Ek
sit op hete kole. Gaan sy my nou antwoord op my sms? Elke kort-kort gryp ek die
foon en kyk of daar nog nie ‘n boodskap is nie – so ál of ek dit nie sou hoor
nie! Sowaar, as sy hierdie boodskap van my ignoreer, is dit klaarpraat met ons
vriendskap.
Ek
wil later winkels toe en my hare vra dringend aandag. Ek los vir foontjie op
die kombuistafel en drafstap badkamer toe. Ek wag nou al so lank, wat is die
moontlikheid dat die sms juis nou sal deurkom?
Maar
ja! Ek het nie rekening gehou met my vriend Murphy nie. Ek staan koponderstebo
en alles is nat, toe ek die foon hoor. Nee, tog man! Ek druk die hare ‘n slag
met die hande om die ergste water uit te kry en maak vir die kombuis. So ver
soos ek loop, drup die water op die vloer. Ekself is ook sopnat by die tyd wat
ek met bewende hande die foon oop het en die boodskap kan oopmaak.
Maar
helaas! Dis nie die een waarvoor ek gewag het nie. Dis my bank wat vir my ‘n
aanmaning stuur. Ha-a, nie soos jy dink nie, hoor. Ek is nie oortrek nie en ek
is ook nie laat met ‘n betaling nie. Ek weet in elk geval nie of jy my gaan glo
as ek jou vertel waaroor hierdie ontydige aanmaning gaan nie.
Jy
sien, ek het ‘n jaar of wat ‘n rekening by die bank oopgemaak. Op hierdie
rekening word ‘n baie spesiale geldjie inbetaal. Dit is nie so gereeld nie,
maar betaal word daar betaal. Nou het iemand (ek wens ek kon weet wie daardie iemand
is!) besluit dat dit darem te lank neem voor ek weer ‘n slaggie iets inbetaal. Die
gevolg is dat ek die volgende boodskap kry: U rekening sal gesluit word
indien daar nie beweging is binne die volgende paar dae nie.
Wat?
My rekening sluit omdat ek MY geld by HULLE bêre? Hoe werk dit?
Dink
ek mos aan die ou dae toe ‘n bank nog ‘n bank was. Die bankbestuurder was min
of meer die burgemeester van die dorp en die voorsitter van die skoolkomitee en
hoof-ouderling op die kerkraad en ... en ... en! Belangrik met vrou en al, ja. En
bewaar jou siel as jy opgekommandeer word om hom te gaan sien!
Op
daardie dag het jy jou Sondagskepping aangetrek en jou hare laat doen. Jy het
gesorg dat daar ‘n paar lekker stukkies vet tussen die gekerfde biltong is wat
jy vir hom saamneem. Jy was gewapen met elke verskoning in die gids oor waarom
jy ‘n week laat was met die betaling van dit of dat. Die sweet het ook nie
ophou tap voordat die man nie tevrede agteroor gaan sit en sy breë glimlag vir
jou gooi nie. Want sien, dis ‘n mens met invloed hier voor jou en jy moet tot
op die einde respek betoon.
As
hy net tot ‘n punt wil kom! Waaroor het hy my aangesê om hom te kom sien? Ek sweer
ek weet nie van ‘n tjek wat gehop het nie ... of het daar? Wat anders kan dit
wees? Waaroor anders sal hy my so dringend wil sien?
En
dan, uiteindelik! “Mevrou, ons hier by die bank het mos die gewoonte om vir
gewaardeerde kliënte ‘n klein geskenkie te gee so elke vyf jaar. Ek het na jou
rekening gekyk en ek is regtig beïndruk met die manier waarop jy dit hanteer. Jy
het nou wel nie gereeld geld inbetaal nie, maar jy het al ‘n allemintige bedraggie
op die manier vergader.”
Jy
kan my met ‘n veer om tik! Hier verwag ek die grootste ellende en wat kom kry
ek? ‘n Geskenk? Omdat ek geld gespaar het? Sjoe, dis nou ‘n verrassing van ‘n
ander aard, hoor vir my.
---
Nou
vra ek jou met trane in my navy blue eyes, wat het intussen verander? Eens
op ‘n tyd was dit goed en reg om jou geldjies by hulle te bêre, maar nou nie
meer nie?
Dalk
is dit die teken waarop ek al lank gewag het – sit die geld onder die matras en
weet dit is veilig daar.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking