Saterdag 28 Oktober 2017

SPIERE IS DIKBEK

Spiere is dikbek. Hy is deesdae niks anders as dikbek nie. Hy het gedink sy ouma gaan net vir ‘n klein bietjie in die hospitaal wees. Dit is mos wat sy gesê het toe die ambulans haar kom haal het. Vir wat het sy vir hom gejok? Elke oggend staan hy vroeg op as dit nog donker is. Hy trek vinnig aan en gaan sit buite met die hond. Hy wag vir sy ouma. Vandag sal sy ouma huis toe kom, hy weet.

Daisy maak nie lekker kos nie. Sy weet nie eens hoe ‘n mens lekker pap met suiker en botter maak nie. Ouma se pap is lekker. ‘n Mens voel altyd nog lus vir pap as jy klaar geëet het, maar dan sê Ouma altyd ‘ Hokaai nou, môre is nog ‘n dag’. Eers het hy nie verstaan wat sê Ouma nie, maar nou weet hy sy bedoel eintlik hulle kan nie vandag die pap alles opeet nie, want hulle gaan môre weer honger word.

Daisy roep hom, maar hy maak of hy haar nie hoor nie. Dis g’n lekker as Ouma nie hier is nie. Hy sit liewer buite by die hond. Maar sy roep weer 'n keer – hierdie keer klink sy so ‘n bietjie kwaad. Hy lag kliphard. Hy het al gesien sy word vir hom kwaad, maar dan maak sy kamma of sy nie kwaad is nie. Sy is seker bang hy verkla haar by sy ouma. Hy weet sy ouma sal lekker met haar baklei as sy lelik is met hom.

In die kombuis staan daar ‘n klomp koppies en glase op die tafel. Dit lyk amper soos toe hy verjaar het, maar dis net nie so mooi gepak soos sy ouma dit kan doen nie. Daisy is dom! Sy kan nie eens koppies en glase mooi regsit nie. Daar is sowaar ‘n koek ook! Verjaar hy dan weer? Hy wil nie verjaar as sy ouma nie by die huis is nie.

“Kom, Spiere, ons moet gou vir jou netjies maak, jong.” 

Die vet weet, waarom moet ‘n mens netjies gemaak word as jy koeldrank wil drink? Hy loop sleepvoet saam badkamer toe. Sy vee en vee oor sy een wang wat kamma so vuil is. Van wat? Ag, dit maak ook nie saak nie. Hy het al gesien as hy net stilbly en maak soos sy sê, dan kerm sy nie so baie in sy ore nie.

“Hier kom ‘n tannie en twee maatjies vir ons kuier. Julle kan koek eet en koeldrank drink en dan kan julle lekker buitekant gaan speel. Ek het vir julle elkeen ‘n mooi nuwe karretjie gekoop.”

Hy antwoord haar nie. Hy weet nie van maatjies hier in die dorp nie. Wie vertel vir haar dat hy maatjies het? Ag ja, los tog maar, anders hou sy nooit op met skrop aan sy gesig nie. Of is hierdie storie met die maatjies nou haar plan dat hulle nie vanaand vir Ouma kan gaan kuier nie? Dan sal hy sowaar nooit weer vir haar help om die kombuis uit te vee nie.

Toe die tannie en die twee seunskinders kom, is hy baie bly. Die tannie is baie vriendelik. Sy sê haar naam is tannie Susan en sy het vir Petrus en Gertjie gebring om by my te kom speel. Jis, hulle speel lekker karretjies. Hy was verniet bang dat hulle nie weet hoe om paaie te bou nie. Petrus is al bietjie groot en hy weet hoe om ‘n sterk brug oor die pad ook te bou.

Die tannie roep, want sy wil huis toe gaan. Hy wil nie hê hulle moet ry nie. Hy het nog nooit so lekker gespeel nie. Ai, dis nie lekker as jou maatjies moet huis toe gaan nie. Maar die tannie belowe sy gaan hom kom haal en dan kan hy lekker lank by hulle gaan speel. Nou voel hy beter. Dis ‘n baie gawe tannie, sowaar.

Sy klere is nou so vuil dat hy weer ‘n keer moet gaan aantrek om na Ouma toe te gaan. Hy hou baie daarvan as Daisy hom hospitaal toe vat, want hulle stop elke keer eers om drops te koop.

Ouma sit regop in ‘n stoel toe hulle daar kom. Dit lyk mos of sy beter voel, ha? Hy is te bang om te vra of sy dalk al huis toe kan kom. Hy wil haar tog nie hartseer maak nie. 

Eintlik weet hy nie wat om met Ouma te gesels as Daisy by is nie, want sy hou haar altyd slim oor alles wat hy vir Ouma vertel. Daisy sê hy moet vir Ouma vertel van die maatjies wat by hom kom speel het. Hy wil nog van die brug en alles vertel, toe gaan sy sowaar weer aan die grens. Wat het haar nou oorgekom dat sy daaroor wil staan en huil? Dan sal hy haar maar nie weer iets vertel nie. 

Daisy vertel van die koek en koeldrank wat hulle gehad het en van tannie Susan wat so 'n gawe tannie is. Dit lyk of hulle vergeet het dat hy dit hy is wat eintlik vir Ouma kom kuier het. Traak Ouma dan nie meer met hom nie?

Hy staan op en hy los vir Daisy en Ouma net daar. Hy sal by die kar wag dat hulle kan klaar kuier. 

Niks is nou meer vir hom lekker nie. Hy sal ook nie die simpel drops eet nie. 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...