Oupa Willie is ʼn harde man van die Noordkaap. Grootgeraak op Marchand, duskant Kakamas. Wingerdwêreld, woestynwêreld. Harde mense met harte van goud.
Toe land hy en ouma Helen op Bronkhorstspruit.
Ouma Helen se groot Sustershande vat raak, van kleinkinders se seer tot hekel en brei.
As oupa praterig raak na die derde KWV’tjie,
rol sy net haar oë; “Ag Willie, nou praat jy sommer bog.”
“’n Man se planne moet net opraak nie”, lag
oupa altyd en dan vertel hy vir jou van sy liefde vir ‘vlie, diesel enjins,
rondry en kuier.
“Toe ons Okavango toe getoer het, was ons mos
op in so ʼn kleintjie. Dit was nou lekker, man. Ons sien tot anderkant by
Mugabe.”
“Nee man, jy vertel die storie nou gatkant toe
om”, sou hy gesê het, wat my terugbring Jakkalsfontein toe, sy stukkie grond
duskant Bronkhorstspruit.
So sit oupa en sy enigste seun, Gert op ʼn
naweek en praat oor ‘vlie.
“Kom ons bou een, pa. Dit kan nie so moeilik
wees nie.”
Ouma Helen loer so oor haar brilraam toe oupa
antwoord, “Nou maar toe!”
“Julle pak te veel aan”, sê sy.
Oupa antwoord soos altyd; “Aaaag ma!”
Ouma los die argument. Sy weet wanneer om stil
te bly. Hy is gemaak ernstig, sy lag stilletjies. Almal weet, hier kom ʼn ding
as pa en seun saam konkel.
Die res van die naweek was dit net internetsoektogte
oor ‘vlie en ‘vlierame en ‘vlie-enjins, onder leiding van sy kleinseun Johan,
wat al te graag wil help.
Oupa se nering is ʼn dieselwerktuigkundige. Hy
ken ʼn enjin soos hy die Bybel ken. En hy het ʼn slag op Ford se tydrenspan
gewerk.
“Saam met Flikkers van Rensburg, Lang Hans se
broer, waar hulle nog jaag op sy grond hier duskant.”
So kry oupa en Gert hul planne bymekaar en
Gert koop die materiaal. Oupa soek ʼn Datsun 1400 se enjin.
“Regte gewig en performance, ons moet net die
carbs reg hê.”
Teen die derde naweek staan die reusestoor
vol allerlei dinge wat lyk na vliegtuig. Die trekker en bakkies staan en loer
uit ʼn verafgeleë hoek. Ou Josiah, oupa se handlanger uit Zimbabwe, lag oopmond
en tsk-tsk-tsk net as hy verby loop.
“Ons sweis die raam vandag”, sê Gert. “G’n
kind naby nie.”
Oupa vat dooierus op sy hurke; “Jy moet reg
sweis Sjert, as die raam skeef is kry ons nie die ding aanmekaar nie, dan’s dit
opbreek en van vooraf en dan’s ek sommer skoon moerig.”
Gert kom nie onder die sweishelmet uit nie.
Dis net zzzzt, zzzzzzzt, en die vonke waai.
Teen seweuur die aand is die raam klaar. Oupa
staan met sy tweede koffie en beloer die besigheid só.
“Dink pa nog ons gaan vlieg?”, vra Gert.
“Hoekom, twyfel jy nou?” en oupa vat ʼn diep
sluk. Hy trek sy oë skrefies.
“Nee, die ding voel net swaar.”
Oupa antwoord nie dadelik nie.
“Ek wil nie op die heilige Sondag aan die
masjien werk nie, maar jy neuk my nou soontoe. Ek sal kerk by die draadloos,
maar daarna sal ek Sabbatsontheiliging pleeg, ter wille van ‘vlie.”
Gert se hande is vol blase as hy sy koue bier
aanvat.
“Dis maar reg só, maar dis op Pa”, sê hy
terwyl hy die sweet met sy hempsmou afvee. Sy hemp is vol gate gebrand.
Sondag-oggend voor sonop brul die Datsun se
enjin. Dis net petroldampe waar jy kyk en as jy wou inlê, is dit nie geleë hierdie
Sondag nie.
Johan, oupa se derde kleinseun is al vroeg
wakker. Oupa laat hom net toe tot by die sydeur, al het hy die meeste soekwerk
gedoen en planne vir hulle op papier geteken. Hy het al ophou vra om nader te
staan, en hang bedremmeld aan die kosyn. In sy seunskop het hy besluit dat dit
wat nou in die stoor gebeur, hulp van buite vra.
“Ouma moet kom kyk, dit lyk of die stoor brand”,
kom haal hy haar uitasem in die kombuis.
Ouma Helen kom ook net tot by die stoor se sydeur.
“Willie, wat maak julle?”, roep sy teen die
geraas uit.
Niemand hoor nie.
Hierdie keer is sy driftig; “Willie, wat maak
julle?”
“Hê?”, sê oupa tussen die petroldampe deur.
Volgens hom het hy haar nou geantwoord, want
eintlik het hy die eerste keer gehoor.
Hy draai na Gert: “Ek het die side-drafts
nou uiteindelik reg, dis ʼn ekstra twee of drie perde by die dryfas.”
Ouma Helen blaas vinnig die aftog, “Kom Johan,
hier gaan mense seerkry en jou oupa het vandag nie ore nie. Eintlik het hy
nooit ore nie.”
Ouma praat nog so in die loop, maar dit wat in
die stoor gebeur, laat geen reg geskied oor haar vermaning nie. Johan wens sy
wil sy hand los sodat hy kan teruggaan.
Teen etenstyd is die Datsun vasgebout op die
raam, die dryfas gebalanseer en al wat kort is die vasmaak van die propeller.
Ouma het jaffels en koffie gemaak wat sy
woordeloos kom neersit het op die een werkbank, net by die sydeur in.
Sy’t ook nie vir ʼn ‘dankie’ gewag nie, want
vandag kom daar nie een nie. Sy weet.
“Sal ons deurwerk tot so vyfuur, want dan moet
ons huis toe ry”, sê Gert.
“Hy moet staangemaak wees teen daai tyd, en
die kwad se wiele moet ook onder die ding se pens pas.”
“Pa moet oppas vir die ding se prop, ons weet
nie hoe sterk daai enjin trek nie”, maan Gert.
Oupa antwoord nie en Gert wag ook nie vir een
nie, want hy weet, as sy pa eers iets besluit het, is dit só.
Vyf oor vyf druk oupa die aansitterknoppie.
Die skare by die sydeur het intussen
aangegroei. Die res van die Pool familie is daar, ou Josiah loer versigtig om
die sydeur se kosyn. Ouma staan heel voor.
Die Datsun stik so ʼn keer of wat voordat die
petrol by die filter verby is, en toe vat hy.
Dis asof daar ʼn honderd enjins lewe kry soos
dit weergalm in die stoor. Oupa staan met die versnellerkabel in sy hand en hy melk
die enjin se rewolusies.
“Stadig Pa, ons weet nie hoe die prop die
torque gaan vat nie”, roep Gert bo die Datsun se geskree uit.
“Hoesê?”, wil oupa nog laat hoor terwyl hy die
rewolusies aanjaag.
Nog voordat iemand iets verder kan sê, breek
die oordeelsdag aan. Dis rook, vonke en ʼn helse slag.
Almal behalwe oupa hou hul hande oor hul
koppe. Almal behalwe oupa en Gert vlug.
Gert pluk die versnellerkabel uit oupa se
hande. Hy probeer die enjin smoor.
Oupa staan verdwaas en kyk na die toneel voor
hom, dis rook en vonke in alle rigtings.
“Maak dood, maak dood!”, roep hy bo die geraas
uit.
“Wat ʼn verettering”, is al wat hy uitkry toe
dit stil raak. Net ouma staan nog in die sydeur.
Die Datsun se enjin staan nog vas op die raam,
maar die propeller is morsaf gedraai. Die blou Massey Ferguson het ʼn tree of
wat teruggeskuif met die hele gedoente.
“Dink nou net Sjert”, sê oupa na ʼn ruk wat
soos ʼn doodse ewigheid voel, “as daar ʼn mens was, was hy nou dood”, beduie oupa
waar die propeller dwars in die trekker se radiator steek.
Gert antwoord nie. Hy maak sy koelboks toe en
laai dit op sy Toyota se agterbak.
“Ek het mos vir pa gesê, wees rustig met die
rev’s, die prop is nog nie op die dryfas gebalanseer nie. Maar nee, my pa
luister nooit!”
Oupa staan net en glimlag, “Johan, gaan gooi
vir oupa ʼn knertsie”, vra hy.
Johan sê niks, maar sy oë is twee pierings.
Ouma Helen staan met haar hande in haar sye.
Oupa weet praat gaan nou niks help nie. Hierdie is ʼn gesprek vir anderdag. Ouma
is nie lekker nie.
“’Tja, daar’s Sjert en ouma nou so de wetter
in vir my, maar dit gaan nie help nie”, en hy vat ʼn groot sluk, terwyl hy sy
hande aan sy kortbroek afvee.
“Ek gaan nog die ding ‘vlie.
“ʼn Man se planne moet net nie opraak nie”, sê
hy en stap om die mank Massey Ferguson van naderby te bekyk.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking