Vrydag 27 Junie 2025

DIE TROU-MOVIE


Ek weet nie waarom ek julle nie laaaaankal hierdie lekker storie vertel het nie. Ek moet net verskoning maak dat ek ongelukkig nie eens een ou foto’tjie daarvan het nie! Maar toemaar, ek sal probeer vertel dat jy die prentjie kan sien. Dis ‘n lang storie – jy moenie moeg word en halfpad ophou lees nie, hoor!

Jy sien, dit was nie baie lank voordat my ouers van Hentiesbaai af Windhoek toe getrek het nie. My pa het kanker gehad en hulle moes naby die dokters kom. Ons kinders het almal daar vir die vakansie gekuier. Dis nou Lida en Gerhard en Karien; ek, Wolfgang, Riana, Wolfie en Maryke en Belia en Johannes met Enéz en Marike. Ons is so baie dat party in ‘n familielid se huis moet slaap.

Kan jy jou indink hoe gaan dit met so ‘n lotjie as hulle begin gesels en grappe maak? My arme ma en pa wat aan stilte gewoond was het seker soms gevoel om te vlug.

So word daar toe besluit dat daar darem ‘n ou ietsie moet gebeur op die dag wat Oupa en Ouma 50 jaar getroud is. En ons ou lotjie ken van konsert hou, hoor! Ons is nie bang mense nie ... ook nie skaam mense nie.

Lida kom toe met die idee dat ons ‘n movie moet maak. Nie ‘n regte movie nie, maar die konsert sal in die vorm van ‘n movie wat geskiet word, verloop. Dit sal handel oor ‘n troue wat nie lekker wou uitwerk nie.

Kom ek gee jou die rolverdeling sodat jy lekker kan verstaan en volg wat ek vertel.

Lida, die oudste, maar die fynste van ons lotjie, is getroud met Gerhard, oftewel Broer. Hy is die grootste en langste man in ons familie.

Ek en Wolf; en Johannes en Belia is ... wel ... so iewers tussen-in gebou. Maar dit speel nie regtig ‘n rol nie.

Jare gelede, toe ek nog in die laerskool was, het die gemeente daar in Maltahöhe ‘n wonderlike orreliste gehad – tannie Grietjie Loubser. Belia wou van baie klein af baie graag klavier speel en wanneer sy by ‘n gladde oppervlak gekom het, was die handjies altyd besig om ‘klavier te speel’ en het sy vir ons gesê: “Ek is Grietjie Loubser.”

Rolverdeling:

Regisseur: Lida

Dominee: Riana (ek onthou sy het so ‘n lekker weglêkuif gehad.)

Bruid: Gerhard (die grootste persoon in die hele familie)

Bruid se vader: Wolfgang

Bruid se moeder: Belia

Bruidegom: Johannes, wat meer as ‘n kop korter as die bruid is!

Fotograaf: Karien

Grietjie Loubser: Ek

KleinWolf en Pieter: Hofknapies

Maryke, Enéz en Marike: Blommemeisies

Almal is so na as moontlik aangetrek om by hulle rol te pas. Die bruid is ‘n treffer. Sy het ‘n tee-net oor die kop en ‘n bossie verlepte gras in haar hande. Sy lyk te lieflik! Die moeder van die bruid moet ook gemeld word. Sy is tog te statig opgetof, tot met die outydse handsak so oor die arm.

En natuurlik was my ouers dan nou die enigste twee gaste in die gehoor! En, wel, bygesê, gaste wat nie eens vir die konsert betaal het nie!

Storielyn van die movie:

‘n Doodeenvoudige troue.

Oupa en Ouma sit gereed. Die regisseur staan astrant regop en wag vir die “regte” oomblik. Die fotograaf hang lui teen die muur.

“And ... action!” bulder die regisseur.

Grietjie Loubser is nie vandag baie lus om te speel nie. Die orrel begin sag en traag. Die bruid kom aan die arm van haar vader ingestap, met haar moeder aan haar regterkant. Net agter hulle volg die res van die groep.

Niemand van hulle is lus vir trou vandag nie. Daar is geen glimlag, geen emosie, g’n niks op hulle gesigte te lees nie.

Die orrel raak stil en die dominee begin in ‘n verveelde stem wat erg brei: “Liewe familie en vggriende ...”

Die regisseur bulder dit uit: “Cut!”

Almal ruk tot stilstand en dalk lyk hulle nou ‘n klein bietjie wakkerder ook sommer nog.

“Mense,” gaan die regisseur voort, “hierdie is ‘n troue! ‘n Mens het emosies wat jy wys. Jou gesig kan nie lyk soos ‘n standbeeld nie, ha? Kom asseblief net ‘n bietjie by, toe?”

Hy kyk stip na die moeder van die bruid. “Jy, Mevrou, is jy nie ‘n bietjie hartseer omdat jou jongste dogter vandag in die huwelik tree nie? A-nee-a! Wys dit vir ons, man!”

Almal draai om en verdwyn by die deur uit.

Die stel is gereed. Die kameraman staan sowaar en ... wat maak hy daar? Hy blaas sy neus en vee trane uit sy oë. Grietjie Loubser lyk ook nie te goed nie. Haar gesig is vertrek van smart. ‘n Mens sou kon wonder wat het dan nou skielik met hulle twee gebeur.

“And ... ACTION!” bulder die regisseur met ‘n traan in die oog.

Die orrel begin speel, maar dit klink liewer soos iets wat die Briels sou sing as die troumars – iets soos “Een aand op die trein na Pretoria”. Die trane drup op die orrel! Toe sy die bruidspaar sien, moet Grietjie alle wilskrag beskikbaar inspan om nie bo-oor die orrel op haar arms te gaan lê en huil nie.

Die bruid verskyn by die deur met haar ouers weerskante van haar. Dit is ‘n smartlike gesig! Almal huil so dat hulle nie voor hulle kan sien nie. Die orrel se laaste temerige klanke raak stil. Die moeder van die bruid is in so ‘n toestand dat sy  flou op die grond neerslaan.

Dit is toe op daardie oomblik dat die bruid, Gerhard, vergeet waar hy is. Toe sy moeder grond toe gaan hier langs hom, skree hy bokant die geklank van uiterste hartseer: “My suster, waar gaan jy heen?”

Sy skree dit uit van die lag: “Ek is mos jou ma, nie jou suster nie, my dierbare mooiste bruid van ‘n kind.”

Sy staan verwese van die grond af op, vee ‘n slag oor haar gesig en probeer die snikke  (of was dit nog die lagbui?) onderdruk.

Hulle gaan staan voor die dominee. Hý staan met die sakdoek voor die gesig en kan nie die bruidspaar in die oë kyk nie. Die smart is net eenvoudig te veel om te verduur.

Hy snik ‘n slag of twee voordat hy die sakdoek versigtig opvou en in sy broeksak druk. Hy sug kliphard en dan begin hy: : “Liewe familie en vggriende ...”

Die regisseur bulder dit uit: “Cut!”

Almal gaap hom oopmond aan. Die trane en smart is vergete! Wat is dan nou verkeerd? Is dit nie wat hy gesê het hulle moet doen nie? Elkeen het sy bes gedoen en gekyk/geluister of hy beter as die een naaste aan hom kan huil.

Die regisseur is so opgepluk, hy klim sommer op die tafel om die lotjie behoorlik in die oë te kan kyk. Hande op die heupe staan en betrag hy hulle ... elkeen kry sy beurt om stip in die oë gekyk te word.

“Wat op aarde was dit hierdie? Was daar ‘n begrafnis waarvan ek nie weet nie? Wie is oorlede? As ek so kyk, is julle almal nog hier. Liewe aardetjie, mense! So ‘n drama het ek nog nooit beleef nie. Nou kyk, ek gee julle nog een kans, dan kry ek ‘n ander spannetjie om hierdie eenvoudige video mee te maak.”

Die trougroep staar mekaar verwese aan. Kan die man nie asseblief maar sy “mind” opmaak nie? Hy het dan gevrá hulle moet huil ...!

“’n Huwelik is ‘n vrolike geleentheid. Mense is bly om saam te wees en fees te vier. Mense wil hê die bruidspaar moet hierdie dag vir altyd en altyd onthou as die gelukkigste dag in hulle lewens ...”

Hy sug dramaties. “Gaan nou en begin voor. Onthou, julle het nog net hierdie een kans om reg te maak wat julle verbrou het.”

Almal draai sleepvoet om en verdwyn by die deur uit. Die regisseur vee ‘n slag sweet af en hy en die kameraman kyk mekaar aan. Hulle wonder of hierdie spulletjie dit ooit sal kan regkry om die movie gemaak te kry.

“En action!” kom dit weer hard en beslis.

Grietjie Loubser trek weg met die troumars. Maar opeens klink die troumars meer soos ‘n masurka of ‘n polka. Sy trap daardie pedale van die orrel dat sy haar sit moet ken om nie van die stoel af te val nie. Die dominee staan en skater dit uit van die lag.

En opeens is daar chaos! Die bruidsgroep kom binne met ‘n gejubel en ‘n huppel in die stap. Dit skree soos dit lag en hulself geniet. Die blommemeisies en hofknapies trippel rond van plesier. Die bruid se ma se maag is so seer van die lag, sy moet eers ‘n slag stop en haar maag vashou. Die trane rol soos hulle hierdie troue geniet.

En Oupa en Ouma, vra jy my? Jy kan hulle lag bó almal s’n hoor. As jy gedink het hulle het gelag toe die ou lot so geween het, moet jy hulle nou kom hoor.

Die dominee probeer so deur die lagbui sy ding doen: “Liewe familie en vggriende ...” maar niemand hoor hom nie.

Ag, maar wat ‘n jammerte vir die goor ou regisseur. Hy bulder dit bo alles en almal uit: “Cut!” Hy gooi sy hande in die lug en wys vir die kameraman hulle moet liewer maar loop, dit gaan nie werk nie.

Oupa en Ouma is óp van die lag. Oupa vra vir Ouma: “Kry ‘n mens dan nie ‘n ou koffietjie in hierdie huis nie?”

 

 

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

DIE TROU-MOVIE

Ek weet nie waarom ek julle nie laaaaankal hierdie lekker storie vertel het nie. Ek moet net verskoning maak dat ek ongelukkig nie eens een ...