Saterdag 21 Oktober 2017

SPIERE SE OUMA KRY SEER

Wat was dit nou? Wat? Waar? Hy draai om en probeer weer slaap, maar hy kan sweer iemand het hom geroep. Dis dan nog donker, wie sal hom nou wil staan en roep?

En toe hoor hy dit weer. “My kind, kom help vir my, asseblief. Hoor jy my dan nie?” Dis sy ouma, hoor hy nou. Nou vir wat slaap sy nie nog nie? Sien sy nie dis nog donker nie?

Hy is nog moeg, hy gaan nie nou opstaan nie. Ouma moet haar nie staan en snaaks hou nie. Maar nou skrik hy hom amper tot op die vloer. Ouma is nou sowaar baie kwaad vir hom. Sy skree kliphard op hom. 

Toe hy opspring uit die bed, val hy oor die hond. So wraggies, as sy ouma moet weet hy het nie die hond laat uitgaan gisteraand nie! Sy sal hom seker nooit weer kos gee as sy dit moet weet nie. Die ander keer toe sy die hond in sy kamer gekry het, het hy die oggend nie koffie gekry nie. Sy het gesê dis sy straf oor hy nie ore het nie.

Hy sukkel van die vloer af op en hardloop na sy ouma se kamer toe. Hy kan haar nie sien nie, maar hy weet mos waar die bed staan. En amper val hy weer ‘n keer! Ouma lê op die vloer voor die bedkassie. Nou vir wat lê sy hier? Oumas is ook maar snaakse goed, wragtag. 

“Kind, maak vir ons lig en kom help my.”

Hy sukkel nog met die lig, toe praat Ouma weer. “Jy moet nou ‘n groot seun wees, my ou Spiertjies. Ouma het seergekry en kan nie self opstaan nie. Ek weet dit is baie donker buite, maar jy moet die mense langsaan gaan roep. Sal jy dit vir my kan doen?”

Hy is te verstom om te praat. Hy het te groot geskrik toe Ouma so op die vloer lê. Hy antwoord haar nie, maar hy weet hy moet nou ‘n plan maak. Hy sal vir Hond saam met hom vat, dan hoef hy nie bang te wees nie. Ouma het anderdag ook gesê sy wil nie ‘n dief wees wat in hierdie jaart in kom nie, want die hond sal hom lewendig opvreet.

Toe die mense van langsaan kom, is die huis skielik propvol ander mense. Waar kom hulle so skielik vandaan so in die donker? Hy hou nie daarvan dat hulle so baie is nie. Hy hou ook nie daarvan dat hulle so met sy ouma sukkel daar in haar kamer nie. Sy huil dan sommer kliphard. Wat maak hulle nou met haar? Hoekom huil sy dan nou so? Blerrie. Nou huil hy ook sommer.

Die hond kom sit by hom by sy bed. Gelukkig tog het hy die hond, anders was hy nou heel alleen. Vir wat mag hy nie by sy ouma wees nie? Hulle sukkel nou lelik met hom, sowaar. Hy is sommer lus en jaag hulle almal huis toe. Hulle moenie met hom sukkel nie. As sy ouma net nie so gehuil het nie, man.

Die antie van langsaan se huis kom by sy kamer in. Vir wat?

“Spiere, jou ouma het baie seergekry toe sy geval het. Sy sal nou eers ‘n bietjie in die hospitaal moet gaan bly. Trek gou jou klere aan, dan kom jy saam met ons na ons huis toe.” 

Hy wil nie. Hy sal hier saam met die hond wag tot Ouma huis toe kom. Hy bly net so op sy bed sit. Hy sal haar wys hy gaan nie saam met haar nie. Wat as sy ouma later huis toe kom en hy is nie hier nie? Nee, hy bly net waar hy is. Sy moenie dink sy kan kom staan en maak of sy die baas is hier nie.

Die ambulans kom sy ouma haal. Hy staan en kyk hoe sit hulle haar agterin die amblans. Sjoe, dit lyk of dit lekker is om daar binne te kan lê. Hy wens hulle wil hom ook so inlaai op sy bed.

“My kind moet nou baie soet wees, hoor. Ouma sal gou weer kom. Gaan saam met die tannie na haar huis toe. Voor dit middagtyd is sal Daisy hier wees. Jy en Daisy kan vir my kom kuier daar in die hospitaal. Toe, toe, toe! Gaan trek vir jou aan, jong. Hoekom moet ek so met jou sukkel?”

Ouma klink weer soos altyd. Nou is hy tevrede. As sy ouma nog kan raas is sy nie te erg siek nie. Dit sal lekker wees as hy en Daisy vir Ouma in die hospitaal kan gaan kuier. Hy was nog nooit in die hospitaal nie en nou kan hy ook sien hoe dit daar lyk.






1 opmerking:

  1. Dit was nou lekker lees Martha, bietjie hartseer en ek hoop waarlik Ouma is weer binnekort by die huis!

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...