Donderdag 04 Januarie 2018

‘n WARE VERHAAL VAN DEURSETTINGSVERMOË EN ‘GATE CRASHERS’



Hy sit langs sy ouma waar sy in die hoek van die kamer op ‘n dun matrassie lê. Hy weet dit is nou nie meer lank nie; hy het al gesien hoe dit lyk as iemand doodgaan. Ai, hy wil dit nie sien nie! Hy wil nie sien as Ouma weggaan nie, maar hy moet. Ouma het hom laat roep om hier by haar te wees en daarom sal hy hier langs haar sit tot alles klaar is.
Hulle is baie wat hier bly, maar eintlik is dit nog net Ouma en Ma en hy wat van die familie oor is. Die ander mense wat hier bly het maar so met die tyd kom intrek. Niemand het gekla nie, want elkeen sorg darem vir ‘n ietsie om te eet.
Hy weet hoekom Ouma hom geroep het. Ouma is bekommerd oor Ma. Sy weet dat Ma dit nie gaan maak so op haar eie nie. Sy is nie ‘n sterk vrou nie, die ma van hom. Sy kan maklik sommer iemand se drinkgoed vat en als op een slag uitdrink. Dan lê sy daar in haar hoek vir dae en slaap. Dis nou Ma daardie. Ouma was die een wat darem nog iets met Ma kon aanvang as sy so sleg loop raak. En nou gaan Ouma weg.
Ouma is nie dom nie. Sy het seker hoeveel jaar terug eendag vir hom vertel van die plek waar ‘n mens kan leer om self te werk. Jy kan baie goed word, het sy gesê. En wat wil jy word? Sy het hom lank in die oë gekyk en hy het gesê hy wil graag eendag mense se karre kan regmaak. Sy het bly gelyk daaroor. Maar nou gaan Ouma dood en hy kan nog altyd nie mense se karre regmaak nie.
Sy beduie moeg na ‘n kas in die hoek. Hy staan op en maak die deur oop. Sy beduie en probeer praat, maar hy verstaan nie lekker wat dit is wat Ouma wil hè nie. En toe sien hy die bruin koevert! Ouma beduie hy moet die koevert bring.
“Nou gaan jy leer, my kind,” is Ouma se heel laaste woorde.
Hy kyk paniekerig rond, maar daar is niemand naby nie. Hy sit die koevert met die geld weer in die kas en gaan roep die ander mense. Ma is alweer nie lekker nie. Ma sal eers later uitvind dat Ouma weg is. Ai, Ma!
Hy kry sy klere skoon. Hy pak dit in die enigste koffer in die huis. Hy vat sy geld en sy ID. Ouma het gese sy’t gehoor ‘n mens het dit nodig om te kan gaan leer.
Hy  het nie aansoek gedoen om te gaan leer nie, maar hy het al gehoor hoe doen ‘n mens dit. Oor twee dae moet hy in Keetmanshoop wees. Hoe ver is dit soontoe? Hy weet nie en dit maak ook nie saak nie. Hy sal sorg dat hy in Keetmanshoop is as hulle begin met die inskrywings.
Dit is nog donker toe hy by die pad staan. Dankie tog, die bussie is nie vol nie. Ja, hy kan saamry, maar ‘n mens ry nie verniet 1316 km nie, jy betaal daarvoor. Hy betaal.
Toe hy in Keetmanshoop kom, staan die karre die hele plek vol. Die name word gelees van die gelukkiges wat plek gekry het. Hy luister nie eens nie, want hy weet mos...! Hy hoor ouens soos hy het ‘n naam: ‘Gate crashers’, noem hulle die ouens wat kom bedel vir ‘n plekkie. Wel, dan is hy ‘n ‘gate crasher’, wie traak?
Nee, daar is nie plek nie. Jammer, my maat, jy moet maar huis toe gaan. Hy luister nie eens na die man wat met hulle praat nie. Hy kan nie huis toe gaan nie. Hy moet leer om karre reg te maak.
Waar is hulle Woensdag? O, in Tsumeb. Hy sorg dat hy by die pad kom en kry ‘n plek op ‘n bussie. Hy betaal en ry saam. Hy trek skoon aan en gaan staan saam met die res en wag. Die ‘gate crashers’ moet wag totdat al die ander gelukkige ouens hulle name gehoor het.
Hy hoor hoe praat twee van die groot menere. Alles is vol, daar is nie meer plek vir een ekstra student nie. Regtig? En nou? Huis toe? Nee, Arandis toe! Hy is moeg, maar hy moet gaan. Hy het vir Ouma belowe hy sal leer om karre reg te maak. Sowaar, hy sal leer om karre reg te maak.
In Arandis lyk dinge ook nie goed nie. Hy kan nie verstaan waar kom almal vandaan nie. Daar is nie plek vir iemand wat karre wil regmaak nie. Die groot Meneer vra vir hom: “Jongman, wil jy huise bou?” Goed, dan sal hy leer om huise te bou. Ouma, kyk, ek het plek gekry. Ek gaan leer om huise te bou, Ouma.
Hy staan in die ry met sy geld en sy ID. Hy wil vir die vrou wat sy geld vat  vertel van sy Ouma. Hy wil vir haar sê Ouma het daardie geld vir hom in die bruin koevert gebêre, maar hy doen dit nie; sy is te haastig.
Nee, Ouma, ek weet sowaar nie waar gaan ek bly nie. Ek weet ook nie wat ek gaan eet vanaand en môre en al die ander dae nie, Ouma. Maar het Ouma gehoor?

Ek gaan huise bou!


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...