Vrydag 21 Julie 2017

SHANGRILA

Dis stil.  Die Namib sug.  Dis warm.  Die vier in die klein wit huisie praat nie.  Dis te warm.  Die hitte maak golwe op die kaal vlakte tot by die duine.  Die een-een bome lyk soos vae skimme in die blinkwit warmte.  Hulle is eintlik vyf, maar een is weg – getroud.

Dis Vrydag.  Daar word gepraat van piekniek hou Sondag.  Vir wat?  Dis te warm.  Sy hou nie van warm nie.  Ook nie van rondry nie.  Hoekom tog?  Dit dwing haar in die klein kring van die kar met die ander drie.  Sy wil nie praat nie.  Hulle torring altyd – wil haar kokon oopkrap en kyk wat is binne.  Vir wat?

Sy moet gaan.  Dis warm.

Dis Saterdag.  Hulle maak kos vir die piekniek.  Sy rasper wortels.  Die beweging laat haar sweet.  Die koolstoof kook die kombuis.  Sy is dikbek.
    
Smiddags, as die skottelgoed gewas is, kruip sy onder haar hoë bed in en lê op die koel sement.  Die ma sê dis ongesond.  “Lê op die matjie.”  Sy wil nie – die mat is warm.  Alles is warm, net nie die vloer onder die bed nie.  En sy’s alleen daar.
    
Die dag draal verby.  Dis aand.  Woestynaande is draaglik.  Die pa braai vleis – alleen.  Die ma doen naaldwerk – alleen.  Die ander twee is iewers – alleen.  Die ete gooi hulle ‘n oomblik saam in die lig van die lamp.  En ja, ook as hulle later boeke vat.
    
Sondagoggend.  Die pa bring koffie en speel vir Freddie op die platespeler.  Dit voel “huiserig”.  Die musiek se klank span ‘n draad wat trek van kamer na kamer.  Sy voel deel van die mense in die klein wit huisie.
    
Slaap weer.  Strompel sitkamer toe as die kerkklok op die radio haar roep.  Sit regop.  Lyk wakker.  Probeer luister.  Dit werk nie.  Dis te warm.  Die dominee se stem gaan net aan en aan en aan…  Die “amen” ruk haar wakker.
    
Dan woel en werskaf dit om alles gelaai te kry.  Die sonbesies skree gate in haar ore.  Alles lyk dood.  Dis net die son wat voortvlam in sy woestynwoede.  Almal beur om in te pas voor in die pa se plaaskar.  Die lywe sweet en broei en skud oor duine en deur vergete rivierlopies.
     
Dan is hulle by die berg.  Soos ‘n koning staan hy tussen kaal vlaktes en duine.  Grotesk.  Ewig.  Grotte vol salige koelte.
    
Dit word ‘n dag wat sy nooit kan of wil vergeet nie.  Dis soos onder haar bed, net baie beter.  Die heerlikheid van koelte en stilte en saamwees.  Geen beklemming van “hulle wil krap in my koekon nie.  Geen sonbesies wat jou binneste in flarde skree nie.  Die heerlike koelte wat jou omsluit en toevou soos nanagreën.  Die innigheid van saam wees en saam eet en saam slaap, elkeen op sy eie kombers.
    
Baie jare later word die berg haar Sangrila.  Haar verlore stad wat nooit weer gevind sal word nie.  Dis buite bereik vir altyd…!  Of is dit?
    

Nou hunker sy na die berg waar haar siel koelte en vrede en saamwees met God sal ervaar.  Daar waar God in ‘n fluistering van die wind verby sal gaan en sy nooit daarna weer dieselfde sal wees nie.  Daar waar sy in afsondering haarself ook weer sal vind.  Om te kom tot selfinsig en kennis van God.  Om haar eie hart te hoor praat en God se stem te kan hoor in die wind.



1 opmerking:

  1. Hierdie een het ek jare gelede geskryf terwyl ek aan erge depressie gely het. Ek soek nog steeds na 'my' berg, maar die desperate smagting is stil.

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...