Ek weet
nie van jou nie, maar ek kan nogal so nou en dan vasval op youtube en my
tyd erg verspeel daar. Nee, ek kyk nogal nie grappies en goeters nie, maar ek
stry nie dat ek my tyd baie beter kan gebruik as om rond te blaai tussen die video’s
nie.
In elk
geval, so beland ek toe anderdag by Britain’s Got Talent. Hierdie spesifieke
video is oor kinders wat uitsonderlike vertonings gelewer het en dan is daar
mos daardie gesogte knop wat gedruk word sodat die goue vlokkies in hulle
miljoene op die kunstenaar neerdaal.
Man!
Hulle het my behoorlik in trane (regtig!) gehad. Die kind huil op die verhoog,
die ouers huil agter die skerms, en soms huil die beoordelaars ook sommer saam.
Great stuff!
En daar
gaat my kop weer met my! Want, jy sien, dit is glad en geheel en al glad nie
wat ooit in my lewe met my gebeur het nie. Ek het, soos elke ander kind of
grootmens, mos ook my strewes en begeertes gehad, maar helaas ...!
Wenners!
Daardie kinders is uit en uit wenners en verdien al daardie aandag en applous
en pryse en wat nog alles. Is mos, ha? Dit is hulle goeie reg dat die ouers
trots spog met hulle! Ek meen te sê, as jy goed is, is jy goed!
Maar hoor
hier, wat van die enetjie wat ook na daardie einste kompetisie toe gegaan het
met sterre in die ogies, maar wat nie verder as die eerste paar oomblikke van
die eerste oudisie gekom het nie? Daardie enetjie wat huil-huil by Pa en Ma
aangekom het? Ek vra jou: Wat van hom? Maak dit hom nie ook ‘n wenner omdat hy
ten minste probeer het nie? Maar wie traak?
Maar die
kompetisie daar gelaat ...
Ek hoor
anderdag van ‘n man wat ‘n reus in sy bedryf is – hy is nou werklik sukses in
hoofletters. Iemand maak die opmerking: Op skool sou jy dit nooit gesê het nie.
As daar ooit ‘n bullebak en nikswerd was, dan was dit hierdie mens. O ja? En
nou? Wat sê jy nou van hierdie einste niksnuts wat vandag by verre jou meerdere
is? Want, jy sien, toe hy op skool was, het niemand omgegee dat hy soggens
doodmoeg by die skool opdaag nie. Doodmoeg as gevolg van die pa wat homself elke
dag besimpeld drink en niks vir niemand omgee nie. Het die Meneer of Juffrou
ooit probeer uitvind waarom Seun so opstandig en mislik was? Ek glo nogal nie
so nie, hoor.
Wat nou
van die kind wat elke prysuitdeling wat bestaan het in twaalf jaar, bygewoon
het in die hoop dat daar iewers ‘n prys na sy kant toe sal kom? Daardie kind
wat elke nag, ná elke prysuitdeling, met leë oë in die donker dak lê en vaskyk
met ‘n moedeloosheid wat so groot soos die heelal is? Dis nou daardie kind wat
waaragtig hard probeer het, maar nooit goed genoeg is nie? Is hierdie kind nie ‘n
wenner nie? ‘n Wenner wat, ten spyte van teleurstellings keer op keer, maar net
weer en weer probeer het?
Wat van
die pa en ma wat met ‘n gestremde kindjie straat af stap en almal oe en aa,
maar so met die wegstap dan jy die Here dat so iets jou gespaar is? Weet ek en
jy van die nagte van kommer en sorge, omdat hulle nie herwaarts of derwaarts
weet met hierdie sonskynkindjie van hulle nie? En tog sal jy hulle nooit hoor
kla of murmureer nie. Is hierdie ouers nie geregtig op erkenning en respek en bewondering
vir die grootse werk wat hulle met hulle liefkindjie doen nie?
Wat van
jou buurman met olie besmeerde hande en klere, wat daglank onder sy motor lê
sodat hy asseblief tog net môre sy kinders betyds by die skool kan kry? Na my
mening verdien hy ‘n medalje, in teenstelling met my en jou wat vroeg gaan
inkruip en môre-oggend net die sleutel draai en woerts, daar gaat ons!
Wat van
die antie wat elke dag van elke week van elke maand op die hoek van die straat
staan en braaivleis verkoop? Het jy al vir haar gevra hoekom sy nie ‘n ander
(en makliker) werk doen nie? Nee, ons loop liewers neus in die lug verby as om
aandag te gee, nie waar nie? As jy die moeite sou doen, sou jy hoor dat haar
man jare terug oorlede is en haar gelos het met vier klein kindertjies. Sy het geen
opleiding nie en moes uitspring om die kinders in die skool te kan hou. Nou spaar
sy geld om haar huis af te los en volgende is ‘n eie karretjie sodat sy nie so
ver hoef te loop van die lokasie af nie. Ek haal my hoed af vir haar! Ek eer
haar vir die onbaatsugtige werk wat sy lewenslank doen ter wille van haar
kinders.
Ek kan
vir ewig aanhou met ‘wat van die’ en ‘wat van daai’, maar ek dink jy verstaan
nou my hart. Jy verstaan dat ek eintlik in opstand is teen enige pryse en
ophemel en groot fanfare van enige aard.
Ek haat
enige vorm van kompetisie en die gepaardgaande vergelykings wat daar sulke tyd
noodwendig tussen mense getref word. Ek haat vandag eksamens en toetse in die
skool met ‘n passie. Ek haat dit dat daar vir twaalf jaar op my rapport geskryf
is dat ek nie goed genoeg doen nie ... goed genoeg vir wie? Goed genoeg volgens
watter standaard? Goed genoeg om WAT mee te maak?
Ek
weet vandag dat elkeen van ons, ja EK ook, ‘n wenner is. Die meeste van ons sal
nooit ons name in die koerant sien of daar sal nooit goue vlokkies op ons
neerdaal nie, nie waar nie? Ongelukkig glo ons dan ook later ons is nie goed
genoeg nie en ons lewe dan maar ook met ‘n houding van ek is ook maar net
hier ... waarvoor weet ek nie regtig nie.
Ek is
net so baie, baie dankbaar dat ek iewers langs die pad geleer het dat ek
niemand bly hoef te maak om ‘n wenner te wees nie. Ek weet, deur die genade van
die Here, dat ek ‘n wenner in eie reg is.
Weet jy
al dat jy ‘n wenner is?
Ek vra maar net.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking