Die antie het gesê hy moet slaap, dis al laat. Hy is nie
moeg nie, vir wat moet hy slaap? Hy dink die hele tyd aan Kerrie en Jannas. Dis
niks lekker sonder hulle nie. Hy wonder hoeveel kuikens het hulle al sonder hom
geëet. Simpel om sonder hulle te wees, simpel!
Die antie kom in die kamer in. Hy maak of hy slaap. Hy wil
asseblief tog nie so laat in die aand nog moeilikheid kry by haar nie. Sy kom
staan langs sy bed. O gatta, sy moenie sien hy is wakker nie. Hy knyp sy oë
styf toe. Hy probeer om saggies asem te haal.
Sy vryf oor sy hare.
“Ouma se Johannes-kindjie. Spiere. Gmf! Wat sal Daisy sê as
sy moet weet jy is hier? Maar Daisy traak nie met ons nie. Nee, sy is mos te
grent met die ryk man en die blink huis. Nee, sy sal nie traak as sy weet nie. Ek
sal haar ook nie sê nie, al vra sy my.”
Spiere se hart is seer. Al is hy bang vir die antie, wil hy
g’n hê sy moet so baie huil nie. As sy huil en hy is naby, raas sy sommer met
hom oor niks. Dan roep hy die hond en hulle gaan sit buite om die hoekie waar
niemand hulle kan sien nie.
In die gang is ‘n kas met ‘n klomp foto’s bo-op. Dis lelike
foto’s. Net een is mooi. Dis ‘n seun met ‘n fiets. Elke keer as hy van die
kamer af kombuis toe loop, staan hy eers daar ‘n bietjie stil om te kyk na die
seun op die foto. Die seun met die fiets op die foto.
Eendag vra die antie hom wat kyk hy so daar op die kas. Hy was
eers bang om te sê, maar toe sien hy daar is nie kwaai in haar oë nie en toe
vertel hy haar van die seun op die mooi fiets. Die antie het lank so gestaan en
kyk na hom. Hy het later nie geweet of sy nog weet dat hy daar voor haar staan
nie. Toe draai sy om en loop sommer buitekant toe en gaan maak die boom by die
agterdeur nat. Nie ‘n woord nie. Niks. Sy maak net die boom nat.
Vandag gaan hulle winkel toe, het sy vroegdag al gesê. Sy het
hom beetgekry by die wasbak en sy gesig seer gewas. Sy het sy hare twee keer
natgekam, want die mense moenie dink hulle is hierjy’s nie. “Wat is ‘n hierjy,
antie?” En sy lag en lag dat die trane loop. Hy lag toe maar ook, al het hy nie
geweet hoekom hulle lag nie.
Dis baie lekker as hulle winkel toe gaan. Die antie loop stadig,
maar sy traak nie as hy langs die straat met ander kinders gesels nie. Hy probeer
ook oor die hekkies loer as hulle verby ander huise loop. Hy kyk altyd of die
kinders fietse het. Daar is een meisiekind wat ‘n rooi fiets het. Dis jammer
dis ‘n meisiekind – hy wil nie met meisiekinders speel nie. Die goed huil te
maklik. Simpel.
Hulle wil meel en suiker en kopseerpille koop vandag. Die antie
se kop pyn altyd as sy gehuil het. Sy sê hulle sal anderdag weer kom, dan koop
hulle miskien konfyt vir die brood en spirits om die vensters mooi blink te
maak. “’n Mens mag arm wees, Johannes, maar jy hoef nie vuil te wees nie.”
In die winkel is daar vandag amper nie mense nie. Dis baie
stil. Die antie praat saggies met die vrou in die winkel. Dit lyk of sy bang is
iemand kan haar hoor. Hy kan ook nie haar wat sy praat nie. Vir wat?
En toe kyk Spiere op. In die dak hang daar die mooiste
fiets wat hy in sy hele lewe nog gesien het. Hy traak nie meer dat hy nie kan
hoor wat die antie met die vrou praat nie. Hy kyk en kyk na die fiets. Dis nie
rooi soos die meisiekind s’n nie. Dis ‘n swart fiets. Dis die fiets wat hy elke
aand in sy drome sien. Sowaar, hier voor hom hang die fiets van sy drome.
Die antie trek hom aan sy arm. Hulle moet huis toe gaan met
hulle meel en suiker en kopseerpille.
Dankie dat jy jou talent met ons deel.Ek geniet elkeen van jou skryfstukke,Martha. Ek lag en huil en dink saam.
AntwoordVee uitDankie vir die deel van jou skryfstukke,Martha. Ek lag en huil en dink saam.
AntwoordVee uitMooi moeder ♡
AntwoordVee uit