Nie lank gelede
nie was daar ‘n pop, ‘n bril en ‘n stoel. Hulle drie het op ‘n ashoop gewoon.
Eers was dit
net die stoel. Hy het daar beland omdat sy dierbare eienares oorlede is en haar
kinders het geen doel gesien om die stukkende stoel op te laai en saam te vat
huis toe nie. Stoel was hartseer en alleen. Stoel het nutteloos en ellendig oor
homself gevoel. As daar net iemand anders was om die eindelose dae mee te
spandeer!
Op ‘n dag is
daar ‘n oplewing in die dooie bestaan van die ashoop. ‘n Groot, blink bakkie
stop en ‘n groot, vet man klim uit. Hy is ongeduldig, want die vlieë is baie en
die sweet tap hom af. Hy gryp die een karton na die ander en gooi hulle op die
ashoop. Die hele ashoop is in afwagting vir die nuwe aankomelinge – almal kan
sien dit is nie net gewone huisrommel nie. Die een karton bars oop toe dit op
die grond land...
Bril rol ‘n
endjie en beland reg langs stoel. Hy lê daar en weet vandag is dit sy einde. Niks
en niemand kan nou meer traak oor sy bestaan nie. Ai, dat alles dan nou so moet
eindig. Waarom was hy nou eintlik op aarde? Net om op die ashoop te land? Regtig?
Toe die bakkie
weg is, hoor bril ‘n sagte stem: “Bril, ek is so bly jy het gekom. Ek was so
bitter alleen, maar nou is jy mos darem ook hier.”
Bril lê
doodstil. Waar kom die stem vandaan? Toe hy opkyk en vir stoel sien, is hy baie
bly. Dankie tog, nou het hy ‘n maatjie. Onmiddellik is die twee groot vriende. Hulle
is gelukkig by mekaar en skinder selfs oor die stukkende mat en die bottels
sonder proppe. Ja, die twee is nou beste vriende en belowe mekaar ewige trou.
Die namiddag
toe pop gekom het was ‘n moeilike dag. Dit het gereën en alles en almal was
papnat. Hulle kon niks om hulle sien nie, want dit was byna pikdonker van die
wind en die reën.
Toe die son
weer skyn die volgende oggend, sien hulle vir pop hier reg langs hulle. Nou is
die vriendekring voltallig, besluit hulle. Hulle verwelkom vir pop en die drie van
hulle is sielsalig gelukkig in mekaar se geselskap.
Op ‘n dag
besluit die ashoopkoning dat daar asiel verleen gaan word aan ‘n paar van die
bewoners. Hy verduidelik mooi aan almal dat, indien jy asiel kry, jy weer ten
volle herstel gaan word en weer opgeneem sal word in die samelewing. Die enigste
voorwaarde is dat jy vol vrede en liefde moes leef vir so lank as wat jy al op die
ashoop is.
Die drie
beraadslaag en besluit dat hulle gaan aansoek doen. As hulle weer mooi en heel
is en ‘n nuwe blyplek kry sal hulle vreugde in die lewe soveel meer wees, nie
waar nie?
En dit is toe
net daar wat die moeilikheid en die rusies begin.
Bril wil hê dat
hulle drie in ‘n sportman se huis moet gaan woon. Sportmanne is ryk en hulle kyk mooi na
hulle besittings. Stoel kan al klaar sien hoe staan hy weer in ‘n ouma se huis
en ouma olie sy hout gereeld en hulle almal kuier gereeld saans voor die lekker
warm kaggel saam met die ouma. Natuurlik wil pop niks daarvan hoor nie. Pop wil
in ‘n huis gaan bly waar daar ‘n klein dogtertjie is wat gereeld met haar speel.
Sy wil weer mooi kleertjies dra en saans kan hulle almal langs die dogtertjie
slaap.
Hoe meer die
drie rusie maak, hoe stiller raak dit op die ashoop. Hulle vergeet skoon dat
hulle eintlik die rede is waarom die koning die asiel ingestel het. Hulle het in liefde saamgelewe en mekaar met foute en al aanvaar. En kyk nou net! Skielik is die ashoop ‘n plek
van sieklike onmin.
Die koning word baie kwaad en hy verbied almal om te praat.
Hulle moet stilbly. Hulle moet ‘n bietjie selfondersoek doen en tot die besef
kom dat dinge nie altyd is soos wat dit op die oog af lyk nie. As julle nie tot 'n ooreenkoms kan kom nie, bly julle waar julle is!
Dikbek bly
almal stil. Vir ‘n hele week lank praat nie een nie. Almal dink. Doodse stilte.
Een oggend
begin die drie ewe skielik praat. Elkeen wil eerste praat en die koning moet
weereens tussen beide tree. Een op ‘n slag, asseblief.
Bril vra eerste
verskoning. Hy besef dat stoel en pop nie soos hy is nie en dat hulle nie sal
inpas in die ryk sportman se huis nie. Toe is dit pop wat mooi askies sê, want
pop weet dat stoel en bril nie speelgoed is nie. Sy kan nie verwag dat bril en
stoel dieselfde lewe as sy moet leef nie, hulle verskil heeltemal te veel van
mekaar. Stoel staan net alles en beaam, want dit is presies soos hy ook voel. Stoel
besef dat pop en bril totaal en al nutteloos sal wees in die ouma se huis,
hulle sal altyd wonder oor die doel van hulle lewens.
Die ashoopkoning
knik tevrede. Hy kan sien dat almal nou ‘n les geleer het. Soms moet ons uit
ons gemaksone beweeg. Vriende kan ons soms weerhou daarvan om ons volle
potensiaal uit te leef...vriende is nie altyd alles nie.
Ongelukkig bly
die keuse maar my eie – gaan ek aanbeweeg of gaan ek sit waar ek sit?
Voorwaards mars!!!! die toekoms in.
AntwoordVee uit