Sondag 14 Januarie 2018

DIE DING MET SONDAGNAMIDDAG

Waarom is dit dat ons almal aan die Sunday Afternoon blues ly?
Wat is dit aan ‘n Sondag wat dit so anders maak as ander dae? Ek meen nou maar net, gaan kyk by al jou vriendinne se huise op ‘n Sondagnamiddag en jy kry dieselfde ding daar. Mmm! Lang gesig. Oë wat in die niet staar. Niemand praat eintlik baie nie. Wat is daar dan nou om te sê op hierdie Sondagnamiddag? Jy weet mos, weet jy nie?

Ja, ja, ek weet van die storie oor die koshuis. Jou maters wat in die koshuis was, het almal dieselfde storie – dis mos op die Sondagmiddag wat jy moes terug hok toe. En hok toe was sleg. Nee, nie omdat die koshuis so sleg was nie, sommer net oor jy vir Ma en Pa en Baba en die honde en katte moes groet. En oor Ma die heel naweek om jou gekloek het en alles gemaak het wat lekker is. Dit, en sommer nog baie ander redes ook waarom die koshuis nie vanmiddag vir jou ‘n lekker plek is nie.

Dan kom jy by Sarie wat nooit in die koshuis was nie, maar sy lyk nes die ander. Die oë. Die ken in die hande. Die verlang na mense wat jy nie ken nie. Jy wil weet wat vreet aan Sarie op die Sondagnamiddag. Sy weet nie. Dit is maar soos dit is van Sondag na Sondag, reken sy.

Hendrik is beneuk. Hy gooi goed rond in sy garage. Dis Sondag, man. Ek verpes ‘n Sondagnamiddag nog my hele lewe lank. Regtig? Nou hoekom dan so? Ek weet nie, sê ek jou dan. Dit was nog maar altyd so.

O aardetjie tog. Toe jy jou kom kry, sit jy ook met die ken in die hande en verlang na ‘n nasie mense wat jy nog nooit geken het nie. Jy traak ook nie of jy hulle ooit gaan ontmoet nie, hoor. Dink net hoe gaan jy dán na hulle verlang!

 En so kom dit dan dat die hele dorp se mense die een soos die ander lyk. Selfs die honde blaf nie, want dis Sondagnamiddag. Lang gesigte. Stom monde. Blinde oë. Selle ding van huis na huis na huis. Die honde en die katte is weg voor die agterdeur. Waar is hulle? Ek weet nie. Selfs die duiwe op die dak se gewone koer-koer is nou net 'n lae brom-brom. Almal en alles is stil...

Kan dit wees omdat jy môre moet gaan werk? Dit kan tog nie wees nie, man. Jy het mos self gekies om daar te werk waar jy nou werk. Jy is tog nie aan jou ore daarnatoe gesleep en gesê ‘Nou werk jy!’ nie? Ek meen te sê, die meeste van ons het reageer om ‘n advertensie. Ons het gegaan vir ‘n onderhoud. Ons het daardie kontrak met ons eie hande geteken. Nou wat is dit nou met jou?

Ek bedink die spulletjie en kom tot die slotsom dat ek, van vandag af, hierdie siklus gaan (probeer) verbreek. Ek gaan myself mooi maak, ek gaan die wêreld vierkantig in die oë kyk en vir hom vra of hy lus is vir dans. Ja, ek dink ek gaan sommer nou ‘n passie of twee hier om die tafel vat.


Dans jy saam?

3 opmerkings:

  1. ek sit meestal net Sondae grimering op

    AntwoordVee uit
  2. Ek ken daai Sondag-middag-aand blues. Dis wanneer ek musiek opsit wat destyds deur die Nasionale party verban is, gooi 'n rooietjie in en "wees" net. Kort voor lank is dit Maandag, en dis bog met blou Maandag. Mooiste storie, Anna. (Simon)

    AntwoordVee uit
  3. Dankie Anna, jy sê dit so mooi soos dit is. Sondae-aande speel ek die musiek wat die Nasionale party verbied het, skink 'n rooietjie en gaan lê êrens op my rug. Kort voor lank is dit Maandag-oggend...

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...