Ek sit en kyk na ‘n video van Bryan Adams.
Everything I do. Wat ‘n lied! Nee, ek moet soos die kinders dit in Engels sê,
Wow! What a song! Dit maak mos herinneringe los waar jy nie geweet het jy het
gerinneringe nie, sowaar.
Voor
my sien ek die groep skoolkinders wat dit op ‘n dag in ‘n skoolkonsert gesing
het. Hulle was selfs mooier as die song – jonk, gelukkig, lief vir die lewe. Ek
wonder wat het van almal van hulle geword. Is hulle nog gelukkig en lief vir
die lewe? Sing hulle nog altyd hierdie (of enige ander song) met oorgawe? Of
het die lewe hulle al met ‘n paar skewe klappe van hulle lewensvreugde beroof?
Ek dink. En ek wonder. En ek weet, ek sal nooit weet nie.
Die
sanger fasineer my. Ek wonder wat dink hy terwyl hy daar so staan en sing. Is
dit (nog) vir hom lekker om te sing? Ek meen, dit is sy werk; sy brood en
botter. Vergelyk dit nou met mý werk, man. Ek hou skool en ek geniet dit
(gewoonlik), maar ek is regtig nie elke oomblik van die les in ekstase omdat ek
voor ‘n klas mag staan en kennis met studente deel nie. Om die waarheid te sê,
soms is dit mos maar redelik veeleisend en/of vervelig, is dit nie?
Maar
aan die anderkant, hierdie man bring soveel vreugde en plesier in die harte van
sy gehoor, dat dit hom mos moet hoendervleis gee, redeneer
my hart. Hy moet vannag min of meer slapeloos wees omdat hy so ‘n invloed op
die mensdom het, of hoe? Eintlik moet hy mos nooit weer slaap nie, want kyk hoe
gewild is hy, kyk hoe ‘n sukses is hy! Die gehoor is in ekstase en kan nie
genoeg van hom kry nie. 'Wow! What a man!' klop my hart.
Dan
besef ek dat hy dit nie regtig besef nie. Ja, sy bankbestuurder is beslis in sy
noppies en hyself geniet vir seker ook die baie geld wat gepaard gaan met sy
gewildheid, maar hy besef nie wat ons dink en voel en droom terwyl ons na hom
luister nie. Hoe kan hy dit weet? Hy is maar net ‘n gewone mens wat ook moeg
word en kwaad word en hartseer word en drome droom en wat nog alles.
Is
dit nie maar net so met jou en my nie? Jy doen wat jy die beste doen en jy doen
dit op jou beste...hoop ek. Jy word ook moeg en bly en hartseer en al daardie
ander dinge waarvan jou naaste gewoonlik nie weet nie. Jy is ook net ‘n mens en
iemand se liefie en iemand se kind of ma of pa. Jy lewe jou (soms) vervelige lewe,
sonder om te besef watter invloed jy uitoefen op die mensdom.
Daardie afjak teenoor iemand
wat jy niks van hou nie, maar wat jou so getrou soos 'n hondjie volg. Hoekom
dan? Daardie een sms wat jy vanoggend gestuur het en wat iemand baie, baie bly
gemaak het. Jou spontane glimlag teenoor daardie vreemdeling in die straat –
iemand wat dit dalk bitter nodig gehad het om te weet daar is nog mooi mense op
aarde. Of dalk net die mooi manier hoe jy met ondergeskiktes praat? Wie sal
ooit weet?
Dink
‘n bietjie daaroor en jy sal weet dat dit so is, of jy dit nou wil weet of nie.
Jy het vandag iemand beïnvloed, hetsy goed of sleg. As gevolg van jou het iemand
vandag dalk in ekstase op en af gespring, of met rooi gehuilde oë in die kamer
gaan wegkruip. Of dalk het iemand van jou gesê, ‘Ek wil ook soos jy wees, leer
my hoe om dit te doen.’
Dalk,
net dalk, moet ons meer bewus begin raak van die invloed wat ons op ander het,
of hoe?
En dan...! Net
dalk, sal ek vanaand in die spieël kan kyk en sê, ‘Wow! What a woman!’
Wow What an Woman!!
AntwoordVee uit