Vandag is dit g’n lekker in die huis nie. Hy weet nie wat
die antie oorgekom het nie, maar alles is verkeerd vandag. Dis vandat die
meisiekind vanoggend vroeg geroep het dat alles so sleg is hier.
Hy en die hond het buitekant gaan piepie. Dit was nog amper
donker en hy wou nie die antie pla nie. As hy in die badkamer gaan piepie, is
die antie dadelik wakker. Hy weet nie hoe hoor sy hom nie. Hy kan probeer soos
hy wil, maar elke keer as hy by die deur wil uit, vra sy met ‘n kwaai stem: “Gaan
jy nie afspoel nie, Johannes?”
Net toe hy die agterdeur oopmaak, roep die meisiekind
kliphard. “Koeiii! Is julle wakker? Daar’s foun vir jou, antie Hêppie.” Hy wou
haar nog gaan roep, maar die antie is by hom verby met ‘n groot spoed. Sy’t nie
eens vir hom môre gesê nie.
En toe sy daar terugkom, is alle duiwels los. Hy sit nog en
wag vir sy brood en koffie, maar nee, daar is nie tyd nie. Die antie is kwaai
en hy moet spring om alles te doen wat sy sê. Die hond het sommer daar buite
onder die bossie gaan lê van die groot bang vir die antie.
“Kind, jy bly dan vandag onder my voete. Loop buitekant toe
en gaan tel die blare onder die boom op. Het jy nog nie gesien hoe vuil is ons
plek nie?”
Toe gaan sit hy maar by die hond en wonder wat gaan aan. Wie
het so vroeg gebel en hoekom is dit nou so sleg in hulle huis? Hy het net
gisteraand gedink dit raak nou lekker hier, maar nou weet hy ook nie meer nie.
Middagtyd roep die antie hom. Sy het nie kos gekook nie. Vir
wat nie? Hulle eet vanoggend se brood en koffie. Sy gooi vir hom ‘n bietjie
ekstra suiker in.
Skielik draai sy na hom toe. “Seuna, luister nou mooi na
my. As die mense netnou kom, moet jy baie soet wees. Jy moenie vir ons in die
skande steek nie, my kind. Gaan bad gou vir jou, dan trek jy Sondag se
kleertjies aan. En as jy klaar is, kom dat ek jou hare kam – jy kry hulle nooit
mooi plat agter nie.”
Sjoe! Hy mag nooit sy Sondagklere aantrek nie. Net as hulle
kerk toe gaan mag hy die rooi hemp en jeans aantrek. Dis seker baie ryk mense
wat kom kuier.
Toe die mense stop, wil hy sommer weghardloop. Die vrou
spring uit die kar uit en kom gryp hom om die nek. En sy wil nie los nie, al
probeer hy hoe hard. Sy ruik soos die meisiekinders in die weeshuis. Sies. En haar
lippe is rooi. Sies.
Die man is kwaai. “Los die kind, jy kan sien jy krap hom
om,” sê hy en groet vir antie Hêppie. Maar antie Hêppie lyk nie bly om hulle te
sien nie. Nou vir wat moes hulle die huis so skrop as die antie nie van hulle
hou nie?
“Daisy, kom groet jy nie jou ma nie?” Die antie staan met
die hande in die sye en wag vir die vrou om haar te gaan groet. Dankie tog, dan
sal sy hom seker nou uitlos.
“Spiere, as ons klaar koffie gedrink het, moet jy saam met
my kar toe kom. Ek het vir jou ‘n baie groot present gebring. Jy gaan baie,
baie bly wees, ek weet sommer.”
Hy en die hond gaan buite sit toe die antie koffie maak. Die
grootmense lyk nie of hulle baie bly is om mekaar te sien nie. Dis sleg as die
antie nie lekker voel nie. Hy wil dit nie hoor nie en hy wil dit nie sien nie.
Toe die stink vrou hom roep, maak hy eers of hy nie hoor
nie. Sy roep en roep en hy weet hy moet gaan kyk wat sy wil hê. Sy staan langs
die kar en wag tot hy by haar is. Sy maak die kattebak oop. Daar lê sy fiets. Sy
pikswart fiets. Hy kyk en kyk en kan nie glo dat dit waar is nie.
“Spiere, kyk wat het ons vir jou gebring. Is jy nie bly
nie? As jy nou by ons kom bly, kan jy elke dag op hierdie mooi fiets ry. Dit is
nou joune. Is jy nie bly nie?”
Sy hart sink in sy skoene. Hy kyk na antie Hêppie. Sy staan
daar met yslike groot oë en kyk na hom. Hy wil hê dat sy hom moet help, maar sy
kyk nou anderpad. Die vrou praat en praat en praat oor die fiets en die groot
erf en sy eie slaapkamer, maar hy hoor haar nie. Hy kyk net na antie Hêppie.
Die man klim in die kar. “Kom, Daisy, jy sien dit gaan nie
werk nie. Ek wil huis toe gaan, ons het nou genoeg tyd hier gemors.”
Toe hulle wegry, staan hy lank en kyk na die stoffies waar
die kar nounet gestaan het. Dit is waar sy eie fiets vir hom gewag het. Sy fiets
wat hy nou nie meer wil hê nie.
“Kom, Ouma se kind, kom ons twee gaan koop vir jou ‘n
roomys.”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking