Ek is op die oomblik besig met navorsing oor die vlugtelinge uit Angola
in 1975. Die burgeroorlog het derduisende lewens geëis en net soveel duisende
het gevlug – of na Suidwes Afrika, of terug na Portugal toe. Die volgende is ‘n
vinnige kykie in die huis van een so ‘n gesin. Emilio is die sestienjarige seun
van ‘n oorlogoffisier.
Pa was nog nooit ‘n man van baie woorde nie en daardie dag
nog minder. Ons was besig om te eet. Die spanning in die huis was oordonderend.
Vir my het dit kompleet gevoel asof ek dit kon hoor – die skrilskreegeluide van
senuweedrade wat tot die uiterste beproef word.
Toe die moeilikheid begin het, is Pa en my twee broers weg
om te gaan veg. Pa was toe reeds weke weg en ons het niks van hom gehoor nie.
Daardie Sondagoggend toe ek opstaan, sit Pa daar langs die kombuistafel. Ma was
besig om eiers in ons borde te skep. Nie een van die twee het gepraat nie. Ons
het in stilte begin eet. My twee sussies was, wonder bo wonder, ook doodstil en
het nie hulle gewone rusies gehad aan tafel nie.
“Emilio.”
Doodse stilte. Pa noem my Emil. Pa het my nog
nooit op my volle naam genoem nie. Die manier waarop hy nou my naam gesê het,
beteken net een ding – moeilikheid!
Ma se vurk val kletterend op haar bord. Sy stamp haar stoel
terug en loop by die agterdeur uit. Ek kan hoor hoe sy huil. Sy roep die
meisiekinders buitentoe en ek weet dat Pa met my alleen wil praat. Gaan hy my
nou oorlog toe dwing? Hy weet mos hoe ek daaroor voel! ‘n Naar kol kom sit op
my maag. My kop duisel. Ek knyp my oë toe en sit en wag vir Pa se aankondiging.
“Emilio, kyk vir my.” Pa praat sag. Ek kyk op en sien, net
vir ‘n baie kort oomblik, die intense pyn in sy oë. Hy sit sy hand op myne. Ek voel
hoe bewe my sterk, dapper pa.
“Vat jou ma en susters Portugal toe.”
Hy staan stadig op en wag dat ek teenoor hom kom staan. Ons kyk
mekaar stip aan. Ek probeer sy gesig in my geheue inbrand. Ek weet ek gaan hom
nooit weer sien nie.
“Julle het drie dae tyd. Kry geld; kry soveel as wat julle
moontlik kan kry. Pak lig in. Moet asseblief met niemand hieroor praat nie.” Sy
opdragte klink soos geweerskote. Ek knik stom.
En toe, vir die eerste maal in my lewe, soen my pa my op my
mond. Ek gryp hom vas en byt op my tande om nie te huil nie. Hy maak my hande
los en draai om en loop buitentoe.
Dit is hoe ek hom sal onthou – met sy regop rug en besliste
voetstappe op pad om sy lewe te gee vir die saak waarin hy bo alles glo.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking