Eenmaal ‘n kind van die Namib,
altyd ‘n kind van die Namib. Wanneer dit reën soos vandag, is ek terug op die
plaas. Ek sien Pa se oë en ek hoor die verligting in sy stem. Ek dank die Here saam met my pa.
Dis droog. Daar is niks meer
oor vir mens en dier om te oorleef nie. Die hitte brand soos ‘n vurige geel
vlam op alles en almal neer. Niks kan bly voortbestaan nie. Alles gaan tot niet.
Ek ry saam met Pa veld toe. Die
ellende is voelbaar in die lug. Pa praat nie. Wat is daar dan nou om oor te
praat? Hy is in elk geval nie ‘n geselser op die beste van tye nie, en deesdae nog
minder. Die landrover se bak is vol mielies vir sy skape.
Ek sit en wonder die hele tyd
oor die mielies vir die skape. Hoe kry hulle dit geëet so op die duinsand? Raak
dit nie weg in die sand nie? Ons ry oor ‘n duin, deur ‘n laagtetjie en weer op
met die volgende duin. Die skape staan by die water en wag. Hulle wag vir Pa
met hulle mielies. Pa stop nie dadelik nie. Hy ry stadig verby die trop. Chrisjan
het nou die klap van die bak oopgemaak en die mielies loop ‘n straaltjie van
die bak af. Die skape hardloop soos honger straatkindertjies agter die landy
aan. Hulle soek daardie mielies!
Pa stop twee, drie keer om van die ou ooie op te laai. Hulle lê in patetiese hopies; reageer nie eens as hulle opgetel word en kar toe gedra word nie. Pa sug. Hulle moet keel-af gesny word. Hoeveel nog? Waar trek 'n mens die streep? Hoe weet jy wanneer dit jou tyd is om op te pak en te loop?
Pa stop twee, drie keer om van die ou ooie op te laai. Hulle lê in patetiese hopies; reageer nie eens as hulle opgetel word en kar toe gedra word nie. Pa sug. Hulle moet keel-af gesny word. Hoeveel nog? Waar trek 'n mens die streep? Hoe weet jy wanneer dit jou tyd is om op te pak en te loop?
Pa wil gaan kyk waar die
gemsbokke is. Ons plaas grens aan die regeringsgrond – ‘niemandsland’ in
allemanstaal. Die gemsbokke is gewoonlik dieper in die woestyn in, maar nou kom
hulle water en kos soek. Hulle soek Pa se laaste stukke weiveld wat hy vir die
stoetskape spaar. Dit kan nie so nie. Pa wil nie, maar hy moet. Ons sien twee,
drie, vier van hulle in die verte staan. Hulle staan net daar. In hulle is daar
lankal nie meer ‘n oorlewingsgees nie. Pa wil hulle dieper die woestyn in aanjaag
met die landy, maar dit werk nie. Ons ry tot teenaan ‘n groot bul. Hy kan nie
en hy wil nie verder loop nie. Oorgegee. Verloor teen die elemente van die
natuur. Pa sug en draai die landy om huis se kant toe. Dan moet die gemsbok tog maar staan waar hy staan...
Na middagete gaan ons skuins
lê. Die huis is heerlik koel, want die gordyne is vroeg-vroeg toegetrek teen
die woestynson. Nou wag die koelte van die sementvloer onder die bed vir jou. Dis ‘n saligheid wat jy nie kan beskryf na die voormiddag se hitte in die kombuis nie. Jy slaap en
kom nie agter dat dit lankal nie meer net die gordyne is wat die kamer donker maak
nie. As Ma jou kom roep, kan jy aan haar stem hoor dat iets skielik verander het.
Dit reën!
Pa staan buite by die hek en probeer oor die vlakte bepaal tot waar die reën val. Ma roep
hom in, maar hy hoor nie. Hy kyk en kyk en jy sien hoe hy opkyk in ‘n dankbare
gebaar.
Dit het nog skaars ophou reën
toe is ons op pad veld toe. Almal is stil. Almal is dankbaar. Die speenlammertjies
is op pad kraal toe. Hulle huppel en spring en blêr hulle vreugde uit. Die reuk
van nat grond en kraalmis hang in die lug. Jy kry nie genoeg daarvan ingeasem
nie. Dit is 'n bedwelmende reuk wat jy nooit, ooit kan of wil vergeet nie.
Dit is Saterdagaand en Pa braai. Ons eet lewer en niertjies so van die rooster af. Die ribbetjie en die wors kom later saam met die broodjies. Ons maak nie baie lig nie. Die sterre hang 'n silwer sambreel bo ons koppe. As jy hoog genoeg kon strek, sou jy sowaar een of twee vir jou kon pluk. Die insekte en geitjies sing hulle eie dankbare lied.
Dit is Saterdagaand en Pa braai. Ons eet lewer en niertjies so van die rooster af. Die ribbetjie en die wors kom later saam met die broodjies. Ons maak nie baie lig nie. Die sterre hang 'n silwer sambreel bo ons koppe. As jy hoog genoeg kon strek, sou jy sowaar een of twee vir jou kon pluk. Die insekte en geitjies sing hulle eie dankbare lied.
Sondag gaan jy terug koshuis
toe. Die opwinding van die reën is vergete. Daar is nou ander dinge om aan
aandag te gee.
En dan! Wanneer jy weer kom
vir ‘n kort, klein stukkie naweek, voel dit vir jou of jy op ‘n ander planeet is. Die droë,
dorre aarde het (so voel dit vir jou) oornag verander in die mooiste, mooiste
paradys. So op 'n afstand lyk die duine soos koringlande. Goue gerwe waai in die wind. Die Namib juig saam met mens en dier!
Pa lag. Die skape raak vet. En
die gemsbokke is (vir eers) weg woestyn toe.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking