Woensdag 04 Oktober 2017

SPIERE KRY GOEIE NUUS

Vandat die ander mense daar was en weer met sy fiets weggery het, mag hy nou vir die antie Ouma sê. Dis baie lekker by sy ouma. Spiere droom in die nag hoe hy en Ouma dorp toe gaan en sy glad nie kla dat haar bene pyn nie. Hy wens sy wil hom alleen stuur, maar sy wil nie. Sy sê dis te gevaarlik vir klein kindertjies op straat. Wie’s miskien klein? Hy? Gmf!

Ouma dink hy sien dit nie, maar hy kan sweer daar is weer iemand wat kom kuier of iets. Ouma maak skoon en maak skoon en hy en die hond sit meer onder die boom as in die huis. Dis net die hele tyd: “Kind, kyk hoe vuil trap jy die vloer!” of “Nee man, vir wat moet jy so mors? Bring die besem en kom maak self hier skoon.”

As dit eers donker is hou Ouma op met skrop. Sy gaan sit voor die stoof en hy bring die kassie dat sy haar voete bo-op kan sit. Dis lekker warm daar saam met Ouma en die hond. Ouma steek die lamp op as dit te donker word en dan lees sy vir hulle uit die Bybel. Gisteraand was dit Dawid en die groot reus. Jis, hy gaan eendag net so sterk soos Dawid wees. Hy gaan elke reus wat vir Ouma wil kom pla, se kop morsaf kap.

Ouma leer vir hom sing ook. Nee, dis nie die goeters wat hulle in die kerk sing nie. Ouma sê dis volksvreemde goed, sy sal haar nie daarmee ophou nie. Hulle sing ‘Jesus min my, salig lot’ en ‘As Hy weer kom’. 

Ouma kyk net na die lamp se vlammetjie as sy sing, maar hy kan sweer sy voel huilerig sulke tyd. Sy snuif elke keer so half in haar mou, so na die anderkant toe waar sy meen hy nie sien nie. Hoekom wil sy huil as dit dan sulke mooi liedjies is? Nee man, dis party kere nogal swaar om te verstaan wat ‘n mens se ouma dink.

Hy dink nog hulle sing, toe praat Ouma heel ander goed. Is dit nie sonde nie? Ouma sê altyd hy moenie op Sondag lawwe praatjies maak nie, dis sonde. Nou praat Ouma dan anner goed terwyl hulle kerkliedjies sing. Hy sal liewer nie vir haar vra of dit sonde is nie, want hy wil graag hoor wat dit is wat haar ogies so bly maak.

“Boetatjie, môre is jou verjaardag, Ouma se kind. En weet jy wat? Kerrie en Jannas kom vir ons kuier. Ons gaan koek eet en...” Maar sy sien hy luister glad nie na haar nie.

Hy sit eers oopmond na sy ouma en kyk. Ouma praat nou te vinnig vir hom. Hy het nog nooit verjaar nie. Nog nooit, ooit nie. Nou sê sy hy verjaar môre. Kan ‘n mens dan nou sommer so ewe skielik verjaar? Sjoe, hy weet darem nou regtig nie of dit kan waar wees nie.

“Nou hoe is jy dan nou so stil? Sê jy nie iets nie, Ouma se grootseun?” Ai, nou lyk dit alweer of Ouma wil grens. Hy wens sy wil net ophou daarmee. Dis swaar vir hom om nie ook te begin grens nie. Sowaar, sy maak dit baie swaar vir ‘n mens.


Hy staan op langs die stoof en gaan staan langs sy eie ouma met sy kop op haar skouer. Hy praat nie, want hy weet nie regtig hoe hy nou moet maak nie. Maar sy hart is bly. Hy weet sy eie Ouma is baie lief vir hom.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...