Die persoon sonder die volgende beroepe uit: Pastore, onderwysers, polisiemanne en mediese personeel. Ek stry nie, sonder hulle sal 'n land maar redelik arm wees, dit is gewis. Maar ja! Wat dan nou van die res?
Ek kom vanoggend by my werk en die honde het laasnag die asdrom omgegooi. Wat 'n gemors! Onmiddellik soek ek na die persoon wat gisternamiddag die drom moes uitgegooi het. Hy vra mooi verskoning en gaan maak die drom leeg. Hy kla nie, hy is nie dikbek nie, hy maak dit sonder ophef leeg.
Laat vanmiddag gaan ek petrol ingooi. Die joggie kom draf-draf aan na my motor toe. ‘Middag, my Mevrou. Moet ek hierdie band so bietjie wind gee? Hy lyk nie so mooi nie.’ In die verbygaan wil hy my voorruit ook was, maar ek is ‘n bietjie haastig en beduie hy moet maar los. Dankie tog dat hy die pap band gesien het! Ek weet daarvan, maar mettertyd het ‘n mens mos maar die ding om gewoond te raak aan iets en dan pla dit jou nie meer nie. Ek gee hom ‘n ‘tip’ en ry huis toe. Wat kan hy met daardie geldjie doen? Ek kry skaam by die gedagte aan hoeveel ek sommer in ‘n paar minute in die winkel spandeer, maar ek verwag dat hy my baie mooi moet bedank vir ‘n sent of twee in sy hand.
So van die winkel gepraat – as die kassiere nie vriendelik genoeg is nie, vra ek baie maklik vir haar wie haar dan nou kwaad gemaak het. Wat weet ek van die siek kind by die huis? Pla dit my dat sy van Maandag tot Sondag daar moet staan en met elkeen se buie en grille en giere moet tevrede wees? Ek weet nie van die vorige kliënt wat ongeskik en dalk onredelik met haar was nie. Ek staan nou voor haar en dit is my reg dat sy vriendelik moet glimlag en mooi woordjies moet praat met my.
En die vrou in my kombuis? Weet ek van die siek ouma en die sinkdak wat laasnag afgewaai het? Weet ek eens hoeveel magies sy probeer volmaak met die kos wat sy by my kry? Wat presies weet ek van haar hartseer en begeertes? Nee man, ek het nie nog tyd om na al haar stories ook te luister nie! Jy weet mos hoe dit gaan – gee hom die pinkie en hy gryp die hele hand.
Kantoorpersoneel is ‘n ander saak. Sy sit agter haar rekenaar en begeer om ook soos die ‘Meneer’ of die ‘Mevrou’ ‘n lekker vet salaris huis toe te kan vat. As haar pa tog net daardie tyd geld gehad het dat sy kon gaan leer, maar daar was vir haar geen genade anders as om te gaan werk nie. Sy weet sy sal tot aan die einde van haar dae agter ‘n rekenaar sit en tik en sy weet sy moet daarmee vrede maak. Maar ai, as iemand haar tog net ‘n kans wil gee om haarself te bewys!
Die lys is nimmereindigend. Wat van die vriendelike teedame wat pligsgetrou, op die minuut, jou koppie tee langs jou neersit? Soms is jy te besig om selfs op te kyk en dankie te sê. Ag wat, ek sal maar môre twee keer dankie sê, sy hoef haar nie so te wip nie. Sy kan mos sien ek is besig! En die klerk in die poskantoor? Daardie stempel sou my op dag een al tot raserny gedryf het, maar sy moet hom stamp, stamp, stamp! Dit is mos waarvoor sy betaal word, is dit nie?
Ons kan baie maklik sê ons dorp is vieslik vuil, maar ek persoonlik het nog nooit eens probeer om die mense wat loop en skoonmaak te bedank nie. O nee, ek gooi liewer nog ‘n papier in die straat en lag dan daaroor as die skoonmaker moet buk om dit op te tel.
Daar is nog so baie, hulle is te veel om op te noem. Die man met die rooi vlag wanneer hulle besig is om aan die pad te werk. Die vrou wat op die straathoek braaivleis verkoop omdat sy haar kind deur die skool moet kry. Die karwag wat jou motor oppas terwyl jy gaan inkopies doen en dan 'vergeet' jy om hom te betaal. Die vroutjie wat jou hare was in die haarsalon. Ek is seker jy kan my lys nog baie langer maak.
Ek besef een ding – ons is mense en ons het mekaar nodig!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking