Dinsdag 22 Augustus 2017

Spiere en die antie

“Antie, ek is honger. Ek...”

“Ek issie jou antie nie. My naam is Hêppie. Vir wat moes die mense jou hier kom aflaai het? Wat dink hulle wat moet ek met jou maak?”

Die kind skarrel by die agterdeur uit. Hulle het gesê hy kom nou by die antie bly. Sy sal goed wees vir hom en dit sal vir hom lekker wees om hier te bly.

Hy sit styf teen die muur by die agterdeur. Die wind kry hom nie daar so beet soos as hy in die sonnetjie op die trappie sit nie. Hy kry koud. Hy is honger. Hy is bang vir die antie.

Sy praat aanmekaar en hy kan nie help om te hoor nie. Dit voel vir hom so half of hy haar afluister en hy is skaam daaroor. Hy is ook bang dat sy sal uitvind en dan gaan sy hom seker wegjaag.

“Vir wat moes hulle hom hier kom aflaai? Weet hulle dan nie dat ek jarre terrug al klaargemaak het met hom nie? Hulle weet mos ek kan nie nou staan en t’rugdraai en hom kom liefkry nie. Vir wat!?”

Hy het nog geslaap vanoggend toe hulle hom kom haal het. Hulle het hom nie eens kans gegee om vir Kerrie en Jannas baai te sê nie. Hulle altwee het nog geslaap. Hulle sal wonder waar hy is en wie sal vir hulle help kuikens vang? As hulle so honger is daar in die kinderhuis, vang hulle die matrone se kuikens. Sy weet nie hoeveel sy het nie, sy vra nooit eens wat het van hulle geword nie. Dan maak hulle skelm vuur agter die groot koeler en dan braai hulle die kuiken so met sy vere en alles. Partykeer kry hy die kop – dis vir hom die lekkerste van die kuiken. Ander kere baklei Kerrie en Jannas oor die kop, dan kou hy die voetjies skoon.

Hulle het vir hom gesê hy gaan nou by sy antie bly. Maar hy het gehoor hulle praat van sy ouma. Hulle het gedink hy slaap, toe praat hulle van sy ouma en van Daisy. Hy ken ook nie vir Daisie nie. Nou weet hy ook nie lekker of hierdie antie sy ouma is nie. Sy sê dan haar naam is Hêppie. Sy lyk vir hom g’n hêppie nie.

Skielik gaan die agterdeur oop. Sy staan daar en kyk na hom. Hy wil nie opkyk nie, hy is bang vir haar kwaai oë.

“Kom in. Jy sal siek word hier buite en dan sit ek nog daarmee ook opgesaal. Sit. Jy moet vir jou gedra hier by my. Ek is nie lus vir nonsies nie, hoor jy my.”

Hy weet nie of hy haar moet antwoord nie. Dit lyk nie of sy sal hoor as hy praat nie. Hy is honger.

Sy sit ‘n beker koffie en ‘n sny brood voor hom neer. Hy is so honger dat hy nie eens vra of hy dit mag eet nie. Dit smaak amper soos die brood in die kinderhuis, dis net nie so hard nie. Hêppie staan by die kas en eet. Hy kan nie haar gesig sien nie, maar hy kan sweer sy huil. Vir wat? Hy weet nie.

“Wat is jou naam?” Hy wip soos hy skrik toe sy met hom praat.

“Hulle sê vir my Spiere, Antie.”

Vir wat vra sy dit vir hom? Hy het gehoor dat sy met die ander mense gepraat het en dat sy sy naam ken. Hou sy nou vir haar dom? Hy is bang vir haar. Sy staan nog net so met haar rug na hom toe.

“Jy is te ellendig maer om Spiere te wees. Dom! Jou naam is Johannes Oosthuizen, hoor jy my? Jou naam is Johannes en Johannes sal dit van nou af wees.”

“Ja, Antie.”

Sy draai om en kyk vir hom. Hy kan sweer haar oë is nou sagter as netnou.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...