Maandag 02 Oktober 2017

GEE MY NET EEN KANS ASSEBLIEF

Vanoggend kry ek hierdie lieflike video van 'n goeie vriendin. Give me one moment in time. Net daardie een wonderlike deurbraak-oomblik, asseblief. Dit is al wat ek van die lewe vra. Net daardie een kans op sukses. Asseblief?

Is dit nie maar hoe almal van ons se harte klop nie? As ek dit of dat kan bemeester, sal ek... Of as ek dit of dat kan kry, sal ek... As dit of dat gebeur, sal ek...

Sal ek WAT? Gelukkig wees? Vervuld voel? Tevrede wees? Ryk wees?

My werk ly daaronder. Die hele dag lank maak ek planne hoe om die baas te wys hoe goed ek nou eintlik is. Hy wil my mos nie bevorder nie - ek's glo nie goed genoeg nie. Het wie so gesê? Ek sal hom nou wys wie is goed genoeg. Alles op my tafel moet eers wag, want ek gaan 'n voorlegging maak wat hy nie sal kan weerstaan nie. As hy my net vir nou wil uitlos sodat ek hierdie ding klaar kan maak! Maar nee, hy dring aan op die kleinste klein twakkies wat daar onder die son is. Doen gou hierdie ding. Maak hierdie stuk klaar. Kom help my hiermee. Ek het net meer tyd nodig, dan sal ek hom verkeerd kan bewys. Jy sal sien!

My verhoudings ly daaronder. Kan my vrou dan nie asseblief sien dat ek besig is om te bou aan 'n glansryke toekoms vir ons nie? Waarom, o waarom gee sy my nie 'n kans nie? As ek eers hierdie hekkie oor is, is my pad oop voor my. Sy wil nie verstaan dat ssy sal deel in die vreugde van my sukses nie. Verstaan sy nie dat dit van my verwag word om saam met my baas te gaan gholf speel nie? Dit is tog waar ek en hy lekker ontspanne kan gesels oor die dinge wat my en haar toekoms raak. Sy verwag sowaar van my om middae direk na werk huis toe te kom en te help met die kinders se huiswerk. Gmf! Asof dit my gaan help om daardie kontrak geteken te kry. Sy moet mal wees, man.

My finansies ly daaronder. My selfbeeld. My gesondheid. Noem maar op, dis alles 'n gemors. As my kans net wil kom!

My hele lewe lank wag ek vir daardie deurbraak wat net nie wil kom nie. My geluk, my vreugde, my menswees hang daarvan af. Ek wag en wag en wag vir iets op die horison. 'I want one moment in time when I'm more than I thought I could be.'

Is dit nie dan nou juis die probleem nie? 'When I'm more than I thought I could be.'

Ek glo nie in myself nie. Ek glo nie dat ek dit kan regkry nie. Ek glo nie dat dit ooit waar sal kan word nie. Ek glo nie, maar ek hou aan met hoop en wag. En in die proses spoed dag na dag by my verby en ek staan met 'n lee hart en onvervulde drome. Dis byna of ek nie vandag lewe nie, want ek wat vir die lewe wat more of die daarna sal kom wanneer ek gekry het waarna ek so smag.

En dan tref dit my soos 'n weerligstraal: daardie 'een oomblik' is nie iets waarna ek moet soek nie. Dit is nie iets om voor te wag nie. Dit is nie iets wat iemand vir my kan kom gee nie. Nee, daardie oomblik is NOU. Ek het die oomblik in my hand. Ek bepaal of dit leeg verby my gaan glip, en of dit 'n oomblik van 'Wow, ek het dit gemaak!' gaan wees. Daardie oomblik is die hier en die nou.

Ek moet elke dag opstaan en weet dat elke oomblik tel. Elke oomblik is goud. Elke oomblik is 'n brokkie geskiedenis en ek, niemand anders nie, is die skrywer daarvan. Ek moet nou, op hierdie gegewe oomblik, lewe soos wat ek nog nooit gelewe het nie.

As ek seker is wat die Here vir my bedoel het vir die lewe, moet ek dit voluit volg. Hy sal sorg vir die res, daarin lê ons troos.

En as dinge op die oppervlak so 'n bietjie woelig raak en nie gaan soos ek graag sou wou he nie, is dit ook nie my las nie, is dit? 'Hy gee hierdie dinge aan Sy kinders in hulle slaap,' lees ons.

Kyk op, dra jou kroon met trots en loop die pad voluit soos Hy van jou vra.

Vandag, nou, is die oomblik van 'Wow!', nie anderdag of anderjaar nie.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...