Donderdag 24 Augustus 2017

OM TE KAN ONTHOU

Die lewe is vreemd, báie vreemd! Ek sit vanaand en dink oor so baie dinge, maar dis net asof die gedagtes nie koers wil kry nie. Dan is dit dít, dan is dit dát. Jy sien, ek wil nie daar gaan waar dit nog te seer is nie – die hartseer is nog maar redelik rouerig en die trane loop alte maklik. Nou keer ek dat dit bars om liewer maar aan ander dinge te dink.

Sit ek namiddag so ‘n bietjie op facebook en rondkrap, en ek loop twee ou vriende raak. Ek wil dadelik aan die gesels gaan op whatsapp, want ‘n mens het jare en jare verloor sedert skooldae. Die een is dadelik vuur en vlam en die gesels loop lekker. Ou Boytjie se vrou laat weet hy is tegnologies gestrem en hy het nie daardie soort goed op sy foon nie. Ai tog, in my huis gaan dit ook maar so – die man se reünie-groep is ook via my e-mails. Elke huis het mos maar sy kruis, is dit nie?

Vyf en dertig jaar is verby waarin die meeste van ons mekaar nie weer gesien het nie. En tog, dit voel maar soos gister of eergister wat ons die laaste woordjies gepraat het voordat Pa jou kom oplaai het met al jou koffers en boeke en hele menswees. Die koshuiskamer was leeg en jy was so half soos ‘n haas sonder ‘n plek om te gaan slaap vanaand. Die lewe het gewink en jy was so half bang-opgewonde.

En nou het ons min of meer by die draai van die pad gekom. Die meeste het al afgetree en is rustig in hulle blyplek. Ander woed nog voort en sweer om nooit op te hou werk nie. Jy dreig om iets te reël om almal weer te sien, want die lewe is aan die verbygaan. Maar van die reëlings kom daar nie veel nie, want almal is besig om nog steeds te bou aan sy toekoms.

Wat ons nie besef nie, is dat NOU die toekoms is! Hoekom wil ek wag vir later? Wat is beter aan ‘later’ as aan ‘nou’? Moet ons nie maar begin dink aan die dinge wat saak maak nie? Waaraan bou ek? Is dit geld in die bank? Geld is bloot ‘n paar syfers op papier en het geen waarde wanneer dit by die dinge van die hart kom nie. Of bou ek aan ‘n loopbaan? Regtig? Nou nog? En wanneer gaan jy daar kom waar jy uiteindelik tevrede is dat jy nou genoeg bereik het? Dink jy regtig dat dit môre of volgende week of volgende jaar beter sal gaan? Het jy nog nie geleer dat dit ‘n leun is nie?


Ek weet dat die lewe geen sin het vir die alleenmens nie. Ons het mekaar nodig. Ons het nodig om te kan onthou. Ons het nodig om lief te hê. Ons het nodig om te lewe – VANDAG nog, nie môre nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...