Saterdag 29 Julie 2017

RYKDOM

Sê vir my wat presies is armoede? Is dit om te smag na dinge wat jy begeer? Is dit om meer te wil hê as wat jy reeds het? Of is dit om gebrek te ly aan basiese lewensmiddele? Maar aan die anderkant, wat presies is rykdom? Is dit baie geld? Is dit baie besittings? Of is dit om vrede te hê met wat jy het en dit ten volle te geniet?

Dan was hulle mos eintlik skatryk. Hulle elke dag geëet, hulle het klere gehad om aan te trek en hulle het hulle eie huisie gehad. Ja, hulle was skatryk in hulle liefde vir mekaar.

Die pa het pas begin boer. Hulle is vier wat daar woon in die klein, tweevertrekhuisie bo-op die berg. Die een kamer is verdeel in twee dele – slaapkamer en sitkamer. Die ma het die bo- en onderdeur groen geverf en die vensterrame bloedrooi. Dan was daar die sinkkombuisie langsaan met sy koolstoof en grondvloer. Die yskas staan buite – dit is ‘n houtkassie met nat sakke bo-oor.

As hulle vir die oom en tannie onder die berg gaan kuier, is dit baie lekker. As dit donker is en hulle moet terug huis toe gaan, kan hulle nie met die kar op die bergpad ry nie. Dit is te gevaarlik, sê die pa. Laataand klim sussie op sy rug en hulle klim die berg uit huis toe. Sy kan nie onthou hoe dit gevoel het nie, want sy het gewoonlik dadelik aan die slaap geraak so teen die pappa se warm, sterk rug.

Ousus gaan al skool, maar die kleintjie bly nog by die huis. Op ‘n dag is die mamma siek. Sy gaan hospitaal toe. Nou is dit net die sussie en haar pappa in die speelgoedhuisie. Dit is baie lekker, want Pappa maak nie vleis of kool gaar nie. Hulle eet elke dag pap en rooi blikkiesvis. Jare later onthou sy daardie pap en vis as die lekkerste kos wat sy nog ooit geëet het.

Naby die huisie is ‘n ou sementdam. Die muur is al ingeval en die sussie kan maklik bo-oor klim en op die sementvloer sit en speel. Sy gaan byna elke dag daar speel. Wanneer die wind te veel waai, speel sy in die huis met haar golliwog. In die dam is baie toktokkies. Sy vang hulle en gooi hulle in ‘n botteltjie. Siestog, hulle sukkel om uit te kom. Sy verkyk haar aan die spulletjie wat so krioel in die botteltjie.
Baie jare later gaan die ousus weer plaas toe. Sy bring haar botteltjie vir haar saam.
Golliwog

Een laat namiddag drink die pa en ma koffie. Sussie wil ook koffie hê. Mamma gee vir haar lekker soet koffie in haar bekertjie. Maar waar is die melk? Sussie wil melk in haar koffie hê, anders gaan sy dit nie drink nie. Mooipraat en soebat help nie, want sy is nou boos oor die swart koffie. Pappa vat haar tussen sy twee bene vas en  haar boudjies brand onder sy hand. Sy drink nie die swart koffie nie. Sy drink ook nooit weer melk vir die res van haar lewe nie.

Net voor die sussie skool toe gaan, trek hulle van hierdie plaas af. Dit was ‘n hartseerdag vir haar, want haar golliwog het iewers in die slag gebly. Sy het hom nooit weer gesien nie.

Die herinneringe aan hierdie huisie met sy snoesige vrede bly haar by. Soms wens sy dat sy weer daar kan wees saam met Mamma, Pappa en die toktokkies.

Donderdag 27 Julie 2017

DROOM GROOT OF GAAN HUIS TOE

Droom jy nog? Het jy jouself al ooit toestemming gegee om te mag droom? Of het jy op 'n dag besluit dit is twak om te droom? Die lewe is nie vir dromers nie, daar kom in elk geval niks van droom nie. Is dit hoe jy voel?

Goed, jy het 'n punt daar beet. Ek gaan nie met jou stry nie, maar ek dink die saak het meer as een kant. Vir solank ek gaan aanhou droom, maar niks daaraan doen nie, dien drome beslis geen doel nie. Die verskil kom daarin wanneer jy begin doen!

Baie jare gelede, in die laerskool, kondig die onderwyser 'n skryfkompetisie aan. Elkeen wat so voel, kan 'n storie skryf. Ek was in ekstase! Ek gaan 'n storie skryf en ek gaan hom baie mooi skryf. Ons kry elkeen 'n boekie vir ons storie en ek begin dink en dink en dink. Ek wil 'n storie skryf, maar ek weet nie hoe om te begin nie. Ja, jy het reg geraai. Ek het toe nooit begin nie, wat van om klaar te maak. My hart was seer, man. Ek het nie geweet hoe om te begin nie...!

Was dit dalk omdat ek geglo het dat ek dit nie goed genoeg sou skryf nie? Het ek dalk geglo dat ek nie eens hoef te probeer nie, want iemand anders kon dit beter as ek doen? Ek weet nie.

Nou wat MAAK 'n mens dan met al hierdie baie drome? Dit is eintlik heel eenvoudig.

1. Skryf hulle almal neer. Moenie jouself veroordeel met woorde soos 'dit is te duur', of 'daar is nie nou tyd nie', of wat ookal jou verskoning kan wees.
2. Gaan jou lysie na en besluit watter een is nommer een, nommer twee en verder.
3. Nou gryp jy nommer een by die horings. Wat het jy nodig? Gaan dit geld kos? Hoeveel? As jy moet spaar, dan spaar jy. As jy meer inligting nodig het, kry dit. Beplan man, beplan. En soos jy beplan, proe jy hom al. Jy sien jouself op daardie bootreis. Jy voel die son op jou vel en jy hoor die branders klots. Wat kan dan nou lekkerder wees?

Wat is ek besig om te sê?

Niks gaan gebeur as jy nie begin nie. Glo my vry. As jy eers begin het, kom die res vanself. Ek daag jou uit om te begin!

Oja, en my storie?

Ek HET toe begin...!

Maandag 24 Julie 2017

POS JOU BRIEF EERS MÔRE

Ek het dit so pas weereens oorgekom! Waarom, o waarom kan ‘n mens nie maar leer en klaar leer nie?

Ek is kwaad. Nee, eintlik is ek nie kwaad nie, man. Ek is dik de moer in. In my kindertyd sou ons sê my boude sit op my nek. Dit is wanneer jy jou gewip het vir iemand. Kry jy die prentjie?

Ek het aangeraak/benadeel/verontreg gevoel.  En net daar is ek op my perdjie en ek maak geen geheim daarvan nie. Ek sê dit nie net vir die skuldige persoon nie, maar ook sommer vir almal wat wil of nie wil hoor nie.

Ken jy daardie een? Mos!

En ‘n halfuur later is alles oor en voel ek sommer weer baie beter. Ek het die probleem opgelos en gesien dit is toe glad nie so erg nie. Maar hoe nou gemaak met die een teenoor wie ek so dikbek was? Los ek dit maar net? Vra ek verskoning? En wat van die persoon teenoor wie ek gekerm en kla het? Die probleem is eintlik dat ek dit nou glad nie kan regmaak nie, want ekself het skade aangerig waar dit nie nodig was nie.

Ek het dit eendag raakgelees – ‘Pos jou brief eers môre’. Met ander woorde, moenie nou reageer nie, wag tot jy afgekoel het en besluit dan of dit nodig is om te sê wat jy wil sê.

Nou wonder ek maar net wanneer presies ek eendag gaan ore kry en luister? Of is ek ook soos die outjie wat, toe hy nie sy werk reg gedoen het nie, die volgende gesprek gehad het met sy werkgewer.

Werkgewer: ‘Hoor jy wat ek vir jou sê?’
Werker: ‘Ja, ek hoor.’
Baie later, toe die werk totaal en al verkeerd gedoen is...
Werkgewer: ‘Ek het jou gevra of jy hoor!’

Werker: ‘En ek het gesê dat ek hoor, ek het nooit gesê dat ek luister nie.’


Vrydag 21 Julie 2017

SHANGRILA

Dis stil.  Die Namib sug.  Dis warm.  Die vier in die klein wit huisie praat nie.  Dis te warm.  Die hitte maak golwe op die kaal vlakte tot by die duine.  Die een-een bome lyk soos vae skimme in die blinkwit warmte.  Hulle is eintlik vyf, maar een is weg – getroud.

Dis Vrydag.  Daar word gepraat van piekniek hou Sondag.  Vir wat?  Dis te warm.  Sy hou nie van warm nie.  Ook nie van rondry nie.  Hoekom tog?  Dit dwing haar in die klein kring van die kar met die ander drie.  Sy wil nie praat nie.  Hulle torring altyd – wil haar kokon oopkrap en kyk wat is binne.  Vir wat?

Sy moet gaan.  Dis warm.

Dis Saterdag.  Hulle maak kos vir die piekniek.  Sy rasper wortels.  Die beweging laat haar sweet.  Die koolstoof kook die kombuis.  Sy is dikbek.
    
Smiddags, as die skottelgoed gewas is, kruip sy onder haar hoë bed in en lê op die koel sement.  Die ma sê dis ongesond.  “Lê op die matjie.”  Sy wil nie – die mat is warm.  Alles is warm, net nie die vloer onder die bed nie.  En sy’s alleen daar.
    
Die dag draal verby.  Dis aand.  Woestynaande is draaglik.  Die pa braai vleis – alleen.  Die ma doen naaldwerk – alleen.  Die ander twee is iewers – alleen.  Die ete gooi hulle ‘n oomblik saam in die lig van die lamp.  En ja, ook as hulle later boeke vat.
    
Sondagoggend.  Die pa bring koffie en speel vir Freddie op die platespeler.  Dit voel “huiserig”.  Die musiek se klank span ‘n draad wat trek van kamer na kamer.  Sy voel deel van die mense in die klein wit huisie.
    
Slaap weer.  Strompel sitkamer toe as die kerkklok op die radio haar roep.  Sit regop.  Lyk wakker.  Probeer luister.  Dit werk nie.  Dis te warm.  Die dominee se stem gaan net aan en aan en aan…  Die “amen” ruk haar wakker.
    
Dan woel en werskaf dit om alles gelaai te kry.  Die sonbesies skree gate in haar ore.  Alles lyk dood.  Dis net die son wat voortvlam in sy woestynwoede.  Almal beur om in te pas voor in die pa se plaaskar.  Die lywe sweet en broei en skud oor duine en deur vergete rivierlopies.
     
Dan is hulle by die berg.  Soos ‘n koning staan hy tussen kaal vlaktes en duine.  Grotesk.  Ewig.  Grotte vol salige koelte.
    
Dit word ‘n dag wat sy nooit kan of wil vergeet nie.  Dis soos onder haar bed, net baie beter.  Die heerlikheid van koelte en stilte en saamwees.  Geen beklemming van “hulle wil krap in my koekon nie.  Geen sonbesies wat jou binneste in flarde skree nie.  Die heerlike koelte wat jou omsluit en toevou soos nanagreën.  Die innigheid van saam wees en saam eet en saam slaap, elkeen op sy eie kombers.
    
Baie jare later word die berg haar Sangrila.  Haar verlore stad wat nooit weer gevind sal word nie.  Dis buite bereik vir altyd…!  Of is dit?
    

Nou hunker sy na die berg waar haar siel koelte en vrede en saamwees met God sal ervaar.  Daar waar God in ‘n fluistering van die wind verby sal gaan en sy nooit daarna weer dieselfde sal wees nie.  Daar waar sy in afsondering haarself ook weer sal vind.  Om te kom tot selfinsig en kennis van God.  Om haar eie hart te hoor praat en God se stem te kan hoor in die wind.



Donderdag 20 Julie 2017

WOESTYNNAGTE

Dis ‘n helder woestyn-aand. Heeldag was dit snikheet, maar nou is dit heerlik koel en party aande is dit sommer koud. Ek en Pa sit op die gras en gesels. Hy is bekommerd oor sy kind se geskiedenispunte, maar sê dit nie reguit nie.

Nou gesels ons oor Napoleon Boneparte. Ek het in my lewe nog nooit van hom gehoor nie, maar Pa ken sy hele storie. Napoleon is verban Elba toe. Hoe die res van die storie gegaan het, weet ek nie regtig meer nie. Dit was glad nie deel van ons leerplan nie, maar Pa het gehou van die storie. En ek het gehou van die storie oor Pa gehou het van die storie.

En daar leer Pa vir my ‘n reëltjie wat ek nooit sal vergeet nie. Hy is so opgewonde dat ek dit moet verstaan. Op hierdie eiland skryf Napoleon: “Able was I ere I saw Elba.” (Lees dit van agter af en jy kry dieselfde sinnetjie.)

Hoeveel tyd het jy as jy op ‘n eiland sit sonder mens of besittings? Genoeg tyd om rympies uit te dink wat lewenslank in die kop van ‘n ander mens geanker gaan sit. Genoeg tyd om seker te maak ‘n laerskooldogterjie gaan jou nooit weer vergeet nie.


Vanaand dink ek aan Pa en al sy baie wysheid. Ek verlang na hom. Ek wil weer in die Namib op die gras gaan sit en sommer net naby hom wees. Ek wil opkyk en sien dat die sterre so naby aan jou is dat jy hulle een vir een kan pluk en in jou hart kan bewaar. Ek wil die klank van sy stem saam met die geskree van die geitjies hoor en weet – Able was I ere I saw Elba.
So, van more af is dit ek en die rooi pen!

Ek het al so baie gewonder of dit reg is om so tekere te gaan met ‘n rooi pen. Hoekom gebruik jy nie ‘n ander kleur pen om die student se goeie punte uit te lug nie? Maar nee, die rooi wys alles wat verkeerd is.


Nou, dan doen is dit maar so.

Woensdag 19 Julie 2017

MY GOUE PEN

Hierdie skryfding van my kom nie van nie van gister of eergister af nie. Tóg snaaks hoe elke mens gemaak is vir sy eie ding, is dit nie?

Ek is in standerd ag en nege. Ek kan om die dood toe nie Rekeningkunde doen nie. Slaan my dood, maar daardie proefbalans wil eenvoudig nooit klop nie. Maar gee vir my ‘n opstel en ek wys jou wat maak ek met hom. Dit is in daardie tyd wat ek toe ‘n kitsoplossing vir my proefbalans ontdek: Ja, ek sal vir jou ‘n opstel skryf, maar nét as ek jou proefbalans mag afskryf.

Natuurlik het ek gedink dit is ‘n goeie oplossing, sou jy nie ook nie? Die probleem is net dat ek tot vandag toe nog nie die triek van die proefbalans bemeester het nie.

My storievertellery kom al baie ver. ‘n Vriendin herinner my anderdag aan die aande in die koshuiskamer in standerd ses (ons was seker so tien in die kamer) wat ek vir hulle stories moes vertel. Ek wonder wat ek alles kwytgeraak het! Ek kan onthou hoe daar eers ‘n debat was oor die soort motor en die kleur van die man en meisie se hare voordat ek kon wegval. En dan, as ek uiteindelik die einde van die wonderverhaal aankondig, kom ek agter dat die hele ou lotjie al lankal slaap.

En so het ek nog maar altyd gewroeg om te kan skryf. Dit was asof ek van iewers af die toestemming daarvoor moes kry. So dom kan ‘n mens wees, maar nie dommer nie!

In 2011 pak die ‘Annelie Botes-koors’ my beet. Ek verslind die boeke van haar wat ek in die hande kan kry. En ek weet – sy is die persoon wat my gaan help om te kan skryf. Ek begin haar volg op facebook en ek sien dit is ‘n liewe mens. Ek vra haar ewe vrypostig om my te help om te kan skryf.

Haar eerste antwoord: Martha, mens hoef nie die know how te hê nie. Mens hoef maar alleenlik die wilskrag te hê. Die Amerikaners sê: Don't get it right; get it down.

Op ‘n dag skryf ek weer en vra haar of ‘n boek so of so mag lyk. Sy weet mos hoe, dan nie? Sy antwoord weereens baie vriendelik, maar beslis: Liewe Martha, jy mag maak soos jy wil. Elke boeke het sy eie siel en sy eie senuwees. Die oortollige feite sal hulleself later as oortollig bewys. BEGIN net. Jy mag dalk later van tyd vind dat dit waarmee jy begin het, uiteindelik in die middel van die boek beland. Of heeltemal wegval. Moenie bang wees nie ... moenie bang wees nie ... móénie bang wees nie. Onthou wat ek vroeër gesê het van get it down ... Sterkte!

En dit neem my tog na alles nog ses jaar voordat ek uiteindelik begin. Sjoe, hoeveel woorde kon ek al in ses jaar geskryf het? ‘n Jaar gelede begin ek toe so half versigtig aan my eie skryfsel, maar ek kom nie lekker op dreef nie. Dan vat ek hom, dan los ek hom.

En toe gaan die ouma dood. Almal vra vir my wat gaan ek nou met al my tyd maak? Ek was so gereeld daar dat my eie huishouding soms redelik ver agter in die ry gestaan het, sien. En die halfpad-storie raak ‘n obsessie by my. Ek moet, ek kan, ek sal, ek wil hom klaarmaak!

En klaar het ek hom klaargemaak.

Sela!https://www.facebook.com/

Dinsdag 18 Julie 2017

SKULDIG!

Ek kyk na die berig oor Dippenaar in die hof. Ek lees nie regtig nie, want ek wil nie alles weet nie.

“Skuldig! Skuldig!” skree ons almal. Jy kan nie verantwoordelik wees vir soveel mense se dood en onskuldig wegstap nie. Is mos so, dan nie?

Nou sien my hart mos weer die saak van die ander hoek af. Iemand is altyd dwars – EK is altyd dwars (dink ek).

Deur al die bravade en grootpraat en baie drink en baklei – wat presies gaan in sy hart aan? Wat dink hy? Wat beleef hy?

Nee, moenie ophou lees nie. Ek is nie besig om niemand te verdedig nie. Ek probeer net voel hoe hy moet voel. Ek wil weet hoe slaap hy snags...as hy slaap. Hoe bly hy aan die asemhaal as almal hom in die hoek vasdruk en geen asem gun nie. Eet hy ooit?

Hy is tog iemand se liefie, iemand se kind, iemand se broer. Hoe lyk hulle harte vanaand? Og, nee, dit maak nie vir my sin nie. My eie hart gaan aan die klop en skop deur net daaraan te dink - wat as hy MYNE was?


Maandag 17 Julie 2017

SKOONSKRIF

Hierdie skryfseltjie doen ek sommer met ‘n potlood en so half tong in die kies. Ek is in die laerskool – ons skryf skrif. Ons het anderdag eers begin om vas te skryf en dit vat tyd om regtig mooi te skryf. Ek weet nie of dit vandag nog gedoen word nie. Seker maar?

Ek skryf stadig en versigtig. Vandag is die dag wat ek hulle gaan wys! Sowaar as vet, vandag staan ek nie weer heel agter in die ry nie. Vandag skryf ek mooier as ooit, jy sal sien.

Toe die meneer sien ons is almal klaar, staan hy nader. Elkeen wys vir hom sy/haar boek en jy kry ‘n posisie in die ry. Hoe mooier, hoe verder voor in die ry staan jy. Ek het nog nooit heel voor gestaan nie, maar ek het al ‘n paar keer heel agter gestaan.

Ons staan op en elkeen wys sy boek. Ek is baie opgewonde om myne te wys, want ek het wragtag mooi geskryf vandag. Hy kyk na my boek so half bo-oor sy bril. “Jou letters speel dan konsertina, man!”

Ek kan nie onthou waar ek daardie dag gestaan het nie, maar ek weet dit was weer redelik agter. En so begin ek kleiner en kleiner skryf, want my letters sal g’n weer konsertina speel nie. Ek sal hulle wys ek kan ook mooi skryf. Nodeloos om te sê, dit het nie gewerk nie. Op ‘n dag het dieselfde meneer my weer laat agter staan omdat ek te klein skryf.

Ek was in standerd nege toe my pa een hele vakansie spandeer het om my te laat skrif oefen. My skrif was vir hom 'n doring in die vlees, want hy het ‘n standvastige en leesbare skrif gehad. Hoe kan een van sy kinders dan so lelik skryf?

Het jy my al sien skryf? Dan sal jy weet dat geen onderwyser of my pa se pogings ooit vrugte afgewerp het nie. Is ek nog skaam om te skryf voor ander mense? Ja, gewis! Maar daar is nou een verskil – dit bepaal nie meer my posisie in die lewe nie. Ek hoef nie meer heel agter in die ry te staan nie.

Sondag 16 Julie 2017

OM VRY TE KOM

Vanaand is ‘n ander aand. Dit is een wat soos ‘n vuurpyl in die lug in skiet en waarvan die blitse en kleure oor die hele heelal heen gesien/ervaar kan word. Dit is ‘n lied in die harte van meer as een aardse wese. Net, elkeen sing dit op sy eie wysie en in sy eie woorde.

Het jy al geloop met ‘n ding – eers is dit ‘n witwarm haat, dan is dit ‘n wrok, dan is dit ‘n irritasie, en later is dit nog net ‘n gedagte wat jy troetel en troetel en nie wil laat los nie? Wel, dit is waarmee ek vir baie jare geloop het. Dit was eers tot hellenstoe verblindend in die pyn, later was dit beter, maar nog erg genoeg om nie eens genoem te word nie. Veel later kon ek al raak aan die seerplek, maar jy moet net nie karring daar nie.

En toe, opeens! Ek hoor hierdie bekende liedjie en ek glimlag by die herinnering aan waar ek dit die eerste keer gehoor het. Ek sing uit my hart uit saam met Dean Martin, want dit is so ‘n mooi song. Ek geniet elke mooi noot en elke mooi woord saam met onse Dean tot die einde van die liedjie.

En ek sug...! Ek is vry. Ek is regtig vry want ek het vergewe.

Dit kom nie uit myself nie, dit is ek oortuig van. Ek kan dan maar net sê: Dankie Here, U het my losgemaak van die gisters en die eergisters sodat die môres mooier en beter kan wees.

Saterdag 15 Julie 2017

GOUE PEN IN DIE HAND




My hand voel-voel na die ligperse. Vanaand wil ek snik, snot en sanik. My hart is seer en ek het nie lus vir dingetjies nie. Ja, pers pen, kom hier en doen jou ding!

Dit vat nie veel om vanaand aan niemand anders as my liewe moeder te dink nie. Elke jaar (soos ek ook deesdae met my kinders maak) is dit dieselfde woorde: “Jy was op die koudste nag van die Vrystaat gebore. En jy was so ‘n ou kleinnn, blou babatjie.” En dan hoor ons weer die hele storie...en jy wens sy wil dit asseblief hierdie jaar vergeet om te vertel. Jy kén al die storie en jy wil dit nie weer hoor nie.

Ironies genoeg is dit die enigste storie wat ek asseblief tog vanaand wil hoor, maar toe nie gaan hoor nie. En ook nooit weer gaan hoor nie. More sal dus kom en gaan sonder die storie...

En ek begin tel my seëninge een vir een. Onthou jy nog die Halleluja Liedjie? En ek kom tot die slotsom dat ek ryk is – stinkryk, om die waarheid te sê.

Nou waarom sou ek nou op ‘n hopie bly sit omdat ek die storie van die koue Vrystaatnag nie meer so mooi kan onthou nie? Dit maak tog nie sin nie, maak dit? Die Ouma is weg, ja, maar haar legacy sal vir altyd voortbestaan. Ek dank die Vader vir die vermoë om te kan onthou. Ek dank Hom vir wie ek is as gevolg van die moeder wat ek gehad het. Maar meer nog, ek dank Hom vir die liefmense in my lewe wat omgee en omgee en omgee.

Dus...kom ons gryp elke dag en leef hom voluit. Môre sal ‘n jubeldag wees en ek wil die goue pen uithaal en kwistig skryf met hom. Ek wil met groot, duidelike letters skryf en dit deel met elkeen in my lewe.

En jy wat nou hier lees, dankie vir wie jy is en vir die aandeel wat jy in my lewe het. Laat asseblief vir my ‘n woordjie (nie happy birthday wishes nie) wat ek kan raam en ophang in die kamers van my hart.

Vrydag 14 Julie 2017


Die kleure van my skryfsels is nooit in dieselfde kleur dag na dag nie. Daar is baie, baie elemente wat bepaal watter pen my roep. Ja, ek kies nie die pen nie, hulle kies my en ek vat hom elke keer en skryf!

Hoewel my blog bloedrooi is en vol (van sy eie) uitdagtings, skryf ‘n onderwyseres nooit met ‘n rooi pen nie. Rooi penne is negatief en lelik. Dit is iets wat ek, sou ek die dag die koning van die land wees, sou verbrand en verban.

Sommige dae vat ek die dik, swart pen en skryf sommer bo-oor alles wat gister en eergister nie lekker gelyk het nie. Dit is die dae wat ek onverskrokke elke bul by die horings pak en nie skroom om my mening te lug vir niemand nie.

Ander dae skryf ek dalk met 'n baie ligte pers. Die ink is so lig dat jy dit nie weer môre of oormôre gaan opmerk tussen die anders skryfsels nie. Dit is die dae wat my kop wollerig is en my gedagtes nie lekker koers wil kry nie. Of dalk is dit juis omdat my gedagtes hulle eie koers gekry het?

Met die geel en groen penne skryf ek nie. Ek teken sonnetjies en boompies en verbeel my ek is daar in die veld met die liefdes van my lewe. Ons bekommer ons nie oor anderdag nie, want vandag is genoeg vir ons. Dit is ‘n dag om voluit te lag en te maak soos jou hart begeer.

Die goue pen is net vir spesiale dae. Ek haal hom versigtig uit en maak baie seker dat die papier waarop ek gaan skryf nie goedkoop papier is nie. Ek skryf stadig en dink-dink en vergeet van alles en almal rondom my. Dit is die onthou-dinge wat met hierdie mooie pen geskryf word. Daar mag geen spatseltjie vuil, en geen uitveër op daardie blad kom nie, want hy word later geraam en opgehang in die kamers van my hart.

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...