing. "Bright eyed and bushy tailed." Alles en almal was vir my so skoon, so rein en so eerlik en ek het my handjies geklap en in verwondering gekyk na die grootmense wat hande omhoog aanbid het en groot stories vertel het van God se genade en Sy liefde vir al wat 'n verlore siel is; die wondersalf van Sy bloed wat elke seer genees en gebroke siele heel kan maak. Vir Hanna was dit toe nie so nie. Elke verkeerd feit of fiksie was aan die groot klok gehang en ek was telkemaal oor en oor gekruisig daar op die heuwel ten aanskoue en vernedering van elke aasvoël wat aan my dooie bene wou kom kou. Ek het gevoel ek moes self bloei en betaal... oor en oor. Sy bloed was nie vir my sondevergifnis beskore nie. 
Die dag wat ek my eie gebroedseltjie in my arms vasgehou het, het ek besef waarvoor daardie bloed geloop het. Toe ek in daardie klein kraalogies kyk, het my siel ophou swerf en begin soek. Hanna het haar Sameul gekry en saam met hom begin leer van die liefde. 
My hart het koersgekry en Hannah het begin swem in die genade van haar Maker. Dieper en dieper, deur kalm waters en stormgolwe...elke deining op die horison vreesloos tegemoet, want dis wat swerwers doen as hulle rigting kry. Hulle word doelgerigte soekers. Soekers wat nooit vind? Nee, Koos was baie sinies oor die lewe met hierdie skrywe van hom . Want Hanna vind. Sy vind lig in donker plekke, reën van seën waar ander net woestyn sien. 
Nou gooi ek my kop kop ver agteroor terwyl ek sing van Sy goedheid. My vingerpunte strek hoog die lug in soos ek oorgee en baai in die liefde wat ek daar in die nederige kerkie kom kry het. En ek voel rein en skoon daar waar Die Soeker die swerwer kom aanraak het met Sy wonder bloedsalf.
         Net omdat jy vind beteken dit glad nie jy moet ophou soek nie. Daar’s so baie juwele wat ek in hierdie stofpad opgetel het, al het ek my tone telkemaal nogal nerfaf gestamp teen die klippe op my roete.
Nou maak hierdie Hanna net juweel-mense bymekaar en bêre hulle diep hier in die groot beursie van my hart.
En by die grafte? Daar sit ek blomme neer.


Saterdag 24 Maart 2018

DIE DAG TOE 'N VROU GEBREEK HET

            Ek skryf oor spyt wat altyd te laat kom en daar is ‘n paar lesers wat verskillende opinies uitspreek. Denitia skryf die volgende hartseer stukkie en ek besluit om die gordyn so ‘n klein bietjie te lig. Lees gerus self en deel met my die seer van hierdie vrou.


Daardie  seer het my vandag by my motor se kattebak gevang. Ek het vir die hoeveelste keer uit die staatsaanklaer se kantoor gestap met dieselfde vrae as waarmee ek soveel keer al daar in is. My twee knapies was vandag saam, want dis skoolvakansie en ek het niemand om na hulle te kyk nie. Ek moet self. Ek het my loopraam opgevou en agter in my motor gelaai, iets het teruggespring en my links onder my oog getref. Dit was nie seer nie, maar net daar, net daar voor my oop kattebak en ten aanskoue van al die ander antwoord-honger vrouens, het ek my kop teen my loopraam laat sak en begin huil. Ek het my smart en frustrasie net daar begin uitsnik. Ek was in daardie oomblik nie net spyt nie, ek was verneder, alleen, moeg, hartseer, in pyn en ʼn leeftyd se seer het my daar oorval. 'n Swart vroutjie met ʼn baba op die heup het my kom troos en ek is skuifel-skuifel uiteindelik agter my motor se stuur in. My seuns het gepaai, met vuil vingertjies my hare gestreel en trane van my wange af "gesmeer". Ek het een ding geweet, al het ek niks nie en al mag ek dalk nooit gelyk kry met hierdie man nie is hulle soveel armer as ek daaraan toe, want wat ons het kan nie gekoop word nie. Liefde het die spyt vir eers stilgemaak in my. Liefde het hierdie keer gewen.


               “My vrou is stukkend, sy is ‘n koolkop,” sê hy oorkant my in die sitkamer. Ek gee ‘n kekkellaggie. Hy lag. Ons sit en kyk vir mekaar en lag. Daar is niks anders om te doen as om te lag nie.
               Hy kom nie nader na my toe nie. Hy sit daar asof in ‘n waas en staar na my. My hele hart roep uit na hom toe. Hy moet my help, hy moet iets doen sodat dit anders kan word, maar helaas, hy sit die sit van ‘n standbeeld. Een of ander tyd het hy opgestaan en geloop. Hy het my daar gelos om te sit...! Ek het sit en skud en ruk soos ‘n dier wat gif ingekry het en ek kon dit nie beheer nie.
               Here! Wat is aan die gang? Wat het dan nou gebeur? Waarom sit ek hier en ruk en skud? Die spuit wat die dokter my gegee het, het my amper laat glo dat alles nou weer in die haak is. Ek het vir ‘n uur of twee geglo dit was net ‘n bose grap, maar nou weet ek...
               Dink mooi, Denitia, dink net mooi wat het gebeur. Jy kon nog altyd ‘n plan gemaak het met enige probleem, reg? Jy is ‘n sterk vrou, Denitia, ruk jou reg, asseblief.
               O Here, ek is so moeg. Ek is so vaak dat ek my oë nie kan oophou nie. As ek net kan gaan slaap, Here. Nee! Jy kan nie gaan slaap nie, Denitia. Jy moet wakker bly, hoor jy vir my? As jy gaan slaap is dit klaarpraat met jou. Jy sal nie weer wakker word nie. Jy. Mag. Nie. Gaan. Slaap. Nie. Hoor jy vir my? Jy sal doodgaan as jy slaap, Denitia. Wie sal na jou kinders kyk as jy dood is? Toe, antwoord ‘n bietjie vir my? 
               Dink! Wat het vandag gebeur?
               Ek sit en kyk rugby. Kan jy nou meer – ek kyk rugby! Ek haat rugby, om die waarheid te sê, maar vanaand moet ek rugby kyk. Dit hou my wakker sodat ek nie doodgaan in my slaap nie.
               Die dag het soos enige ander dag begin, behalwe dat ek nie gaan werk het nie. Skoonsus het my afgegee om tandarts toe te gaan. Ek was nog nooit bang vir ‘n tandarts nie. Hoekom sou ek bang wees vir ‘n mens wat my moet help om van pyn ontslae te raak? Die feit dat ek hom nie ken nie het my ook nie gepla nie. Tandartse is professionele mense en die een is soos die ander, nie waar nie?
               Eintlik was ek baie in my noppies met myself dat ek uiteindelik so ver gekom het om die tandartsafspraak te maak en dan nog na te kom ook. My tand het my baie las gegee en ek het onnodige pyn verduur, maar soos dit is, stel ‘n mens mos maar sekere dinge uit as jy te besig is. Uiteindelik was ek nou op pad om myself ‘n groot guns te bewys, het ek gedink.
               Omdat dit my eerste besoek aan hierdie tandarts was, moes ek ‘n lywige vorm voltooi. Ek weet hoe belangrik dit is dat hulle alles moet weet, want sekere siektetoestande kan gevaarlike reaksies uitlok met al die verdowing wat die tandartse gebruik. Ek lys toe die hele spulletjie:
·         Kroniese hartversaking
·         Asma
·         Hoë bloeddruk
·         Chroniese Pankreatitis
Toe hy hoor dat ek vir laasgenoemde geen medikasie gebruik nie, het hy besluit dat die prosedure dan maar kan voortgaan.
               Dit is baie vreemd vir my dat hy sommer blindweg begin werk aan my. Wat van die hoë bloeddruk? Gaan hy nie my bloeddruk neem nie? Weet hy nie dat die verdowing my bloeddruk die hoogte in kan laat skiet nie?
               Hy het geen idee wat regtig met my tande aangaan, behalwe wat ek hom vertel het nie. Neem hy nie plate nie? Ek is verbaas hieroor, want is dit nie algemene praktyk om dit te doen nie? Hoe weet hy waar presies die wortel is wat hy moet verwyder en waar presies die hoof-are loop in my kaak?
               En tóg vertrou ek hierdie vriendelike tandarts. Bogenoemde gedagtes was vaagweg in my kop, maar dit het my nie werklik gepla nie – hy weet mos wat hy doen, dan nie? Vir geen oomblik was ek bang dat daar iets vrééslik sou gebeur met my nie. Nee, ek was gerus en ontspanne en tog te bly dat die tandpyn binnekort iets van die verlede sou wees.           
               Hy spuit my in. Stadig, soos hulle dit gewoonlik doen. Maar iewers hoor ek ‘n baie vreemde kraakgeluid in my kop. Wat sou dit wees? Wat klink so?
               “Mevrou, wil jy hê ek moet vir jou meer verdowing spuit?” vra hy opeens. Hy het reeds twee spuite verdowing gespuit teen daardie tyd en iewers het dit nou begin bloei. Die stoelassistent moet nou die bloed in my mond wegsuig sodat hy kan sien waar om te werk.
               “Nee, dankie, ek het nie nog nodig nie,” antwoord ek so ‘n bietjie verbaas. “Waarom vra jy dit?”
               “Jou asemhaling het skielik verander en ek het gedink jy het dalk pyn. Maar as jy reg is, kan ons voorgaan,” sê hy so effens onseker. Oor die bloeding is hy nie baie gepla nie. “Ek moes nou seker iewers ‘n aartjie getref het met die spuit...”
               Die res van die prosedure loop seepglad en gou-gou het hy die twee tande getrek. Dankie tog! Ek het vandag gedoen wat ek lankal moes doen. Waarom stel ‘n mens altyd alles uit?
               Die stomme dokter het nie eens ‘n bankrekening nie, kan jy dit glo? Ek is so haastig huis toe, maar ek gaan eers by die bank aan om kontant te trek om hom te betaal. Ek maak seker dat hulle weet ek gaan weer kom, want ek wil nog graag hê dat hy my tande so ‘n bietjie skoonmaak op ‘n later stadium.
               Ek voel effens dronkerig, maar dit is seker maar weer die bloedsuiker? Of dalk is dit my bloeddruk wat effens te laag is na die verdowing. Dit sal jou nou leer om nie te eet nie, Denitia! Hoe kon jy so onverantwoordelik wees? Jy weet tog dit laat jou sleg voel, ha? Tog, ten spyte van die feit dat ek nie lekker voel nie, ry ek gou bank toe om die geld te trek.
               “Mevrou, jy kan maar eerste gaan,” sê iemand in die ry vir my. Hoekom sou hulle my ewe skielik voor in die ry wil hê? Ek is mos nie oud nie? Die gedagtes maal deur my dowwe kop, maar ek is baie dankbaar vir die onverwagse bedagsaamheid. Ek voel nou regtig baie sleg – dit voel dan of my hart by my keel wil uitspring, man! En die naar, o liewe aarde, waarom is ek dan so naar?
               Ek vra vir die teller dat ek hierdie groot bedrag elektronies wil trek en sy sit die transaksie deur. “Teken asseblief hier, Mevrou.”
               Nee! Wat het dan nou gebeur? Met geen wil in die wêreld kan ek dit pen vat en teken  nie. Kom nou, Denitia, vat die pen en teken! Maar dit werk nie. Ek staan en staar na die verdwaasde teller. Ek kan nie teken nie. Ek kan nie die geld optel en in my beursie sit nie. Ek sien opeens dat my hand en arm geweldig ruk. Ek hoor ‘n vreemde geluid by my voete. Met die afkyk sien ek dat dit my een voet is wat klop, klop, klop op die vloer. Liewe Here, help my asseblief!            
               Kom, Denitia, wat is dit nou met jou? Klim in jou kar en gaan terug tandarts toe. Jy wil nie dat hulle jou daarvan beskuldig dat jy nie betaal het nie, wil jy? Kom nou, sien jy, jy is hier. Klim net uit en vra dat die man jou moet help. Hy sal weet wat om nou te doen.
               “Nee, Mevrou, die dokter is met ete. Hy is nie nou hier nie.” Sommer net so, ha? Nou wat nou? Huis toe? Dokter toe? Ek kan nie dink nie, man! Wat nou verder?
               My foon, ek moet my foon antwoord. Ontspan net en antwoord die foon. “Mevrou, Dokter het vir jou ‘n voorskrif vir pynstillers en antibiotika geskryf. Sal jy dit asseblief kom haal?” Is dit dan nie die man wat ‘n oomblik gelede met ete was nie?
               As my liggaam net wil ophou ruk en skud! As ek dit net kan beheer sal alles reg wees, ek weet.
               Ek moet die tandarts sien, asseblief. Ek dring aan ek wil en sal en moet hom sien. Hoe kan hy my so maak en net so los?
               O nè, jy skrik lekker, ha? Sien jy nou wat het jy gedoen met my? Gaan jy nou omdraai en loop of wat gaan jy nou doen? Kom, slim meneertjie, laat ons hoor wat jy nou gaan doen.
               “Mevrou! Genugtig tog. Jy moet dadelik by ‘n dokter kom,” dring hy aan toe hy my sien. Ek is verward, ek voel baie, baie sleg, maar ek klim in my motor en met my laaste wilskrag ry ek dokter toe terwyl die tandarts my volg in sy motor.
               Genugtig, as die ontvangsdame nou haar eie gesig kon sien! My hart klop (so voel dit vir my) teen honderde slae per minuut. My liggaam is besig om sy eie kop te volg en wil net al meer na regs op ‘n bondel trek. Ek probeer vir die ontvangsdame beduie dat ek asseblief dringend die dokter moet sien, maar ek weet nie hoeveel daarvan sy verstaan nie. Ek wil met haar praat, maar ek kan nie. Ek beduie na my handsak wat ek lomp op die toonbank neergesit het. Sy wil, wil so half ongeduldig raak, maar haal die klein blou kwitansie uit my sak uit. Dit help nie eintlik nie, want die tandarts het niks daarop geskryf wat enige aanduiding kan gee van wat nou hier voor haar staan nie.
               Die stomme tandarts hier langs my! Ek kan sien dat hy baie ontsteld is. “Dit raak net erger!” mompel hy by homself. En nou? Hy spring sowaar op en drafstap by die spreekkamer uit. Kan jy nou meer! Hy was kamma so besorg oor my, maar nou hol hy vir sy lewe. Ag ja...! Ek het hierdie man met my lewe vertrou ‘n uur of wat gelede, en nou? Hy los my net so om verder vir myself te sorg.    
               Ek lê op die klein bedjie in die dokter se spreekkamer – te ellendig om te praat. In my kop is soveel wat ek wil sê, maar ek is nie in staat om te praat nie. Ek weet ek moet hier uit voor vyfuur, want my kinders moet versorg word. Ek moet huis toe gaan, maar ek weet nie hoe om dit te sê nie.
               Soveel vrae, maar ek kan nie een woord uitkry om dit eens te begin antwoord nie. Dit frustreer my mateloos om so magteloos te wees. Onthou, ek is die een wat altyd plannetjies het om almal te help. Ek is die sterk een. Ek is die trooster, die helper, die ondersteuner. En nou? Wat nou? Selfs my liggaam wil nie na my luister en ophou ruk en skud nie.
               Ek probeer met die dokter praat, maar ek kan nie. Ek wys na my mond toe en probeer dit ‘n bietjie oopmaak dat hy kan sien. Die blou kwitansietjie word ook weer gewys sodat hy ten minste kan weet waarna om te kyk in my mond. My mond bloei nog al die tyd. My mond? Nee, dit is vir seker nie my mond wat bloei nie, dit weet ek. Maar wat dan anders? Die gedagtes is tot malwordens in my kop!
               “As ek net mooi kan kyk, Mevrou. Jou kake is so styf toe dat ek nie kan sien nie. Kan jy asseblief vir my jou mond ‘n bietjie groter probeer oopmaak?” Hy is baie geduldig, maar ek kom agter dat hy geweldig gespanne is.
               Hy grawe ‘n groot bol gaas wat swaar is van die bloed agter uit my mond uit. “Mevrou, jy het daardie verdowing direk in jou slagaar gekry. Dit is wat hierdie geweldige reaksie in jou liggaam veroorsaak het.”
               Ek lê daar op daardie bedjie en ek is besig om elke moontlike liggaamsfunksie te verloor, maar ek verloor nie my bewussyn nie. Dalk sou dit beter gewees het as ek bewusteloos was? Sou die spanning rondom my dan minder wees? Ek weet nie meer wat om te dink nie. Ek kan eintlik nie meer dink nie, voel dit vir my.
               Ek glo die dokter weet wat met my aan die gebeur is, maar hy is versigtig met sy uitsprake. Genadiglik help die inspuitings wat hy my gee dadelik! My liggaam raak rustig. Ek hou redelik op met bewe. Dankie, Here!
               “Mevrou, die twee spuite sal nou die uitwerking van die verdowing op jou liggaam kanselleer. Jy sal gou-gou beter voel, ek belowe vir jou.”
               Almal is baie goed vir my. ‘n Verpleegster is byderhand om my te help indien ek iets sou wou hê en sy maak seker dat ek gemaklik lê.
               Ek hoor hoe skakel iemand my ouers om my te kom haal.
               Die dokter kyk tevrede na my. Soja, die probleem is opgelos... Of is dit? As hy my huis toe stuur kan dit mos nie so erg wees nie, kan dit? Ek troos myself dat alles nou weer reg is. Dankie tog, amper was hier nou ‘n groot probleem.
            Is alles regtig nou reg? Waarom voel ek hier diep binne my hart dat alles glad nog nie reg is nie? Waarom voel ek soos ek voel?


Dit is drie jaar later. Sy het leer aanpas met haar lewe as Parkinson’s pasiënt. Dit gaan goed met haar. Dis net soms, soos gister, wat dinge ‘n bietjie te veel vir haar raak.

Woensdag 21 Maart 2018

MY HARTLAND

Ek is ledig en sit en lees ander mense se op- en aanmerkings op facebook. My oog tref Brenda se voet op die rooi grond van die Kalaharieduin en net daar is ek gevang. Ek loop weer die pad in die Namib. Ek loop elke tree wat ek as kind daar gegee het en my hart ween vir tye wat was. Tye wat was en wat nooit, ooit weer sal wees nie.
                        Ek het al duisende male beplan hoe ek terug sal gaan na waar my wortels lê. Ek sien hoe ry ek die pad Maltahöhe toe. Ek sien hoe slaap ek die aan in die hotel. Vroeër het ek geglo ek sal by liewe tannie Pollie gaan slaap, maar sy is ook al jare nie meer met ons nie. Dan ry ek die pad so rus-rus plaas toe. My eerste stop is Nuwerus. Die plaas met die baie perskes. En ek wonder of daar selfs net een ou perskeboompie oorgebly het? Net enetjie wat my sal herinner hoe die oorvloed daar gelyk het.
            Langs die pad, so half langs die berg en daar waar die pad sy draai maak, wil ek Oukuns se huisie sien. En ek wil wonder oor die mooi mense wat daar gebly het. Gorab. Wêreldsend. Ou Andy se Duine.
En dan...uiteindelik! By die grenshek (is hy ooit nog daar?) wil ek lank staan en kyk en alles om my in my hart in druk. Ek wil die onthou weer onthou. Ek wil onthou hoe dit was toe ek ‘n kind was en ek moes in die aand ná ‘n lekker kuier by Monie en Leentjie die hek oopmaak. Ek was so half en half skrikkerig, maar nooit bang nie – Pa was mos voor in die kar, sien. In elk geval was ons nie bang vir rondlopers en kwaaddoeners nie. Was dit uit onkunde of was daar in daardie tye regtig nie sulke mense nie?
            Daarvandaan wil ek stadig ry. Ek wil elke nou en dan stop. Ek wil die lug ruik. Ek wil my hart ‘n kans gee om rustig te raak. Ek wil die pad tree vir tree proe en beleef. Ek wil die weersiens uitstel vir so lank as moontlik.
            En dan, wanneer ek uiteindelik (weer) daar kom, wil ek... wat? Wat wil ek? Ek weet nie. Ek weet regtig nie wat dan verder nie, hoor.
            Dit sal wees soos om ‘n jeugliefde weer te ontmoet. Julle sal weet julle ken mekaar van lank gelede af, maar net dat alles nou anders is. Ander mense het hulle spore kom trap en die holtes waar myne lank gelê het. Sal jy my nog onthou, my hartsland? Sal jy weet dat ek jou nog al die tyd bemin soos van die begin af? Of sal jy afsydig teenoor my staan? Sal jy my verwelkom in jou binneste hartkamers, of sal ek moet veg vir ‘n klein stukkie van jou liefde?

            Is dit nie maar waarom ek nog nooit weer gegaan het nie? Dalk is dit die vrees vir jou afsydige ontkenning dat ek nou die weersiens uitstel en uitstel vir later. Dalk is dit bloot die feit dat ek weet jy wag nie meer vir my nie, want jy het soveel verander in die tyd wat ek weg was. Of wat?

Sondag 18 Maart 2018

SPYT KOM ALTYD TE LAAT

Hulle sê spyt kom te laat, of hoe? Ja, dis nou een spreekwoord wat jy eintlik in hoofletters moet skryf. Nee, nie skryf nie, man. Jy moet hom uitkrap met ‘n klip op ‘n oppervlak wat jy elke dag voor oë het. Jy moet dit so uitkrap dat jy dit nooit, ooit weer mis kan kyk nie. Jy moet dit onthou, onthou, onthou! 
Ek sit en doen ander dinge, maar hierdie ding oor spyt wat altyd te laat is bly in my kop. Ek probeer om ‘n prentjie daarvan in my kop te kry – ek hou van prentjies. Prentjies maak vir my sin. Dit laat my dinge beter onthou. Ek kan dinge beter verstaan as ek die prentjie met my binneste ogies sien.
            Nou hoe lyk ‘spyt’? Nou praat ek van daardie spyt wat, soos altyd, te laat kom. Die spyt wat kom nadat die persoon weg is. Of dood is. Of nie meer naby genoeg is nie. Daardie spyt wat maak dat jy nagte lank wakker lê en wens jy kan die horlosie terugdraai tot daar waar jy weer voor kan begin. Daardie spyt wat jou, as jy jouself toelaat, tot raserny sal kan dryf. Kom ek vertel jou hoe lyk hy.
            Jy is ‘n pottebakker. Jy het net een kans om ‘n beeld te maak. Jy het ook net een kans om klei te gaan haal. En jy het een lang nag om te maak wat jy wil maak.
 Die klei wat jy vat moet net genoeg wees vir die beeldjie wat jy wil maak. Nee, nie ‘n groot almagtige monument nie, hoor. Jy wil net ‘n klein dingetjie maak wat jy vir iemand baie na aan jou hart wil gee. Die klei is min, sê hulle. Moenie mors nie, vat net wat nodig is.
            Jy gaan haal jou klei. Twee bakhande vol sal genoeg wees, weet jy. Jy weet presies wat jy wil maak. Twee bakhande klei is genoeg. Jy weet.
En jy vat jou klei. En jy gaan daar waar jy alleen kan werk aan jou offer aan ‘n vriendin, of jou mamma, of jou suster, of ‘n kind van jou. Jy wil die mooiste stukkie werk maak wat nog ooit gesien is. Ja, jy gaan dit ‘n onvergeetlike kleinood maak. Die waarde daarvan? Ver bo dié van korale.
            Jy werk ure aaneen. Daar is geen ruskans nie. Hierdie skat moet klaar wees voor die son môre opkom. Die tyd raak min, maar jy raak nie moeg nie. Offers maak nie moeg nie, want hulle kom diep uit die diepste van jou hart uit. Werk. Werk. Werk. Die son se eerste strale loer oor die verste rante. Jy moet nou klaarmaak. Die tyd is verstreke.
            Jy steek jou hand uit om die laaste stukkie klei te vat. Hier kort nog net hierdie een klein stukkie detail, dan is jy klaar.
            En jy besef...! Daar is nie meer klei nie. Daar is niks meer oor nie. Jy sal tot in ewigheid nooit hierdie offer kan klaarmaak nie, want daar is nie meer klei nie.
            Een nag. Een bondel klei. Een kans om jou kleinood te voltooi. En?

            Jy het jou kanse verspeel. Spyt, my vriend, is ‘n lelike woord, vra maar vir my.

Saterdag 17 Maart 2018

VERSPEELDE MATRIEKAFSKEID

“Is dit nou die tyd om op te daag? Geen wonder hierdie besigheid lyk soos hy lyk nie. As die bestuurder so laat is, wanneer kom die res van die personeel aan die werk?”
Daphne skrik haar asvaal toe hy agter haar praat. Sy het hom glad nie gesien met die inkomslag nie. In elk geval, dit is nog glad nie aguur nie, so waarom gaan hy so tekere?
“Ek is regtig jammer...” probeer sy verdedig, maar hy luister nie na haar nie.
“Sorg asseblief dat almal tienuur in die raadsaal is. Daar is dinge wat bespreek moet word. Vandag nog!” blaf hy voordat hy uitstap.
Toe hy uit is, gaan Daphne met ‘n frons sit. Sy kan sweer...! Nee, dit kan nie waar wees nie. Sy sal hom tog kan herken, al is dit twintig jaar gelede. Of sal sy? Is F A Lambert en Franna Lambert dieselfde persoon? Dit moet wees, want niemand anders het nog ooit sulke mooi blou oë gehad nie.
Opeens is sy weer in matriek en vanaand is hulle afskeid. Hy is in die buurskool en sy is tot oor haar ore verlief op hom.
“Mamma, dit is die mooiste rok wat ek in my hele lewe gehad het. Die anders kinders sal nooit kan raai dat dit ‘n ou rok was wat net ‘n bietjie verander is nie. Franna sal hom nie vir my hoef te skaam nie. Ek kan nog altyd nie glo dat hy ja gesê het toe ek hom genooi het nie.”
Maar Franna het nooit opgedaag nie. ‘n Uur na hulle afspraak het sy die rok uitgetrek en in die kas gehang. Sy het nooit getrou nie, want die blou oë het altyd by haar bly spook.
Haar assistente, Martie, is laat soos gewoonlik. “Het jy gesien wie is hier?” wil sy weet. “Die baas het gekom. En weet jy wat? Ek het ‘n soentjie gekry. Ek kan nie wag vir vanaand se personeel-ete nie. Vir seker gaan ek sorg dat ek langs hom sit. Haai siestog, ek hoor sy vrou is oorlede in daardie vreeslike ongeluk,” borrel sy oor.
Daphne is glad nie beïndruk met Martie se relaas nie. “Wanneer presies het jy gedink wil jy daardie verslag klaarmaak? Ek het dit tienuur nodig, maar dit weet jy tog.”
Martie gaan afgehaal sit en begin tik. Sy het nog nooit gehoor dat Daphne met enige van die personeel so kwaai praat nie. Wat sou vandag in haar gevaar het?
Daphne wip soos sy skrik toe Meneer Lambert skielik aan haar deur klop. Sy kyk skuldig op, so al asof hy haar gedagtes sou kon lees. Toe sy wil opstaan, wuif hy met die hand dat dit nie nodig is nie.
“Daphne, ons twee het op die verkeerde manier ontmoet vroeër vanoggend. Ek is jammer dat ek my ongeduld op jou uitgehaal het. Kan ons vrede maak?”
Maar Daphne is glad nie lus vir sy mooi woordjies nie. Kan hy haar regtig nie onthou nie? Of is hy alweer besig met ‘n speletjie? Jare gelede was sy een van die ‘anderkant die spoorlyn-kinders’, maar vandag hoef sy nie een tree vir hom terug te staan nie.
Sy gaan staan kiertsregop voor hom. “Meneer Lambert, dit spyt my dat ek vanoggend laat was. Dit was as gevolg van omstandighede buite my beheer. As u ons tak meer dikwels besoek het, sou u weet dat dit nie my gewoonte is om so op die nippertjie by die werk op te daag nie.”
Sy gryp ‘n lêer van die tafel af. “Hier is die statistieke van die laaste ses maande soos u per e-pos gevra het. Indien u meer inligting wil hê, vra maar gerus.” Sy sien nie die lagduiweltjies in sy oë nie, want sy het reeds weer agter haar rekenaar gaan sit om verder te werk.
Daphne is voor die tyd in die raadsaal en sorg dat alles in orde is vir die vergadering. Sy gaan sowaar nie weer toelaat dat die vermetele man haar oor die vingers tik nie. Sy kom nie agter dat hy stilletjies inkom en aan die punt van die groot tafel gaan sit nie. Hy haal sy notas uit en kyk weer vinnig daarna terwyl die res van die personeel stuk-stuk inkom.
Die personeel wat nog nie die verlore seun gegroet het nie, is die een so bly soos die volgende om hom weer te sien. Sy kyk geïrriteerd op. ‘n Mens sou sweer hierdie man is van ‘n ander planeet soos hulle oe en aa rondom hom. Wel, by haar gaan hy vir seker sy koppie stamp, sy is nie een van sy marionette nie – sy gaan nie dans as hy die toutjie trek nie.
 “Daphne, kom sit asseblief hier langs my,” sê hy sonder om hom te steur aan haar parmantige houding. Hy wag totdat sy sit voordat hy begin met sy toespraak.
“Liewe kollegas, dit is heerlik om weer hier by julle te kan wees. Na my ongeluk, ‘n jaar gelede, het ek dit oorweeg om die besigheid te verkoop. Gelukkig het ek dit toe nie gedoen nie, want julle syfers is uitstekend. Ek wil veral vir Daphne gelukwens. Sy het hier ingestap terwyl hierdie kantoor die een verlies na die ander gely het en sy het dit omgeswaai tot so ‘n mate dat julle die wenspan is. Nie een van die ander tien takke kom naastenby by julle syfers nie. Baie dankie aan almal. En Daphne, jy is ‘n staatmaker en ek stel dit hoog op prys.”
Daphne is te verslae om saam met die res van die personeel hande te klap en te juig. Al die tyd laat hy haar verstaan sy doen nie genoeg nie, hy verwag meer van haar kant af. Elke e-pos het soos die vorige een gelyk – propvol vermanings en hoekoms en waaroms. Genugtig, die man is regtig ‘n paaiboelie.
Toe almal stil is, gaan hy voort. “Sit asseblief ‘n nota op die deur dat ons vir twee dae gesluit sal wees. Ons sal nie vanaand ons gewone ete saam hê nie. Almal moet môre stiptelik sewe-uur voor by ontvangs wees. Trek gemaklik aan, want dit gaan ‘n lang dag word. En ja, pak ‘n rugsak met nagklere en ‘n deftige dingetjie vir die aand, hoor.”
Meer kry hulle nie uit hom uit nie. Met ‘n groot glimlag stuur hy almal huis toe.
Hy volg Daphne na haar kantoor toe. Sy bly gespanne staan. Wat wil hy nou van haar hê? Sy is regtig nie lus om haarself langer te probeer verdedig nie. Dit is maklik genoeg om veilig te voel tussen die ander personeel, maar nou is haar kantoor skielik te klein vir hulle twee saam. Sy gaan staan half doelloos in die middel van haar kantoor.
Hy begin saggies lag, want hy sien hoe selfbewus sy is. Dit lyk asof hy hom verlekker in haar ongemak.
“Daphne, ek wou maar net seker maak dat jy weet hoe dankbaar ek is vir die werk wat jy hier doen. As bewys daarvan, bevorder ek jou tot streeksbestuurder. Dit sluit die gewone pakket in; onder andere ‘n maatskappymotor en ander dingetjies wat ons later kan bespreek.”
Voordat sy hom kan antwoord, gaan hy voort. “Sal jy asseblief vanaand saam met my gaan eet? Ek voel regtig nie lus om alleen te wees vanaand nie.” Toe sy huiwer, dring hy daarop aan. “Ek vra niks meer van jou as om ‘n bord kos saam met my te geniet nie. Asseblief.”
Opeens kan sy haar verontwaardiging nie langer beheer nie. Moet sy nou sowaar saam met hom gaan eet omdat hy haar bevorder het? Wat dink die man van homself? Dink hy sowaar sy is nog die matriekdogtertjie wat haarself aan die slaap gehuil het omdat hy haar nie kom oplaai het nie?
“Baie dankie vir die uitnodiging, maar ek sal dit nie kan maak nie. Ek het verantwoordelikhede om na te kom by my huis.” Sy gryp haar sak en wag ongeduldig dat hy haar moet volg sodat sy die kantoor kan sluit.
Daphne slaap die nag nie baie nie. Iewers voor slaaptyd kry sy ‘n sms van hom. ‘Jy is nog net so mooi soos altyd. Kan jy my asseblief vergewe vir destyds?’
Waarom, o waarom moet die lewe so moeilik wees? Eintlik wil sy hom haat, maar daardie blou oë bly in haar gedagtes.
Toe sy die volgende oggend by die werk opdaag, sit almal reeds in die luukse bus. Sy besef dat sy weer ‘n keer ‘n groot blaps begaan het. As daardie lummel haar vandag afdank, is dit haar verdiende loon. Hy is egter nêrens te sien nie. Die busbestuurder sê hy wag vir hulle op die lughawe.
Lughawe? Sy wonder wat voer die man in die mou. Waarheen is hulle op pad?
            Op die lughawe is dit ‘n dolle gejaag, want hulle privaatvliegtuig moes al opgestyg het. Daphne vergeet haar irritasie teenoor Meneer Lambert toe hy laggend saam met hulle oor die aanloopbaan hardloop om in die vliegtuig te kom.
Opeens voel dit vir haar asof sy in ‘n droom lewe. Die vlugpersoneel bedien hulle met ‘n sjampanje-ontbyt. Sy vind dit glad nie vreemd toe hy langs haar kom sit nie. Hulle klink ‘n glasie op die voorspoed van die besigheid en sit en kyk tevrede hoe die res van die personeel hulself geniet.
Hulle land op ‘n deftige wildplaas. Die dames gaan na ‘n spa en die manne probeer hulle gholf verbeter. Laat die namiddag ontmoet almal vir ‘n skemerkelkie, maar almal is haastig om te gaan aantrek vir die onthaal ‘n bietjie later.
Daphne kyk ‘n laaste keer in die spieël en glimlag vir haarself. Sy weet sy lyk pragtig.
            Buite haar deur wag Franna vir haar. Woordeloos stuur hy haar in die rigting van ‘n bankie buite die onthaalsaal. Toe hulle sit, draai hy na haar toe.
“Ek het nooit die moed gehad om jou weer te kontak nie. Ek is so jammer daaroor. Wat sal dit help om jou nou te vertel dat my ma daardie aand saam met ‘n ander man weggeloop het? Ek het so uitgesien na die afskeid saam met jou, maar ek kon nie...”
Hulle hoor hoe die ander lag en gesels in die saal, maar tussen hulle is dit stil. Albei weet dat hierdie ‘n nuwe begin is; dat dit nie meer nodig is om te stry nie.

Baie later staan hulle stil op en stap hand aan hand die onthaalsaal binne.

Donderdag 15 Maart 2018

ANT KOTIE EN OOM SAREL SE BOOTREIS

“Hygent hert!” snak ant Kotie en slaan agteroor op die bed neer. Sy lê en waai haarself koel met ‘n wit sakdoekie. Dit stoom en blaas dat hoor en sien vergaan, maar Oom Sarel staan kiersregop, sy kierie klop, klop, klop op die spierwit mat. Hy staan en kyk verveeld na sy wederhelf se desperate pogings om te herstel van die lang stap tot in die kajuit.
                “Sarel Johannes Coetzee, moenie net daar staan nie! kry vir my die botteltjie met die pers proppie daar in my koffertjie. Jy weet dit is al wat my asmabors ooptrek.”
                Na ‘n halfuur voel ant Kotie beter. Die bors is oop en die voorkop blink nie meer so van die sweet nie. Oom Sarel staan nog immer op dieselfde plek. Klop, klop, klop! sê die kierie.
                “Vrou, dit lyk dan vir my jy wil nou slaap. Agge nee toggie, vrou! Ons is mos met vakansie...” Hy bly stil. Sy snork soos sy slaap.
                Allamintag! Sal die vrou nou sowaar lê en slaap as daar soveel dinge is wat gedoen moet word. Hy kry ‘n verbete trek om sy mond, kyk ‘n slaggie in die spieël (‘n man moet mos netjies lyk) en hink deur toe. As sy wil slaap, laat haar dan slaap.
                Die gangetjie is doodstil. Waarnatoe nou? Hy kan sweer hy het ‘n swemplek...
“Haai, my ou doggie,” juig hy toe ‘n blonde dingetjie skielik vanuit die niet verskyn. “Wys tog vir jou oom waar’s die dam.” Sy haak by hom in en loop saam met hom tot by die swembad.
Hy gaan verward staan. Ai, hoe nou verder? Maar Sunet (die blonde popsie) nooi hom om by haar en haar vriende te kom sit. Almal juig hom toe en hy kry ‘n glasie in die hand. Vir ‘n oomblik sien hy sy vroutjie se kwaai oë voor hom, maar hy gee ‘n opgewonde laggie en vat ‘n lekker groot sluk. Mintag, maar dit smaak lekker! “Kom, my oom, uit met hierdie hemp. Jy moet ‘n bietjie son op jou bleek spiere kry.”
Die jongklomp geniet die oom se stories en hulle hou sy glasie vol. Elke nou en dan hoor jy net hoe lag die lotjie, want die omie raak net snaakser en snaakser. “Hoe het oom nou weer gesê het die tannie gemaak?” of “Vertel weer vir ons van die dag wat die hond op die yskas geklim het.” En deurentyd bly die omie se glasie vol, want dit smaak dan so baie lekker.
Iewers moes oom Sarel aan die slaap geraak het, want toe hy vir hom kom kry, sit hy stokalleen op die dek. Allamintag! Hoe maak ‘n man dan nou? Die son trek al water en hy weet sy vroutjie gaan baie ontevrede met hom wees. Hy wonder of sy al wakker geword het en dalkies na hom sal kom soek?
Oom Sarel probeer opstaan, maar hy besef dat hy nie kan nie. Sy bene voel dan nou so half of hulle hom in die steek gelaat het. Hy probeer roep, maar die ou stemmetjie wil ook nie so lekker uitkom nie. Ag, besluit hy, dan sit hy maar waar hy sit.
Opeens lyk dit vir hom soos basaar op die dorp, want so baie mense het hy nog nie op enige ander plek gesien nie. Hulle storm almal op hom af, Ant Kotie heel voor. Dit praat en raas en skree dat dit ‘n naarheid is. Ai, dankie tog dat sy ou vroutjie na hom kom soek het!
“Vroutjie, dankie tog dat jy...” probeer hy sy dankbaarheid uitspreek, maar ant Kotie is die hoenders in. “Sarel Johannes Coetzee, dat ek my nou vir jou so moet skaam. Wat dink jy sal jou ouers sê as hulle moet weet van jou gedrag hier in die vreemde? Hulle draai sowaar in hulle grafte om as hulle moet weet wat jy vandag gedoen het – kaal in die openbaar! Om so te rinkink met jong kinders!”
Die omie probeer keer, maar daar is nie ‘n einde aan die verwyte nie. Toe ant Kotie langs hom kom en sy asem ruik, is dit eens so erg. Oom Sarel weet dat hy vir ‘n week of twee glad nie poeding gaan kry as hulle by die huis kom nie.
Hulle neem die omie op ‘n draagbaar na sy kajuit toe. Die son het hom so verbrand dat hy nie in staat is om te beweeg nie. Die dokter gee salfies om aan te smeer en beveel bedrus vir twee dae aan. Twee dae? Dan is hulle weer terug by die huis, man. Wat dan nou van al die wonderlike goed op die groot boot?
En so kom dit dan dan ant Kotie alleen die vertoning van Mollie en Wors gaan bywoon. Hy lê dikbek in sy bed. Allamintag tog, dat hy nou so moet oorkom.
Ant Kotie praat nie ‘n woord met hom nie. Elke keer wat sy hom moet insmeer met die dokter se salf, kan hy sweer sy vryf harder as wat sy moet. Sy staan behoorlik regop en smeer dat jy net velle sien waai. Hy durf ook nie kla nie, want dan vryf sy net harder.
“Ag Kotie, my lief, kom ons vergeet nou maar van die nare ondervinding met die kinders, toe?” probeer hy ‘n slag of twee, maar dit werk nie. Ant Kotie is die hoenders in en sy maak nie ‘n geheim daarvan nie.
Ant Kotie is net in die kajuit wanneer sy kom verklee vir ‘n volgende aktiwiteit. Oom Sarel voel of hy haar kan wurg, maar hy durf niks sê nie. Hy ken vir Kotie en hy weet wanneer om liewer die minste te wees. Maar ai, hy sou so graag daardie dansers wou gesien het. En hy wou ook so bitter graag gaan dobbel het, maar daarvan hoef Kotie natuurlik glad nie te weet nie. Sy sal in haar lewe nooit weer poeding maak as sy moet weet hy smag na ‘n ou bietjie dobbel nie.
Die derde en laaste aand is dit die formele ete saam met die kaptein. Hy het al gehoor dat die kaptein dan die mooiste vrou in die saal vra om eerste met hom te dans en dat sy dan ‘n reusagtige bos blomme ook nog kry. Sowaar as vet, as hy darem durf met Kotie dans! Ek sal hom mos...mos wat? Ja, Sarel, erken dit nou maar aan jouself, jy kan hom niks maak nie, want jy is oud en op en boonop verbrand deur die son ook nog.
Kotie sweef behoorlik by die kajuit uit op pad na die ete toe. Hy moet sê, hy het ‘n pragtige vroutjie. Hy is eintlik baie trots op die ou dingetjie, maar dit sal hy nimmer as te nooit vir haar sê nie.
Hy word wakker van ‘n gepraat in die kajuit. Nou wie op aarde het Kotie nou hier kom insleeep? Nee wragtag, dit kan nie waar wees nie, kan dit?
“Sarel, ontmoet vir Kaptein Ellinger. Hy is die man wat ons veilig deur al die storms op see geneem het,” koer sy terwyl sy ‘n bos blomme in ‘n blompot sit. Sy praat met so ‘n soet stemmetjie dat hy byna nie glo sy praat met hom nie. Hy gluur die kaptein aan en draai sy rug na hulle toe. Verbrands!

Cruise, Ship, Cruiser, Cruise Ship, Holiday
Tuis, toe die kinders bel, antwoord Kotie die foon. “Nee, dit was heerrrrlik! Ons het so baie te doen gehad dat die tyd heeltemal te kort was. Pappa het veral van die groot swembad gehou. Hoe nou? Dobbel? Jaaaa, en ek het sakke vol geld gewen die aand. Ons stuur vir julle foto’s, hoor.”


'n LEEFTYD WAT VOEL SOOS GISTER.

Sewe-en-dertig jaar gelede ...    Dit voel soos gister, maar dit is ‘n leeftyd terug. Sewe-en-dertig jaar gelede het my lewe vir altyd e...