Woensdag 19 Julie 2023

AS DIE WIND EN DIE STORMS JOU TREF ...

 Ek besef ek skuld jou ene! Ek het so stil-stil getrek van die warm Suide af kus toe en niks weer laat hoor nie. Nou weet ek ook nie presies wat om te vertel en wat om te los nie. Trek is mos maar trek, jong. ‘n Maklike ding is dit voorwaar nie, maar tog kom ‘n mens later agter jy het dit toe so wraggieswaar oorleef.

Jy wou hoor of ek die onlangse oosweer en -wind oorleef het? Ek het! Want jy sien, kom jy daar uit ons warm dorpie uit, is jy gewoond aan stof en wind en wat ook al nog alles. Iemand sê vroeër vanaand vir my dat as ek dit oorleef het, is ek nou in murg en been ‘n Walvisbaaier. Heheheee! Dan is dit nou seker maar seker so?

So mettertyd het die uitpakkery bedaar en het ek begin soek na iets meer as om te sit ... iets wat my hart bly kan maak as ek in die oggend my eerste koppie tee buite drink. En wat dan nou anders as blomme? Ek en Liefie is kwekery toe en ek kom vol vreugde en opgewondenheid by die huis. Hier gaan geplant word!

Ag, en is hulle tog nie te mooi nie, man! Nie eens een van hulle het aanstoot geneem met die oorplant nie. Nou is dit ek en die blommekinders van my elke oggend en middag en aand sommer die hele dag lank. Ek vertel vir hulle hoe mooi hulle vir my is en sorg dat hulle mooi nat bly en als ...

En toe kom die wind! En die son! En my blommekinders neem erg aanstoot. Erg! Eers wil ek paniekerig raak en hulle sommer in die woonstel sit, maar ek weet dat dit ook nie gaan werk nie. Ons plekkie is so klein, ek is die eerste een wat oor ‘n blombak gaan struikel, weet ek. Ons hou dus maar asem op en kyk wat gebeur.

Sowaar, hulle oorleef toe sommer heel skaflik. Dit is nou as jy die dooie blaartjies en so hier en daar ‘n afgebreekte blommetjie mis kyk. Hulle gaat aan en ek smaail elke dag die hele dag.

Maar dis eintlik nie wat ek jou wou vertel nie. Dit gaan eintlik oor die magrietjiebossie. So tussen die wind en die weer is daar toe sowaar die eerste blommetjie wat sy verskyning maak ... of is dit háár verskyning maak? Ek dink so, ja.

Maar die snaakste ding gebeur – iets waaroor ek toe eers die voëls die skuld voor gee. Daar is net een enkele geel blaartjie op hierdie blommetjie se kroon. Dis sommer so ‘n ou skewe blaartjie. Ek skel natuurlik die voëls, want hoe maak hulle dan nou so lelik met ons? Maar nee, twee dae later is daar nog ‘n geel blaartjie ... en toe nog een ... en nog een. Tog te vreemd! Ek kan my verkyk aan hierdie vreemde blommetjie wat so stuk-stuk mooi word.


Ek sit namiddag weer en staar na hierdie vreemde blommetjie, toe ek myself betrap dat ek vir Blom sê: “Jy laat my darem baie aan myself dink, jong. Sowaar, eienaardig en so half sonder plan, maar jy spog nog altyd met dit wat jy het! Jy lyk eintlik heel tevrede met jouself.”

En toe bekyk ek die res van die ou lotjie met hulle verlepte bruin blaartjies en alle ander groter en kleiner skades. Daar is dan glad ‘n malva wat wil blom! So skaam-skaam tussen die blare sit die kleine blommetjie en maak gereed om die son in die oë te kyk!

Is dit nie maar hoe ons as mens ook is nie? Party van ons oorleef die stormwinde asof niks gebeur het nie, andere is minder gelukkig en hou ‘n hele paar letsels oor. ‘n Paar lyk dan glad of hulle swaarkry nodig het om net mooier en mooier te word! Maar hoe ook al, uiteindelik staan ons almal weer op en stof ons lyfies af en staan regop – gereed vir die volgende stormwind van die lewe.

Nou vra ek maar net vir jou vanaand hierdie een ding: Het die storms jou ook onlangs getref? En waar is jy op hierdie oomblik?

Staan op, my maat! Moenie dat die wind en die hitte en stof en wat ook al jou onder kry nie. Staan op en blom daar waar jy is!

 

 

 

 

 

Vrydag 23 Junie 2023

Van nuuskierigheid is die tronk vol ...


 As jy nou vir my die hoenders in wil hê, moet jy vir my so in die verbygaan sê dat jy nog anderdag vir my iets wil vertel. Jou gesig is die ene ernstige fronse en plooie en ek besef dis groot goed waarna sy verwys.

Nou vra ek jou, hoekom moet dit anderdag wees? Hoekom nie vandag nie? Nee, meer nog: waarom nie nou dadelik nie?

Wat moet ek nou eintlik met die kennis maak dat jy iewers in die duister toekoms iets wil kwytraak? Maak dit enige verskil aan jou? Nee, seker nie. Maar hoor hier, dit maak my wragtag nie lekker voel nie.

Die rede vir hierdie moerigheid van my? Nuuskierigheid! Ek dink nie daar is ‘n mens wat meer nuuskierig as ek kan wees nie. Ha-a, jy dink verkeerd! Dit het niks te doen daarmee dat ek wil weet wat in jou huis aangaan nie. Daai een skeel my min, hoor. Ek is oor eie goed nuuskierig.

Om terug te kom by die iets wat jy my wil vertel. Dit werk mos nou maar so dat as julle oor twee weke weer iewers raakloop, het julle albei al hoeka vergeet daarvan. Nou vir wat op aarde was dit nodig om dit so dramaties aan te kondig.

Ek het ‘n manie oor geskenke. Jou vriendin nooi jou na haar verjaardag toe. “Niks besonders nie,” laat sy hoor. Ek bak net ‘n koek en ons kuier lekker op die stoep.”

Kom jy daar, staan daar ‘n hele plaat karre in die straat. Jy hoor by die hek al hoe kuier dit. Jy skrik, want wat het nou geword van ‘niks besonders nie’? Jy kyk af en sien jy het sowaar nog vanoggend se sloffies aan. Gelukkig het jy darem so ‘n smeerseltjie eyeshadow en mascara gemaak ... dalk kyk hulle die sloffies mis.

Ek soek haar tussen die opgewonde gesigte en spoor haar op waar sy met ‘n vreemde vroutjie sit en gesels. Sy kyk beswaarlik op en ek staan half verlep met die geskenk in die hand ... ‘n geskenk wat ek met groot opgewondenheid gekoop en toegedraai het. Iemand beduie ek moet dit op die tafel daar vóór by die deur gaan neersit.

Wat? ‘n Geskenk wat op ‘n tafel neergesit (en vergeet) word? Oor my dooie liggaam! Jy sal in my huis nie so ‘n tafel voor by die deur kry nie, my maat. Ek wil daai geskenk vat en die papier af skeur en geniet wat te geniete is in daai paarselkie. Ek wil bly wees en ek wil dieselfde tyd die gewer daarvan bedank daarvoor.

Dis om bogenoemde rede dat ek lekker in die bek gevat voel as iemand my beduie na die tafel daar vóór by die deur ...

Sit ons nou deesdae met die raserigste bure denkbaar. Man, jy wil nie weet hoe erg nie. Die Ingelse praat van baie loud mense. Luidrugtig klink nie vir my so lekker op die oor nie, want luidrugtig kan lekker vrolik wees of besope wees of wat ookal. Hierdie vrou is loud! Sy irriteer die wit waks uit my uit!

Nou het ek net een probleem: ek is nie lank genoeg om oor die muur te kan sien hoe sy lyk nie. Jy sien, ek wil die stem by ‘n gesig sit en volgende keer weet wie is dit wat my vrede steel. My seun spot en reken hy sal vir my ‘n trappie by die muur bou sodat ek bo-oor kan kyk, maar dit sal te veel moeite wees, man. Ek wil net een keertjie sien hoe sy lyk, dan sal ek (hopelik) vrede daaroor hê.

Ek kan vir jou ‘n lys maak van goed wat my nuuskierigheid prikkel, maar jy sal my dalk nie glo nie.

Gelukkig het ‘n oond ‘n liggie, maar as dit nie het nie, vat jy eenvoudig ‘n flits en kyk hoe rys die koek wat jy vandag vir die eerste keer probeer bak. En nee, vir ingeval jy dalk vra, ek kan nié wag tot daardie halfuur om is en ek dit uit die oond kan haal nie. Ek móét nóú sien! Want sê nou maar dit flop? Dan wil ek mos nie later weet nie, ha? Ek móét nóú sien dit flop. En as hy mooi rys moet ek dit ook mos weet, ha? En as hy lekker is? Dan moes ek dit eintlik mos al gister geproe het ... nie eers wanneer dit uit die pan uit is en afgekoel het nie.

Moet tog asseblief ook nie in my nabyheid vir mekaar fluister en ronde ogies gooi nie. Regtig? Behalwe dat ek dink jy het swak maniere, span die nuuskierigheid ‘n draad in my binneste wat alle ander denke oordonder. Ek verloor my ordentlikheid net daar, hoor. Dis sulke tyd wat ek liewer iewers gaan sit en salf aan my nuuskierige wonde smeer.

En noudat jy weet – onthou om asseblief volgende keer te ...

Hahahaaa! Nou is dit jou beurt om nuuskierig te wees oor wat ek jou wou vra oor volgende keer.

 

 

 

Woensdag 31 Mei 2023

Die drie (kerk)sondes

Sit ek mos toe een aand en dink doer waar baie ver is. Dis nou daar waar jy skoon vergeet van die hier en die nou rondom jou. My man het my al baie maal so betrap en dan wil hy weet waar in die wêreld is ek nou ... Ongelukkig sal die meeste van my omswerwinge (dis nou in my gedagtes!) hom nie saam laat lag of huil of wat ookal nie, want hy was nie dáár nie.

In elk geval, dit gebeur toe met die afsterwe van iemand uit my kinderdae. En daar gaat die gedagtes soos perde op ‘n stywe galop.

Ek kom uit ‘n era waar daar twee groot taboes was in die kerk. Ag, dis seker vandag nog so in ‘n mindere mate, maar daardie tyd was dit regtig gereken soos sonde. Nommer een: ‘n Mens lag nie in die kerk nie. Nommer twee: ‘n Mens slaap nie in die kerk nie – ook nie ‘n kind nie.

Vaak in die kerk is mos ‘n anderster vaak, ha? Dis asof daar aan elke ooglid ‘n ding ondertoe rem en rem en al swaarder rem. Probeer jy nog die dominee in die oë kyk, is dit deur so ‘n mistige waas en probeer jy dan jou oë knip ...

Maar dis mos nou nie waaroor ek met jou wil praat nie! Ek het daardie lag in die kerk beet vandag. Jy weet mos, daardie een wat dit smaak jou longe gaan bars as jy dit nog net een oomblik moet binne hou. Eintlik is enigiets mos net eenvoudig snaakser in die kerk as op straat.

Ek dink nou aan die dag wat hierdie kranige gryskop orreliste die stoeltjie waarop sy gesit het gespeel het dat die een poot afgebreek het in die middel van ‘n dawerende orrelspel. Die wat daar was het vertel dat sy ‘n oomblik heel skuins geneuk het maar op ‘n wonderbaarlike manier haar ewewig herwin het. Dis mos toe wat haar gimnastiek-ondervinding van haar skooljare inskop! Sy het die stuk klaar gespeel terwyl sy haarself op die driepootstoeltjie moes balanseer.

O ja! Ek wou mos sê daar is drie sondes in die kerk, nie net twee nie. Die derde groot sonde is om nie kollekte in die bordjie te gooi nie.

Een mooi Sondag is dit toe my beurt ...

Met dié dat die diakens opstaan om die kollekte op te neem, ontdek ek dat ek nie geld gebring het nie. Ek word yskoud en bedink my opsies.

Gelukkig het niemand nog ooit gesê dat ál ons sondes aan die wêreld bekend gemaak moet word nie. Ek het besluit dat niemand hoef te weet nie ... dis nou behalwe ek en die kind hier langs my ... mos. Toe die bordjie vir my aangegee word, hou ek die denkbeeldige munt tussen my vingers en druk dit mooi in die middel van die bordjie. Ek gee vir bordjie verder aan en leun terug teen die kerkbank – baie tevrede met myself. Dis nou totdat die kind hier langs my (het ek genoem dat dit mý kind was?) onbedaarlik aan die giggel gegaan het.

As student woon ons een aand ‘n Nagmaaldiens by. Jy moet onthou Nagmaal is nie bedoel vir ligsinnige studente nie. Jy moet jou gedra! Alles het goed gegaan totdat die bordjie met brood aangegee word vir die mense reg voor ons. Die seuntjie kon sy oë nie glo nie! “Pappa, hier bring hulle nou kos ook!” kondig hy opgewonde aan. Die arme pa het sy hande vol gehad met sy honger seuntjie wat nie saam kon eet nie.

En dan is daar die storie van die drie beertjies. Hulle was die dierbaarste seuntjies met sulke ronde lyfies en blonde hare. As die gesin die kerk in stap, is Ma en Pa altyd voor en die drietjies volg in gelid. Ouboet Beertjie loop voor, dan volg Boeta Beertjie en heel agter kom Boetietjie Beer aangewaggel, nog nie heel vas op die voete nie.

Soos kinders maar is, is Boetietjie Beer daardie dag ook redelik woelig en Mamma Beer kon hom nie regtig in toom hou sonder om ‘n bohaai op te skop nie. Sy besluit toe later om hom maar te los, hy raas tog ten minste nie.

Redelik aan die einde van die diens staan ons op om te sing. Ek staan tussen Ma en Pa reg agter die Beertjies. Boetietjie Beer sit eers doodstil en kyk om hom rond. Meteens besluit hy dat ‘n mens nie so ‘n geleentheid kan verspeel nie. Hy begin rol op die kerkbank van die een kant na die ander kant en weer terug. Ek hou asem op! Ek ken moeilikheid as ek hom sien. Ek vergeet skoon om te sing want ek weet hier kom ‘n ding.

Ons sing die laaste woorde van die laaste versie en terwyl die orrel nog die laaste note speel, gaan almal sit. Arme Boetietjie Beer is op daardie stadium reg agter so ‘n groot oom ...

Ja, jy het reg geraai. Groot Oom gaan sit op Boetietjie Beer!

Ek dink nie iemand in die kerk het gehoor toe die dominee nie seën net daarna uitspreek nie. Wie die grootste geskrik het, weet ek ook nie. Was dit Groot Oom ... of was dit Boetietjie Beer ... of dalk Mamma Beer?

Besluit maar self daaroor.

Ek wil baie graag hoor van jou sondes in die kerk. Deel dit met ons, toe?

 

Sondag 21 Mei 2023

Berge, val op my en heuwels, bedek my!

 

Hoeveel maal het jy al so gevoel? Jy weet mos, daardie een (of is dit duisend) maal in jou lewe wat jy so skaam was dat jy gewens het jy kon liewer maar onder die mat in seil as om te moes aangaan met dit waarmee jy besig was.

Nou kyk, ek het al ‘n hele paar sulke episodes in my lewe gehad. Sommiges was minder traumaties – natuurlik is dit traumaties! – ander meer.

Ek spesialiseer daarin om my naam met ‘n plank te slaan. Vra maar vir hulle wat my ken hoeveel maal ek rooigesig gestaan het oor ‘n blaps wat ek oorgekom het. Jy weet mos, soos om jou beste vriendin aan iemand voor te moet stel en opeens het jy haar naam vergeet! Hoe gebeur dit? Maar meer nog, hoe verduidelik jy dit aan jou vriendin wat daar en dan besluit sy is mos nie goed genoeg vir jou nie ... waarom anders onthou jy dan nie haar naam nie?

‘n Vriendin van iemand se man is oorlede en sy gaan om simpatie te betuig. En hoor hier, ek het hierdie een vir die waarheid gehoor, ek lieg nie! Vriendin kom by die voordeur uit en die twee omhels mekaar. Hierdie een vryf liggies oor haar vriendin se rug en sê met ‘n simpatieke stem: “Baie geluk, hoor!” Nouja, ons kan giggel daaroor, maar ek wonder nog altyd hoe het sy daardie blaps reggestel.

Ons het jare gelede in ‘n buitewyk van ‘n stad gewoon en ek het hierdie spesifieke klein inkoopsentrum gereeld besoek. Op ‘n dag stap ek die sentrum binne en hier kom hierdie ‘bekende’ man van voor af.

Ek groet ewe opgewonde: “Hallo, hoe gaan dit deesdae? Ons het mekaar darem lanklaas gesien.”

Hy kry so ‘n vreemde uitdrukking op sy gesig en antwoord: “Nee, goed dankie, en met jou?”

Ek brei uit oor hoe ons onlangs getrek het en wat alles nog. Hy staan so half en trippel en ek neem aan hy is seker baie haastig.

Ek druk deur! “En hoe gaan dit deesdae met Anneke?” wil ek weet.

“Hmmm, met wie?”

Dit toe dat ek besef ek het ‘n totale vreemdeling voorgekeer en my hele lewe in kort met hom gedeel. Ek kan regtig nie meer onthou wat ek hom geantwoord het nie, maar ek belowe jou, my ore brand nou nog van skaamte as ek daaraan dink.

Ek werk op ‘n stadium by iemand en moet onder andere mense skakel wat nie gereeld betaal nie. Ek werk die lysie van bo af weg, tot ek by hierdie kwaai Meneer Smit kom. Ek weet baie goed, want ek het al met hom te doen gehad.

Die telefoon lui aan die ander kant en ek weet presies hoe hy dit gaan beantwoord: “Smit, mirrag.” My maag bewe en ek voel half naar, want daardie man is niemand se speelmaat nie. Ek hoor al in my verbeelding sy “Smit, mirrag.”

En toe gebeur dit! Hy tel sy foon op en voor hy nog kan groet, blaker ek dit uit: “Smit, mirrag!”

Ek het die foon so vinnig as moontlik neergesit en kan nie eens onthou of ek hom toe ooit weer probeer bel het oor sy agterstallige rekening nie.

Maar die grootste en ergste was die dag van die visbak!


Almal van ons se kinders het op een of ander stadium ‘n visbak gehad. Jy ken mos daardie plastiek rondes wat net groot genoeg is vir ‘n paar goue vissies. Dis nou die einste plastiek visbak wat my allergrootste skande veroorsaak het.

Ek en my oudste, toe seker so drie jaar oud, is die dag winkel toe om vir visbak te gaan koop. Sy wil vissies hê, maar eers moet ons die bak gaan koop. Dit was in die jare toe daardie hoë platformskoene nog so erg in die mode was ...


Nou moet jy asseblief net eers die prentjie kry: Sussie is ‘n redelike woelige enetjie en ek, bo-op hierdie paar platformsandale, het haar styf aan die hand beet met my regterhand. Sy stap naaste aan die winkelvensters. Aan my linkerhand hang plastiek visbak in ‘n inkopiesak. En! Hou jou asem op, asseblief! Ma is swanger met nommer volgende. Ek het die gewoonte gehad om redelik vinnig te stap, maar ek dink daardie dag was ons nog haastig ook.

Ons kom so aan na ‘n opelug restaurant toe en ek sien iemand sit wat ek ten alle koste wil miskyk daardie dag. Jy weet mos – ‘n ou familievriend wat nie noodwendig jóú vriend ook is nie.

Ons is lekker op spoed en ek dink ek gaan dit verby hierdie restaurant gaste maak sonder dat die ‘vriend’ my sien. Dis toe dat die noodlot met alle wreedheid op my toeslaan: Kindjie sien iets in ‘n winkelvenster ...

“Mamma, kyk hier!” is die laaste wat ek hoor voordat sy my van balans af ruk toe sy wegdraai en venster toe beduie.

Die volgende oomblik (hoe het dit gebeur???) hol ek handeviervoet in die arkade. Elke keer wat my linkerhand grond toe gaan, tref visbak se kind die grond met ‘n magtige slag! En natuurlik skree ek van pure skok soos maar net ek dit kan doen!

Het ‘vriend’ my toe gesien? Vir seker! Maar seker eers lank nadat hy my benoude gille gehoor het.

Het ek ooit gesien wat my liefiekind vir my wou wys? Mos toe glad nie.

Hoe het ek by die huis gekom?

G’n mens weet nie!

Sondag 14 Mei 2023

Moedersdag ... of is dit Onthoudag?


 Ja, die kindergesiggies,

Soos die sterre se liggies,

Is die hemelse pêrels vir Jesus se kroon.

As jou hart naastenby soos myne klop, het jy vandag al ‘n duisend maal jou kinders beleef van hul geboortedatum af tot vandag toe en moontlik nog iewers in die toekoms ook. O ja, ek is ‘n meester van ou koeie uitgrawe – vra gerus maar vir hulle wat my ken.

Maar neem jy my kwalik? As ‘n mens kinders het en kinders verjaar of dis Moedersdag of enige moontlike dag wat hulle almal bel, dan lóóp die gedagtes!

Sê nou maar net dat ons nie kon onthou nie. Mens! Watter vreeslikheid sou die lewe gewees het as jy alles net een maal kon beleef en dan is dit poef! uit jou gedagtes uit. Ek wil my dit nie indink nie ... en daarom is die vergeetsiekte vir my een van die ergste dinge wat ‘n mens maar kan tref. Maar ons gaan nie vandag gesels oor vergeet nie, ons gaan gesels oor onthou – alle lekkertes wat ‘n mens moontlik kan onthou.

Ek’t jou gesê dat ek gereeld die ou dinge uitkrap en uithaal en afstof en versigtig in my hande ronddraai en bekyk en bewonder. Ek is ‘n meester van “Onthou jy nog?” Ek ken net een mens wat dit beter as ek kan doen: my oudste. Sy kan vir jou dag en datum en oomblik vir oomblik uithaal en weer lewendig maak. Ja nee, sy is die beste!

Maar dit eers daar gelaat. Ek wonder baie maal of daar op hierdie aarde ‘n suiniger swanger mamma is as wat ek was. Kyk, my lyf (met baba knus binne-in) was myne en myne alleen. Jy moes nou nie kom staan en sukkel en vir my vra of jy kan voel nie. Nee! G’n niks se gevoel aan my lyf nie! Hierdie baba is myne en myne alleen! Ek was regtig so selftevrede met hierdie bondeltjie onder my hart, dat hy/sy maar vir ewig daar kon bly. Want sien, die oomblik dat bondeltjie gebore is, kan enigeen hom mos gryp en loop. Het dit my kwaad gemaak as hulle so voorbarig is! Los my kind! Dis myne! Maar ja, die lewe het my geleer om anders daaroor te dink.

Die grootste skok was die oggend van my oudste se geboorte. Ek lê daar soos die koningin van watter land en verlustig my in al die aandag. Dis nou totdat die dominee begin bid: “Dankie dat U haar vir ons geleen het.” Ek skrik my in ‘n toestand! Geleen? Ja, Martha, geleen. Sy gaan nie altyd en altyd joune wees nie. Sy gaan groot word en weggaan en haar eie pad loop en uiteindelik het ons mos maar almal een pad wat nie een van ons vry kan spring nie ...

Dan word die goetertjies mos groot en elkeen het ‘n wil van sy eie. Dit bly vir my ‘n wonderwerk hoe hulle almal in dieselfde huis grootword, maar elkeen is so verskillend van die ander. Nogtans wil jy elkeen van hulle soos die spreekwoordelike moederhen onder jou vlerk in krap en hulle daar wegsteek teen die wêreld se swaarkry en (moontlike) ellende. En al word hulle ook hóé oud, jy sal seker maar altyd daardie beskermingsdrang in jou dra.

Verskillend? Beslis!

Ons oudste met ‘n eie koppige willetjie van haar eie wat op alles geantwoord het: “Sal self!” O my aardetjie tog, en al vat die haar jare, sy wou dit self doen en het dit self gedoen. Dit is waar die spreekwoord “Job se geduld” gebore is, glo ek.

Ons seun, weer, het kleintyd ‘n fobie gehad vir (onder andere) damesonderklere. Dit was sy suster se grootste plesier om een van haar ‘undies’ aan sy deurhandvatsel te hang. Hy sou vir ewig nie in sy kamer gaan nie terwyl daardie kledingstukkie daar hang. Hy het vuur geblaas van woede, maar niks sou hom oortuig om eens te probeer om dit af te haal nie. Nooit nie! Hy vat eenvoudig nie aan sulke goed nie. Wat my mos laat wonder hoe hy vandag daaroor voel? Ek sal maar liewer nie probeer om dit weer te doen nie!

Ek en my jongste het een aand ‘n effense verskilletjie in die sitkamer. Toe sy gaan slaap, ruim ek op en kyk of daar nie van haar potlode of iets is wat sy nie in haar tas gesit het nie. Dis toe wat ek die ‘briefie’ ontdek wat sy daar vir my gelos het. Ek is lief vir Ma, maar ek hou nie van Ma nie. Waar kry jy eerliker? Agterna het ek baie maal ook al so gevoel, maar ek het net nog nooit die moed gehad om dit uit te spreek nie.

Dit het min gebeur dat al drie van hulle as ‘n span saam ‘n ding aangevang het. Maar een ding wat hulle my lekker ‘n rat voor die oë gedraai het, is die dag wat hulle drie (met die oudste agter die stange) die kombi byna omgegooi het. In die proses was die kar so van die modder, dat hulle dit moes was. En ja, reg geraai! Toe Ma by die huis kom, word dit vertel hoe dierbaar hulle was. Hulle het vir Ma die kar gewas. En Ma glo dit! Watter ma sal dan nou nié dankbaar wees oor so ‘n mooi gebaar nie? ... tot jy jare later die waarheid uitvind ...

Verjaardagkoeke was vir my ‘n nagmerrie. Ek het altyd gewag totdat hulle in die aand bed toe is voordat ek dit begin versier het. Nou hoor nou vir my: my idees van hoe die koek moes lyk en die eindproduk was nooit, ooit dieselfde nie. Hoeveel keer ek in daardie laat ure alles afgekrap en oor begin het, kan ek nie vir jou opnoem nie!

Die ergste was toe ek die dag toe die skool uitkom vra: “Wat het die kinders van die koek gesê?” (‘n Mens mág mos vra!) Jy hoop stilweg dat dit vir hulle mooier was as wat dit vir jou laasnag was.

Eers antwoord die kind nie en jy vra weer: “Hmm? Wat het hulle gesê?”

Die antwoord kom redelik nors (of was dit die gevoel van skaamte wat nog nie gewyk het nie?!) “Hulle het almal gelag vir die koek!”

Dit voel vir my ek kan elke mooi en kosbare onthou hier neerskryf, maar dit sal nie regverdig wees nie. Jy het jou eie onthou en eie mooi herinneringe wat jy sekerlik op ‘n dag soos vandag weereens bedink het.

Soms – en dit is gewoonlik in die nag wanneer ek nie kan slaap nie – kom die aanklagte soos hamerhoue teen jou hart. Jy onthou elke onnodige pak slae, afjak of straf wat jy so vryelik uitgedeel het. Vandag besef ek hoe onverantwoordelik ‘n mens met die klein mensies te werk gaan.

Hoeveel maal het jou kind vir jou iets gevra en het jy, net omdat jy kon, geweier. Wees nou eerlik, as jy terug kyk, besef jy dat hulle nie altyd die ‘nee’ verdien het nie. Dit was bloot omdat jy as ouer die mag het daartoe. Bloot omdat jy nie lus was nie. Bloot omdat jy sommer net ... wát wou bewys?

En stadig maar seker wissel die rolle tussen jou en jou broedsel. Hulle begin gee raad, moedig aan, wys tereg, bied hulp aan en soms kry jy selfs raas ook! Dit is mos maar die pad wat ons loop, is dit nie?

Ek dank die Vader vir kinders wat vergewe het. Ek dank Hom vir die band van liefde tussen ons. Ek dank Hom dat Hy hulle vir my gegun het.

 

 

Saterdag 06 Mei 2023

(van die) Mense in my lewe

 


Tog snaaks dat ‘n mens soms op ‘n vreemde manier gedwing word om jou aandag so ‘n bietjie van jouself en jou omstandighede weg te vat en te begin kyk na die mense rondom jou.

Ek het nogal ‘n manier om vasgevang te raak deur die hier en die nou om my, en te vergeet daar is nog ‘n wêreld daarbuite ook. Wel, soos die Ingelse altyd sê: Wake up and smell the coffee! Die lewe gaan oor baie meer as net dit wat jy rondom jou kan sien, Martha!

Ek sit die dag en wonder oor ‘n vriendin en hoe sy nooit ophou goed doen aan ander nie. Sy het dit self glad nie breed nie, maar daar is net eenvoudig altyd genoeg in haar huis om ‘n lekker warm bord kos voor ‘n ander een neer te kan sit. Hoe kry sy dit reg? Waar kry sy die tyd ... en die lus ... en die geld om dit te kan doen? G’n mens weet nie, maar as daar gebrek iewers is, is sy daar om te help.

Maar dit stop nie daar nie, hoor. Wanneer iemand iewers heen geneem moet word, is sy daar om te help en aan te ry en weer te gaan haal en dan nog te versorg ook. My vraag is net: hoe weet sy dan áltyd waar sy moet/kan help? Hoe weet sy dit as niemand anders om haar daarvan weet nie? Môre is sy bevrees haar petrol gaan haar nie by die werk bring nie, maar vanaand doen sy wat gedoen moet word daar waar sy besig is.

En al brand haar voete van die hele dag se staan, het sy boonop nog genoeg tyd om geduldig te luister na elke klagte van ellende en saggies te bemoedig en raad te gee. Jy kry die idee sy vergeet sy half dat sy moeg is, want sy moet eers hierdie wa deur die drif trek. O my aardetjie tog, ek skiet so ver te kort! As ek moeg is, is dit mos oor my hele gesig geskryf!

Ek besef dat sy hier op aardbodem is om te saai. Sy saai daar waar sy gaan en daarom het sy altyd om te kan gee (of is dit saai?) Ek haal my hoed vir haar af, want ek weet sowaar nie of ek rolle met haar sou wou ruil nie.

