Sondag 04 Maart 2018

DIE STORIE AGTER HAGAR SE STORIE

Hier en daar het iemand al gevra waarom het ek juis oor Hagar geskryf. Hagar? Wat ‘n onbelangrike vrou is sy nie? As jy ‘Hagar’ Google, kry jy die volgende antwoord. (vry vertaal van Engels) Hagar het ook Agar gespel, in die Ou Testament (Gen. 16: 1-16; 21: 8-21), Abraham se byvrou en die moeder van sy seun Ismael. Sy is in Egipte gekoop as slavin vir Abraham se kinderlose vrou, Sarah, wat haar aan Abraham gegee het om 'n erfgenaam vir hom te gee.
               Jy sien dus dat daar regtig nie veel oor haar vertel word in die Bybel nie. Sy was, soos dit vir my lyk, slegs genoem omdat dit ‘n redelike ongemaklike situasie in die huishouding van Sara en Abraham veroorsaak het. Sara en Abraham word in die Bybel beskryf as ‘man’ en ‘vrou’ van God. Maar Hagar? Jy sien self dat dit nie eintlik baie is nie – soos ons altyd gesê het: “Niks om oor huis toe te skryf nie.” 
               Hagar spook al by my vir baie jare. Die klein bietjie wat ons van haar in die Bybel lees, is so min, maar dit sê eintlik so alles. Dink ‘n bietjie daaroor, dan sal jy saam met my stem.

ü  Sy was ‘n slaaf. Sy het geen beheer oor haar eie lewe gehad nie. Sy moes noodgedwonge saam met hierdie mense gaan, dit maak nie saak waarheen nie.
ü  Sy is aan Abraham gegee as ‘n byvrou. Wat beteken dit om ‘n byvrou te wees? Oorspronklik het Hagar waarskynlik gedink sy sou vrou nommer twee in die huis word, maar sy het gou genoeg gesien dit werk nie so met Sara in die huis nie. Het sy ‘n keuse gehad? Nee, glad nie. Sara was haar meesteres en sy het die besluite in die huis geneem. Hagar moes inval by Sara se plannetjies, of sy wou of nie.
ü  Sy was van ‘n ander bevolkingsgroep as Sara en Abraham. Sy was dus hier ook sterk onderdruk. Sy kon nie haar eie tradisies uitleef nie, want sy was nou in hierdie vreemde huis met vreemde gebruike. Haar Egiptiese agtergrond en gebruike was as sondig en onheilig beskou.
ü  Sy is meer as een maal deur Sara fisies aangerand.
ü  Toe sy haar doel uitgedien het, is sy weggejaag saam met die kind wat sy oorspronklik vir Abraham moes baar. Verwerping in hoofletters, as jy my sou vra.

               Al hierdie dinge het voortdurend in my kop gemaal en ek kon intens met haar identifiseer. Nee, natuurlik is ek nog nooit fisies aangerand nie en ek was nog nooit iemand se byvrou nie. Maar Hagar se lewe loop soos ‘n (dowwe) goue draad deur die ou testament en dit het na my toe uitgeskreeu om dit na te vors en neer te skryf.
               Jy sien, ons almal dra ‘n Hagar met ons saam. Iewers in jou lewe is jy baie lelik misbruik. Of dalk word jy daagliks misbruik en jy weet nie hoe om uit die aaklige situasie uit te kom nie.
               Ander van ons ly onder mishandeling – fisies of verbaal. Weet jy dat verbale mishandeling in ‘n sekere sin baie erger as fisiese mishandeling is? Ek glo dit met my hele hart, hoor. As iemand jou slaan of seermaak, kan jy ‘n pleister plak en ‘n salfie smeer en jy weet oor ‘n week of wat is dit weer gesond en vergete. Maar! En dit is ‘n baie groot MAAR. As jy daagliks hoor hoe eenvoudig jy is of hoe jy nie die mas kan opkom nie, wat maak jy daarmee? Waarheen gaan jy met daardie seer in jou hart? Hoe smeer jy ‘n salfie op iets wat jy self nie eens kan sien nie? Hoe maak jy daardie eina van jou gesond?
               Of dalk is jy vasgevang tussen ‘n groep vriende of kollegas waar jy so bitterlik ontuis voel. Jy weet nie hoe om te ontsnap nie, want dit is jou lewe waarvan ons nou praat. Jy sidder innerlik elke keer wanneer jy met iemand moet kommunikeer, want jy weet mos daardie persoon lag vir jou agter sy of haar rug. Hoe kom jy dit te bowe? Hoe maak jy om ook ‘soos die res’ te wees?
               En dan, die heel ergste, is om verwerp te word of verwerp te voel. Soms is dit regtig net in jou eie kop, maar so baie keer is dit die harde werklikheid soos Hagar wat woestyn toe gejaag is om daar te gaan sterf.
               Hagar wou so graag gehoor word. Hagar wou so graag gesien word. Maar daar waar sy was, tussen die mense van ‘n vreemde volk, was dit nie vir haar beskore nie.
               Haar pad het twee maal deur die woestyn geloop voordat sy uiteindelik kon sê: “Kyk, wêreld, ek is Hagar!”

               En dit is dan ook die rede waarom ek hierdie boek aangepak het. Ek is ook ‘n keer of wat deur die brandende hitte van die woestyn van depressie. Ek het ook my kwota verwerping gehad. Ek het ook...! 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...