Die Here is my herder
(
Lees hierdie stukkie met die gedagte dat die skape waarvan Dawid in Psalm 23 praat, hoog in die berge gaan wei het. Dit was bergwêreld en hulle moes dus op en af teen die berg vir weiding)Die Here is my herder,
ek kom niks kort nie. Lank voor ek vra of selfs DINK om te vra, het U reeds
geweet wat ek nodig het.
Daar kom tye in my
lewe wat dit so goed gaan – dis byna soos die stil geklots van water in ‘n poel
water wanneer die wind liggies daaroor waai. My lewe is stil en rustig en ek
ervaar U goedheid in oorvloed. Dit is die tyd wat U my laat rus in groen
weivelde. My siel is vol vrede en heerlike vreugde in U nabyheid.
Die stilte in my siel
is voelbaar, want niks, maar NIKS kom by die lieflike voorsiening uit U hand
nie.
U weet egter, lank
voordat ek dit besef, dat daar swaar paaie berg-af voorlê en dit is juis vir
hierdie swaar paaie wat U my nou troetel en versorg. U gee my nuwe krag vir die
pad wat voorlê ... selfs al weet ek nie daarvan nie. U doen dit tot die eer van
U heilige Naam.
Maar Here, dan kom die
dag wat ek weer berg-af moet strompel-val. Die dag wat ek nie meer hier langs
die poele van vrede en stilte kan bly nie.
U stap langs my. U is
die goeie herder wat weet wanneer hierdie kind van U gaan struikel en val op
pad af van die berg van vrede af. U stok en U staf hou my regop en lei my deur
die donker dieptes en doodskaduwees. Ek sal nie vrees nie, want al kan ek U nie
sien in die donkerte nie, weet ek dat U met my is. Of ek val en of ek opstaan,
U is met my. Ja, U is die goeie Herder. In U hande is ek veilig, Here.
En dan, ewe skielik,
is ons deur die donker dieptes en die son skyn weer. My Here! Het U dit vir my
gedoen? Daardie tafel wat tot oorlopens toe vol is? Is dit vir my? Is hierdie
nuwe kleed vir my bedoel?
Sy stem kom sag: Welkom
in My huis, my kind. Jy is die eregas aan hierdie tafel. Ek het dit vir jou
gedoen, my dierbare kind. Kom, kom ons
gaan sit aan by die feesmaal.
My antwoord hierop kom
uit ‘n hart vol vreugde: U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek
sal tuis wees in U huis tot in lengte van dae.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking