So vra ek vanaand vir ‘n liewe vriendin hoe dit met haar
gaan. Haar man is onlangs oorlede. Onverwags. Sy pyn. Sy is in rou. Die dood
het so onverwags haar liefde langs haar kom steel.
Maar is die dood ooit onverwags?
Verwag ons nie maar almal die dood elke dag nie? Dit is tog
immers die een ding wat ons almal weet ons nie gaan of kan vryspring nie. Maar as
hy kom, is dit altyd, altyd ‘n skok. Jy verwag dit, jy sien dit kom, jy weet dit
kom. Maar wanneer hy wel kom, is dit ‘n skok. Hierdie skok kan jy nie aan mense
beskryf nie, jy kan dit dan self nie begryp nie. Die skok van alleenwees, die
skok van ‘ek gaan jou nooit weer sien nie’, die skok van ‘wat kon ek meer
gedoen het?’
Toe ek jonger was het ek (soms) gewonder waarom die mense
so huil as ‘n bejaarde sterf. Dit het glad nie vir my sin gemaak nie. Die mens
is oud, hy het sy lewe gehad, dit is immers nou tyd om te gaan, is dit nie?
En toe kom voel ek hom aan my eie vel. Vir sewentien jaar
was sy deel van my elke dag se handel en wandel. Die laaste paar jaar was ek
elke dag ten minste een maal by haar. Jy sien, sy was toe later nie meer my
moeder nie. Eers was sy my moeder, toe my afhanklike moeder, en toe word sy my
kleinste babatjie.
Vir jou babatjie doen jy alles. Niks is ooit te veel gevra
nie. Jy versorg, jy gee raad, jy berispe, jy bemoedig, en jy lief met meer as
wat jou hart kan dra. Jy lief omdat jy nie anders kan nie. Jy lief omdat jy
beangs sien hoe die sand deur jou vingers glip en jy dit nie kan keer nie. Jy lief
omdat dit jou eie kleinste ou babatjie is.
Ek het altyd geglo met haar sou dit anders wees. Sy sou
stil in haar slaap gaan met geen ongemak of pyn nie. Het ek dit geglo of het ek
dit gehoop? Maar die pad het vir ons anders uitgewerk. Die stryd was hewig en
lank. Vir ‘n bietjie meer as ‘n maand het ons dit dag vir dag verwag.
Elke dag het jy geglo dat vandag die dag is. Die ellende
kan nie groter word nie, die pyn kan nie erger word nie, dit kan nie langer as
vandag aanhou nie. Dan sak die son en die nag kom lê met sy swart kombers oor
jou siel. En die son kom op, maar jou siel word nie weer lig nie. Die donker is
te veel dat die lig dit kan uitdoof. Al donkerder en donkerder soos die dae en
nagte voortsleep. Jy probeer later nie meer sien of verstaan nie. Jy haal nog
asem. Jy lewe nog. Omdat jy moet.
Die handdoek langs haar bed het my bed geword. Soms wou ek
myself oortuig dat ek sou slaap as ek daar gaan lê, maar ek en die slaap was
nie meer bondgenote nie. Die slaap was iets wat ek met alles beveg het, want ek
wou elke oomblik bewaar. Ek wou elke oomblik intens ervaar en in my hart bêre,
want wat van môre? Wat as môre kom en ek moet my handdoek van die vloer af tel
en huis toe vat?
En toe daardie oggend kom was ek te verstom om werklik te
begryp. Ek was te oorweldig deur die laaste nag se ontsaglike geveg tussen die
lewe en die dood. Dalk was ek self so ‘n bietjie dood?
En nou is daar niks oor nie. Niks, behalwe die onthou.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking