Saterdag, 15 Julie 2017

GOUE PEN IN DIE HAND




My hand voel-voel na die ligperse. Vanaand wil ek snik, snot en sanik. My hart is seer en ek het nie lus vir dingetjies nie. Ja, pers pen, kom hier en doen jou ding!

Dit vat nie veel om vanaand aan niemand anders as my liewe moeder te dink nie. Elke jaar (soos ek ook deesdae met my kinders maak) is dit dieselfde woorde: “Jy was op die koudste nag van die Vrystaat gebore. En jy was so ‘n ou kleinnn, blou babatjie.” En dan hoor ons weer die hele storie...en jy wens sy wil dit asseblief hierdie jaar vergeet om te vertel. Jy kén al die storie en jy wil dit nie weer hoor nie.

Ironies genoeg is dit die enigste storie wat ek asseblief tog vanaand wil hoor, maar toe nie gaan hoor nie. En ook nooit weer gaan hoor nie. More sal dus kom en gaan sonder die storie...

En ek begin tel my seëninge een vir een. Onthou jy nog die Halleluja Liedjie? En ek kom tot die slotsom dat ek ryk is – stinkryk, om die waarheid te sê.

Nou waarom sou ek nou op ‘n hopie bly sit omdat ek die storie van die koue Vrystaatnag nie meer so mooi kan onthou nie? Dit maak tog nie sin nie, maak dit? Die Ouma is weg, ja, maar haar legacy sal vir altyd voortbestaan. Ek dank die Vader vir die vermoë om te kan onthou. Ek dank Hom vir wie ek is as gevolg van die moeder wat ek gehad het. Maar meer nog, ek dank Hom vir die liefmense in my lewe wat omgee en omgee en omgee.

Dus...kom ons gryp elke dag en leef hom voluit. Môre sal ‘n jubeldag wees en ek wil die goue pen uithaal en kwistig skryf met hom. Ek wil met groot, duidelike letters skryf en dit deel met elkeen in my lewe.

En jy wat nou hier lees, dankie vir wie jy is en vir die aandeel wat jy in my lewe het. Laat asseblief vir my ‘n woordjie (nie happy birthday wishes nie) wat ek kan raam en ophang in die kamers van my hart.

5 opmerkings:

  1. Dankie, dit was pragtig, veral omdat ek my ou moeder net so verlang en jy dit so raak beskryf. Ek wil nie meer aan haar laaste siek dae dink, ek wil al die mooi herinneringe koester. Sterkte vir jou xx Madie

    AntwoordVee uit
  2. Baie dankie, Madie. Mag mooi herinneringe ons deel wees x

    AntwoordVee uit
  3. En so bly verlang mens na jou mamma: klein postuur, gekous en hare geperm, donker ogies wat omgee uitstraal en n hart so groot en wyd soos die vlaktes van haar land. Sy het ons Kimberley Bybelstudiegroep verryk en met elke besoek haar plekkie om die geelhouttafel kom inneem. Haar hart het sy gedeel; ons het saam gekou aan die swaar houe wat die lewe haar toedien om uiteindelik vol verwondering stil te raak. Stil oor die matelose genade wat ons toevou en laat saamdans ongeag ouderdomsverskil want Sy Gees het ons saamgebind tot 'n eenheid en gemeensaamheid vir ewig.
    Nou deursoek ek ook my geheue en soos jy onthou ek nie meer duidelik alles wat sy in wysheid gedeel het nie. Die troos: ons is verryk deur haar stuifmeel wat sy aan ons afgesmeer het en daarom kan jy jou nuwe lewensjaar inwals met 'n rykdom van insette van jou moedertjie-lief.
    Ek dans saam op die melodie van haar lewe wat steeds in my resoneer...
    Dankie dat ek dit met jou kon deel...

    AntwoordVee uit

GERED ONDER DIE WASBAK UIT (2)

Ek wil jou net herinner dat hierdie 'n stuk seer uit my verlede is. Ek is, deur genade, genees van depressie! ALLEEN [Een aand by...