“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.”
Dit begin vroeg-oggend, nog so deur die slaapnewels en hou
nie op voordat jy vanaand – helaas! – jou kop in die kussing verberg nie.
Nee, kyk, ons almal hou mos daarvan om aandag te kry, nie
waar nie? Jy voel so high and mighty vir die enkele paar ure en jou
skouers is sommer ‘n bietjie meer regop en jou smile dreig om die son te
oortref.
Maar ...!
En dis ‘n baie groot maar daardie.
Jy het gisteraand al gaan slaap met hierdie ding wat jou
nie wil los nie. En ja, hoe ouer jy word, hoe knaender is daardie treitering in
jou binneste.
Dis ‘n ding wat jou ál terug in die verlede in wil laat
neuk. Hoe jy ookal probeer vorentoe kyk, bly jou kop (en hart) terug dwing na
gister en eergister en dae en dinge wat was.
Vir wat?
Wil ek mos ook weet, man. Vir blerriewil wat!
Tot jy maar toegee en stil gaan staan en omdraai.
Ja, kom ons kry dit maar oor en verby, dit help
tog nie om dit te wil ontken nie, ek is ‘n sentimentele skepsel en eintlik wil
ek ook nie anders wees nie.
Die pad lê op hierdie stadium al redelik lank agter jou. Jy
kan dit ook maar erken – terug is baie langer as wat vorentoe is. G’n mens weet
hoe lank nog vorentoe nie, maar dit kan regtig nie meer so baie wees soos dies
wat agter is nie.
Bakens. Versperrings. Triomfe. Neerlae. Vuurwerke. Vloede en
brande. Noem dit, en dit was daar.
Nou hoekom is dit dan dat die neerlae en vloede en brande
en alles wat duister is, altyd vorentoe dring, terwyl die mooi en lekker so
half sku in die donker bly staan? Vir wat is dit dat ‘n mens altyd die
negatiewe loop uitgrawe en vergrotings daarvan wil maak? Hoekom is dit dat jy
die mooi en die lekker so half soos ‘n klein toffietjie in die kies sit en net
so terloops suig-suig daaraan?
En toe tref dit my soos ‘n voorhamer voor die kop! Dis so
selfsugtig soos ‘n mens (of is dit net ek?) gebore is, man. Jy glo die goeie
moet mos maar altyd daar wees, maar eintlik verdien jy nie die swaarkry wat
soms soos doringdraad oor jou pad gespan lê nie. Dit maak dat ek die lekker en
die mooi baie maal nie eens raaksien nie, want wees moet dit mos daar wees! Die
swaarkry voel allesoorheersend, want ek verdien dit g’n om so te moet ly nie.
Stry?
Net daar neem ek ‘n besluit ... ‘n besluit waarby ek, kom
wat wil, gaan hou in die toekoms. Ek sal daardie klein toffietjies suinig in my
kies koester. Ek sal hulle suig en rondrol op my tong, totdat die volle smaak
vir altyd en altyd in my mond en hart en siel gevestig sal wees. Ek sal hulle
een-een uithaal en met groot eerbied, maar ook groot lekkerte, hulle suig en
proe en geniet.
En die doringdraad?
Wat daarvan? Ek kan oor ‘n rol doringdraad klouter en klim
... met my toffietjie in my mond!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking