Dis
stil. Die Namib sug. Dis warm. Die vier in die klein wit
huisie praat nie. Dis te warm. Die hitte maak golwe op die kaal
vlakte tot by die duine. Die een-een bome lyk soos vae skimme in die
blinkwit warmte. Hulle is eintlik vyf, maar een is weg – getroud.
Dis
Vrydag. Daar word gepraat van piekniek hou Sondag. Vir wat?
Dis te warm. Sy hou nie van warm nie. Ook nie van rondry nie.
Hoekom tog? Dit dwing haar in die klein kring van die kar met die ander
drie. Sy wil nie praat nie. Hulle torring altyd – wil haar kokon
oopkrap en kyk wat is binne. Vir wat?
Sy moet
gaan. Dis warm.
Dis
Saterdag. Hulle maak kos vir die piekniek. Sy rasper wortels.
Die beweging laat haar sweet. Die koolstoof kook die kombuis. Sy is
dikbek.
Smiddags,
as die skottelgoed gewas is, kruip sy onder haar hoë bed in en lê op die koel
sement. Die ma sê dis ongesond. “Lê op die matjie.” Sy wil
nie – die mat is warm. Alles is warm, net nie die vloer onder die bed
nie. En sy’s alleen daar.
Die dag
draal verby. Dis aand. Woestynaande is draaglik. Die pa braai
vleis – alleen. Die ma doen naaldwerk – alleen. Die ander twee is
iewers – alleen. Die ete gooi hulle ‘n oomblik saam in die lig van die
lamp. En ja, ook as hulle later boeke vat.
Sondagoggend.
Die pa bring koffie en speel vir Freddie op die platespeler. Dit voel
“huiserig”. Die musiek se klank span ‘n draad wat trek van kamer na
kamer. Sy voel deel van die mense in die klein wit huisie.
Slaap
weer. Strompel sitkamer toe as die kerkklok op die radio haar roep.
Sit regop. Lyk wakker. Probeer luister. Dit werk nie.
Dis te warm. Die dominee se stem gaan net aan en aan en aan… Die
“amen” ruk haar wakker.
Dan woel
en werskaf dit om alles gelaai te kry. Die sonbesies skree gate in haar
ore. Alles lyk dood. Dis net die son wat voortvlam in sy
woestynwoede. Almal beur om in te pas voor in die pa se plaaskar.
Die lywe sweet en broei en skud oor duine en deur vergete rivierlopies.
Dan is
hulle by die berg. Soos ‘n koning staan hy tussen kaal vlaktes en
duine. Grotesk. Ewig. Grotte vol salige koelte.
Dit word
‘n dag wat sy nooit kan of wil vergeet nie. Dis soos onder haar bed, net
baie beter. Die heerlikheid van koelte en stilte en saamwees. Geen
beklemming van “hulle wil krap in my koekon nie. Geen sonbesies wat jou
binneste in flarde skree nie. Die heerlike koelte wat jou omsluit en
toevou soos nanagreën. Die innigheid van saam wees en saam eet en saam
slaap, elkeen op sy eie kombers.
Baie jare
later word die berg haar Sangrila. Haar verlore stad wat nooit weer
gevind sal word nie. Dis buite bereik vir altyd…! Of is dit?
Nou
hunker sy na die berg waar haar siel koelte en vrede en saamwees met God sal
ervaar. Daar waar God in ‘n fluistering van die wind verby sal gaan en sy
nooit daarna weer dieselfde sal wees nie. Daar waar sy in afsondering
haarself ook weer sal vind. Om te kom tot selfinsig en kennis van
God. Om haar eie hart te hoor praat en God se stem te kan hoor in die wind.
Hierdie een het ek jare gelede geskryf terwyl ek aan erge depressie gely het. Ek soek nog steeds na 'my' berg, maar die desperate smagting is stil.
AntwoordVee uit