Ma maak Jodetert en sjokoladekoek. Ons gaan môre Oupa se verjaarsdag vier. Maar dis nie net sy verjaarsdag nie, hulle is drie wat die groot dag deel. Oupa en twee van sy skoondogters verjaar op dieselfde dag. Dit is 'n groot optog na Oupa se plaas toe. Die manne kuier en die kinders speel, maar die skoondogters staan bankvas agter die kospotte vir vanmiddag se groot ete. Dit was maar altyd so - Ouma is die opperbevelvoerder en die dogters en skoondogters roer die potte. Middagete is 'n aardigheid! Daar is kos vir 'n weermag, want daar is om een of ander rede geglo dat, as 'n opskepbak leeg teruggaan kombuis toe, het die mense nie genoeg gehad om te eet nie. Wat agterna van al die oorskietkos geword het, het ek nooit gevra nie. 'n Mens wonder maar net nou daaroor.
'n Ander byeenkoms het onaangekondig opgedaag - gewoonlik op 'n baie ongemaklike/ongerieflike tyd. Dis donkernag as die plaastelefoon sy drie kortes en een lange lui. Daar in jou bed, half deur die slaap, hoor jy Pa se bekommerde stem. Jy raak dadelik weer aan die slaap, maar jy weet wat nou gaan gebeur. Ma kom by die kamer in. Sy is reeds aangetrek en klink haastig. "Staan op en trek vir julle netjies aan, Ouma is siek. Kom, maak gou!" Jy weet daar is nie teë te praat nie, jy moet opstaan en tandeborsel en in jou klere kom voordat Pa moeilik raak. Op Oupa se plaas is dit nie so lekker soos gewoonlik nie. Die kinders moet gesien, maar nie gehoor word nie. Die manne sit om die kombuistafel en praat binnensmonds. Die vrouens maak beurte om die sieke te versorg en dra koffie vir die kwaai manne aan. Die stoof word beman deur een of twee van die vrouens, want geëet moet daar geëet word. Die dokter is ver, dus moet hy oor die telefoon 'n diagnose maak en iets voorskryf. Nou, hoe nou gemaak? Daar is nie sulke medisyne in die huis nie. Maar daarvoor is daar ook 'n oplossing. Die Namib se telefone word warm gebel en kort voor lank is daar iemand wat die nodige doepa in die huis het. Een van Pa of sy broers jaag van diekant af en die mens met die medisyne jaag van anderkant af. Halfpad kry hulle mekaar en in 'n ommesientjie het Ouma haar medisyne en gaan dit sommer beter met haar.
Dan was daar Kersfees. Dit was die lekkerste lekker van alle lekkertes. Dan het almal gekom; ook hulle wat nie by die verjaardag of die siekte was nie. Daar was Oupa en Ouma, ses kinders met hulle gades en hulle kinders. Ons was 'n chaotiese massa wat saam was in een huis vir twee of drie dae. Die manne is ontspanne en daar word gekuier! Die kinders jil en speel en vang die vreeslikste kattekwaad aan. Ek onthou van een keer wat die 'groot' meisiekinders in Ouma se materiaalkas was. Hulle wou vir hulle bikinis maak en het aan die knip gegaan dat dit 'n naarheid was. Arme, arme Ouma! Oukersaand is die hoogtepunt. Vroegmiddag moet almal gaan bad en hulle mooiste klere aantrek. Die niggies en tannies draai hare in en 'tease' die kapsels tot hoog in die lug. Die kinders en ooms speel wegkruipertjie en blikaspaai voordat die son sak. Elke gesin het hulle eie vuurwerke gebring en dit skiet en klap dat hoor en sien vergaan. Die groot niggie het die sitkamer versier en ons kleintjies mag glad nie gaan kyk nie, ons moet wag tot Kersvader kom. Wat 'n opwinding vir 'n kind. Wat 'n skat om te onthou! En dan, as jy dit glad nie meer kan uithou nie, hoor jy die groot klok van iewers af lui en almal skree en gil, want daar in die veld kan jy hom sien aankom. Hy lui die klok en die flits se liggie gaan op en af soos hy deur die gate en oor die graspolle aankom. Almal storm vir die sitkamer en sing kersliedjies. Onder die kersboom is 'n klomp geskenke, maar jy weet daar kom nog baie saam met Kersvader. Jy wil eintlik nie sing nie, want jy wil hoor as 'Ouvader' by die gangdeur inkom. Laataand gaan almal slaap. Die niggies het 'n krismisbed in die sitkamer. Ek gaan slaap met my geskenke styf teen my lyf sodat ek kort-kort daaraan kan vat en regtig kan glo dit is myne.
En dan, helaas, was daar die begrafnisse...!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking