Dan
was hulle mos eintlik skatryk. Hulle elke dag geëet, hulle het klere gehad om
aan te trek en hulle het hulle eie huisie gehad. Ja, hulle was skatryk in hulle
liefde vir mekaar.
Die
pa het pas begin boer. Hulle is vier wat daar woon in die klein,
tweevertrekhuisie bo-op die berg. Die een kamer is verdeel in twee dele – slaapkamer en
sitkamer. Die ma het die bo- en onderdeur groen geverf en die vensterrame
bloedrooi. Dan was daar die sinkkombuisie langsaan met sy koolstoof en
grondvloer. Die yskas staan buite – dit is ‘n houtkassie met nat sakke bo-oor.
As hulle vir die oom en tannie onder die berg gaan kuier, is dit baie lekker. As dit donker is en hulle moet terug huis toe gaan, kan hulle nie met die kar op die bergpad ry nie. Dit is te gevaarlik, sê die pa. Laataand klim sussie op sy rug en hulle klim die berg uit huis toe. Sy kan nie onthou hoe dit gevoel het nie, want sy het gewoonlik dadelik aan die slaap geraak so teen die pappa se warm, sterk rug.
Ousus
gaan al skool, maar die kleintjie bly nog by die huis. Op ‘n dag is die mamma
siek. Sy gaan hospitaal toe. Nou is dit net die sussie en haar pappa in die
speelgoedhuisie. Dit is baie lekker, want Pappa maak nie vleis of kool gaar
nie. Hulle eet elke dag pap en rooi blikkiesvis. Jare later onthou sy daardie
pap en vis as die lekkerste kos wat sy nog ooit geëet het.
Naby
die huisie is ‘n ou sementdam. Die muur is al ingeval en die sussie kan maklik bo-oor
klim en op die sementvloer sit en speel. Sy gaan byna elke dag daar speel. Wanneer
die wind te veel waai, speel sy in die huis met haar golliwog. In die dam is baie
toktokkies. Sy vang hulle en gooi hulle in ‘n botteltjie. Siestog, hulle sukkel om uit te kom. Sy verkyk haar aan die spulletjie wat so krioel in die botteltjie.
Baie jare later gaan die ousus weer plaas toe. Sy bring haar botteltjie vir haar saam. |
Golliwog |
Een laat namiddag drink die pa en ma koffie. Sussie wil ook koffie hê. Mamma gee vir haar lekker soet koffie in haar bekertjie. Maar waar is die melk? Sussie wil melk in haar koffie hê, anders gaan sy dit nie drink nie. Mooipraat en soebat help nie, want sy is nou boos oor die swart koffie. Pappa vat haar tussen sy twee bene vas en haar boudjies brand onder sy hand. Sy drink nie die swart koffie nie. Sy drink ook nooit weer melk vir die res van haar lewe nie.
Net
voor die sussie skool toe gaan, trek hulle van hierdie plaas af. Dit was ‘n
hartseerdag vir haar, want haar golliwog het iewers in die slag gebly. Sy het
hom nooit weer gesien nie.
Die herinneringe aan hierdie huisie met sy snoesige vrede bly haar by. Soms wens sy dat sy weer daar kan wees saam met Mamma, Pappa en die toktokkies.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking