Donderdag 10 September 2020

ONS GROET VIR EERS ...

 Dink soos ek wil, maar ek kan nie onthou wánneer hy in my lewe gekom het nie. Vir my voel dit of hy maar net altyd deel van my lewe was. Nee, dis nou nie dat ons beste vriende of iets was nie, hoor. Dis net ...

Net wát, Martha? Jy wou sê?

Ek moet erken dat ek sit en wroeg om hier te kan skryf. My hele hart roep om hulde te bring aan hierdie man – hierdie allemansvriend – ja tog was hy ‘n vriend van my ook.

Hy was die voorbeeld vir elke onderwyser met wie hy te doen gehad het. Ek is seker hy sou, as hy moes, enige vak denkbaar kon aanbied. Hoe dan so? Bloot omdat die lewe nooit, ooit vir hom ‘n las was nie. As daar ‘n berg voor hom was, het hy hom geklim met mening. Afdraandes? Man, al moes dit gly-gly gaan, hy sou die pad voluit loop.

Kerkman. Gesinsman. Vriend. Noem maar op!

As ou Coets in ‘n vertrek gestap het, het jy geweet: Hier is ou Coets. Glad nie omdat hy luidrugtig was of opgedruk het nie, hoor. Bloot daardie persoonlikheid wat niemand mis kon kyk nie.

Jare terug verloor hy sy been. Ek is behoorlik in sak en as. Wat gaan nou van hom word? Hoe gaan hy dit verwerk? Hoe gaan hy hierdie krisis oorleef?

Toe ek nog dink hy is in die hospitaal, of ten minste by die huis in die bed, loop ek hom raak iewers. My hart gaan aan die klop en ek is kortasem. Hoe maak ek nou? Jy weet mos, ‘n mens soek so half na die ‘regte’ woorde vir die ‘regte’ situasie.

Ek loop nader met ‘n bedrukte gesig. En ou Coets? Die glimlag op sy gesig is so helder soos ons son daar buite. Hy loop, man, hy loop ... en hy lewe!

Soos met enige vriend wat gaan, kan ‘n mens jouself oorgee aan ‘As ek maar dit ...’ of ‘As ek maar dat ...’. As jy soek, kry jy altyd ‘n goeie rede om jouself met daardie swepie op die rug by te kom tot die bloed in strale loop.

Maar nee, los daardie selfverwyt, man. As jy mooi dink, gee hy nie nou ‘n snars om oor my en my worries nie. Hy is vol vreugde en liefde en alles wat mooi en heilig is.

Dus ...! Kom ons vier die lewe wat ons saam met ‘n vriend geken het. Kom ons onthou die mooi en die goed en bou daarop voort.

Ou Coets, dit was goed om jou te ken!




4 opmerkings:

  1. JUFF DIS NET SOOS HY WAS. U BESKRYWING VAN HOM IS SO PRAGTIG EN WAAR. DANKIE.

    AntwoordVee uit
  2. Dankie Juffrou,ek was bevoorreg om by hom klas kry in Geskiedenis en ek het in die drie jaar op Hoërskool Suiderlig, hom nie een keer hoor skel of kwaad word nie.Hy het my kronies gevang waar ek sit en fiksieboeke lees binne my handboek,niks gese net my boek saggies toegevou geglimlag en saggies gese:Ghunther van Lotharinge, ek wens jy kon jou handboek met dieselfde passie lees. R.I.V. Meneer,die Hemel het sopas n goeie leerkrag gewin.Tot wedersiens Ou Strydros.

    AntwoordVee uit
  3. Pragtige skryfstuk vir n pragtige man innerlik en uiterlik....ek was bevooreg om vir meneer as my kolega te leer Ken. Sy glimlag het eenige situasie verhelder en ek klou aan die goeie herinneringe wat ons gedeel het op Suiderlig.Rus sag meneer��

    AntwoordVee uit
  4. 1993 my geskiedenis onderwyser en my koshuis Vader.Streng mar Soos n pa Vir ONS gewees.middagtyd kon ek Kantoor toe hardloop en SY tas en kosblik gan haal want daar was altyd n lekker toebroodjie in.My altyd genoem Juffrou parmantig.Ai Hy was n onderwyser en n pa figuur in my matriek Jaar.Grootboom het geval.Mar Hy Los ONS agter met mooi memories.Sterkte mev coetie kids en Bree family Rus sag Mr.RJC 💔💔💔

    AntwoordVee uit

DAARDIE TYD VAN DIE JAAR!

“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.” Dit begin vroeg-oggend, nog...