Ons het mos maar almal ‘n gunsteling dis by iemand. Jy
weet mos – as ek by die of daai gaan kuier, vra ek vooruit: “Ag, maak tog weer
vir my van jou lekker …” Sy lag tog al te lekker en jy weet dat sy jou nie
teleur sal stel nie.
My kinders weet dat ek weke voordat hulle kom kuier,
vir hulle vra wat hulle graag sal wil eet. Afhangende van die tyd wat hulle
kuier, sorg ek dat daar ten minste een van daardie versoeke op die dag se
spyskaart is. En intussen ruil ons resepte uit dat dit ‘n naarheid is, want ons
wil, wanneer ons verlang, daardie lekkerte maak en sommer nog meer verlang
terwyl jy eet.
My tannie Leentjie het ‘n paar sulke spesialiteite
gehad. Maar jy moes vir Leentjie geken het om dit te kan waardeer. Jy sien, sy
was ‘n gasvrou van formaat ... niemand kon by haar kers vashou nie. Onder
andere het sy geglo dat dit ‘n verleentheid vir haar is as ons eet en iemand skep
‘n bak leeg. Ja! Dit het eenvoudig vir haar beteken dat haar kos nie genoeg was
nie. Groot bakke kos. Groot bakke lekker kos!
My ma se pannekoek was baie lekker, maar Leentjie s’n
was lekker in die oortreffende trap. As jy daardie bak oopmaak, het dit gelyk
of pannekoek se kind so half dryf in die suikerstroop. Dit was natuurlik (dit
weet ek vandag) die baie kaneelsuiker en groot hompe botter op elke pannekoek.
Man! Dan was daar mos meer as genoeg ook – niemand mag honger huis toe gaan nie
– en jy kon kry soveel soos jou hart begeer.
Nog ‘n ding wat sy beter as my moeder kon doen, was om
‘n sjokoladekoek te versier met ‘n botterversiersel wat om wraak geroep het. Ma
s’n het altyd nog so ‘n ‘suikerige’ tekstuur gehad, maar Leentjie s’n was glad
en sag soos ... ja! sag soos botter. Noudat ek self koek bak en versier, weet
ek dat botter nie ‘n geringe rol gespeel het in daardie hemelse samestelling op
die koek nie. Maar dis nie al nie, hoor. Ek weet mos hoe lank ek my icing
klits om daardie gladde tekstuur te kry! Die verskil is dat Leentjie nie ‘n
elektriese klitser gehad het nie. Nou hoe dan so? Hoe het sy dit gedoen? Iets
wat my ma nie gehad het nie, maar Leentjie wil, was Maria, oftewel Marja. Ek
kan net dink hoe die stomme Marja staan en klits het tot die blou wolke spat.
Maar eet het ons gevreet aan daardie koek!
Elke, elke, elke keer wanneer ek kerriekos
maak, dink ek aan my moeder. Die kinders het gepraat van geelkos, want dit het
nooit gebrand nie en dit het so ‘n lieflike geel kleur gehad. Onthou soos ek
wil, weet ek nie hoe sy daardie spesifieke smaak in haar geelkos gekry het nie.
Ek moes baie maal die mengseltjie aanmaak en oor die vleis gooi, maar vandag
wil my mengseltjie nie maak soos Ma s’n gemaak het nie. Die kambeentjies, almal
ewe dik deur Ma met die hand gesaag, kwart aartappels en dik wortelringe was
die lekkerste lekker op aarde. Met lepelsvol van daardie sous op jou reis, het
die hemel self voor jou oopgegaan.
So van Ma gepraat – as sy moet weet hoe lyk my daaglikse
spyskaart, sal ek sweerlik in baie groot moeilikheid wees. Ma het elke dag van
die week ‘n spyskaart vir ‘n koning gehad. Vleis, reis (altyd!) halwe aartappel
vir elkeen in die vleis, twee groentes (een sout en een soet) en ‘n slaai. Ha?
Is waar, ek lieg nie. En dit op ‘n plaas daar diep in die Namib waar nie so
dikwels dorp toe gegaan is nie. Groente het sy self geplant en slim plannetjies
is baie gemaak.
Iets wat ek nog net by my ouma en my ma geëet het, is
macaroni met kaneelsuiker oor. Weet jy hoe lekker is dit? Ek neem aan dit was
Ouma Lida se uitvindsel en Ma het net voortgegaan daarmee. Nou wonder ek net
hoeveel van julle wat hier lees, gril nou tot in jou tone daarvoor. Moenie!
Probeer dit self en proe – dis vrekkens lekker, my maat.
Lang, lang jare gelede het ek my een tannie bloediglik
beledig. Sy was besig om, soos ons dit geken het, transportkos te maak. Dit is
niks anders as vandag se potjiekos nie. In my kinderlike onskuld het ek hierdie
storie so staan en betrag en by myself gedink dat dit darem ‘n vreeslike
deurmekaar spulletjie is. Die naaste waaraan ek kon kom, was nie juis vir my
tannie Miesie ‘n kompliment nie. “Dit lyk soos opgooi,” het ek saggies gesê.
Wat sy gedoen of gesê het, kan ek nie meer onthou nie. Al wat ek weet, is dat
ek dadelik besef het dat dit nie ‘n mooi ding was om te sê nie.
Pa kon ‘n niertjie en vetderm braai dat jy wens daar
was nog baie, baie meer. En ja, die stukkies lewer ook nog. As hy so sit en
braai het, het ek heeltyd gewag vir daardie opstaan en vir my ‘n stukkie van
dit of dat kom gee. Niks is mos lekkerder as wanneer jy dit so reguit van die
rooster af eet nie.
Dan is daar my groot onthou van koffie in die bed by
Oupa en Ouma. Die gewoonte het later jare uitgesterf, seker toe ons lotjie
heeltemal te veel geword het. Dit was nog nagdonker wanneer Boesman (dit was
regtig sy naam, al was hy nie ‘n Boesman nie) voor jou bed kom staan met ‘n
koppie koffie ... lekker soet en spierwit van die plaasmelk. Manne, manne! Jy
slurp hom in en raak net daar weer aan die slaap. Vandag is ek jammer dat
Boesman so vroeg moes opstaan om ons almal te kom bederf met koffie. Jy moet
weet dat hy, om daardie koffie te kon maak, eers die vuur in die stoof aan die
gang moes kry en als ...
‘n Gereg wat ek met groot vrymoedigheid maak, is
aartappelslaai. Ma het altyd gesê myne is die lekkerste op die hele wêreld. Maar
dan luister ek so na ander mense en ek wonder by myself of myne nou werklik so
lekker is? Om mee te begin, reken die aartappelslaai foendies mos jy moet, moet,
moet kondensmelk ingooi. Dit is glo die wet van Mede en Perse. En tog doen ek
dit nie. Nou wil jy by my weet hoe maak ek dan aartappelslaai? Heheheee! Ek
gaan jou nooit my geheim vertel nie, jy kan maar los.
En dan is daar my eie liefie se patties! Wat hy
alles in daardie mengsel gooi, is om enige huishoudkundige ‘n hoe bloeddruk van
te gee. Mince (afgeweeg), eiers, brood, meel, uie, en sy geheime spices.
Ek het eers gekeer, want brood EN meel? Maar nee, hy is seker dis hoe sy Mutti
dit gemaak het en dis hoe hy dit maak. Ons het later uitgevind dat skoonma dit
g’n so gemaak het nie, maar teen daardie tyd was Liefie al so tuis met sy
resep, dat niks meer verander kon word nie. En so van ons kinders gepraat –
hulle kan nie huis toe gaan as hulle nie van Pa se patties gehad het
nie. Saam daarmee maak hy die lekkerste, fynste mash en gewoonlik soet
ertjies. Jy kan maar kom sit en eet, hoor! Hy weet wat hy doen. Oja, die mash
is ook ‘n resep op sy eie met onder andere melk EN poeiermelk saam met die homp
botter.
Dis nou die ou wat op ‘n stadium geglo het hy kan niks
anders as roereiers maak nie. Op ‘n slag was ek op pad iewers heen. My seun was
diep bekommerd. “As Ma weer huis toe kom, is ons almal geel van al die eiers.”
So het elke huis seker maar sy eie stories oor of van
kos. Gelukkig hoef ons nie van die flops te vertel nie, hoef ons? Of dalk is
dit ‘n storie vir ‘n ander dag.
Intussen: Lekker eet!
Dit is nou ware sielskos vir n ware eetmaal.
AntwoordVee uitDankie vir die deel nig.