Dis ‘n helder
woestyn-aand. Heeldag was dit snikheet, maar nou is dit heerlik koel en party
aande is dit sommer koud. Ek en Pa sit op die gras en gesels. Hy is bekommerd
oor sy kind se geskiedenispunte, maar sê dit nie reguit nie.
Nou gesels ons oor
Napoleon Boneparte. Ek het in my lewe nog nooit van hom gehoor nie, maar Pa ken
sy hele storie. Napoleon is verban Elba toe. Hoe die res van die storie gegaan
het, weet ek nie regtig meer nie. Dit was glad nie deel van ons leerplan nie,
maar Pa het gehou van die storie. En ek het gehou van die storie oor Pa gehou
het van die storie.
En daar leer Pa
vir my ‘n reëltjie wat ek nooit sal vergeet nie. Hy is so opgewonde dat ek dit
moet verstaan. Op hierdie eiland skryf Napoleon: “Able was I ere I saw Elba.” (Lees
dit van agter af en jy kry dieselfde sinnetjie.)
Hoeveel tyd het jy
as jy op ‘n eiland sit sonder mens of besittings? Genoeg tyd om rympies uit te
dink wat lewenslank in die kop van ‘n ander mens geanker gaan sit. Genoeg tyd
om seker te maak ‘n laerskooldogterjie gaan jou nooit weer vergeet nie.
Vanaand dink ek
aan Pa en al sy baie wysheid. Ek verlang na hom. Ek wil weer in die Namib op
die gras gaan sit en sommer net naby hom wees. Ek wil opkyk en sien dat die
sterre so naby aan jou is dat jy hulle een vir een kan pluk en in jou hart kan
bewaar. Ek wil die klank van sy stem saam met die geskree van die geitjies hoor
en weet – Able was I ere I saw Elba.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking