Die letters dans voor jou oë. Jy wil dit eintlik nie
sien nie. Jy wil dit nie lees nie. Maar dit staan daar groot en in donker
hoofletters: INFORMELE LIKWIDASIE EN
DISTRIBUSIEREKENING BOEDEL WYLE...!
En, liewe Mevrou so en so, terwyl jy dit nou gelees
het, hier is ‘n koevertjie met jou aandeel van die buit. Kry vir jou en geniet
dit gerus soos jy goeddink. Niemand gaan jou daarna vra nie, so jy kan maar
lekker mors daarmee. Amen.
Ek kyk daarna en ek is verstom oor die banaliteit
daaraan. Is dit wat oorgebly het van 79 jaar (sy ouderdom) en 86 jaar (haar
ouderdom) jaar op aarde? Is dit die enigste bewys dat hierdie man en vrou
geleef het? Is dit sowaar die uiteinde van elkeen van dit alles? ‘n Paar nommertjies
op ‘n stukkie papier. Die papiertjie lê en wapper in die wind. Die wind gryp dit
en gooi dit wie weet waar op die vlaktes neer...en daar is NIKS om te wys van
die swoeg en sweet van 165 jaar op hierdie aarde nie. Dit kom spontaan by my
op: Wat is die mens? Soos gras is sy dae...
Maar, as ek mooi dink, is dit nie regtig waaroor dit
alles gaan nie. Hulle is weg, ja, maar
hulle sal nooit WEG kan wees nie.
Ek is die vrug van hulle lewens. Ek is die bewys dat
hy moes woeker met sy talente en dat hy al sy kragte moes inspan sodat ons kon
lewe. As hy nie op die yskoue wintersoggende buite in die wind gestaan en
velletjies ooptrek het nie, was daar niks vir my om te gaan leer nie; was ek
nie vandag in die beroep waarvoor ek so innig lief is nie. As hy nie
voortdurend aan my gekarring het met ‘Martha, jy KAN’ nie, het ek dalk iewers ophou
probeer; het ek dalk op ‘n hopie gesit en wonder wat om met die res van my dae
te doen.
As sy nie dag en nag naaldwerk gedoen het om te sorg
dat ek genoeg klere het om te dra in die koshuis en skool nie, was ek dalk ook
vandag iewers in ‘n agterstraat besig om te smous met wat ookal; sonder geld en
sonder ‘n heenkome. Want sy het geweet dat hy nie die geld gehad het om
klaargemaakte klere te koop vir die kinders nie. Sy het geweet sy moes help bou
aan die toekoms van hulle kinders. En sy het. As sy nie die geduld getoon het
wanneer ek sulke tye (wanneer sy naaldwerk moes doen) agter die kospotte was
met my eie brousels nie, sou ek vandag kon kook? Of sou ek afhanklik wees van
die plaaslike ‘take aways’?
En as hy saans die Bybel gevat het en almal sit rondom
die tafel, het hy soms gedink dat dit ‘n lewenslange herinnering vir my sou
bly? Die sterk stem, die hande rustig langs die Bybel op die tafel, die geboë
hoof wanneer hy bid.
En wanneer sy vieruur in die oggend opgestaan het om
te bid, het sy soms gedink dat dit nie nodig is om te praat nie, want haar
hele lewe spreek van haar liefde vir haar Maker? Het sy besef dat dit die
grootste getuienis is wat sy ooit kon lewer?
Ek kom tot die besef – hulle is nie weg nie. Hulle kan
nooit weg wees nie, want hulle het gebou aan die mens wie ek is. Hulle het in
liefde vermaan en getug. Hulle het met groot opgewondenheid aangemoedig en
geprys. En bo alles het hulle my so oneindig liefgehad.
Nee, dit is glad nie die einde nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking