O lockdown,
o lockdown!
Kyk,
nou het ek alles gehoor en gesien. Ek het lanklaas so lekker gelag soos netnou.
Ek glo
jy het so pas besluit dat jy as-ha-blieff nie nog een enkele storie of skryfsel
of wat ookal oor die lockdown wil hoor nie ... ek ook, ja ... tot ek
hierdie een met my eie ore gehoor het.
Jy sien,
die storie begin eintlik toe die toemakery ‘n tyd terug begin het. Iewers in
onse land is ‘n klein dorpie en die nuus trek baie ver en baie stadig voordat
dit daardie dorpie se inwoners bereik. Soos met baie van ons, is daar ‘n
vredevolle gesinnetjie waarvan die pa en ma saans ‘n ou rooietjie geniet. Maar,
skade op skande! Hulle hoor toe eers van die toesluitery toe alles al klaar toe
is.
Die ellende
was hoog in die blom by daardie huis, hoor. Vroutjie was ontsteld dat geen een
van haar goeie vriende haar gewaarsku het nie, maar helaas ...! Nood leer bid
en van iewers af het hulle darem geholpe gekom vir een of twee aande se rooi
plesier.
Hoor ons
mos nou vanmiddag weer dat daardie selfde ou dorpie, saam met die res van die
streek, natuurlik, alweer bot-, bot-, bottoe is saam met alles wat rooi is,
natuurlik. Ek kry die tyding hier in die suide en skree ontsteld: “Bel die vrou
in die klein dorpie! Bel haar dadelik!”
Ek gee
‘n uur of twee kans voordat ek vir vroutjie bel. Heigent hert! Ook maar goed ek
was so opdringerig dat sy moet gebel word.
“Was jy
by die bottelstoor?”
“Ja!
Ek het opgestock.”
Ek sug
verlig, want nou sal alles mos darem mooi glad loop in die twee weke wat volg,
dan nie?
Sy
vertel my van haar besoekie. “Ek kom daar en sien vyf ou vriende wat ek maande
laas gesien het. Ons kuier daar in die winkel dat dit bars, hoor. Intussen moet
die Mary agter die till ons goedjies opslaan. Nee, ons het lekker
gekuier, hoor.”
Sy lag.
Ek was die enigste vrou in die winkel – dis nou mos behalwe Mary, maar dit het
my nie ‘n oomblik getraak nie.
Van langsaan
van die winkel af, kom Ansie vervaard ingestorm. “Hei julle, gaan hulle die
sigarette ook toesluit?”
“Nee,
Ansie, jy is orraait, hulle sluit nie jou goed toe nie.”
Ansie draai
in haar spore om en stap (dalk met ‘n klein bietjie vaster tred?) terug winkel
toe om haar werk te gaan doen.
Mary vryf
haar hande in genoegdoening saam. “So wraggies waar, vandag het ek die Dominee
loshande gebeat, hoor. Kyk die karre voor my shop, en dan kyk jy
die karre Sondag voor die kerk!”
In elk
geval, met die rooies in die kar – nogal op die voorste sitplek! ry sy
versigtig huis toe – hand op die kosbare rooi voggies sodat dit tog nie kap of
dalk van die sitplek af rol nie, sien.
Sy onthou
van ‘n vriend wat die vorige keer ook hewig in die nood was. Nee, hy is iewers
op pad en die ontvangs is ellendig. Bel weer. En weer. Hy MOET weet dat hy moet
sorg dat hy voor toemaaktyd by die dorp kom!
Ag ja,
so sit vroutjie donkeraand by die huis met die goedjies nog altyd op die
voorste sitplek van die motor. Want, jy sien, haar man is ook nie by die huis
nie en sy maak nie daai bottel oop as sy alleen is nie.
Wat ‘n antiklimaks, ha?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking