Hy weet hy het te doen met ‘n klomp vroumense
(en vroumense kan baie praat!) en hy sal reg van die begin af moet ferm optree
om orde te hou tussen die spulletjie.
Dit begin glad nie soos hy dit beplan het
nie! Dit gesels en deel nuus uit vir ‘n vale, want intussen was daar mos
‘n lockdown en die ou lotjie het mekaar (so voel dit vir
hulle) jare laas gesien. Hy het dit dalk verwag, want hy laat dit begaan ...
tot op ‘n punt, natuurlik.
Ons word tot orde geroep en hy kondig
losweg die agenda aan. Ons moet ‘n spyskaart vir die week se Radiothon opstel
en ons sal dit stap vir stap doen. “Hou asseblief by die punt,” word ons
gemaan.
Alles het goed verloop, tot hulle die
woord ‘poeding’ gehoor het. Jy ken mos ‘n klomp vroumense om een tafel? Elkeen
het ‘n stuiwer in die armbeurs te gooi. Gou genoeg is daar ‘n paar lekker idees
wat bespreek kan word en Meneer die Voorsitter skryf dat dit bars om by te hou.
Net een ding laat hom in die twyfel:
"Hoe groot is daardie goedjies wat jy wil bak?"
Jy sien, ons het 'n manier van praat wat
die manne nie altyd verstaan nie. Elkeen probeer verduidelik en voorbeelde gee
van die hoe en die wanneer van daardie poeding. Uiteindelik het ons mekaar en
ook ons voorman oortuig dat ons van dieselfde ding praat, al het elkeen 'n
ander naam vir hom.
“Goed, dan is dit afgehandel. Kom ons
praat oor die braaivleis,” kondig hy rustig aan. "Ek dink ons moet
..."
“Gaan ons vla oor die poeding gooi?” val
een hom wreed in die rede.
Hy kyk skuins op. “Ons praat nou van
braaivleis.”
“Maar ek wil net weet van die vla ...” kom
dit selfvoldaan. (Ek meen te sê, dit is mos belangrik of daar vla op die
poeding gaan wees, ha? Wie wil nou poeding sonder ‘n lekker vla’tjie eet?)
“Ja,” antwoord een. “Ons sal vla moet
bedien saam met die poeding.”
“Goed, mense, die braaivleis ...” probeer
ons voorman weer die leisels styftrek.
“Gaan daar dan net een poeding die hele
tyd wees? Wat van ‘n lekker appeltert?”
Nou raak ons voorman so effentjies rooi om
die kiewe. Hy sit sy pen neer en kyk ons die een na die ander in die oë. “Kom
ons maak nou die poeding-onderwerp klaar, asseblief. Gaan daar een of twee
poedings wees?”
Een probeer verduidelik: “Johanna gaan mos
daardie goetertjies bak en dan ...”
Ongelukkig is die Johanna ter sprake nie
teenwoordig nie, maar daar is wel ‘n Johanna saam met ons om die tafel. Sy skud
haar kop heftig, want sy sal NIE daardie goed bak nie.
Voorman verduidelik dat dit die ander
Johanna is wat gaan bak, en hierdie Johanna raak weer rustig.
Die voorstel van die appeltert? Ek sweer
ek kan nie meer onthou nie, hoor. Maar dit maak seker op hierdie oomblik nie so
baie saak nie.
“Goed mense, ek hoop ons is nou klaar met die
poeding. Ons het nou drie poedings (hy noem al drie op en ook wie daarvoor
verantwoordelik is) en kan ons nou maar voortgaan met die braaivleis?”
Almal knik instemmend en hy begin
gewigtig sy saak oor die braaivleis stel: “Ons sal elke dag ...”
Iewers van die dwarste af kom ‘n huiwerige
stemmetjie: “Ek weet ek gaan nou seker die verkeerde ding sê, maar ek wou nog
weet van daardie poeding ...”
Chaos breek los! Meneer Voorsitter het die
stryd verloor teen hierdie klomp Evas wat opsluit vanaand net oor poeding wil
praat.
Iewers het hy toe wel gepraat gekry oor
braaivleis en alles wat daarmee saam gaan. Ek glo stellig hy kon sin maak deur
al die poedings heen, want aan die einde van die aand het hy darem nie vir my
té poedingrig gelyk nie.
Fantasties geskryf! skreeusnaaks!! ek het dit baie geniet :)
AntwoordVee uitAnna-Mari, Kamanjab