Sy staan
en kyk na die drie van hulle en ‘’n groot weemoed pak haar beet. ’n Hartseer so
groot soos die hele heelal kom maak sy lê in haar hart. “Dit is dan die einde
van my pad met julle drietjies,” mymer sy. Dit voel kompleet vir haar soos om
afskeid te neem van ‘n geliefde lid van die familie.
Sy was
sommer nog nat agter die ore toe hierdie drie deel van die gesin geword het. Pa
was nog ‘n jong boer en geld was nie te volop nie. Jou ja, soos ons weet, as
geld skaars is, ly ‘ekstras’ gewoonlik skade. As jy ‘n veeboer wil wees, koop
jy skaap, nie waar nie? Meubels is beperk tot die mees noodsaaklike items ...
die res moes wag vir anderdag.
Baie goeie
huisvriende pak op en verhuis na Suid-Afrika. Hulle het nie plek vir hierdie
drietjies nie en gevolglik word Ma en Pa gebless met hulle. Pa het, teen
sy beterwete, sy hand diep in sy sak gesteek om Ma se droom waar te maak. Ma smile
van oor tot oor ... sy voel soos ‘n ryk vrou met hierdie drie in haar huis.
Nadat Ma
met hulle klaar is, sou jy nooit sê hulle kom al ‘n hele paar jaar aan nie. Hulle
het vier klein kindertjies oorleef, maar nou pryk hulle in Ma se heiligdom –
die sitkamer.
Pa
vertel dat die bal-en-klou ontwerp dateer uit die vroeë 1900s en die Hollanders
het in die Kaap begin om die riempie-stoele te maak. Vir ‘n ou wat laas week nog
gekla het oor hoe onnodig hierdie geld uitgee nou eintlik is, lyk hy nogal heel
in sy noppies, dink sy by haarself.
En nou
is hulle op pad iewers heen. Sy wil graag glo dat, wie hulle ookal oorneem, ook
so trots op hulle sal wees soos Ma was. Dat hulle ook so lief vir hulle sal
wees soos wat sy van kleins af was ... en nog altyd is.
Dit is
op hulle wat die gesin elke Sondagoggend op die plaas kerk geluister het. Dit is
op hulle wat sy en Pa soms sit en gesels het tot ou nag toe. Dit is op hulle
wat die dominee en ouderling gesit het wanneer hulle op die plaas was vir
huisbesoek. Dit is op hulle wat sy haar eie kleintjies slaap gemaak het wanneer
hulle by Pa en Ma gaan kuier het. Die lys is lank. Die heimwee is groot.
Jy kan
maar nuwe kussings op sit, Mevrou die nuwe eienaar, maar nooit nie, ooit nie,
sal jy my onthou kan wegvat nie.
Mag hulle
jou hart vol kom lê en mag jy sag sit en lekker kuier op hierdie klein stukkie
van my hart wat nou daar by die deur uitgedra word.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking