Jy
hoor dit eers net hier en daar en as jy, soos ons, nie tv kyk nie en dus geen
of baie min nuus kyk, is die nuus rakende die virus eintlik minimaal. Maar soos
die dae – ure? – aanstap, hoor jy meer en meer daarvan, totdat dit sowaar AL is
wat jy hoor.
Ek
hoor jou sug! Ja, so wraggies sit ek ook my pen op papier oor die virus. Maar moenie
te erg stress nie, jy gaan nie ‘n mediese verklaring kry of aanwysings hoe om
dit vry te spring nie.
‘n
Mens is mos ‘n snaakse ding, jong. Maar aan die ander kant, ek dink hierdie een
eienskap deel ons met die diereryk ook: veg of vlug. Is mos so, ha?
In
elk geval, toe die ding begin lyk of dit ernstig kan wees, raak my kop aan die
hol. Kan ‘n mens iewers heen gaan om voorsorg te tref? Kan ‘n mens iewers
ietsie kry om jou te vrywaar van die virus en sy nagevolge? Of nog beter: Kan ‘n
mens iewers heen vlug om dit totaal en al te ontkom?
Op
al my vrae was die antwoord negatief. Nee, Marthamaria, jy sit gestrand en jy
sal moet face wat na jou kant toe kom. Want, jy sien, hierdie virus het
nie gunstelinge of vyande nie – almal is gelyk voor hom ... president, straatveër,
ma of pa of kind of ouma of oupa.
Ek
soek na inligting en luister vraatsig na elke praatjie wat my meer ingelig kan
laat voel. Dan begin ek die inligting sif en sif en sif. Nie almal praat die waarheid
nie en nie almal bedoel dit ewe goed met die mensdom nie. Luister, Martha, en
dink mooi voordat jy jou move maak.
Die
slotsom waartoe almal kom, is vrywillige isolasie. Hmm, dit klink darem maar te
maklik, ha?
Maar
dis regtig so – bly by jou huis en wees rustig.
My
geliefde met wie ek al (byna) lewenslank getroud is, is baie sinies oor die
hele storie en laat hom nie sommer op hol jaag nie. Dis sekerlik waarom ons
twee moes trou – die een hou die ander so ‘n bietjie in toom, sien. Dis nou
veral waar dit by die emosies kom. Hierdie ekke is ‘n ander een met gevoelens
wat soos warrelwinde kan swiep deur die hart sodat jy teen vanaand stokflou en
ooreis op die bed neerslaan. Nie omdat jy so hard gewerk het deur die dag nie,
maar oor alles wat in jou kop gebeur het heeldag lank.
Ek
wil nie ‘n lang storie van die storie maak nie, want niemand het tyd om nou
stories te lees nie. Almal is te besig om die virus dop te hou, sien.
Wat
ek toe vanoggend ervaar, is hierdie groot vrede en rustigheid oor alles. Dink ‘n
bietjie mooi oor wat aan die gebeur is en jy sal saamstem met my.
Om
vrywillig of onwillig by die huis te bly, dwing jou terug na jou binneste toe. Jy
word, vrywillig of onwillig, gekonfronteer met hulle wie die naaste aan jou is.
Daar is nie plek vir buitestaanders nie, want elkeen van hulle word ook terug
huis toe gedwing.
Hmm?
En nou? Nou is dit ek en my naaste liefdes en my eie gedagtes. Skielik jaag
niemand meer vinnig hiernatoe of daarnatoe nie. Jy word gedwing om stil te raak
en te fokus op die dinge hier by jou ... dis amper of die buitewêreld nou nie
meer bestaan nie, ha? Dis nou nie asof ek volstruispolitiek beoefen nie, maar
as ek nie meer strate toe kan gaan nie, kan hulle mos net sowel nie meer
bestaan nie.
Waaroor
gaan my hele relaas dan nou eintlik?
Maar
net dit: Ek is stil en rustig in my eie nessie. Ek het skielik baie meer tyd om
my dinge te bedink en my geliefdes sommer dubbeld lief te hê. Ek het selfs genoeg
tyd om jammer te voel vir die ‘wilde perde’ daarbuite wat glo hulle kan nie
lewe as hulle nie rondjaag en rondkuier nie.
My
raad aan jou? Maak toe die hek, trek toe die deur en geniet wat rondom jou is! Lees
daardie boek waarvoor jy nooit tyd het nie. Beproef daardie resep waarvoor jy
altyd wegskram omdat jy nie die tyd het daarvoor nie. Maak die koffie, gaan sit
met jou geliefde en kuier tot die koppies yskoud is en jy nog moet gaan maak.
Gebruik
die tyd, my maat. En bo alles – wees rustig, want net so min soos jy die wind
kan beheer, kan jy hierdie virus beheer.
My
wens aan jou is dat selfs hierdie vrywillige of onwillige kwarantyn sal geniet
en skatte in jou hart sal vergaar vir die dag wanneer jy weer moet jaag en
hardloop en tyd het vir niks nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking