Dinsdag 31 Oktober 2017

DIE SEESTERRETJIE

Dit is laat in die aand. Ek en ‘n goeie vriend wat ver woon gesels so effens op Whatsapp. Effens? Ja, so nou en dan sê die een iets en dan antwoord die ander weer ‘n bietjie later. Ek wil weet hoe kry hy en vroutjie die Vrydagaand om. En net daar vang hy my met ‘n storie!

Jy sien, die laat ure van die aand is mos so half gemaak vir eerlik wees, vir uitkom met die verborge dinge, vir deel jou dieper dinge met ‘n iemand wat dalk sal verstaan. Dit is daardie laat-ure wat my telkens vang en my gedagtes so aanjaag dat daar min kom van slaap en rus. Wie wil dan nou in elk geval rus as jy kan droom, kan geniet, kan waardeer?

Hy stuur my na die storie van die seesterretjie, deur Loren Eiseley. Dit is hierdie jongman wat seesterretjies op die strand optel en hulle terug in die see gooi. Waarom dan? Weet hy nie hoeveel duisende seesterretjies spoel daagliks uit en vergaan daar in die son en wind nie? Ja, hy weet. Hy weet dat hy nooit almal sal kan red nie, maar wat hy wel weet is dat hy ‘n verskil gemaak het aan die een wat hy so pas terug in die water gegooi het.

Hierdie vriend van my en sy vrou se kinders is reeds uit die huis uit. Hulle twee kan dus, volgens David Kramer, stoksielalleen wees op ‘n Saterdagaand. Maar hulle is nie. Hulle het ‘n seesterretjie aan wie se lewe hulle ‘n verskil wil maak. Hierdie mooie kind sou vergaan het in die lewe se ongenadige son en wind en storms, maar hulle het gekies om haar op te tel en op te hef. Hulle het gekies om haar lief te hê en haar te leer om die mensdom weer te kan vertrou.

En ek dan nou? Hoe kan ek ‘n verskil maak? Wat op aarde kan ek doen om ook iewers iemand se lewe aan te raak? Genugtig tog, hoe doen ‘n mens dit? Waar kry ek ook 'n seesterretjie of twee om terug te gooi in die see?

Die antwoord is eintlik heel eenvoudig. Daar is oneindig baie wat ek kan doen sonder dat dit my tyd, my geld, my gemak, my wat ookal! van my gaan vat.

Ek moet, ten eerste, goed wees vir myself. Laat ek myself toe om (soms) foute te maak? Hoe praat ek oor myself? Is ek werklik trots op wie ek is? Besef ek dat ek uniek is?

Hoe volop is die liefde wat ek uitdeel in my huis? Dis mos soms baie makliker om aan die ou op straat liefde te bewys met ‘n brood en ‘n blik konfyt, is dit nie? Dan voel ek tog so goed, want ek het liefde aan my naaste bewys. Dit is so, ja, maar weet my man hoe lief ek hom werklik het? Weet hy dat hy my held is? Weet hy dat ek hom vir niks en niemand sal verruil nie? Maar bo alles: Is ek dankbaar en spreek ek dit uit teenoor my geliefdes? 

Wanneer laas het ek saam met ‘n diep beswaarde vriendin gelag dat die trane loop? Wanneer laas het ek vir iemand (dalk ‘n baie minderwaardige vriendin wat innig verlang na erkenning) ‘n opregte kompliment gegee? Wanneer laas het ek vir iemand wat die dag nie lekker voel nie, ‘n drukkie gegee? Of wanneer laas het ek selfs net vir iemand, sommer so in die verbygaan, my breedste glimlag gegee?

Die ou wyse man en sy seun gaan klim berg. Die seun val en maak sy been seer. Dit is so seer dat hy hardop ‘AAhhhh!’ skree. Die berg antwoord hom met ‘n ‘AAhhh!’. Die seun is verstom, want hy het dit nog nooit gehoor nie.

Die pa sien dit as 'n geleentheid om sy kind 'n lewensles te leer en begin skree op sy hardste.

 “Jy is ‘n wenner!” Die berg antwoord: “Jy is ‘n wenner!”

“Ek bewonder jou!” Die berg antwoord weer: “Ek bewonder jou!”

“Ek het jou lief!” ... “Ek het jou lief!”

Die seun is in verwondering. “Hoe werk dit, Pa?”

En die pa antwoord hom: “Dit is hoe die lewe is, my kind. Dit wat jy uitdeel of uitstuur, kom altyd maar weer terug na jou toe. Gewoonlik is dit dan baie meer as wat jy uitgedeel het. Ons lewens is nie per ongeluk nie. Elke oomblik van die dag kry jy presies daardie dinge terug wat jy so spandabelrig en (soms) so onverantwoordelik uitdeel.”

Wat my mos nou laat wonder – hoeveel seesterretjies het ek vandag in die water gegooi? 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...