Maandag 23 Oktober 2017

IS OUMA DAN DOOD?

Spiere is omgekrap. Hy is dikbek, om die minste daarvan te sê. Ouma het gesê Daisy sal voor middagtyd hier wees en sy is nie. Hy sit by die hek en wag vir haar. Hy wil sien as sy kom. Sy moenie dink sy gaan alleen in Ouma se huis ingaan en maak soos sy wil nie. Hy sal kyk dat sy ook nie omkrap nie. Hy en die hond wag al heel oggend, maar sy kom nie.

Die meisiekind van hierdie huis is ook lekker simpel. Sy dink sowaar hy gaan saam met haar karretjies speel. Is sy nou laf? Sy staan hier langs hom en wil nie eens op die grond sit om te speel nie. Hoe wil ‘n mens nou staan en karretjies speel? Hy het haar liewer nie geantwoord nie. Hy het sommer gemaak of hy haar nie hoor nie en toe loop sy maar weer.

Hy wonder wat maak die hond so alleen by hulle huis. Hy was al lus en gaan kyk gou of die hond nie dalk honger is nie, maar hierdie simpel mense het ‘n slot aan die hek gesit. Vir wat? Dink hulle miskien hy sal wegloop? Maar ja, as die hek net oop was sou hy seker langsaan toe geloop het.

Toe Daisy kom is hy baie bly. Nou kan hulle na sy ouma toe gaan. Ouma het mos gesê Daisy sal hom hospitaal toe vat dat hulle vir haar kan gaan kuier. Maar moenie glo nie! Sy is kamma moeg en wil eers tee drink en dan wil sy uitpak en stort en wat alles. Hy weet sommer sy is besig om vir hom te jok.

Hy wonder of sy ouma ooit nog lewe. Hoekom anders wil niemand hom hospitaal toe vat nie? Sy ouma is dood en nou sal die hond seker ook doodgaan so alleen by die huis. Hy soek die verste hoekie agter die huis en gaan sit daar. Ai, as die hond net hier was, man. Hond verstaan as hy tjank, hy lag nie vir hom nie. Hy wil g’n dat die mense sien hy grens alweer nie. Hulle sal seker vir hom lag oor hy huil oor sy ouma. Hy dink nie Daisy is lief vir sy ouma nie, so waarom sal sy traak?

Hier kom daai meisiekind alweer. Hoekom kan sy hom nie uitlos nie? Sy dink seker sy is mooi. Hy dink glad nie sy is mooi nie. Net sy ouma is vir hom mooi. Maar nou is sy ouma dood.

“Daisy roep vir jou. Sy sê julle moet hospitaal toe gaan. Maar ek dink jy moet eers jou voete gaan was, want jy is vuil. Sies, kyk hoe lyk jy.” Sy draai om en loop en los hom net daar. Hy wonder of sy jok oor sy ouma, maar nee, daar roep Daisy sowaar vir hom.

Daisy help hom om sy voete te was en kom sy hare plat. Sy kop is sopnat. Ouma sal raas daaroor. Nat koppe in die wind maak ‘n mens siek, sê sy altyd. By die winkel mag hy kies watter lekkers hulle vir Ouma kan koop. Hy kies die drops, want hy hou ook baie daarvan. Ouma sal dit seker vir hom gee, want sy kla altyd haar tande pyn van soetgoed. Dit lyk of Daisy ryk is, want sy koop piesangs en lemoensap ook.

By die hospitaal is dit baie, baie stil. Dis net die mense met die wit klere wat almal so haastig loop. Hy wonder waarom is hulle so haastig? Toe hy vir Daisy vra, lag sy net. Nee, sê sy, hulle is nie haastig nie, hulle loop maar net so vinnig om hulle werk klaar te kry.

Sy ouma is in ‘n groot kamer saam met ‘n klomp ander mense. Amper het hy haar nie gesien nie, maar toe roep sy hom. Hy hardloop na sy ouma toe. Hy wil so graag sy kop in haar nek sit, maar die bed is te hoog. Daisy tel hom op dat hy langs sy ouma op die bed kan sit.


Hy en ouma kyk vir mekaar en altwee gaan aan die grens. Vir wat? Hy weet sowaar nie hoekom sy ouma huil nie. Ag, en hy traak ook nie dat hulle sien hy tjank nie, want hy is by sy ouma wat toe nie dood is nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...