En dan is daar Ouma Toeks. Nee, ek ken nie noodwendig iemand met die naam Ouma Toeks nie, maar die klank van haar naam laat my huis toe verlang – na geborgenheid en veiligheid. Dit herinner my aan aande by die olielamp om die kombuistafel en Pa met die Bybel, hande weerskante daarvan op die tafel. Dit herinner my aan aande onder die sterrehemel en die klik-klik-klik van die grondgeitjies daar naby in die donker. Dit herinner my aan aande wat ek gaan slaap het met die wete dat Pa en Pa daar is en dat hulle vir altyd en altyd daar sal wees. ‘n Mens se pa en ma gaan mos nie dood nie, gaan hulle? Maar jy het in elk geval nooit eens gedagte daaraan gegee nie.

Ouma Toeks het dit nie breed nie, en tóg kom sy nooit by die winkel uit sonder ‘n toffie of twee vir die kinders wat daar buite rondhang nie. “Ag kind, ek weet ek moenie vir hulle gee nie. Ek weet, ek weet ... maar los my tog maar dat ek dit doen, toe?”

Sy deel in al jou vreugdes en moedig jou voortdurend aan tot hoër hoogtes. En as jy dan slaag in ‘n halfhartige poging omdat jy nie in jouself geglo het nie, kom die opmerking gereeld met ‘n ondeunde glimlag: “Het ek jou nie gesê nie?”

Ouma Toeks is net altyd daar wanneer jy haar die nodigste het. As jou moed tot in jou skoene is (ken jy die gesegde: Op moedverloor se vlakte?) dan is sy sommer net daar. Sy doen nie veel nie, maak hoogstens ‘n koppie tee en dan sit sy en luister. Luister, luister, luister. Af en toe is daar ‘n knik van die kop, maar andersins is sy maar net daar.

As sy huis toe gaan en jy voel beter, bel jy haar en bedank haar vir alles wat sy vandag vir jou beteken het. Haar antwoord is gewoonlik iets soos die volgende: “Mensekind, maar ek het mos niks gedoen nie, jong. Ek was dan maar net daar!”

Vanaand wil ek dankie sê aan elke saaier en elke Ouma Toeks daar buite. Weet vir seker: jou loon sal groot wees!



Dinsdag 02 Mei 2023

Laataand gedagtes


 Ek het kom hallo , my vriend …

Ek moes ... ek weet jy het vir my gewag.

Daardie gevoel wat jy ervaar wanneer jy ‘n vriend of vriendin na jare weer sien! Dis mos ‘n ding wat hier in jou binneste soort van losgaan en jou hart so ‘n innige warmte laat ervaar. Julle kyk vir mekaar en die jare tussen-in word asof dit nie bestaan nie.

Die twee van julle kan letterlik voortgaan met die laaste gesprek waarmee julle weke/maande/jare gelede besig was. Dit is net nodig om een enkele woordjie te sê en albei bars uit van die lag, of albei kry trane in die oë.

Dis net dat ek en hierdie groot vriend van my glad nie in woorde met mekaar gesels nie. Ons harte hoor mekaar s’n en dit is vir albei van ons genoeg. Ek luister die meeste van die tyd, maar ek weet my vriend hoor my dankbare hart.

Ek kyk boontoe en fluister: “Dankie, Heer, dat ek dit weereens kan beleef. U is werklik goed vir my.”



Saterdag 29 April 2023

ONS BOU 'N HUIS

 

Is dit moontlik dat die tyd so verby jou kan jaag dat jy dit nie agterkom nie? Ons is reeds twee weke in Walvisbaai! So baie het gebeur en moet nog gebeur ...

Ek het nog altyd gesê as jy die eerste keer moet wasgoed was en die huis skoon moet maak, moet jy weet jy is nou dáár waar daar nie meer omdraai is nie. Nou dit is waar ons nou al trek – huisie vra aandag en die wasmasjien staan en dreun.

Maar genoeg van hierdie elke dag se shlep. Ek weet jy wil weet hoe dit met my gaan ... hoe dit met my hart gaan.

So is ek mos gebore met die neiging om alles wat eers volgende jaar gedoen moet word, liewer maar al gister te gedoen het. Ek weet, ek weet! Rome is nie in een dag gebou nie en tog het dit klaar gekom.

Ek sit soms die storie so en bekyk en dan verwonder ek my dat ek nog nie net so ‘n klein bietjie die kluts kwyt geraak het nie. Gelukkig het ek mos ‘n liefman wat sorg dat dinge nie heeltemal buite beheer raak nie.

Ek hoor gister ‘n storie (wat as die reine waarheid vir my vertel is!) wat redelik akkuraat ooreenkom met ons huidige situasie.

Die oom en tannie besluit om ‘n huis te bou. Hulle weet presies hoe hierdie huis moet lyk, maar daar is een probleem: Hulle het nie die nodige finansies om nou te kan bou nie. Die tante wil moed opgee, maar Oompie laat hom nou nie keer deur 'n bankbestuurder nie. Hy laat grawe en gooi die fondasie en toe is sy geld op. 

Toe hy een oggend opstaan, het hy 'n plan. “Kyk, Vrou, ons is mos nie haastig om die huis klaar te kry nie, is ons? Ek tree eers oor sewe jaar af en teen daardie tyd staan ons huis lankal,” verseker hy haar met ‘n skelm glimlag op sy gesig.

“En hoe wil jy dit oor sewe jaar bou as ons nie die geld het om eens te begin met die bouery nie?”

Hy kug ‘n slag gewigtig voordat hy haar antwoord: “Van vanaand af gaan ek en jy elke aand stap. Ons het die oefening nodig.”

Sy ruk haar nek styf. “Jy weet baie goed hoe voel ek oor ‘n lopery in die strate. Dis net ‘n rede vir ander mense om oor ons te skinder.”

“Vrou,” antwoord hy nou baie ernstig, “ons stap van vanaand af elke aand. Sorg net dat ons nog voor donker klaar geëet het.”

Sy sug beswaard. Sy weet maar alte goed dit help nie om te stry as Oompie ‘n ding in die kop kry nie. Hy kry altyd, áltyd sy sin met alles.

Klaar geëet, staan Oompie op en gaan sit op die stoep. Sy sug verlig – hy het gelukkig vergeet van die geloop op straat saans. Sy neurie saggies terwyl sy die skottelgoed opwas. Sy maak haar klaar om vir ‘n slag haar sepies te gaan kyk.

“Is jy klaar?” brom hy opeens agter haar.

Sy antwoord hom glad nie. Draai net om en gaan trek gemaklike skoene aan. Stap sal hulle vanaand stap, dit besef sy nou.

Hulle stap af met die straat en verby ‘n perseel waar iemand besig is om te bou. Oompie tel ‘n steen op en beduie met sy kop vir haar om ook een op te tel. Verward buk sy en tel een op. Hy tel ‘n tweede een op en beduie weer ‘n slag vir haar. Sy maak soos hy beduie en staan vraend na hom en kyk.

“Kom, Vrou, ons het oefening nodig,” beveel hy.

‘n Halfuur later is hulle terug by die huis, elk met twee stene in die hand.

“Sit hier neer, Vrou.”

Sy sit die stene op syne neer, maar nou kan sy dit nie meer hou nie.

“Jacobus, wat gaan hier aan? Wat wil jy met die stene maak?”

Hy gee ‘n skelm laggie. “Dis ons huis, my vrou, dis ons huis.”

So loop die tweetjies elke aand en tel stene op van plek na plek. Aan die einde van die week messel Oompie die oes van die week mooi vas op hulle plek.

En ja, sewe jaar later trek Oompie en sy liefde in by hulle nuwe huis – ‘n huis waarvoor hulle dag vir dag “gewerk” het.

Net soos Oompie en sy liefde, tel ons ook dag vir dag stene op en bou dat die spoeg spat. Stappie vir stappie begin dit huiserig lyk. Of ek kans sien vir sewe jaar, weet ek nie, maar vir nou is dit vir my goed om te sien ons vorder met elke steen.


Sondag 15 Januarie 2023

Ons groot 'n groot gees.

 Ons vriendskap kom ‘n hele paar jaar terug. Dis so ‘n lekker storie dat ek dit sowaar nie sommer net onder die mat kan vee nie.

My oudste wil trou. Sy woon in anderland en Ma kry die order: “Ma, ons wil onder ‘n boom trou. Ma moet asseblief vir ons daardie boom kry. En dit moet asseblief nie in die dorp tussen ander geboue wees nie.”

Goeie, aller aarde! ‘n Boom? In Keetmanshoop se vlaktes? In my verbeelding sien ek daardie vaalgroen boom. Hy staan verstok en verlate tussen ‘n paar graspolle. Elke nou en dan warrel die wind ‘n papier teen hom vas – die enigste kleur wat die boom ooit in sy bestaan sal beleef. Ek sien hoe sit die gaste tussen die klippe en stof. O nee! Help my dat ek liewers iets anders as ‘n mooi boom in Keetmanshoop se velde moet soek.

Met genoeg dryfkrag (van die kind) en uithouvermoë (van ‘n ma wat weet hier is nie uitkomkans nie), kry ons toe die boom. En is dit ‘n mooie boom! Die enigste probleem is nou dat Boom ‘n hele paar kilometers uit die dorp uit is en “Ma moet sommer iemand kry om te cater ook, hoor.”

My enigste hoop en vertroue is dierbare Christie Dry. Op daardie stadium het ek haar regtig maar net van sien in die straat geken.

Ek bel haar en sy is dadelik vuur en vlam. Regtig? Om soveel kos met jou motor aan te ry? Om te sorg vir tafels en stoele en wat als en dis alles daar doer uit die dorp uit? Kan ‘n mens uitsien na so ‘n optog?

Ons ontmoet mekaar by die boom. Die baas van die plaas is nie daar nie, maar ons het toegang tot die kombuis en die allerlekkerste stoep.

Nou, om ‘n lang storie kort te maak – twee potte tee en baie gesels later het ons die hele ding beplan en kan ek daardie aand rustig slaap, want Chrisie is in beheer.

En vandag het onse Christie ons gelos ... Sy is vooruit na ‘n veel beter plek as wat ons hier het met baie mooi bome op die regte plekke en baie potte warm tee.

Ek weet dat daar vanaand bitter baie mense is wat presies soos ek voel: ‘n kosbare vriendin is weg ... ‘n staatmaker ... ‘n voorvatter ... ‘n mens met ‘n hart van goud ... ons is voorwaar vanaand ‘n bietjie armer.

Nou sit ek en bedink alles. Toe ek haar die laaste maal gesien het, was ek so haastig en kon ek nie sit vir ‘n koppie tee nie. En dit terwyl ons mekaar altyd belowe het ons sal weer ‘n alleenstoep kry en baie potte tee sit en drink en alle prate wat agterstallig is, inhaal. Maar ja, daardie dag het toe nooit gekom nie.

En daar gaan my kop! Wanneer laas het ek my buurman gesien? Want, jy sien, ons bou mos mure so hoog soos die berge rondom ons. Daardie groet oor die draad het verdwyn, en saam daarmee goeie buurmanskap.

Ek dink aan al my baie mooi vriendinne. Ek kan nie onthou wanneer laas ek vir elkeen ‘n woordjie geskryf het nie. In vergange jare was dit moeite om kontak te hou. Jy moes ‘n brief skryf en poskantoor toe loop om hom te gaan pos. Vandag vat dit ‘n minuut of twee van jou om daardie hartsvriendin te laat weet jy dink aan haar.

Skuldig! Ek is vir altyd skuldig wat dit betref. Want jy sien, ons lewe mos asof dit vir altyd en altyd gaan wees. Nóú is ek besig, maar dalk sal ek môre tyd hê of lus wees vir ‘n kort oproep of boodskap.

Tot ‘n dag soos vandag jou tref en jy besef ... ek wou nog so en ek wou nog sus. Maar helaas, nou sal ek dit nie meer kan doen nie, self al hét ek tyd of lus daarvoor.

Al wat ek nou kan sê, is Ek groet jou Christi Dry, dit was ‘n voorreg en seën om jou te kon ken.


