Sondag, 06 Augustus 2017

TUISKOMS

Sy skrik half toe die deur agter hom op knip gaan. So, dit is dan nou dit. Daar is hy nou weg soos wat sy al vir jare gewens en gebid het. Uiteindelik kan sy vry asemhaal!

Sy kyk op haar horlosie. Dit is halfdrie. Daar is nog meer as genoeg tyd om reg te maak. Sy wil fliek toe gaan om hierdie nuwe vryheid te vier. Hoe lank al sien sy daarna uit om te kan maak net soos wat sy wil en wanneer sy wil.

Op pad kamer toe stop sy by die drankkabinet en gooi vir haarself ‘n glas rooiwyn. Glas in die hand stap sy kamer toe. Sy steek vas voor die lang spieël in die gang. Genugtig! Wanneer het sy so oud geword? Haar hare lyk opeens vir haar so verwaarloos en onversorgd. Sy sal ‘n plan moet maak om by die haarkapper uit te kom. Sy lug haar glas vir haar spieëlbeeld. “Gesondheid!”

Sy draai die badkrane groot oop en soek solank na iets om aan te trek. Sy wil op haar mooiste lyk vanaand – ‘n mens weet nooit wie jy wanneer raakloop nie. Sy bad lank en vertroetel haarself soos sy lank nie gedoen het nie. Sy het nou baie tyd om aan haarself te spandeer en in die toekoms sal dit so wees, belowe sy haarself.

Toe sy uiteindelik by die fliek kom, is daar soveel jongmense en kinders in die ry voor die gebou dat sy sommer omdraai en huis toe ry. Sy besef dat sy haarself gebluf het. Sy is glad nie lus vir fliek nie. Inteendeel, sy het eintlik glad nie lus vir enigiets nie. Sy voel gespanne en geïrriteerd en sy weet nie waarom nie.

Toe sy by die huis kom, draai sy oudergewoonte die deurhandvatsel om in te stap. Toe eers besef sy dat die deur gesluit is, want John is vanmiddag weg daar en hy sal nie terugkom nie. Nie vanaand nie. Nie môre nie. Nooit weer nie.

Sy sluit die deur oop en gaan in. Sy sit nie die ligte aan nie. Sy stap tot by die naaste bank en gaan sit op ‘n hopie.

Wat het verkeerd geloop tussen haar en John? Wanneer het dit begin verander tussen hulle? In die vyf en twintig jaar wat hulle getroud is het hulle nog nooit watwonderse groot rusies gehad nie. Sy is die opvlieënde een en John is die stil vredemaker. Wanneer haar stemtoon opgewonde styg en sy woedend reageer op iets, is hy die een wat rustig wag totdat sy uitgewoed het. Hy glo ‘n mens antwoord nie ‘n dwaas in sy woede nie, sê hy altyd.

Hulle het nie kinders nie. Sy was eenmaal swanger en het die baba op ses maande verloor. Die hartseer tussen hulle twee was so groot dat John haar oortuig het dat hulle sonder kinders net so gelukkig kan wees. Hulle het mos mekaar, het hulle nie? Al het sy nie noodwendig met hom saamgestem nie, het sy nie met hom probeer redeneer daaroor nie. Sy was op daardie stadium verlig dat sy nie die besluit hoef te neem nie, want die dokter se opinie was dat hulle maar redelik sou sukkel om ‘n baba te kan kry as gevolg van een of ander hormoonwanbalans.

John het reeds voor hulle troue vir haar gesê dat hy daarvan sou hou as sy nie buitenshuis werk nie. Hy het in ‘n gebroke huis grootgeword en sy ma mos swoeg en sukkel om hom en sy twee susters groot te maak. Toe sy later besef dat hulle nie kinders sou hê nie, het sy dit oorweeg om te gaan werk, maar sy het geen formele opleiding gehad nie en het haar toe liewer verdiep in haar skilderkuns. John het selfs vir haar ‘n ateljee in die agterplaas gebou. Liewe, liewe John!

Hulle lewe saam was soos ‘n rustige rivier – geen onstuimige rusies, geen groot verrassings, geen opwinding van enige aard nie. Haar vriendinne het haar beny, want hulle lewens het totaal en al verskil van haar eie. As dit nie die kinders is wat rondgery moet word nie, is dit die man wat laat van die klub af kom of wat ookal die krisis vir die spesifieke dag mag wees. As hulle so uitbrei oor haar wonderlike lewe, het sy stil geglimlag en glad nie reageer nie. Hoe sou hulle kon weet dat sy asseblief tog smag na ‘n klein bietjie opwinding?

Sy staan op en gaan maak vir haar sterk swart koffie. Sy kry opeens koud, al is dit in die middel van die somer. Koffie in die hand gaan sit sy weer op die bank. Sy besef sy sal nooit vannag kan slaap nie, dus doen sy nie eens die moeite om te gaan uittrek nie.

Iewers het die liefde tussen hulle begin taan. Sy weet nie wanneer nie. Sy weet ook nie waarom nie. John het stiller en stiller geraak en het byna nooit meer probeer om met haar geselsies aan te knoop nie. Sy was altyd so verdiep in haar skilderwerk dat dit vir haar ‘n irritasie was as hy huis toe kom laat namiddag. Sy moes noodgedwonge oppak en aandag aan hom gee.

Vir ‘n jaar of twee het sy dit nog probeer doen, maar toe besluit sy dat hy baie onregverdig is om dit van haar te verwag. Van toe af het sy nie eens meer sy motor gehoor intrek by die garage nie. Sy was bloot net nie meer ingestel daarop nie. Hy was die een wat haar dan kom opsoek het en ‘n soentjie op die kop gegee het. Daardie soentjies! Op ‘n dag het sy hom ongeskik weggestoot toe hy haar wou soen. Van toe af het hy nooit weer probeer nie.

En toe kom die ongeluk. Sy het nie eens geweet dat hy daardie dag na ‘n naburige dorp toe sou gaan om na sy besigheidsbelange daar om te sien nie. Sy het lankal niks meer van hom geweet nie. Toe haar foon lui en sy sien dit is van ‘n onbekende nommer, wou sy eers nie antwoord nie. Maar die foon het herhaaldelik gelui en sy het nie ‘n keuse gehad nie, sy moes dit beantwoord.

Daar, langs die hospitaalbed, het alles verander. Opeens was sy nie meer die vry mens wat kon láát slaap en doen wat sy wou nie. Opeens was sy verantwoordelik vir ‘n mens wat halfpad verlam is, ‘n mens wat sy moet bad en aantrek en in die bed sit. Sy was vasgevang in ‘n verhouding met ‘n verlamde man wat eens, baie jare gelede, haar groot liefde was.

Patrick was haar groot uitkoms. Hy het sy hulp aangebied toe sy eendag by die rehabilitasiesentrum was met John. Wat ‘n verligting! Die lang, stil man het opeens al haar pligte oorgeneem en sy was weer vry. As dit nie was vir die rystoel nie, sou sy kon dink hulle lewens het weer na normaal teruggekeer.

Sy kon hom later nie meer aankyk nie. Soms het sy verwese gesig haar skuldig laat voel. Skuldig omdat sy geweet het dat dit sy is wat dit aan hom doen met haar afsydigheid. Ander kere het dit haar mal van irritasie gemaak as sy so na hom sit en kyk aan die etenstafel. Genugtig man, kry net jou eie lewe en los my uit!

Sy het doelbewus soggens later as gewoonlik begin opstaan. ‘n Paar oggende het hy kom inloer in haar kamer en gevra of sy siek voel of wat. Mettertyd het hy besef dat sy bloot net nie meer vroeg opstaan nie. Hy en Patrick het ontbyt gemaak en dan het hulle doodeenvoudig werk toe gery sonder om haar verder te pla. Dit het haar goed gepas. Sy kon hom nie meer aanskou in sy selfbejammering nie.

Twee maande terug het sy roetine skielik begin verander. Hy het vroeër as gewoonlik opgestaan en werk toe gery. Hy het ook nie meer direk na werk huis toe gekom nie. Eers het sy niks agtergekom nie, tot die dag wat die stoof gebreek het en sy ongeduldig gesit en wag het dat hy na werk huis toe moet kom. Toe dit laat begin word, het sy besef dat hy al vir ‘n geruime tyd nie meer namiddae so vroeg by die huis is nie.

Sy het onmiddellik tot die gevolgtrekking gekom dat hy haar verneuk. Waarom anders sal hy nie huis toe kom nie? Sy het begin sy sakke deursoek voor sy sy klere versorg, maar sy kon niks kry nie. Selfs die dag wat hy sy selfoon by die huis vergeet het kon sy niks buitengewoons daarop sien nie. Geen vreemde nommers of verdagte oproepe nie. Niks wat haar vermoede bevestig het nie. Niks! Sy het geweet dit sou nie help om vir Patrick te vra nie, want hy is soos ‘n getroue brakkie agter John aan en hy sou hom nooit verraai nie.

Sy moes ingesluimer het op die bank, want sy skrik opeens wakker en wonder vervaard waar John dan is. Hy moes mos lankal by die huis gewees het, dan nie? En toe besef sy dat hy mos weg is. Hy is weg met ‘n enkele koffer. Waar sou hy nou wees? Wat maak hy so op sy eie? Is hy ooit alleen, of is hy nou by iemand met wie hy lekker kan gesels en lag?

Sy staan styf-styf op en gaan kamer toe. Sy voel moeg en gedaan van min slaap, maar sy besluit om vandag iets aan haarself te doen. Sy het nog altyd geglo dat dit goed vir die siel is as jy selfs net jou hare ‘n slag laat knip of as jy ‘n nuwe paar skoene dra. Dus, vandag is die dag vir oorbegin, besluit sy halfhartig.

Sy gaan sit op die bed om haar skoene uit te trek. Sy kom nie verder as dit nie, want opeens bars sy in trane uit. Sy huil oor alles waaroor sy nog nooit gehuil het nie. Sy huil omdat sy toe nooit ‘n eie kindjie gehad het nie. Sy huil omdat sy die lewe mis wat haar vriendinne so kla oor. Sy huil oor haar hondjie wat ‘n maand terug oorlede is. En ja, sy huil omdat John weg is.

Toe sy vanoggend uit haar kamer kom, was sy baie verbaas om hom nog by die huis te sien. Hy het in die kombuis gesit en koerant lees. Toe sy inkom, het hy met sy rystoel tot voor haar gekom. Sy kon dadelik sien dat daar groot moeilikheid is. Sy ken dit nie dat hy homself so voor haar kom staanmaak nie. Vir ‘n oomblik was sy amper bang vir sy dreigende houding.

Maar toe hy begin praat, was dit die stil, ordentlike man van altyd. Hy het, sonder om te wag vir haar reaksie, aangekondig dat hy nou genoeg gehad het van ‘n liefdelose huwelik. Hy sien nie meer kans daarvoor nie en daarom gaan hy vanoggend vir hom ‘n ander blyplek soek. Hy sal sy klere kom haal wanneer hy iets gekry het. Sy was stom! Sommer net so? Wil hy sommer net padgee? Maar hy was reeds by die deur uit.

Sy trek ‘n sweetpak aan en gaan klim in die motor. Sy ry doelloos in die strate rond totdat sy iewers langs die see tot stilstand kom. Sy huil so dat sy in elk geval nie durf bestuur nie. Waarom het dinge so uitgedraai? Waarom was sy nie maar tevrede met hierdie lieflike man van haar nie? Sy ken niemand anders wat met soveel liefde sy hele lewe vir iemand anders sal opoffer soos wat hy maar altyd bereid is om vir haar te doen nie. Sy weet hy het haar innig lief. En ja, sy is vir hom ook baie lief. Nou waarom dan het sy belang verloor? Waarom kon sy nie tevrede wees met die rustigheid wat hy saam met hom dra nie?

Toe sy uit die motor klim voel sy die ysige wind. Sy het tred verloor met die tyd. Dit is donker en die misvlae waai teen haar gesig vas. Op die agterste sitplek van haar motor is ‘n kombersie wat sy ‘n vorige keer daar vergeet het. Dankbaar gooi sy dit oor haar skouers en gaan sit op ‘n rots. Sy kan die branders byna nie sien nie, maar dit maak nie saak nie. Dit maak eintlik glad nie saak waar sy is nie, want haar hart smag na die een mens wat sy uit haar lewe gedryf het.

‘n Motor se ligte val oor haar en sy wonder vir ‘n oomblik of dit nie dalk ‘n bietjie gevaarlik vir haar is om so alleen te sit nie.

Skielik is dit Patrick se stem agter haar. “John roep na jou. Hy sit daar anderkant op die bankie.”

Bewend staan sy op en stap na hom toe. Hulle praat nie. Hulle sit doodstil langs mekaar. Sy leun teen hom aan en voel sy ou bekende warmte en rustigheid.




1 opmerking:

GERED ONDER DIE WASBAK UIT (2)

Ek wil jou net herinner dat hierdie 'n stuk seer uit my verlede is. Ek is, deur genade, genees van depressie! ALLEEN [Een aand by...