Ek is benoud. Doodsbenoud.
Dit voel of ek stadig besig is om te versmoor. En nee, ek is nie siek nie. Inteendeel,
ek is blakend gesond.
Nou wat dan?
Ek is aan die
versmoor by ‘n gebrek aan die lewe.
Ek gaan in op
facebook. Plaasmoorde. Molestering. Dieremishandeling. Kindermishandeling. Ontvoerde
kinders. Mishandelde bejaardes in tehuise.
Ek sit die tv
af. Ek weier om in te gaan op facebook. Nee, ek gaan voortaan kontak hou met my
mense op whatsapp. Genugtig tog! Dit verskil geensins van bogenoemde twee nie.
Miskien is dit selfs ‘n bietjie erger, want nou hoor ek van persoonlike
ondervindings van al die booshede van die wêreld. Elke tweede boodskap is ‘n
video met die aardigste inligting. My foon laai dit outomaties af en nou sit
ek, teen my wil, daarmee opgeskeep. As ek dit wil afvee, word ek weereens
daaraan herinner – totaal en al teen my wil.
Moet ek my huis
se deur sluit en nooit weer straat toe gaan nie? Moet ek my gordyne dig toetrek
en my vensters nooit weer oopmaak nie? Hoe moet ek maak om gespaar te bly van
al hierdie grieselrige inligting?
Verstaan my
asseblief mooi, Meneer die Voorsitter, dit is nie dat ek al hierdie dinge (probeer)
ontken nie. Ek weet dit is daar. Ek weet dit is ‘n plaag van moord en doodslag,
van meer misdadigers as vredeliewende mense op straat. Ek weet dat duisende
mense in angs en bewing lewe, want hulle weet nie wanneer is dit hulle beurt
nie. Ek hoor hoe grom jy dat ek moet wag en kyk hoe voel ek wanneer dit my
oorkom. Ek hoor jou hart! Maar, Meneer, sal jy myne ook nou hoor, asseblief?
Ek soek na die
vreugde van menswees wat verlore geraak het tussen al hierdie donker berigte. Ek
soek na ‘n vriendekring wat kan lag en kuier en mekaar kan geniet. Ek soek na
die rykhalsende uitsien van 'n jongmens na die toekoms. Ek soek na die
genot in die klein dingetjies van die lewe. Ek soek na ‘n onverwagse skaterlag
van ‘n vriend of vriendin oorkant die straat. Ek soek na die verlore vrede in
die hart.
Ons is al so
vol gif en agterdog dat ons nie meer na ‘n medemens kan kyk sonder om
agterdogtig te wees nie. ‘n Vreemdeling is nie meer ‘n (moontlike) vriend nie.
Nee, elke vreemdeling is ‘n (moontlike) moordenaar en dief. Ek kom agter dat
elke gesprek iewers opeindig in ‘n ontevrede opmerking oor wie nou weer wat aan
my gedoen het.
En nou, Meneer
die Voorsitter, wil ek jou uitdaag. Die keuse is joune of jy dit gaan aanvaar, en of jy van my ook ‘n video gaan rondstuur en mense waarsku teen my regse
gesindheid. Ek gaan nie aanhou en aanhou hiermee nie. Ek belowe ek gaan dit ook
nie elke dag ‘share’ op elke elektroniese medium wat daar is nie. Hoor my hart
asseblief, net hierdie een keertjie.
Ek daag jou uit
om vir ‘n oomblik terug te sit en te dink aan een (JA, NET EEN) goeie ding wat
vandag met jou gebeur het. Wanneer jy dan hierdie een klein dingetjie iewers in die donker opgespoor
het, deel dit dan op die media sodat ek dit saam met jou kan geniet.
As elkeen wat
hier lees net EEN mooi ondervinding vandag deel, kan jy jou indink wat ons gaan regkry?
Vir ten minste
een aand sal almal kan gaan slaap met die wete dat daar nie net sleg in ons
mooi wêreld is nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking