“Boetatjie, jy moet nou opstaan, Ouma se kind.”
Is dit dan al oggend? Sjoe, nou kan hy voel hoe
dit voel as ‘n mens verjaar. Hy kyk rond om te sien of Kerrie en Jannas al daar
is, maar dis net hy en sy ouma in die kamer. So wraggies het sy vir hom gejok. Ja,
hy moes haar nooit geglo het nie. Dit sal hom nou leer om bly te raak oor ‘n
storie van jou ouma. Sies, hy is baie vies vir haar.
Hy staan dikbek op. Hy wil nie pap eet nie. Sy het
mos vir hom koek belowe, man. Hy sal nie die blerrie pap eet nie. Hy gaan nooit
weer pap eet nie, hy sal haar wys.
Maar die ouma steur haar nie aan sy kwaai gesig
nie. Sy is die ene laggies en gesels land en sand met hom. Hy antwoord haar
nie. Hy sal ook sommer nooit weer met haar praat nie. As dit weer donker is...
Ja, as dit weer donker is, loop hy weg. Hy en die hond sal wegloop kinderhuis
toe. Hy sal weer by Kerrie en Jannas gaan bly.
Hy gaan sit met die hond onder hulle boom. Die hond
weet ook hy is kwaad. Hy lek-lek aan sy oubaas se hande om hom te troos. Dit laat
Spiere ‘n bietjie beter voel. Hy wonder wat doen sy ouma nou daar in die huis. Het
sy ooit gesien hy het buitekant toe geloop? Miskien traak sy nie eens nie.
Toe hy ‘n slag opkyk, staan Kerrie en Jannas in
die agterdeur. Eers dink hy dat hy dalk droom en hy vryf ‘n slag oor sy oë. Maar
nee, hulle twee staan sowaar daar in die deur. Hy staan stadig op en loop na hulle
toe. Hy is so bly om hulle te sien, sy oë wil sommer huil. Ai tog, dis oor hy
so lank al by sy ouma bly dat hy ook sommer wil grens oor niks nie. Hy vee sy oë
droog met sy hempsmou en hardloop na sy maters toe.
Miskien het sy ouma nie gejok oor verjaar en die koek nie, ha? Hier is sy eie, eie maatjies dan nou by hom. Maar hy weet ook
nie, dit voel dan nie soos verjaar nie. Maar presies hoe voel verjaar? Hy weet
ook nie... Miskien moet hy sy ouma vra hoe voel 'n mens as jy verjaar.
Ouma roep hulle binne-toe. In die kombuis ruik
hy iets waarvan hy niks hou nie. Hy kan sweer dis alweer daardie antie met die
stink goed aan haar lyf. Nee man, hy wil haar nie sien nie. Nie vandag nie. Nooit
weer nie.
Sy sit in die sitkamer. Ouma het die sitkamer
vreeslik mooi skoongemaak gister. Op die tafeltjie staan daar nou ‘n groot koek en glase
met koeldrank. Hy is baie lus daarvoor, maar hy is nie lus om naby die antie te
kom nie. Sy klou mos so aan hom en los hom nie weer nie. Sy hou mos aan tot jy
voel jy kry nie meer asem nie. En dan stink jy agterna net soos sy. Sies.
Kerrie en Jannas is eerste by die koek. Hy staan
nog in die deur en besluit wat om nou te doen. Maar dit lyk nie vir hom of die
antie vandag weer so gaan maak nie. Sy sê net hallo en gesels verder met sy
ouma. Hy stap stadig nader en gaan saam met sy maatjies op die mat sit; elkeen
het ‘n groot stuk van die lekker koek en ‘n groot glas koeldrank. Jis, dit is
lekker om te verjaar. Hy wonder wanneer kan hy weer verjaar?
Skielik staan die antie op. Sy lyk of sy nou
gaan ry. Sy hoef nie te ry nie, dis eintlik lekker as sy so met Ouma gesels. Hy
hou baie daarvan as sy ouma met iemand gesels en lag. Haar gesig is vir hom baie mooi as
sy so lekker lag.
“Spiere, daar is iets wat ek en jy nog moet
regmaak, jong,” sê die antie hier langs hom. Ai tog, wat is dit wat sy nou wil
regmaak? Dis mos ‘n baie lekker dag en sy maatjies het kom kuier. Hy wil hulle
nog gaan wys waar hy paaie gebou het daar onder die boom. As hulle karretjies
gebring het kan hulle mos daar gaan speel.
Die antie traak nie dat hy nie wil opstaan nie.
Sy trek hom liggies aan die arm op. “Kom, ek wil vir jou iets gaan wys.”
Ouma en Kerrie en Jannas staan ook op. Nou moet
hy seker saam met die antie loop. Hy is nie lus nie. Hy het nog nie sy koek
klaar geëet nie. En hy wil nog van die rooi koeldrank ook hê, dis baie lekker
saam met die koek. Ouma sien dat hy na die koek kyk en belowe hom dat hy nog
baie kan kry as hy klaar saam met die antie geloop het.
En daar staan sy fiets! Sy eie, eie fiets! Hy kyk
na die antie en hy kyk na die fiets. Is dit nou hierdie keer regtig syne? Of gaan sy weer wegry met hom? Hy het nog glad nie vergeet dat sy anderdag die fiets gegee het en toe nie gegee het nie.
“Spiere, Ma se kind, kyk wat het ek vir jou
gebring. Jy kan hom hier hou en elke dag met hom ry.”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking