Saterdag 07 Oktober 2017

BY DIE DOOD VAN 'N KIND

Ek het grootgeword met die wete my sussie is dood. Sy is dood. Sy is in die hemel. Sy is by liewe Jesus. Weg. Ek gaan haar nooit weer sien nie. Sy is dood vir altyd.

Die storie agter die storie het my nooit gepla nie. Ek was te klein. Ek was in elk geval nie deel van die storie nie. My ma was ‘n geslote stuk hartseer. My pa was maar net my pa. Ek kan nie onthou dat hy anders was in daardie tyd nie. Hy was mos maar sy lewe lank ‘n geslote boek vir die ganse heelal. Dankie tog dat ek hom later ontdek het. Ek het sy diepste, dierbaarste hart leer ken en dit het my laat besef – hier is ‘n hart soos myne.

Sy was die derde dogtertjie. Pragtig en gesond. Sy was ‘n min-moeite kind, het die ma altyd gesê. Hulle het by die oupa en ouma gebly. Die pa het begin boer en hulle het nog nie hulle eie plekkie gehad nie. Daar was nie baie tyd vir die babatjie nie, maar sy het nooit gekla nie. Sy was groot vir haar nege maande. Groot en gesond.

In 1957 was telefoniese kommunikasie nie baie gevorderd nie. Jy kon nie ‘n telefoon optel en vir wie ookal bel nie. As jy Suid Afrika toe wou bel, ag, as jy selfs Windhoek toe wou bel, het jy die oproep bespreek. Jy het ure gewag om met iemand te kon praat. As jy vanaand ‘n oproep bespreek, was dit glad nie snaaks as jy eers more met jou mens aan die anderkant kan praat nie.

Die oupa in Suid Afrika bel. Die ouma is baie siek. Nee, dit lyk nog nie so sleg nie, hy sal weer laat weet as dit nodig is. Ma loop met ‘n donker hart want haar ma is siek en sy is bekommerd. ‘n Mens is mos maar bekommerd oor jou ma as sy siek is. Dan bel die oupa weer, die ouma is baie siek. Ma moet kyk of sy kan kom.

Wat ‘n frustrasie! Jy wag ure vir ‘n oproep na ‘n lughawe en jou hart brand in jou. Die vliegtuie is skaars, die grondpaaie is ver. Jy wag en wag vir uitkoms.

Uiteindelik kry jy ‘n plek op ‘n vliegtuig. Daar moet reëlings getref word. Die baba kan nie by die oupa en ouma op die plaas bly nie. Hulle kan regtig nie na die baba kyk nie. Die pa eintlik ook nie. Hy boer en is heeldag buite in die veld. Hoe dan nou gemaak?

Dankie, Heer, die skoonsuster sal vir baba kyk. Sy sal mooi kyk, sy is ‘n flukse vrou. Ma is ‘n bietjie bekommerd om vir baba so te los. Baie kinders in die omgewing het masels, maar gelukkig tog is baba gesond.

Pa vat vir ma weg Windhoek toe, lughawe toe. Sy belowe om gou terug te kom. Sy moet net eers gaan kyk na die ouma wat siek is.

‘n Vreemde ding gebeur. Toe sy daar kom, is die ouma glad nie so siek as wat sy gehoor het nie. Sy is kwaad. Sy is woedend. Sy gee nie aandag aan die ouma nie, want sy voel bedrieg. Waarom, o waarom moet sy hier wees? Sy kan nie verstaan waarom hulle so aangedring het dat sy moet kom nie. Was dit nou regtig al die baie moeite werd? Wat is die doel van dit alles?

Die telefoon lui. Dis die pa. Baba is siek. Hulle weet nie wat is fout nie, maar sy is glad nie lekker nie. Hulle het nou die dokter gebel. Hy het raad gegee en hulle hoop die medisyne sal help. Nee, moenie onrustig wees nie, sy sal nou beter raak.

Nog later lui die telefoon weer. Die pa en skoonsuster vat nou vir baba Mariental toe. Sy is baie siek en niks help nie. Hy vra dat die ma maar moet kyk of sy nie kan huis toe kom nie. Hulle het haar nou nodig.

Wat ‘n stryd om ‘n plek op ‘n vliegtuig te kry. Die enigste plek is op ‘n vlug van Johannesburg af. Die grondpad is eindeloos voor hulle. Die ma voel of sy vooruit kan hardloop want haar kind is siek. Haar kind het haar nodig. Here, help asseblief!

Lang, lang ure op die pad. Uiteindelik is hulle by die lughawe. Die vlug sal netnou vertrek. Sy moet net eers inboek.

En dan! Sy hoor haar naam oor die luidsprekers. Sy hoor dat sy gesoek word. Sy hoor haar naam en sy weet...!

Die personeel staan in ‘n halfmaan en wag vir haar. ‘n Man tree vorentoe en gee vir haar ‘n telegram. O God, my kind is dood. My baba is dood. Hoe nou verder, Here?

Die vlug is eindeloos. Eindelose nikswerd ure van rou smart en wanhoop. By die lughawe wag die pa se broers vir haar. Hy wag by die kar. Hy het nie die moed om haar te kom haal nie. Sy kry hom daar. Rou, rou smart.

Op die plaas het iemand baba se goedjies alles weggepak. Geen spoor dat hier ooit ‘n baba in die huis was nie. Niks nie. Almal troos – moenie so baie huil nie, toe? Sy vlug weg van almal af. Sy loop haar vas teen die varkhok se muur. Die ou mamma-vark kyk op toe sy die ma hoor huil. Die klein varkies suip-suip aan die mamma-vark. En die ma huil! Die vark het haar kleintjies, maar myne is weg vir altyd en altyd. Ag Here, net U kan nou help.

Al die jare bly hierdie seer ‘n kloof tussen die pa en die ma. Sy wil weet wat het gebeur, maar sy vra nie. Hy praat nie, want hy weet nie hoe nie. Hy is self te seer, hoe kan hy daardie smartlike storie vir haar vertel?

Pa is siek. Sterwend. Ek weet daar is nog hierdie groot, groot storie wat gepraat moet word. Ek probeer hulle aan die praat sit, maar dit werk nie. Sy vra nie. Hy vertel nie. Toe vra ek. Hy vertel. Ek vra nog en nog, hy moet vertel, want die mamma wil so baie graag alles hoor.

Dit het hulle twee en veertig jaar gevat om uiteindelik te praat oor die seerste seer wat tussen hulle lê. Uiteindelik was ook hierdie berg tussen hulle platgevee. Uiteindelik is daar ‘n vredige stilte tussen hulle twee. Sy weet nou. Die vrae is beantwoord.

Vandag is hulle albei al weg. Ek is alleen. Net ek weet van hoe hy beduie het oor die ou ogies wat nie meer reguit gekyk het nie. Net ek weet van die intense smart op sy gesig toe hy vertel het. Net ek weet. 


En ek sou dit so bitter graag nie wou weet nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...