Sondag 01 Januarie 2023

Die dag van die rooi beursie

 Vir jare praat ek en die man al daaroor: Die huis is te groot, ons het dit nie meer nodig nie. “Ja, dis so,” sal die ander dan beaam en die gesprek daar los. Want, jy sien, dis een ding om te weet jy het dit nie meer nodig nie, maar ‘n ander ding om tot aksie oor te gaan.

Julie 2022 is dit weer so: “Jy weet, ons het nie hierdie groot huis meer nodig nie. Ons sal ‘n plan moet maak,” kom dit ernstig van Pappabeer.

Mammabeer wag al lank vir hierdie gesprek! “Nou wat gaan ons daaraan doen, dink jy?”

En sowaar! “Ons verkoop en ons gaan bly in die woonstel in Walvisbaai.”

My maag trek onmiddellik op ‘n knop. Dis nie van vandag af wat ek wonder oor die dag wat ek jare der jare se opgaargoed sal moet opruim nie. Ek kan nie eens voorgee dat ek dit nie verwag het nie, want ‘n mens lewe mos saam met jou goed. Ek is baie bewus daarvan dat ek kompulsief goed opgaar en nooit, maar nóóit weer daarna kyk nie ... dit moet maar net daar wees!

Ons begin met die nodige papierwerk en ek skud my vere reg vir die groot opruim. Dit kan nie te moeilik wees nie, kan dit?

Ek gaan slaap die aand met die vaste voorneme om môre ten minste die linnekas leeg te maak.

Die oggend is ek slaggereed en dit pak uit, sorteer en maak hopies: weggooi, weggee, verkoop, vat saam (die kleinste hopie). Die spoed waarteen ek dit doen, maak dat ek nie regtig oor dingetjies kan dink nie. Hier en daar skree ‘n handdoek op my: “Jy het my by die en daai gekry, jy kan my nie weggee nie!” Dan druk ek hom ‘n oomblik teen my hart en sit hom op die verkoophopie. Sonder emosie, sonder nadenke, sonder simpatie moet hulle uit en weg!

Teen die middag is die vier kaste linne verminder tot een kas. Ek voel goed, man! Hoeveel maal in die verlede het ek gewonder oor wat sal gebeur as ek die pad moet vat en my kinders moet hier kom opruim. Sulke tyd het ek my kop geskud in skaamte en ‘n oomblik van stilte gehad in simpatie met my kinders.

Ek besef dit is lekker om op te ruim, uit te sorteer, weg te gooi, weg te gee, of dalk te verkoop. Dis ‘n gevoel van geweldige bevryding wat kom nesmaak in my hart. “Mooi so, Martha. Wel gedaan!” prewel ek elke aand vir myself.

‘n Koper daag op! Nou begin dinge spoed optel, hoor. Jy weet nou waarom jy besig is om weg te gooi, weg te gee, of soms te verkoop. Dit smaak soet op my tong!

Die huis wil my laat dink aan ‘n klein dogtertjie wat haar tande verloor het – oral waar meubels was, is gate en oral waar skottelgoed was, is gate.

Ek visualiseer gereeld oor die eerste oggend wat ek in daardie woonstel wakker word. Ek kan reeds die sug van genoegdoening smaak: “Uiteindelik is ons hier!”

En dan, op ‘n dag ...!

Hy kom by my met die Ouma se rooi beursie wat nog al die tyd veilig weggebêre was. ‘n Groot vraagteken op sy gesig toe hy dit voor my neersit.

En dis toe daar wat die werklikheid my tref: Ek is besig om álles wat tot nou toe vir my belangrik was, van ontslae te raak. Ouma se beursie, Oupa se blou koffiebekertjie, die suster se laaste tissue ... alles wat my nog aan die verlede herinner het. Alles!

Want sien, in die woonstel is daar nie plek vir gister nie!

Die trane stroom ongevraagd oor my wange. Die gedagtes (is dit verwyte?) dwarrel deur my kop. Wat is ek besig om te doen? Ek is mos wragtag besig om my hele verlede uit te wis! Hoe durf ek? Hoe durf ek jare en jare se harde werk net so op die ashoop gooi? Hoe durf ek elke kosbare herinnering aan my ouers en ander sommer net so weggooi?

My kop maak my mal en die trane hou nie op met loop nie. Die gedagtes (nogal direk uit die Bybel uit!) voel soos sekelhoue op my seer hart.

Alles kom tot niks, sê die Prediker. Alles kom tot niks!

Tevergeefs dat jy vroeg opstaan en laat gaan slaap om met moeite ‘n bestaan daarmee te maak ...

Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!

Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie.

Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?

Sjoe! hoor ek jou sê.

Maar ja, die genade is dat ‘n mens kan praat oor die dinge wat jou pla. Soms sien jy later self dat jy op ‘n dwaalspoor is, of soms help iemand anders jou daarmee.

Ek kry ‘n video van ‘n goeie maat van my. Ék wat nie sommer goed oopmaak wat ‘geforward’ is nie, maak dit oop en lees elke woord met aandag.

Dis Nuwejaar en die Oujaar is iets van die verlede. Gaan jy met die ou dinge voort, of begin jy nuut? Jy moet vandag nog daardie besluit neem! Jy is nooit te oud om nuut te begin of nuwe drome te hê nie. Voor jou lê ‘n boek met 365 skoon blaaie – wat gaan jy daarop skryf? Dis nooit te laat om oor te begin en gelukkig te wees nie.

En nou? Wat van die rooi beursie? Wat van al die onthou? Is alles nou sommer net weg?

My hart sing, want ek besef niemand kan ooit my onthou van my af wegvat nie. Niemand kan dit koop nie. Ek kan dit vir niemand weggee nie. Ek kan dit ook nie weggooi nie.

Want sien: Ek is wie ek is as gevolg van al die mooi en lekker en kosbaar in my lewe.

Nou kan ek met vrede in my hart vra: Wie wil die rooi beursie hê?


AS DIE WIND EN DIE STORMS JOU TREF ...

  Ek besef ek skuld jou ene! Ek het so stil-stil getrek van die warm Suide af kus toe en niks weer laat hoor nie. Nou weet ek ook nie presie...